Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Erns Grundling gesels met dr Francis Galloway

Breyten Breytenbach se besluit om sy plaaslike lesers vaarwel te roep het die land aan die praat. Erns Grundling het ’n e-pos-onderhoud met dr Francis Galloway, ’n akademikus aan die Universiteit van Pretoria, gevoer. Breyten Breytenbach se werk het haar reeds met die verskyning van sy debuutbundel in die sestigerjare, Die Ysterkoei moet sweet, aangegryp. Sy het haar MA-verhandeling gedoen oor die sinestetiese beeld in sy poësie, en ’n proefskrif oor hom as openbare figuur. In 1990 verskyn haar boek Breyten Breytenbach as openbare figuur.

EG: Wat dink jy van Breyten se besluit om homself van die publieke domein te onttrek, veral in die lig van jou jarelange navorsing en boek oor sy rol as openbare figuur?

FG: Ek wil eerder begin met ’n teenvraag: Wat sê hierdie ongekontekstualiseerde parafrasering van “Breyten se besluit”, soos geriemtelegram in die kuberruim, van die verhouding tussen private en publieke ruimte; van die skending van intellektuele eiendom en van vertrouensverhoudings; van uitgelewer wees aan gesplete persoonlikhede (die vriend/vertroueling met ’n pen, ’n gade of ’n “forward button” in die skede)? As dit die Afrikaanse “publieke domein” is, dan verstaan ek aldag beter waarom soveel skeppende en intellektuele geeste hulle van die markplein onttrek en in die binnekamer/buitekamer/buitepos dink en skep.

Vir vier dekades reeds is Breyten die teiken van sistemiese manipulasie en van ’n mediagedrewe magspel waarbinne hy herhaaldelik tot sondebok (of swart skaap) geslaan word deur die bewoners van die Afrikaanse publieke domein (die heersende establishment en die briefskrywende jan-en-san-alleman van die “ou” en “nuwe” volk). Hy weerspieël self ook die verwarring en polarisering in die Afrikaner-gemeenskap met onder andere sy wisselende keuses tussen geweld en intellektuele afstand, sy deelname aan die politieke werklikheid teenoor die fiksionele verwerking daarvan, sy verteenwoordigende rol binne subsisteme en dan weer sy verset daarteen. Hy bly die heersende norme uitdaag, maar laat ook by tye toe dat hy tydelik gekoöpteer word ten einde “tuis” te kom. Een ding is seker — dit was min Suid-Afrikaanse kunstenaars en openbare figure beskore om ’n hele gemeenskap en sy literatuur tot soveel selfondersoek te dwing en van hulle ideologiese aannames en heersende kunsopvattings te laat rekenskap gee. Hierdie verskriklike aantrek-afstoot-dans moet een of ander tyd sy tol eis (na albei kante).

EG: Hoe dink jy het Breyten se rol as openbare figuur verander sedert die demokratiese verkiesing van 1994?

FG: Die fokus van sy openbare diskoers mag verskuif het, maar in wese het sy openbare verset konsekwent binne eie wette gebly. Hy is nog altyd gekant teen hegemonie en die korrupsie van mag (in watter gedaante, kleur en literatuuropvatting dit ook al voorkom), en hy bly ’n strydvaarder vir vryheid. Hy is nog altyd ’n ware anargis — nie iemand wat verwoesting saai nie, maar iemand wat sy individuele sosiale verantwoordelikheid uitleef (al is die prys wat hy daarvoor betaal, uitbanning in tronke en buite die laer); iemand wat nie verlei word deur heersende meesters en norme en voetvolk nie. Hy het aanhou beweeg en geraas maak. Hy speel nie viool in jou voorkamer nie.

EG: Dink jy daar kan ’n “onoorbrugbare kloof” tussen ’n skrywer en sy lesers ontstaan, of is dit altyd maar aanwesig?

FG: Watter “lesers”? Die 80% nielesendes wat hom uitgestem het tydens verlede jaar se Die Burger-volkstemming? Of die 20% wat tel? Tussen hom en eersgenoemde moet dit so wees. Tussen hom en laasgenoemde sal hy altyd ’n woordbrug span (al moet ons dit, soos Martie Meiring gesê het, samisdat-styl doen — ook met die onbetroubare en verraderlike “forward button”!) Behoede ons van ’n “ware volksdigter” in hierdie dae en tye.

EG: Dink jy ons gaan nog gepubliseerde werk van Breyten sien in Afrikaans, veral met die onlangse bloemlesing en musiekprojekte?

FG: Ek weet nie. En dit hang ook af van die toekoms van die Afrikaanse uitgewersbedryf as sodanig. As ons nie weer Afrikaanse publikasies deur Breyten gaan belewe nie, sal dit ons groot verlies wees.

EG: Watter potensiële rolle kan Breyten nog in die hedendaagse Suid-Afrikaanse werklikheid speel indien hy sou besluit om nie te onttrek nie?

FG: Onttrek van die hedendaagse Suid-Afrikaanse werklikheid? Of van menswees? Hy kan en sal in sy kuns die gewete van menswees beliggaam; vooruitkyk en waarsku as hy dink dat ons die weg kwyt raak; seismograaf en weervoorspeller, geheue en spaarbank, flitslig en horlosie wees. Maar dit kan hy ook doen sonder die “publieke domein” (nuwe laer) van “die Suid-Afrikaanse werklikheid”. Dis oor menswees dat ons nou begaan moet wees. Beteken dit dat ek sê hy hoef nooit weer aan openbare feeste/uitstallings/publikasies deel te neem nie? Of beteken dit juis dat ons vir hom ruimte moet bied om sy rolle uit te leef? En dan is ons weer terug by die ou-ou dans …

EG: Breyten is ’n nomadiese wêreldreisiger. Moet die publiek hom nie dalk los dat hy self sy eie weg verder baan nie? Dink jy hy sal altyd ’n mate van protes teen owerhede (en onderdane?) hê?

FG: Ja.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.