Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Om te Terre’Blanche ...

Erns Grundling

Tertius Kapp het laas in Januarie geskeer. En hy rook Lexingtons dat dit klap, ten einde ’n donderweerstem te bevorder. Maar hoe dan anders, jy kan tog nie vir Eugène Terre’Blanche met ’n stoppelbaard en Dunhill Infinite Lights op die verhoog uitbeeld nie!

Kapp is die skrywer van Terre’Blanche, ’n opspraakwekkende toneelstuk wat gepremière het by die afgelope Klein Karoo Nasionale Kunstefees en tot 1 Mei in die Klein Libertas Teater op Stellenbosch te sien is. Hy vertolk self die hoofrol van Eugène Terre’Blanche. Hy deel die verhoog met Neels van Jaarsveld, Deon van Zyl, Anneke Senekal, Tessa Jubber en Willem Anker. Lindy Downing is die regisseur. Terre’Blanche is deur die KKNK-feeskoerant Krit uitgesonder as ’n “intelligente en belangrike feesproduksie”.

Kapp is deel van die jong teatergeselskap Tart ’n Koggel Produksies, wat KKNK-feesgangers behoorlik die horries gegee het met De Familie Wagenaer, ’n vreesaanjaende improvisasiestuk oor ’n spookhuis. In Terre’Blanche word die geskiedenis van die AWB onder die loep geneem sedert hul ontstaan in die vroeë sewentigerjare, met die sentrale fokus op Eugène Terre’Blanche.

Waarom het hy besluit op hierdie omstrede figuur uit ons onlangse politieke geskiedenis?

“Eerstens bied Terre’Blanche die moontlikheid van ’n toneelstuk deur sy dramatiese toesprake én geskiedenis. Hy is ’n ekstreme geval van Afrikaanse politiek, en baie interessante materiaal vir analise. In hom dra hy al die spore van die hele politieke landskap. Hy vertéénwoordig hulle nie noodwendig nie, maar wat hy is, is ’n reaksie op alles,” vertel Kapp.

Word die teaterganger dus gekonfronteer met aspekte van Terre’Blanche wat hy binne homself saamdra?

“Ja, ek sou so sê ... dit brand die ekstra detail van mens se alledaagse bestaan af, dis hoekom jy werk met ’n ekstreme geval soos Terre’Blanche — al daai kragte is dan maklik sigbaar.”

Kapp kies nie kant nie, hy berus sy uitbeelding van Terre’Blanche hoofsaaklik op navorsing, argiefmateriaal en staaltjies wat hy oor die laaste paar maande versamel het.

Daar het vir hom veral twee oorheersende opinies uitgestaan tydens sy navorsing. Aan die een kant word Terre’Blanche beoordeel/veroordeel en afgekraak, en aan die ander kant word dit waarvoor hy staan, gepropageer in ’n poging om simpatie te wek.

“Ek is seker so polities ongemotiveerd as wat mens kan kom, soos die meeste mense wat ek ken. Ek is nie ’n regse groupie nie. Glad nie. Polities heeltemal ongemotiveerd. Ek stem nie saam met enigeen se politiek nie, ek kyk na wat op die verhoog sal werk. ”Ons politici het baie deeglik besef dat politiek ’n performance art is. En hulle doen dit nog steeds. Hulle enigste kontak is deur die media, maar die verskil is dat meer mense dit begin besef. Politiek word gemaak deur persoonlikhede. Hoe anders kan jong mense oorreed word om andersins waansinnige dinge te doen ter wille van een man?“ Die media speel volgens Kapp ’n reuserol, want hulle “kies” wat gewys word. “Ons sit tans met ’n moderasiepolitiek wat redelik kru estetiese waardes gebruik. Hoewel dit waarvoor hulle staan, die kwessies is wat aangepak moet word, voel ek nie die beeldpoetsers doen ’n baie oorspronklike werk nie ... Aan die ander kant kry mens ’n tipe radikale politiek wat die estetiese waardes op hulle kop keer.”

Dit blyk ook uit sy navorsing dat daar verskeie wanpersepsies rondom die AWB se vermoëns tot geweld is. “Dis interessant as jy kyk na die kwantitatiewe body count van geweld voor ’n verkiesing ... die AWB het eintlik regtig goed daarvan afgekom. En tog word hulle deur die spektrum beskou as ’n gewelddadige organisasie. Hulle het egter nooit ’n Vlakplaas of ’n St James Kerk-insident op hulle boeke gehad nie. Hulle was eintlik meesters van wat mens ‘simboliese geweld’ kan noem. As hulle iets gedoen het, het hulle seker gemaak dit was sigbaar en vir almal om te sien.”

Volgens Kapp was die AWB — hoewel dit uitermate in weerstand was — nietemin ’n stem in die oorgangsproses. “’n Massa stemme het bygedra tot die skep van ons demokrasie ... dit sal naïef wees om te dink hulle het geen rol gespeel nie. Almal, van Hector Peterson tot Nick Fourie ... mens kan nie net die huidige polities korrektes as die verteenwoordigende stemme van ons demokrasie beskou nie.

“Almal neem aan dit is óf ’n ophemeling óf ’n satire ... maar ek probeer nie een van die twee weë volg nie, ek kyk daarna in ’n beskouende lig. Omdat sy geskiedenis so deeglik in die media uitgelig is, het dit merkers gelos. Mense aanvaar die hele storie — ek het dikwels nie eens die moeite gedoen om sekere bekende gebeure te laat afspeel nie; mens plaas bloot die merker. Ek het in elk geval nie die dramatic license baie gebruik nie.”

Sy navorsing het interessante draaie geloop. Kassette met toesprake van Terre’Blanche, rare argiefmateriaal, die boek Die wel en weë van die AWB deur ’n voormalige hoofsekretaris van die beweging, en ’n omstrede Channel 4-produksie, The Leader, the Driver and the Driver’s Wife. Selfs die snit “Bring die sjerrie” op Die Naaimasjiene se album Die Saai Lewe, waar ’n toespraak van Terre’Blanche met Theunis Engelbrecht se sang afgewissel word. Hy wou ook graag Terre’Blanche se gedigte en skryfwerk gebruik, veral die gedigte op die CD Tolbos. Terre’Blance se vrou het egter vir Kapp afgeraai om die manuskrip direk vir hom in die tronk te stuur, omdat dit hom dalk sou ontstel. In die toneelstuk het Kapp die poësie verwerk en ingevleg by die teks, en ook nuwe materiaal rondom dit geskryf. Hy het met verskeie senior lede van die AWB gesels, is lidmaatskap aangebied en het selfs ’n na-uurse missed call op sy selfoon ontvang ...

Hy sou graag vir Terre’Blanche wou ontmoet, “al is dit net om sy charisma te beleef”. Kapp het gehoor van verskeie “besondere linkse meisies” wat al geswik het voor Terre’Blanche se sjarme.

Volgens Kapp is oorsese teater baie meer aktueel as ons s’n, en behoort teater in Suid-Afrika ’n platform te raak wat kan dien as een van die stemme van die demokrasie.

Wat sy mede-akteurs op die verhoog betref, speel Neels van Jaarsveld die rol van Terre’Blanche se tronkbewaarder; Deon van Zyl is ’n analitiese regsgesinde en Anneke Senekal is sy vrou. Tessa Jubber verteenwoordig die nie-Afrikaner-stem (in ’n rol wat sinspeel op ’n tipe Jani Allan-figuur), en Willem Anker is die skriba, die joernalis, wat besig is met die konstante opname van die geskiedenis in ’n mediagerigte samelewing. Vicky Davis, wat tans ’n aktrise is in die gewilde sepie Backstage, het Jubber se rol by die KKNK vertolk.

In die vooraf-publisiteit vir die KKNK het die programinligting gesê: “Die digter word ’n spreker. Die spreker word ’n boer. Die boer word ’n stryder. ’n Ikoon agter die tralies.”

Waarom eerstens ’n digter? “Dit was sy eerste invloed. Reeds op ’n vroeë ouderdom het die gedigte van Cilliers en Marais hom geboei. Dit sluit ook aan by sy vermoë om klanke voort te bring. Sy eerste toespraak was byvoorbeeld op skool, tydens ’n eetstaking. Hy was ’n baie goeie redenaar op skool.

“’n Ikoon is ’n persoon of simbool wat ’n bepaalde groepering voorstel. In Terre’Blanche se geval was dit regse weerstand. Hy word selfs meer geïkonifiseer omdat ons so ’n gebrek aan ikone het — dis maar ’n saai affêre ...”

En hy vryf deur sy baard en light nog ’n Lexington ...

  • Terre’blanche is nog te sien in die Klein Libertas Teater op Stellenbosch op 30 April en 1 Mei om 20:15. Kaartjies by die deur kos R40, en R30 vir studente.



    LitNet: 30 April 2004

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.