Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Windhond met 'n T-shirt aan

Jaco Botha

Skets deur Thinus Horn Bestel nou by kalahari.net!
Deur: Tinus Horn
Bestel nou!

Jaco Fouché, wat in 1997 bekroon is met die Eugène Marais-prys vir sy debuutroman, Die ryk van die rawe, het na 'n stilte van agt jaar lesers weer aan die praat oor sy nuwe roman, Die avonture van Pieter Francken.

As iemand my ooit vra om vir Jaco Fouché te beskryf, sou ek sê: hy is 'n windhond met 'n T-shirt aan. Dis hoe ek hom onthou, ou Jakkelaas, uit ons roekelose Kaap-dae, effens bewerig; waarskynlik winddronk; met 'n kyk in die oë wat sê hy moet êrens heen hardloop, maar is self nog net nie seker in watter rigting nie.

Menige aande en vroeë oggende het ons die strate van die middestad verken, op soek na meisies en nog drank. Ek onthou hoe ons plat op ons rûe weerskante van 'n (destyds) jong uitgewer op haar pienk slaapsak in die Kompanjie-tuine gelê en kyk het na die blou maan tussen die takke van akkerbome.

Ek onthou hoe ons stront gepraat het oor Vereeniging, die dorp waar ons albei as seuns van regsgeleerdes grootgeword het en hoe Jaco vertel het van die reuk van lemoene en die geskarrel van rysmiere in die vaal wintertyd.

"Ja, die Kaap is nog baie lewendig in my kop," sê Jakkelaas wanneer ek hom op die telefoon in die hande kry. "Dit voel vir my op 'n manier of ek tóé laas werklik dinge gedoen en gelewe het."

Jou nuwe roman speel in Bellville af. Dit word uit die perspektief vertel van 'n bestuurder in 'n IT-afdeling wat moet gaan soek na 'n verloopte programmeerder op die "vlakte". Daar is ook nogal 'n karakter, James van Blerk, waarin ek vir jou herken het. Jy het op 'n kol vir my gesê: "Ek het Die ryk van die rawe nie net geskryf nie, ek het dit geleef!" Was dit ook die geval met Die avonture van Pieter Francken? Hoe outobiografies is jou werk?

Die hele ding met Die ryk van die rawe was dat ek in drie weke in Engeland sterk indrukke opgedoen het (en taamlik deeglik beskryf het in my joernaal) waarmee ek iets moes doen toe ek terug was in Suid-Afrika. Die eerste weergawe van die storie was so 33 000 woorde lank en was 'n redelik oppervlakkige aksieverhaal met elemente soos die dubbelganger-ding tussen Ratkas en Bruno en die polisie-misdadiger-jag en die toeristiese vreemdheid van Ratkas, wat ek een honderd persent net so ervaar het. Toe hierdie weergawe nie aanvaar is nie, maar wel aangeprys is, het ek die volgende een 'n bietjie meer "diepte" probeer gee, en ook soveel "local flavour" as moontlik in die storie ingewerk, wat ek kon doen omdat ek nie net foto's gehad het nie, maar ook die aantekeninge in my joernaal wat taamlik gedetailleerd was. (Ek sê "joernaal", maar dit was eintlik 'n toonbankboek met ligblou lyntjies.) Nou ja, 'n mens weet tog jy kan nie in drie weke 'n plek leer ken nie, maar my storie is immers 'n storie, dis fiksie, dis 'n blote uitvloeisel van die werklikheid en glad nie die werklikheid self nie. Dit is verisimilitude, of skynwaarheid, wat 'n mens probeer bewerkstellig. (Dit moet wees wat ek bedoel het toe ek gesê het ek het Die ryk van die rawe geleef. Wat 'n skrikwekkende ding om te sê!) Verder het ek maar verwysings na ander boeke ingewerk, dalk te veel van hulle. Ek probeer juis om minder literêr en meer realisties te skryf, maar as ek my weer kom kry, skryf ek oor On The Road of iets anders wat ek gelees het.

Ek was ongelooflik opgewonde om in Engeland te wees: in Trainspotting reken hulle heroïen is beter as seks, maar ek skat (weliswaar in my onkunde oor dwelms) om die eerste keer in 'n vreemde land te wees, is beter as heroïen. Toe ek en Justin, my reismaat, daardie middag uit die Underground kom van Heathrow af en by Picadilly Circus na die verkeer en die mense staan en kyk, het ek niks literêrs gehad om te sê nie en raak toe maar kwyt: "Hei, dis befok om hier te wees." Dit het ek bly sê oor die volgende aantal dae, tot 'n vrou in Madame Tussaud's vir my in Afrikaans vra of ek uit die Kaap is, want dit klink so. Toe het ek sagter begin praat!

Die hele ding met 'n mens se eie lewe gebruik werk vir my so: die fisiese en biografiese agtergrond en die mense en die situasies kan almal gebruik word, maar 'n mens moet onthou dat hulle op hulle eie maar saai elemente is. Ek verkies dit om 'n taamlik dramatiese storie aan hulle te haak of oor hulle te hang eerder as om hulle net so weer te gee. Ek sou sê die outobiografiese materiaal is soos kapstokke waaraan 'n mens jou storie ophang soos 'n banier wat jy teen die gangmuur drapeer, en dit help baie as jy die banier darem 'n bietjie kleurryk en outrageous kan maak. Vir my is dit eintlik verplig dat 'n storie melodramaties en 'n bietjie skouspelagtig moet raak, maar die agtergrond moet byna hiperrealisties wees: 'n nar kan hom ewe onwaarskynlik voordoen in 'n woonbuurt op die Vlakte, maar daardie woonbuurt moet na aan werklik lyk. Dalk kom dit van Stephen King af wat omgewing in besonderhede kan beskryf, maar dan 'n spook (of meer waarskynlik 'n afkopgedrog) deur die landskap sal laat wandel. Ek het nog net drie stukke geskryf wat sonder veel oordrywing uit my eie lewe kom, en dis die drie kortverhale "Walter" en "Walhalla" en die titelverhaal in die bundel Paartie by Jake's. Die slot van "Walter" het ek ter wille van die storie geskryf, en ons hond was van 'n kleiner tipe as 'n kolliehond, maar die res het baie so gebeur. "Walhalla" het feitlik net so uit die gebeure van daardie maand op kamp gekom: ek het net 'n paar mense weggelaat en ekstra gebeure uitgesny (wat my altyd gefrustreer én gefassineer het van die army, is dat 'n mens vir so lank besig kan wees - baie gou en jy het 'n dagvol gebeure) en die ding oor drie aande na werk gesit en uittrommel op die toetsbord, gedagtig daaraan dat Kerouac On The Road in twintig dae kon skryf. Dis nog steeds 'n storie waarop ek trots is, al dink ek met die herlees ek moes dit korter gemaak het en meer gedissiplineerd geskryf het. Ook was daar 'n interessante insident in die offisiersmenasie in Tempe waarvoor ek nie plek gekry het nie, en ek het ook nie vertel hoe stresvol dit was om met ou weermagvoertuie tussen Pretoria en Bloemfontein te ry nie: die eerste paar trips was my hart in my keel, veral bang vir bande wat bars, soos toe wel met een van die ouens gebeur het (hy het darem niks oorgekom nie). Verder vang dit die hele "flavour" van daardie spesifieke kamp goed vas. Die storie "Paartie by Jake's" was 'n opsomming van my vyf veelbewoë maande in diens van 'n kroeg. Ek het gedink ek het die ervaring uitgeskryf, maar in 'n onlangse novelle het ek weer van daardie tyd gebruik gemaak. Dis verbasend hoe handig ervaring wat jy pes terwyl jy dit ondergaan, later van tyd word. Dit sal op grond hiervan wees dat ek eendag iets soos 'n ekspedisie sê maar Mars toe sal aanpak, nie omdat ek dink ek sal dit geniet nie, maar omdat dit later so lekker oor geskryf sal kan word.

Oor Pieter Francken: die James van Blerk-karakter is ek in 'n mislike bui, soos Francken ek is in 'n baie vriendelike bui en Dorothea ek is in 'n gesaghebbende bui. (Ek hou nogal baie van my Dorothea: sy duld geen nonsens nie. Sy is, behalwe op my, gebaseer op die enigste maatskaplike werker wat ek ooit ontmoet het, wat net so kwaai en op die punt af met mense omgegaan het. Sy moes seker in haar posisie al lankal geleer het dat mense haar andersins 'n rat voor die oë sou draai.) Met Die ryk van die rawe het ek 'n tegniek gebruik wat ek in 'n selfhelphandleiding opgetel het: maak karakterverslae waarin jy alles waaraan jy kan dink, oor jou karakter aandui: skool, ouers, werk, opvoeding, godsdiens, politieke belangstelling, voorkoms, lengte, voorliefde vir fisiese oefening al dan nie, stokperdjies, ensovoorts. Ek het 'n vel papier vir elkeen van die hoofkarakters gehad. Nou skryf ek nie meer velle papier vol nie, maar ek gebruik nog die beginsel wanneer ek 'n karakter maak.

Ja, hel, skryf. Wat 'n verspotte tydverdryf is dit nie eintlik nie. Al daardie gesit en staar in die hoop op 'n paar honderd woorde en wanneer jy eendag iets klaar het, dink jy daaraan as die boek wat die gang van die Westerse beskawing gaan versit. En dan word die ding afgekeur en jy kom sit maar weer daarmee! Dis 'n obsessief-kompulsiewe ding en dit moet seker so wees, of boeke sal nie ontstaan nie. Nie almal neem jou ernstig op wanneer jy dit noem as jou nering nie. Dis soos om te sê jy gaan president word eendag: mense knik en sê "O" en vra of jy nog koffie wil hê en lyk ontevrede as jy ja sê. Ek oordryf, maar ook nie heeltemal nie. In 1994 toe ek in daardie Bellville-kroeg gewerk het, het ek na meer as 'n jaar van skribbel een aand lus gehad om iemand te vertel ek is besig om 'n boek te skryf, net sodat ek kan voel dat die lewe wel die een of ander tyd sal verander, indien dan nie spesifiek verbeter nie. Toe kies ek 'n Duitse ou met wie ek voorheen al oor comics gesels het. En ek het die hele plot van die boek aan hom uitgelê alhoewel dit nog maar halfpad geskryf was en ek het hom goed vertel wat ek nie eens my girlfriend vertel het nie (oor die boek, dit wil sê!). En hy het sy wenkbroue gelig en sy bier klaargemaak en gesê hy wil nog een hê. Toe het hy oor die digter Rainer Maria Rilke begin praat en Rilke se ma wat hom as dogtertjie aangetrek het en sy latere liefde vir 'n sekere vrou, die eerste van maar net 'n paar sulke literêre sessies in Jimmy's Grill. So elke af en toe was daar oplewing en ondersteuning en het ek weer gevoel ek is op die regte pad. Ook in daardie tyd het ek vir Janosz (weet nie wat sy van is nie, hy was apteker in dieselfde straat as die kroeg, baie intelligente man) en Marianna Brandt (van 'n woonstel aan die ander kant van die blok) leer ken. Marianna, het ek gehoor, is 'n skrywer en een aand het ek haar gevra of sy sal kyk na my manuskrip teen 'n fooi, want ek was glad nie seker of wat ek doen, veel beteken het nie. Ons het afgespreek dat sy sou kyk daarna, maar toe het ek ander werk gekry en ek moes dit binne 'n dag vat en toe het ek haar nie weer gesien voor Die ryk van die rawe gepubliseer is nie. Maar so was daar mense wat hierdie oomblikke van hoop gebied het so tussen al die frustrasie en kitchen-sink dramas deur!

In elk geval, daardie een is ou nuus. Dit was 'n lekker boek om te skryf, hierdie Pieter Francken-een. Dit was goed om terug te wees in Bellville en omgewing, al was dit maar in die gees. Soos ek gesê het in 'n ander onderhoud, Koningsdal is gebaseer op Elsiesrivier, en die gedagte aan 'n verdwene programmeerder het opgekom toe my baas my eendag stuur om te gaan kyk waar 'n kollega dan is. Dit was nie veel van 'n soektog nie: ek moes net oor die straat stap na sy wooneenheid waar sy maats my nie kon of wou help nie. Toe het ek verslag gaan doen en maar huis toe gestap en gewonder wat van die man geword het. 'n Dag of twee later het iemand hom toe by familie opgespoor. Hoekom hy weg was, weet ek nog steeds nie, maar dis waar die storie vandaan gekom het.

My dae as programmeerder is nou al lankal verby, maar ek het nog 'n paar pelle by die maatskappy waar ek was wat my van tyd tot tyd herinner aan die dae daar. Die kantoorgebou was 'n gawe plek in die nag wanneer 'n mens alleen daar kon sit, onthou ek goed: die hoë dak van die atrium en die blou afskortings en die mat en die hummende rekenaars. Te heerlik om dan e-pos te sit en skryf. In die dag was dit soms maar saai en vol take wat nog verrig moet word en kollegas met wie jy moet omgaan. (Ek lees eendag dat 'n kantoorwerker 'n groot deel van sy dag daaraan moet afstaan bloot om sy werk te behou en dit beteken die onderhoud van goeie verhoudinge met sy kollegas. Hoeveel werktyd mors dit nie?) 'n Gedeelte van die werk het my party dae gek gemaak, want wanneer iemand by my omkom met nog 'n navraag oor 'n navraag oor 'n polisrekord, het ek gesit en dink: "Ek kon nou aan my storie gewerk het. Ek kon nou met die trein stad toe gegaan het. Ek kon nou in Hermanus gewees het." Maar ek kla nie net nie. Soos ek sê, het ek 'n paar pelle daar gemaak en ek is nog steeds in verbinding met hulle. Ook was ek deel van 'n interessante data-oordragprojek, waaroor ek bly is, want daar kon ek darem my programmeringsvaardighede gebruik, al is dié miskien maar beskeie. 'n Kollega, Japie, het die werk aan my oorgegee toe hy oorsee is en hoewel ek aanvanklik geskrik het vir hierdie diep water, het ek saam met gawe mense help bou en onderhou aan die werk waarmee hy begin het. Dit was werk wat die moeite werd was, want 'n mens kon sien in watter rigting jou energie aangewend word en wat die eindresultaat sou wees. Kort na die projek voltooi is, of ten minste in so 'n mate klaargemaak is dat ander mense daarna kon omsien, het ek bedank en toe Personeel my vra hoekom, het ek, wild and crazy, gesê ek wil 'n boek gaan skryf.

Wanneer is jy toe uit die Kaap weg en waarheen is jy?

Einde Maart 1998 is ek uit die Kaap Prins Albert toe. Toe was ek net mooi agt jaar in Bellville gewees. Snaaks, ek kom nie verder as Bellville met die skryfwerk nie. Hoewel 'n mens natuurlik jou hele kindertyd met sy mense en dinge het om oor te skryf, is dit die tyd in Bellville wat my die meeste interesseer. Daar het altyd nog iets gebeur: ek kon nooit eintlik rustig raak óf verveeld voel nie.

Op Prins Albert het ek net drie maande gebly, om redes wat ek eendag in 'n topverkoperroman sal verduidelik. Maar dit was 'n handige tydjie, sover dit ervaring aangaan. Ek het ook gawe mense daar geken, soos 'n tannie en oom van my, en die vrou by wie ek my huisvesting gehuur het, en 'n bejaarde paartjie met wie ek bevriend geraak het - dus was ek nie te erg op my eie nie. Verder was dit lekker om 'n bietjie in die veld te kom en in die berg te gaan stap en met die stofpaaie langs fiets te ry. Maar ja, party dae was ek so alleen soos ek nog selde vantevore was. As ek weer so 'n uittog aanpak, sal ek dit hopelik saam met my toekomstige vrou doen. Nie weer alleen nie.

Daarna het ek Bloemfontein toe gekom en behalwe vir drie maande wat ek in Johannesburg gewerk het, is ek nog die heeltyd hier.

Daar was 'n agtjaar-stilte na jou laaste boek, Paartie by Jake's - hoekom? Waar was jy?

Die stil jare is meestal toe te skryf aan onverwagte olikheid, waaroor ek alles sal verklap in daardie topverkoperroman wat ek genoem het. Maar ek het darem 'n 90 000-woord-storie geskryf gekry wat toe ongelukkig onsuksesvol was. Dit het ook in Bellville en die Kaap afgespeel, soos Pieter Francken en my nuwe novelle wat ek 19 Julie klaargemaak het (ek moet darem eers vir iemand vertel). Die hele ding was 'n probleem, het baie swaar gekom en ek het nooit eintlik geweet waarheen dit gaan nie, maar ek het bly skryf agter die klank van die sinne aan of iets. Ek was bitter verlig die dag toe ek dit aanstuur vir oorweging, want toe was ek klaar daarmee en kon ek aan ander goed aandag gee. Nou ja, dit is nooit aanvaar nie, want die storie wou nooit opstaan nie: ek het bly skryf en gehoop iets sal die een of ander tyd gebeur om die ding te red en dit het nie. My tweede roman is toe wel my graf, soos soms gesê word van tweede romans. Dele daarvan het ek in 'n kortverhaalbundel ingewerk wat op die oomblik by Tafelberg-uitgewers is vir oorweging. As daar meriete daaraan is, is dit in die atmosfeer, so 'n lekker melancholiese impak wat dit maak, asook in die Kaapse beskrywings, waarmee ek meer moeite as gewoonlik gedoen het (miskien ook maar tot nadeel van die storie). Ek hou van die hoofkarakter, 'n afgetrede stafsersant wat toe 'n koster geword het en nogal eensaam is. Hy is beskryf as "pietluttig" deur een van die keurders. Die woord moes ek in Van Dale gaan naslaan om te sien wat dit beteken. Gawe woord, beteken min of meer "Jannie Jammergatterig".

Verder het ek by M-Net in Randburg gewerk vir 'n tydjie, en ook 'n kort rukkie in die onderhoudshof by die landdroskantoor, waar ek die inhoud van lêers oorgedra het op rekenaar. Wat dit eintlik beteken, is dat ek heelwat moes tik en pakke lêers ronddra, maar dit was 'n gawe tyd daar, interessant, hoewel ook ontstellend. Weet jy hoeveel mense skei? Dêm baie. En vroue trek gewoonlik aan die kortste ent, want hulle moet gewoonlik aangaan met die gesin en is afhanklik van onderhoudstoelae wat soms maar klein is. Ek sal nogal vir 'n staatsdepartement soos Justisie kan werk, glo dit of nie, al kla ek oor my dae in 'n groot maatskappy. Veral Justisie dink ek is nogal vibrant en opwindend, miskien omdat my pa en ma daar gewerk het, maar ook oor die gewigtigheid van straf- en siviele sake: dis mense se gedrag wat beoordeel word en hulle lot wat bepaal word. In 'n ander lewe sou ek 'n prokureur of 'n aanklaer wou wees.

Die feit dat ons albei Jaco's is, verwar soms mense. So het daar al meer as een belustige antietjie vir my gesê hoe 'n "wonderlike boek" Die ryk van die rawe is en my vandaar met woord en daad probeer inspireer om "nog en nog! Nog! Nog!" te skrywe. Het so iets al met jou gebeur? Wat is jou ervaring?

Mense het al gedink ek is die Jaco-helfte van die Jaco Botha en Tom Dreyer-vennootskap! Maar nee, ek dink mense glo my nie altyd as ek die skrywerwoord gebruik nie. Eendag het 'n vrou vir my gesê ek moet eerder sê ek is werkloos.

Oor belustige antietjies kan ek net sê dat daar te min in my lewe is. My skrywery het al een of twee van hulle opgejaag, maar ek was te toe om te besef wat aan die gang is. Ek het net gedink: maar hierdie vrou is so vriendelik … Nee, ek maak 'n grap. Ek weet eintlik niks van belustigheid nie. En ek hou van vriendelike mense.

Die ontvangs van 'n mens se boek intrigeer my natuurlik. Wat dink mense daarvan? wonder ek altyd wanneer ek in die biblioteek kyk hoeveel datumstempels daar voor in die boek is. Daar is eintlik net die paar resensies wat verskyn om volgens te gaan, want die verkope bly maar effentjies en 'n mens hoop dis nie 'n aanduiding van jou vermoëns nie. Een keer by Sanlam het ek wel gehoor twee mans praat oor Die ryk van die rawe kort nadat ek in 1996 daar begin werk het. Die een ou het sy aandeel aan die gesprek afgesluit met: "En toe eindig die boek, maar life het nie meaning nie …" En ek het na hulle gekyk en hulle na my en daar was hierdie ongelooflike afgrond tussen ons wat ek nie geweet het hoe om te oorbrug nie. En eendag het iemand in die verbyloop 'n sin uit een van my Sarie-stories aangehaal en sy en haar maats het gelag. Dit het my skerp herinner aan 'n insident op laerskool toe die taaljuffrou een van my opstelle aan 'n hoër klas voorlees. Ek sê jou, daardie pouse het ek gebars: ek onthou nog een van my sinne uit die opstel bloot omdat dit deur al wat 'n ouer seun is aan my voorgedra is: "Hy hanteer die swaard meesterlik." Sien die mense nie grootsheid raak nie of wat? Filistyne. Watertrappers. Drolrokers. 'n Ander keer het iemand vir my gesê ek dink ek is Koos Kombuis, maar dit was doodgewoon nie waar nie: ek het op daardie stadium gedink ek is Dostojewsky. Maar ernstig: ten minste word 'n mens blykbaar gelees, al is die ontvangs nie altyd wat jy wou gehad het nie.

Wie is die skrywers en ander mense wat jou beïnvloed het?

As ek vinnig moet dink, sou ek sê The World According To Garp van John Irving en 'n paar vroeë stories van Stephen King (veral die bundel Different Seasons, waarvan drie van die novelles later verfilm is) en twee stories van Nikolai Gogol het my gedurende my dienspligjare die meeste beïndruk - en dit was toe ek desperaat gehoop het ek gaan eendag 'n skrywer wees, want 'n groot soldaat was ek wragtig nie en ek het ook swarigheid voorsien in die arbeidsmark wat ek sou moes betree wanneer ek klaar was met die uniformdinge. En resensente sal my nie vergewe as ek nie die naam Etienne Leroux noem nie, so ek moet seker, veral vir Die Mugu en Sewe Dae By Die Silbersteins. (Net 'n grappie.)

En dan die ouens wat flieks skryf en maak: David Webb Peoples wat Unforgiven en Twelve Monkeys geskryf het; David Mamet vir Glengarry Glen Ross en The Untouchables en The Spanish Prisoner; Martin Scorsese wat GoodFellas, Taxi Driver, After Hours, Casino, Bringing Out The Dead geregisseer het. Op televisie is daar David Chase (The Sopranos) en in mindere mate Aaron Sorkin (The West Wing), wat ook die fliek A Few Good Men geskryf het.

'Skuus dat ek so min vroue noem. Daar is wel PD James van wie ek 'n paar boeke ken. The Skull Beneath The Skin, met Cordelia Gray as die speurder, was baie goed, het ek gedink. James se beskrywings is verstommend en nogal intimiderend. Ek weet nie wat om te sê oor die skaarsheid van vroue nie, maar ek dink nou aan Erica Jong se Fear Of Flying waar ek die skerp indruk gekry het dat ek besig is om iemand af te loer, dat hierdie boek niks met my te make het nie. My eie fout, ek weet. Ook het ek Anaïs Nin gelees, maar dis maar vrystories, soos Henry Miller se goed ook. Ek moet erken ek het nie baie van hulle goed gelees nie, want dit het so privaat voorgekom, so ek weet waarskynlik nie waarvan ek praat nie. Ek is nie mal daaroor om oor seks te lees nie. Die ervaring (ek bedoel die lees oor seks) is overrated. Dis soos window-shopping agter motors aan wat jy nie kan bekostig nie.

Mense wat my beïnvloed: natuurlik my ouers, aan wie ek eindelose dank verskuldig is. Van my tannies en ooms. 'n Paar skoolmaats met wie ek nog van tyd tot tyd kontak het, aan wie ek myself natuurlik meet: is my vooruitgang nog in pas met hulle s'n? (Dis lank nie meer nie: hulle het nie net een en almal tersiêre opvoeding nie, maar ook winsgewende werke en gesinne. Ek is ook die enigste een wat nie in die Wes-Kaap woon nie.) Maar ook mense wat ek nie eintlik ken of geken het nie, soos Klaas Steytler wat ek twee keer ontmoet het en miskien altesaam drie minute mee gepraat het, maar wat tog (meestal deur sy boeke, maar ook danksy ander mense se vertellinge oor hom) indruk op my gemaak het. Karel Schoeman beïnvloed my ook, al ken ek hom van geen kant af nie. Hy is vir my 'n genuine skrywer, eenkant, besig met die werk wat gedoen moet word. Ken jy Die Laaste Afrikaanse Boek? Dit is 'n groot en insiggewende werk, as mense wat meer weet as ek nie nou hulle oë gaan rol oor my mening nie. Hy's baie goed. Ek onthou 'n frase uit 'n novelle van hom: "… afgesien van die onuitspreeklike gemis wat die dae deurtrek." Groot skrywer wat die klein dae in 'n mens se lewe goed verstaan. 'n Bietjie nuttelose inligting: my bib-kaartjie het verval en ek het nog nie weer aansoek gedoen nie, maar die biblioteek waarheen ek gewoonlik gaan, die een in Wes-Burgerstraat, is die een waar Schoeman gewerk het. Dis altyd vir my 'n cool gedagte wanneer ek daar kom.

Wat is vir jou die eienskappe van 'n goeie boek?

'n Mens moet wil aanhou lees. 'n Mens moet weer wil lees. 'n Mens moet mense wil vertel daarvan. Hoe om so 'n reaksie te bewerkstellig weet ek egter nie, anders sou ek seker al daardie topverkoper geproduseer het. Of 'n literêre meesterstuk. (Ons wat nie topverkopers produseer nie, is maar tevrede met literêre meesterstukke.)

Graham Greene het in 'n resensie van Etienne Leroux se To A Dubious Salvation (natuurlik die vertaling van die Silberstein-trilogie) 'n mooi ding gesê: dat die woord oor Leroux sal versprei dat hier 'n ernstige skrywer aan die werk is, en mense sal een-een en twee-twee na sy boeke aankom om te lees daaraan. Ek dink dis van werklik goeie skryfwerk dat so iets gesê word.

Wat maak 'n boek goed? Ek dink assosiasie. Die leser moet assosieer met wat hy lees. Miskien gaan dit oor die herkenning van die eie wêreld. Dus hoor die leser eintlik wat hy wíl hoor (sal jy vra), en daarom dink hy 'n boek is goed? Ek weet nie. My teorie verklaar nie hoekom oorspronklike boeke dan gewild is nie!

Wat sou jy sê is die belangrikste temas in Die avonture van Pieter Francken? Is temas vir jou belangrik of glo jy meer in storie?

Ek glo in effekte, as dit nie gemeen klink nie. Of dis hoe ek aan tema en storie dink, in terme van watter uitwerking dit op 'n mens het. 'n Verhaal is manipulasie, heerlike en aanvaarbare manipulasie, maar nog steeds manipulasie. Op skool het die Engels-onderwyser eendag gesê: "Build your essay around irony and invariably you've got a good story." Dit was waardevolle raad. Maar die lewe bestaan in elk geval uit ironie en kompromieë en 'n mens hoef net jou oë oop te hou om materiaal op te tel.

Daar is 'n tema in Pieter Francken wat oor arbeid en plig gaan waarvan ek baie hou. Ek vermoed van my vorige kollegas sal dalk nie saamstem nie, maar ek is doodernstig oor werk - solank die werk sinvol is en sinvolle resultate toon. Dit hoef nie spesifiek baie te betaal nie, maar 'n mens moet iets kan wys vir jou moeite. En 'n mens moet in 'n veld wees wat iets vir jou beteken. Ek weet baie mense het nie 'n keuse nie, maar dit is darem aaklig om iets te moet doen wat jy pes. Maar ek moet ook noem dat 'n mens dalk van kleins af gekondisioneer word om "meer" uit die lewe te verwag: jy word geprogrammeer om die waardes en doelwitte van die hoër middelklas aan te hang. Ons witboordjie-dudes dink soms ons kan met gesag skryf oor die werkersklas want: "Lyk hulle nie darem vreeslik ongelukkig nie?" Maar die mense is nie werklik nie, en hulle wêreld is glad nie so afskuwelik as wat ons ons soms wysmaak nie. Hulle het vaardighede, families, sosiale lewens; hulle het ook fun. Hulle is ten mínste so gelukkig soos ons, dink ek. (Hier moet ek miskien erken dat ek soms wonder of ek die middelklas maak. Maar dan besef ek weer ek het geen handvaardighede nie, so ek moet maar net.) (Na hierdie opinie moet ek seker sê dat ek skuldig voel oor Ratkas wat ek uitgebeeld het as 'n werkersklasoutjie met behoefte aan opgang maak. Ek voel skuldig omdat ek weet 'n mens wat gelukkig is in sy omstandighede, sal nie die nodigheid insien om daardie opgang te maak nie. Baie ouens is doodtevrede as hulle net 'n enjin kry om aan te werk. Ek is weer tevrede as ek aan 'n storie kan werk. Uiteindelik is dit dieselfde ding, hoewel ek nie so erg hoef hande te was voor ek gaan eet nie! Daar is kuns in carburettors ook …)

En dan is daar iets oor die verwerking van ou sielkundige inhoude in die boek, soos Francken in sy droom op die hospitaaldak cope met die dood van sy ouers deur twee nuwe figure in hulle plek te stel. Daardie droom wat ek daar beskryf, het ek terloops een Saterdagoggend gehad. Dit was na ek 'n boek oor die heraldiek uitgeneem het en my kop was vol familiewapens en leuses. Maar die man en vrou in die droom het nie die name Jacques en Rosalind gehad nie: hulle was maar net van daardie anonieme vriende wat 'n mens soms in drome nader en jou vir dae lank laat dink dat daar iets besonders aan die lewe is wat jy bly miskyk.

Ook is daar 'n karnavaltema wat ek nie kan verklaar nie. Ek onthou my probleem was om Francken besig te hou vir 'n uur of wat en toe pop die skoolsportagtige gebeure in die straat op, asook die nar. Ek hou nogal van sirkusse, veral clowns. Ken jy die fliek Her Alibi met Tom Selleck en die mooi akrobaat met die onuitspreekbare naam? Was dit Paulina iemand? Dit eindig by 'n sirkus. Soos ook daardie een James Bond-fliek. Octopussy, dink ek. En ek bly mimiekkunstenaars in winkelsentrums sien … 'n Mens sien maar die goed iewers en dit maak indruk en dan wil jy jou eie sirkus probeer.

Die enigste ding wat my werklik gepla het van die Pieter Francken-storie is die fokken nar. My vrou Ingrid het wel van die clown gehou, maar ek het dalk al net te veel Afrikaanse boeke met narre daarin gelees. Wat is die funksie van die nar in die boek? Waar kom die nar vandaan?

Die nar is ingegee deur die figuur van 'n werklike nar wat by een van die kunstefeeste naam gemaak het. Ek vergeet ongelukkig wie dit was, maar dit was 'n bruin man wat in Parys mimiek studeer het en bleddie goed was, volgens wat ek op televisie gesien het. Verder hou ek nogal van mimiekkunstenaars, want hulle is so anoniem agter die make-up en die uitdrukkinglose gesigte. En ek het, terwyl ek die boek geskryf het, probeer sin maak van 'n Jungiaanse boek oor feminisme in sprokies, toe is ek vatbaar vir eienaardige figure en die "werking van die onbewuste". Hoewel ek nie veel daarvan weet nie, vind ek psigoanalise nogal interessant: dit voer my so terug na kleintyd se stories en comics wat so 'n groot impak op 'n mens gemaak het, en dit teen die agtergrond van die veilig-voel in jou ouerhuis. Snaaks hoe die goed egter hulleself laat geld. Ek onthou toe ek in 1996 Man And His Symbols oor Jung gelees het, het ek skielik begin droom in terme van die figure van die onderbewuste soos hy hulle uiteengesit het. Ek kon karakters onderskei: die anima, die Skadufiguur, die ou man wat 'n mens moet lei, natuurlik die ouerfigure … Fassinerend. Vir 'n tyd was ek 'n convert, maar ek het Jungianisme as 'n selfhelpding begin sien wat dit blykbaar nie is nie, en toe ek nie my persoonlikheid verander kry nie (ek wou leer hoe om aan te pas by my werksomstandighede!), het ek dit maar gelos …

So jy hou nie van die nar nie? Ek het eintlik planne vir hom in 'n ander storie gehad …

Ek sou sê sy funksie is die inleiding van 'n soort abstrakte en verspotte benadering tot Francken en Santie se lewens. Daar is tog 'n groot onwaarskynlikheidskomponent aan die lewe: fantasie en fantasmagorie lê 'n mens om elke hoek en draai voor - vra enigiemand wat sy bestuurslisensie moet laat hernu. Francken is ook 'n nar, op 'n manier. Of miskien moet 'n mens sê dat iemand wat baie glimlag, beslis 'n nar in sy lewe het. (Santie sal grom sy is die een wat die nar in haar lewe het.)

Wat sien jy as kuns?

Kuns gebeur waar geestelike of verstandelike aspirasie en materiële beperkinge mekaar ontmoet. Maar dis 'n ding vir jou hande. As 'n mens iets maak met daardie hande, sien jy egter om na jou geestelike behoeftes. So iets!

Ek moet ook sê dat ek dink enige mens kan kuns maak. Net omdat ek gewoond is aan langerige stukke tik, beteken nie dat ek 'n beter skrywer is as iemand wat goeie sms'e stuur nie. Dis ook vir my 'n kunsvorm. Troukoeke en modderkoekies is albei kunsvorme: dit gaan oor uitdrukking en inspanning en resultaat. Miskien moet ons prestasie meet aan die inspanning self eerder as aan die ooglopende resultaat van daardie inspanning. Dan wen die mense wat elke jaar so swaar kry agterlangs vir 'n verandering die Comrades!

Hoe oud is jy nou en hoe voel jy daaroor? Wat is jou toekomsplanne? Wat wil jy nog graag bereik?

Ek word November 38 en kan dit nie glo nie, al weet ek ouer mense dink nou: "Oh please, jou dêm spring-chicken." "Where have all the flowers gone? Long time passing." My toekomsplanne is om 'n gereelde inkomste te bewerkstellig uit skryfwerk. Daarvoor sal ek heelwat meer moet skryf, seker, en ek weet nie of dit 'n goeie ding is en of ek selfs kan nie. 'n Britse skrywer, John Braine (Room At The Top), het in die sestigs eendag by 'n funksie vir die prolifieke Anthony Burgess gesê: "You write too much, but I suppose you have to." Burgess moes 'n lewe maak uit sy skryfwerk. Nou ja, ek weet dit is utter cheek om myself met iemand soos Burgess te vergelyk, maar ek verstaan Braine se sentiment. Sommige prosesse kom stadig en maak nie gou klaar nie. Of dalk is ek net lui en gebruik nou net verskonings en besef dit nie. Wat ek wel wil bereik, is om 'n lewe as skrywer te kan maak, goed of sleg. Ek kan maar 'n hack ook wees, dis okay, solank ek net skryf. (Hoe sidder ek nie oor daardie sin nie …)

Wat boekproduksie betref, het ek 'n doelwit. Ek wil tien romans skryf in my lewe, en so on the side kortverhaalbundels. Miskien ook 'n digbundel of 'n bundel lirieke, maar beslis eendag 'n reisjoernaal. Tussendeur miskien tydskrifverhale en so af en toe 'n artikel. En eindig die lewe af met 'n outobiografie, alhoewel ek nie weet wat ek daarin sal skryf nie, want ek het en verkies maar 'n stil lewe.

Watter Afrikaanse boek sou jy nie omgegee het om self te geskryf het nie?

Die Walvisman van Klaas Steytler en Kambro-kind van FA Venter.

Jy het genoem dat jy in 1999 laas 'n "fling" gehad het? Val 'n mens se tollie nie af na so lank nie? Hoe lyk jou ideale chick/vrou?

Dit val nie af nie, dit word groen.

My ideale vrou moet verkieslik van my hou, maar dis nie 'n vereiste nie.

But seriously - dit sal iemand moet wees wat nie elke vyf jaar 'n ander huis verwag nie en wat tevrede is met 'n ouerige kar. Ja, ek weet daar blaas ek so pas my kanse op 'n verhouding.

Hoe ervaar jy jou skrywerskap? Dink jy daar is 'n toekoms vir ouens soos ons (Afrikaanse skrywers)?

My skrywerskap? Dis my werk, my ambag. Dis iets wat ek leer doen het en nog steeds moet leer doen. Met Die ryk van die rawe het ek gedink: eendag sal ek maklik skryf aan 'n boek, maar dit het tot dusver nog nie so gebeur nie. Elke keer brand 'n mens vas en soek jy na woorde en wonder jy of daar nie iets makliker is om aan te pak nie, maar die waarheid is daar is nie: hierdie ure agter die rekenaar is wat ek wil insit en ek wil boeke skryf. Al kom hulle so stadig, wil ek nie iets anders doen nie.

Ek dink daar is tog 'n toekoms vir ons Afrikaanse skrywers, maar ek hoop dis ook 'n finansiële toekoms en dat 'n mens realistiese geldelike vergoeding sal ontvang vir wat jy doen. Dit beteken verkope en lesers en daaroor weet ek nie wat om te sê nie. Dit lyk my nie 'n mens kan eintlik kies wat jy skryf nie: dit hang af van hoe jou kop aangeskroef is. Sommige ouens skryf populêr en vaar finansieel beter; ander ouens kan nie eintlik nie en wend hulle dus tot meer intellektuele goed, wat nie altyd die verstandige ding is om te doen nie, maar het 'n mens 'n keuse? Die ryk van die rawe en Pieter Francken het albei begin met die gedagte aan 'n skop-skiet-en-doodslaan-storie, want ek geniet sulke verhale, en dan gebeur iets langs die pad en dit word iets wat seker nie heeltemal intellektueel is nie, maar tog in daardie rigting neig. Weet nie. Dis moeilik om te oordeel oor jou eie goed.

Daar is wel 'n paar mense van ons portuur wat weet wat hulle doen. Die afgelope paar jaar het ek gehou van Nini Bennett en Herman Wasserman se kortverhale en ek kan jou ook maar noem as iemand wat my impress, veral vir In Drie Riviere. Dan is daar SP Benjamin wie se volgende goed ek voor wag. Die heel onlangse verskynings ken ek nie. Maar daar is Manie de Waal se boek Trips wat ek dink nogal waardevol is as 'n rekord van 'n groep mense en hulle ingesteldheid op 'n gegewe tyd. En Izak de Vries se Kom Slag 'n Bees het ek eers einde verlede jaar onder oë gekry. Dit het ook vir my iets van 'n tyd daarin wat nou behoue is. Wat was daar nog? Annerkant Die Longdrop was 'n lekker lees. En Dine van Zyl se Slagoffers was briljant, eerlik, skokkend, goed. Natuurlik het ek baie gehou van die idee van iemand wat haar werk opgee om 'n taak te gaan verrig waaroor 'n mens kan skryf.

Wanneer mens 'n boek skryf, het jy tog (soos vir 'n kind) 'n droom vir daardie boek. Jy wil hê een spesifieke persoon moet dit lees, dit moet dalk daardie prys wen, of dit moet internasionaal goed vaar en 'n paar rand inbring. Wat is jou droom vir jou nuwe roman?

Ek moet sê, ek is nou so gekwel oor die nar waarvan jy nie hou nie dat ek eerder wil vergeet van die boek! (Net 'n grappie.) Die boek moet 'n stukkie tyd vasvang, miskien, sodat 'n mens oor dertig jaar kan sê: min of meer so het sommige mense gevoel in die laat negentigs in Bellville, Wes-Kaap, Suid-Afrika.

As ek 'n droom het, is dit miskien oor die verspreiding van die boek. Ek sal bly wees as baie mense dit lees, maar as dit nie gebeur nie, is dit ook okay. Ek het ten minste redelike sekerheid dat daar wel 'n paar mense is wat die ding geniet het.

Hoe voel jy oor die boekbedryf in SA? Dink jy dis gesond?

Ek weet maar min van die bedryf, maar dit lyk my almal wat daarin is, is entoesiasties daaroor. Dis wel gesond dat mense opgewonde raak oor boeke, hoewel dit nie altyd so gesond is dat hulle opgewonde raak oor die skrywers nie. Skrywers is vir my mense wat eerder in hulle studeerkamers moet bly. Hulle skryfwerk kan hulle baie goed verteenwoordig, dankie - hulle hoef nie nog persoonlik oral te verskyn nie. Dis soms trouens beter dat hulle nie verskyn en hulle personas aan flarde blaas nie. Maar dis die woorde van 'n kluisenaar-in-wording en moet dalk so gesien word. (Ek sê weer: ek is terrible met sosiale goed.)

Ons lotjie het te laat in die bedryf gekom om eintlik munt te kon slaan uit voorgeskrewe werk en moet maar hoor hoe goed dit gegaan het in die ou dae, maar dit is nog steeds baie lekker om 'n bietjie deel te kan hê aan al die dinge. Dis 'n opwindende wêreld. As ek nie geskryf het nie, sou ek nog steeds graag iewers daarin wou gewerk het, in 'n boekwinkel miskien.

Wat sou jy doen indien jy die lotto gewen het?

'n Kombi koop en vir 'n maand saam met 'n bud of twee deur die Karoo toer en mense ontmoet en in avonture beland. ("Walk the earth. Meet people and get in adventures," soos Jules in Pulp Fiction sê, net voor Vince vir hom vertel: "They're called bums, people who do that.") Daarna sal ek iets skryf oor die "hart van die land". Kom jy saam?

Natuurlik! Sonder twyfel.

Het jy enige spesifieke lewensfilosofie?

Dit lyk vir my al hoe meer dat 'n mens net verbete moet grinnik waar jy nie meer kan glimlag nie. Soos in daardie advertensies in comics in die sewentigs, toe T-hemde geadverteer is met die logo: "Keep On Smilin'". Of was dit: "Keep on Truckin'''? Of: "Smilin' Through"? In elk geval, daar het iets op die T-hemp gestaan wat my laat glimlag het … Daar is vir my meriete in Pieter Francken se vriendelike benadering tot die wêreld.

Heel aan die begin van die onderhoud praat jy oor ons Kaapse ekskursies, wat nogal iets besonders was. Onthou jy daardie een aand toe ons pool gespeel het in die vertrek met die duif wat in die venster gesit het? Wat 'n vreemde aand was dit nie. Als het vir my 'n bietjie onheilspellend en betowerend voorgekom. Toe ek 'n deposito wou betaal vir die pool cues, het die kroegman gesê dis nie nodig nie want hy ken my gesig. Ek wonder nou nog hoe en ek moes hom gevra het, maar het toe nie. En later, buite in die strate, het ons verby 'n bundel afgedrukte bladsye geloop wat op 'n motor se enjinkap gelê het, die een of ander gids vir 'n sekte wat geglo het in 'n god of wese wat van anderkant Jupiter sou kom, vol eksotiese name en eksotiese opvattinge. Later die aand het ek die boek in 'n ander kroeg vergeet, die kroeg met die figuur wat ek as "androgeen" en jy as "hermafrodities" beskryf het, en ek wonder soms of ek nie 'n boodskapper was wat die boek juis daar moes gaan aflewer het nie. Later sou ek in 'n woordeboek kyk en ontdek dat ek verkeerd was met my woord: dit moet eintlik androgien wees, nie androgeen nie. Dit was nou 'n aand waarop lewensfilosofie gebaseer kan word, en 'n mens kan maar net hoop dat die lewe sal voortgaan om eienaardig en wonderlik te wees, en nie te gemeen nie.

In elk geval, sterkte met jou roman wat binnekort verskyn en wat jy ook al verderaan aanpak.

(Windhond met 'n T-hemp? Bewerig, ja, selfs verskrik soms: the void is sucking at my heels. Ek moet weer sê dat ek aangename herinneringe aan ons "navorsing" van daardie Kaapse dae het. Elke keer het daar iets gebeur. Eendag op ons oudag sal ons mekaar se outobiografieë kan lees en vir ander mense kan sê: "Hy lieg darem erg, so 'n Jacobus.")

En ja, dink ek ook met heimwee terug aan daardie magical aande - as ons nie toe reeds volslae skrywers was nie, sou daardie aande sekerlik skrywers van ons gemaak het. Ek sien weer vir Jakkelaas op die balkon van 'n vreemde meisie se woonstel in Vredehoek. Ek sien hoe hy deur 'n teleskoop na die stad, eerder as die sterre loer. Wanneer hy 'n paar minute later sy ewewig verloor, lê ons hom op 'n matrassie neer waar hy genoeg asem kan kry.

"Is hy okay?" vra die meisie terwyl ek verder by haar probeer aanlê.

"Sy pols voel sterk, en hy behoort weldra weer 'n comeback te maak," onthou ek my eie woorde van destyds en weet vandag dat daardie woorde wel waar geword het in die vorm van Die avonture van Pieter Francken.




LitNet: 16 Augustus 2005

Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.