Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Nasboek se teësinnige touleier

Ingrid Lehmensich

“Skryf tog net, in hemelsnaam!” sê Helgaard Raubenheimer. “Want as Antjie Krog gesê het ‘daar’s alreeds so baie talentvolle skrywers, hoekom sal ek dan nog probeer?’ het Suid-Afrika ’n enorme verlies gely.”

Helgaard Raubenheimer van Nasboek (Nasionale Boekhandel, ’n filiaal van Nasionale Pers) sê die grootste fout wat potensiële skrywers kan maak, is om geïnhibeer te voel oor hul werk - om maar te dink dat dit wat hulle geskryf het, sommer kaf is.

“Skryf, skryf, skryf - oor alles. Anders gaan daar ’n kroniek van ’n tyd van jou lewe, soos foto’s, verlore. Gaan druk dit dán in ’n laai. En vergeet daarvan. Maar net vir ’n jaar, sodat jy bietjie afstand kan skep. Dan moet jy weer daarna gaan kyk. Mens moet haastig wees om te skryf, maar geduldig wees om te publiseer.”

Helgaard, wat so pas as besturende direkteur van NB Uitgewerye aangestel is, sê mens moet jou ook nie sommer laat afskrik wanneer ’n uitgewer jou werk afkeur nie. “Elise Muller het van uitgewer tot uitgewer gegaan en niemand wou haar manuskrip, Die vrou op die skuit, uitgee nie. Dieselfde storie het ’n paar jaar later die Hertzog-prys gewen. So kan ek baie Afrikaanse juwele opnoem. En dis nie net Afrikaanse skrywers wat partykeer ’n taai stryd moes voer om hulle werk gepubliseer te kry nie. Kyk nou maar net vir JK Rowling. Sy moes óók by ’n hele paar deure gaan aanklop voordat ’n uitgewer bereid was om Harry Potter te publiseer.

“My visie is dat die mooiste en die beste boeke deur die NB-groep se uitgewers vrygestel word. As dit die mooiste roman is, moet dit ons wees wat dit vrygestel het. As daar ’n beste kookboek is, moet ons die uitgewers wees daarvan. Nasboek gaan nóg harder werk om Afrikaans as leestaal te bevorder.”

Helgaard sê hy gaan ook sy bes doen dat die belange van almal wat by die uitgewery betrokke is, gebalanseerd word. “Die aandeelhouers, sonder wie ons nie kan bestaan nie, moet die beste opbrengste ontvang. Ook vir skrywers moet Nasboek ’n ware tuiste wees. Wat ook belangrik is, is dat elke personeellid gelukkig moet wees en dat dit vir hom of haar ’n plesier moet wees om by NB te werk. Die gemeenskap moet ook voel ons is ’n nuttige aanwins vir hulle.”

Die 56-jarige Helgaard, wat saam met sy vrou Bessie, ’n wiskunde-onderwyseres, “daar onder die kabelkarretjie se huisie” in Kaapstad woon, is al vir jare by Suid-Afrika se grootste uitgewery werksaam. Helgaard, wat naby Ladybrand grootgeword het, is die middelste kind, met twee susters aan weerskante. Hy sê as hy enige ander beroep moes kies, sou hy definitief ’n boer wou wees - veral ’n wynboer in die Wes-Kaap. “Ek geniet dit om buite te wees. Dinge te sien groei.” Hy dink so bietjie na en sê dan: “Anders sou ek graag ’n eiendomsontwikkelaar wou wees - ek hou nogal van mooi geboue.”

Nadat hy in 1968 aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat ’n BA-graad verwerf het, het hy as jong verslaggewer by Die Burger begin werk; en later as uitgewer en daarna uitgewer-bestuurder van Tafelberg Uitgewers (deel van Naspers), terwyl hy studeer het aan sy Hons BA, Sielkunde en Hons B (Handel en Administrasie). Na ’n draai by die Van Schaik-familiesaak in Pretoria het hy heelwat bestuursposte binne die Naspers-groep beklee.

Nadat hy na 10 jaar as hoof uitvoerende beampte van Nasboek wou uittree, is Helgaard die pos aangebied van Hannes van Zyl, wat toe NB Uitgewerye se besturende direkteur was en wou aftree. Helgaard sê wat sy nuwe werk vir hom so lekker maak, is dat hy nou meer direk met die skrywers en die verkoop van boeke werk. “Ek’s nou weer baie nader aan die water,” lag hy.

“Maar die ekonomiese landskap het baie verander,” erken hy. Helgaard sê die situasie waar die maatskappy vroeër jare hulle grootste inkomste uit die staat verkry het, bestaan nie meer nie. Die skole, byvoorbeeld, het hulle biblioteek-aankope heelwat verklein. Daar word ook nou nie meer soveel voorgeskrewe boeke aangekoop nie en die algemene biblioteke bestee ook nie naastenby genoeg geld aan nuwe boeke nie.

“Ons is nou totaal aangewese op die publiek en dis maar ’n opdraande stryd om die Afrikaanse boek op die rak te kry en daar te hou. Die wêreld se deure is mos nou oop. As jy in die boekwinkels gaan kyk, kom drie uit vier boeke uit Londen. Wat die boekverkope ook verder moeilik maak, is dat die tipe mens wat boeke koop, al hoe minder word.”

Dit was interessant om uit te vind wat nou eintlik die profiel van “’n boekkoper” is. Helgaard verduidelik: “Dit is gewoonlik ’n persoon wat een of ander universiteitsgraad het, hy’t ’n werk wat hom ’n goeie inkomste bied, hy’s ’n denker en hy hou homself besig met intellektuele goed.”

Ongelukkig vir die Afrikaanse boekemark is dit hulle, volgens Helgaard, wat gewoonlik emigreer. Maar hy sê potensiële skrywers moet hulle nie laat afskrik hierdeur nie. Hulle moet net skryf en hulle móét dit vir publikasie aanbied, maar hulle moet dit nie doen om ryk te word nie.

“’n Skrywer wat net skryf met die oog daarop om gou daaruit ryk te wil word, moet maar liewer vir hom iets anders gaan soek om te doen,” beklemtoon Helgaard.

Wanneer Helgaard bietjie wegbreek, gaan hou hy vakansie “op ’n duin daar in Wildernis - een van die mooiste plekke op aarde,” sug hy.

Helgaard was nogal skugter toe ek hom vra hoe hy sy biografie sou titel as iemand eendag ’n boek oor hom sou wou skryf. “Jong, ek ag myself darem nie só belangrik dat daar ’n boek oor my geskryf sal word nie.” Dit het ’n dag en heelwat mooipraat geverg toe Helgaard met Die Teësinnige Touleier vorendag kom. “Ek het nog nooit vir enige pos aansoek gedoen nie, ek het maar nog altyd net daarin beland,” sê hy laggend.

“Toe ek jare gelede ’n joernalis was, het ek die voorreg gehad om verslag te doen oor die eerste hartoorplanting en die groot aardbewing by Tulbagh en Ceres. Ek was ook naby die groot bomontploffing in Pretoria in die vroeë 80’s. Ek sou dus graag my outobiografie Getuie van interessante tye wou genoem het, as dit nou nie was dat Schalk Pienaar dit reeds gebruik het nie.”

Met Helgaard Raubenheimer se entoesiasme en sy sober realisme kan hy net ’n goeie touleier wees met NB as getuie van groot tye.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.