Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Tom Kroes: Oë Wawyd Oop

— Die filmiese aksie van Erdvarkfontein word ’n deernis met die Stinke Afrikaner, berig Antonia Steyn na haar gesprek met Tom Dreyer

Tom Dreyer“Hierdie is beslis die laaste interview wat ek ooit oor Erdvarkfontein gaan doen. Dit is nou al so ver terug in my verlede.
    “En dis jóú onderskeiding om die heel laaste mens te wees wat óóit met my oor Erdvarkfontein praat,” sê Tom, as ’n final statement, terwyl ek besig is om foto’s van hom te neem.
    Terwyl ek rustig terugry huis toe, probeer ek dink of dit iets is wat ék gesê het. Of dalk is dit net Tom, wat nou sy vlerke wyer wil sprei en die moeras van Erdvarkfontein vir ’n plekkie in die wolke wil ruil ...

Erdvarkfontein
Koop by Kalahari.net

Tom debuteer in 1998 (werklik só ver terug in die verlede?) met Erdvarkfontein, ’n comic strip action movie novel gelaai met humoristiese geweld en bevolk met karakters wat om die beurt sterf, verdwyn en weer verskyn. “Dis ’n waansinnige ding op ’n nougesette manier geskryf,” sê hy angstig.
    Vir Tom is skryf ’n vorm van verslawing. “Dis ’n soort therapy. Alles om ons stroom by ons verby, is fluid. Deur te skryf probeer ek iets vasvat. Deur iets te verwoord, skep jy ’n stukkie vastigheid in die fluidity.”
    Erdvarkfontein is ’n roman, hoewel meeste van die stories op hulle eie bene kan staan en meeste van die karakters, vroeër of later, die “ewigheid” ingeblaas word. “Ek wil baie graag hê dat dit nie net as ’n seleksie kortverhale gesien word nie. Saam word hulle iets groter.”
    Is die roman dan iets “groter” as net die kortverhale op hulle eie? Hy verduidelik dat die roman ’n groter reikwydte het en jou toelaat om meer “in te sit”.
    “Ek het probeer ’n blik gee van hierdie dorpie, en die soort lewe wat daar afspeel.” Dié blik is deurgaans gekleur met eksplisiete swart humor.
    Die humor, nie die karakters of die deurlopende lyn van ’n verhaal nie, is die samebindende faktor in die roman.

“Daar’s iets van ons subconscious wat miskien gefragmenteerd geraak het.”

Tom se invloede is, eerder as die Afrikaanse literêre tradisie, die televisie en flieks. Erdvarkfontein is ’n soort Pulp Fiction, en die idee van ’n menigte stories wat saam ’n roman vorm, is geïnspireer deur Robert Altman se fliek Short Cuts, wat gebasseer is op Raymond Calver se gelyknamige bundel kortverhale.
    “Erdvarkfontein is ’n poging om dieselfde in ’n Suid-Afrikaanse konteks te doen. Eers lank nadat ek die fliek gesien het, het ek uitgevind dit is gebaseer op ’n bundel kortverhale. Dit het my moerse beïndruk.”
    Tom glo in ’n “channel-hopping” teorie van skryf. As deel van ’n generasie wat aandete voor die kassie geniet en eerder flieks kyk as boeke lees, sê hy: “Jy kyk ’n stukkie en as dit nie lekker is nie beweeg jy oor na die volgende ding. Dis amper asof dit minder input vereis.
    “Daar`s iets van ons sub-conscious wat miskien gefragmenteerd geraak het. As ek self ’n roman lees, moet dit werklik boeiend wees om my te lei om deur bladsy na bladsy te worstel.”
    Waarom dan, vra ek hom, sal ’n lid van sy generasie van angstige TV kykers, nog die moeite doen om sy boek te lees?
    “Daar is tog nog ’n liefde vir lees by sekere mense, wat eerder ’n boek sal lees as fliek. My boek is outomaties beïnvloed deur flieks en TV, maar dis tog nog steeds ’n geskrewe teks. Ek cater vir mense wat hou van lees. Dis miskien net ’n bietjie meer user friendly omdat dit nie so literêr geskryf is nie.”

“... die karakters is marionette wat op interessante maniere rondgeskuif word.”

In die nuwe roman waaraan hy werk, Stinkafrikaners, is daar ’n doelbewuste paradigmaskuif; ’n wegbeweeg van die karikatuuragtige klem op oppervlakaksie. Dit is meer van ’n konvensionele roman deurdat dit hoofstuk op hoofstuk volg en die karakters deurlopend ontwikkel.
    Tog breek hy nie geheel en al weg van Erdvarkfontein nie: “Die subject matter is, if anything, selfs meer absurd as Erdvarkfontein s’n. Dit lê baie na aan die hart van wat skryfwerk is om emosionele menslike kwessies te ontgin.” Hy dink nie die tradisionele siening van letterkunde wat dít wil doen, is misplaas nie. “Ek dink dit moet moontlik wees om letterkunde te kan skryf wat radikaal verskillend is, maar ook net so goed kan wees.
    “Ek beweeg nou in die rigting om ‘dieper’ in te gaan, maar ek wil nie daardie vroeëre uitbundigheid verloor nie.” Wat gaan dan die nuwe boek so “radikaal verskillend” maak, wonder ek. Want noudat hy die menslike kwessies wil aanvat, gaan dit ’n full on literêre konfrontasie afgee, en wat Erdvarkfontein “anders” gemaak het, was juis ’n wegskram daarvan deur karikature, ’n oorbeskrywendheid van die landskap, self die cliché’s ...
    Wat beweeg die skrywer om, na die publikasie van sy eerste boek, ánders te begin skryf?
    “Erdvarkfontein is uit jeugdelike voortvarendheid geskryf; dit was nie so berekenend nie. Dis was ’n verbeeldingsvlug. Die roman waaraan ek nou werk, is baie meer berekenend.
    “Ek speel nou eintlik ’n gevaarliker speletjie. In Erdvarkfontein is daar nie deernis met die karakters nie — die karakters is marionette wat op interessante maniere rondgeskuif word.
    “In Stinkafrikaners is daar wel ook die karikatuur — die marionet-aspek — maar dit probeer ek nou versoen met ’n werklike menslikheid. Dit is ’n baie moeilike ding om te doen. Dít is wat vir my en Etienne harde dae besorg, om daardie balans reg te kry.”
    Op die vraag oor die invloed van Etienne van Heerden op sy skryfwerk, stel hy dit duidelik dat Erdvarkfontein reeds klaar geskryf en aanvaar was vir publikasie, voordat hy vir Etienne werklik leer ken het.
    “Ek voel dat my skryfwerk baie by hom gebaat het. Daar was baie tekortkominge in my werk. Ek was skuldig aan ’n soort oorskrywery, te veel woorde in sinne, en te veel sinne in paragrawe en te veel paragrawe in my hoofstukke.”
    Dit blyk gou dat skryf nie Tom se enigste passie is nie. Dié siening oor sy skryfwerk, sluit aan by sy siening oor sy gebabbel. “Ek kan myself inadequate motiveer. Ek kry so half ’n kick daaruit om woorde aanmekaar te string,” sê hy terwyl ek die vlieë soek wat hy deurentyd met sy hande wegwaai.
    “Etienne het my ’n vormbewustheid geleer; dat elke woord gewik en geweeg moet word. Ek dink my skryfwerk het in daardie sin, baie verbeter.” Of miskien die kenmerkende karakter verloor?
    “Daar is ’n definitiewe skuif, dis Erdvarkfontein plus nog iets, eerder as iets geheel anders. Die bottom line bly dieselfde — daar is net nog dimensies wat bykom.
    “Ek is nie van kleins af ’n skrywer nie. Dis eers in die laaste jaar dat ek meer in literêre kringe beweeg en oor skryfwerk praat. In my nuwe roman is daar ’n meer mature voice aan die woord.”

“Ons posisie kan nie eintlik verbeter nie — ons is die target group van die African Renaissance.”

Sien jy julle jong skrywers as ’n skrywersgenerasie, vra ek. En met sy karakteristieke ingehoue angstigheid stotter hy sy woorde uit: “It could be. Die gevoel van ouer skrywers om laer te trek óm Afrikaans, want ‘ons is so in die pekel’, los ons [jonger skrywers] apaties — soos ’n buitestander, maar geamuseerd met die mense daar. Ons is ’n pretty eklektiese spul, dis nie so maklik soos vroeër, waar die skrywers gebind is deur die protesidee nie.
    “Dis nog te vroeg om noodwendig te sê of ons saam ’n nuwe ‘skrywersgenerasie’ vorm, maar ek dink ons voel gedistansieërd van die ouer skrywers se idee dat Afrikaans under threat is, en hulle verdedigende houding. Die nuwe generasie gaan net weer dinge doen met die taal, nie dit verdedig nie. ’n Nuwe lewenskragtigheid lewer, eerder as om net op die verdediging te wees.”
    Tom voel nie deel van die Afrikaanse literatuur se huidige teruggryp na die verlede, en die bemoeienis met die herskryf daarvan, nie: “Daar is iets onvas aan ons verlede. Dis nie lekker om te gaan rondkrap in 1960 nie, want dit moet dan noodwendig polities raak. Die verlede het half weggeval ... die toekoms is onseker. Ons posisie kan nie eintlik verbeter nie — ons is die target group van die African Renaissance.
    “Dit het verskillende gevolge: soos byvoorbeeld, Jaco Botha wat in hiperrealisme verval. Dit is een poging om nie na die groter issues te kyk nie. As ek tien jaar ouer was, sou ek skuldig gevoel het oor die verlede. Maar, ek het in ’n a-politiese huis groot geword.
    “Ek verval in ’n droomwêreld, en díe droomwêreld is ’n televisiewêreld. Movies soos Armageddon, en science fiction is baie meer brandend aktueel in my lewe as die Suid-Afrikaanse verlede of my rol in Suid-Afrika. Ons vlug weg van daardie goed af, want die gatvolheidsvlak is bereik en dus verval jy in iets anders.”
    Is die verbeeldingsvlugte ’n manier om van die onsekere werklikheid van die draai van die eeu weg te kom?
    “Ek dink wel daar is groot onsekerheid onder die jonger skrywers. Daar is nie ’n vyand om áán te spreek nie — daar is geen identifiseerbare goed out there wat net skree om oor geskryf te word nie. Dit skep die gevoel dat wat ons doen ’n luukse is. Of hierdie onsekerheid noodwendig met millennia-angst saamhang? Miskien in die populêre gemoed, maar ek ervaar dit nie regtig so nie.”
    Tom voer aan dat hy nie baie belese is in Afrikaans nie, en, daarom sê hy, lewer sy skryfwerk geen direkte kommentaar op ’n spesifieke skrywer of literêre stroming nie.
    Oor sy eie werk sê hy: “Daar is ’n diskrepansie tussen die subject matter, die inhoud, en die styl waarin dit geskryf is. Dis nie die goed waaruit letterkunde gewoonlik gemaak word nie.
    “Mens kan dus sê dat Erdvarkfontein die draak steek met die onderliggende idee dat ’n roman epiese menslike kwessies moet aanspreek om ‘goed’ te wees.”

Na afloop van ons gesprek is dit duidelik dat Tom hoop om met sy nuwe roman, Stinkafrikaners, bó-óp die wolke te ry ...

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.