Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ivor is agtien jaar oud en ’n tweedejaarstudent in die taalpraktyk aan die Kaapse Technikon. Hy werk as vryskutjoernalis vir die Jongburger en van sy poësie het reeds hier op LitNet verskyn. Hy is egter nog nie seker of hy homself as “digter” mag voorstel nie. Verlede jaar was hy die eerste wenner uit Afrika van ’n internasionale essaykompetisie, uitgeskryf deur ’n sendingorganisasie.

EKM Dido het haar as verpleegkundige gekwalifiseer en is tans dosent in dié vakrigting. Sy het egter bekend geword as die eerste bruin vrou wat ’n teks in Afrikaans laat verskyn het.

EKM Dido gesels oor haar hartseer en hartstog jeens “haar mense” ...

Ivor Price gesels met EKM Dido

EKM Dido

“Die lyn is ’n bietjie krapperig,” sê Dido toe ek haar die eerste keer opbel vir ’n onderhoud. Sy dring daarop aan om my onmiddellik terug te skakel en skaterlag toe ek weer op my beurt versoek dat sy my ’seblief tog nie moet “meneer, meneer” nie. Trouens, sy het byna ’n dekade voor my geboorte, ná ’n klompie grootwordjare in die voormalige Transkei, in 1972 in Kaapstad aangekom.

Dit is laat Vrydagmiddag in St George’s Mall, Kaapstad. Tekens dat die naweek aangebreek het, is nou oral sigbaar. Die strate wemel van mense wat almal haastig op pad huis toe is. Dasse is nou losgeknoop, die treë al vinniger. ’n Nigeriër druk sy vrot vrugte onder my neus in; ’n ander man met die wêreldkaart op sy liggaam uitgetatoeëer probeer ’n skynbaar gesteelde “Psychocinetic-horlosie” [Seiko Cinetic] aan my afsmeer.

Terwyl ek in die besige wandelgang voor The House of Coffees sit, verbeel ek my dat al wat ’n vrou is en verbyloop, Dido is. Tog ontbreek daardie ekstra sense of presence wat ek veronderstel sy gaan hê, by hulle.

Sy’s laat vir ons afspraak. Miskien het sy by die werk vasgedraai, wonder ek. Of dalk het sy iewers tussen die vibrant geboue én kleurvolle mense verdwaal.

’n Skrywer van haar kaliber mag maar laat wees.

Toe sy ’n paar minute later met Boerneef se digbundel, Die berggans het ’n veer laat val, aankom, begin my hart soos lammers rondspring. Panic-mode tree in werking: die eerste bruin vrou om ooit ’n boek in Afrikaans te publiseer — en ék gaan saam met haar sit en koffie drink!

Ek krap my kop en besluit sommer om weg te val met: Wie is hierdie enigmatiese EKM Dido wat ons land in 1996 verras het met Die storie van Monica Peters, en skaars ’n jaar later met Rugdraai en stilbly in die hand, sommer in die proses ’n hele paar bekke toegeklap het?

“ ’n Inherente stil vrou wat mense dophou. Deur hulle geïnspireer word; baie nuuskierig,” beskryf sy haarself. Iemand wat haar passie vir boeke met ander minder bevoorregte gemeenskappe deel. Ook ’n aktivis, dink ek later toe ek van haar rol as voorsitter van die Save Nico Malan-projek hoor.

As die oudste dogter van twaalf kinders het sy nooit werklik besef hoe swaar hul gesin gekry het nie. “Ek het eers later in my lewe, toe ek self ’n bietjie geld verdien het, besef,” sê sy. Sy skerts oor die herinnering dat hulle dikwels hul tande met stokkies en as moes borsel. Maar dis asof ek ’n tikkie hartseer in haar oë kan gewaar.

Dido wou nie altyd skrywer word nie. Daarom dat sy haarself as verpleegster bekwaam het, en vandag nog dosent by die Nico Malan-verplegingskollege is. In 1994, net na Suid-Afrika se historiese verkiesing, het sy “frustreerd begin raak” toe sy weer eendag op ’n trein “haar mense” hoor kla oor alles in die land én “omdat die Kleurlinge hul mense verkoop” het. Sy was ook net mooi gatvol vir die groot bohaai oor “Primêre Gesondheidsorg”. Iets wat sy as ’n nuwe naam vir iets wat jare lank reeds in werking was, afmaak.

So het sy toe uit frustrasie op haar ou rooi Brother-tikmasjien begin om haar storie te vertel — met net die kennis van opstelle skryf op skool. Ses maande later, na “nagte en naweke se getikkery”, het sy uiteindelik haar manuskrip voltooi. “Saam met die tikkery het die trane gekom,” sê sy en skerm dat sy nie outobiografies skryf nie, hoewel sy gedeeltes oor haar grootwordjare opgeneem het. Telkens later in ons gesprek tel ek stukkies maankors uit haar oeuvre op.

Na sy Die storie van Monica Peters aan vyf uitgewers oor ’n bestek van ’n jaar voorgelê het, wat dit almal maande lank sou hou nét om dit weer met “ ’n geel stickertjie opgeplak” terug te stuur, het sy met die sesde probeerslag by Kwela Uitgewers iemand gevind wat na haar stem wou luister.“ Baie direk en krities,” sê sy. Mense wat haar sêgoed in Afrikaans kragtig vind.

Toe ek wil weet of sy haarself as ’n bruin of ’n swart skrywer beskou, versteen sy amper. “ ’n Bruin Suid-Afrikaanse skrywer”, spoeg sy. “Ek het half ’n fobie ontwikkel vir dié name wat skrywers hulself so toe-eien.”

Dido sê sy skryf oor die mense wat sy ken. Oor mishandeling, seerkry, die liefde. Sy onthou ’n keer toe sy vir ’n naweek by “ons huis” in Queenstown aangekom het. In die snikhete kraai-gaap-warmte het sy ’n vrou met ’n lang rok en moue gesien. Dit het haar later begin pla toe sy nóg vroue so sien, en het sommer op ’n dag een genader. Die vrou het vir haar oopgemaak en vertel dat sy eintlik die houe wat sy onregverdiglik toegedien word, op dié manier wegsteek.

    In haar hangkas soek sy [Bernie] na iets wat haar nek en arms gaan bedek. En die enigste ding wat daar is, is ’n dun hoëhalsaandrok wat sy nog net ’n paar keer gedra het. Eers toe sy die rok aanhet en tevrede in die spieël kyk, val dit haar by dat Randall nog die rok vir haar gekoop het en dat hy daarvan hou.

“Die mense in die laer ekonomiese toestande is meer gewoond aan vrouemishandeling,” sê Dido, “maar dié in die hoër ekonomiese klasse het dit soveel erger omdat hulle dit wegsteek, omdat hulle dink oor wat die mense gaan sê as hulle uitvind.”

Sy sien elke dag in haar werk hoe baie vrou dié misdryf by die polisie gaan aanmeld, net om dit later weer terug te trek, “omdat hulle lief is vir hul mans. Die polisie se hande is afgekap. Hierdie wrede kringloop vra nie vir kleur nie.”

    Jy sien, baiekere beland die mans in die tronk omdat hulle die voorwaardes van die interdik verbreek het. Maar dan is dit die einste vrouens wat geslaan was, wat weer die saak terugtrek. Ja, regtig. En as dit gebeur, bind dit die gereg se hande.

Daar bestaan ’n persepsie, of straks ’n kleine “kultuur” dat as jy bruin is, en sukses behaal in die wêreld daar altyd gevra word: “Wie ken jy?” of “Wie het jy betaal?” sê ek.

“Ja,” sê Dido. Sy het dit definitief al teëgekom: “Maar ek voel jammer vir mense wat sulke dinge kwyt raak.”

EKM Dido, begin ek besef, het alles ingesit, en wat sy vermag het, reggekry omdat sy haar laaste opgeoffer het.

“Die wêreld is oop vir bruin skrywers,” sê sy. Sy voorsien ’n rooskleurige toekoms vir ander bruin of swart skrywers en digters in Suid-Afrika.

Hemel, dis ’n nederige vrou hierdie, dink ek telkens deur ons gesprek. Sy praat nie met die aanstellerige aksent wat ek dikwels by sommige van die ander bruin Afrikaanse skrywers hoor nie.

As geskeide vrou met een dogter van byna 21 jaar is haar lewensdoel om haar lewensfilosofie, “Doen aan ander soos jy graag aan jouself gedoen wil hê”, aan haar dogter oor te dra.

    ’n Troue is ’n heilige ding, my kind. ’n Mens stap nie net uit jou huis uit as jy die dag moeg of kwaad of teleurgesteld in jou man is nie. Het jy dan vergeet dat jy ’n belofte voor God afgelê het om jou man deur dik en dun by te staan?

Ook wil sy soveel moontlik vir “haar mense” doen. Sy is ’n insamelaar van fondse en tweedehandse boeke (vir kinders en volwassenes) in gemeenskappe waar daar geen biblioteke is nie. Die rede? Sy “wil spesifiek na ander se geletterdheid omsien”. Tans is sy besig met opheffingswerk in die Noordelike Provinsie, die Vrystaat, die Wes-Kaap en ook ’n “kleine plekkie in die Oos-Kaap”.

Wat lees EKM Dido? vra ek. “Ag,” huiwer sy, “ek lees enigiets, is lief vir outobiografieë én veral Stephen King se ‘riller goeterse’. Vir my is daar nie ’n gunstelingskrywer nie, maar ek geniet ook Nederlandse werke.”

“Moet ek die wittes [oor die verlede] haat of die bruinmense? Of moet ek myself haat?” vra AHM Scholtz in Afdraai. Ek loer na haar, gaan dan voort: “In sulke selfhaat skuil die selfkeldering van die Kleurlinge en word hulle, soos Sarah Getrude Millin sê, ‘God’s stepchildren.’ ”

Die aanhaling draal, dan antwoord sy: “Dís waar. Ek het onmiddellik die verskil tussen Tsomo, Transkei, en die Kaap opgelet. In Tsomo was ons een groot mengelmoes.”

Dido het as kind op ’n Rooms-Katolieke kosskool by die nonne geleer om verskille “by die agterdeur uit te gooi. Om verby ander se velkleur te kyk.”

Sy is “hartseer en méér krities” oor “haar eie” mense. Sy wil so graag hê dat “haar mense” moet opstaan en die stof eenkant sit. “Ons hele sosio-ekonomiese land gaan gebuk onder werkloosheid en swaarkry, maar dis net die bruin mense wat so kla. In die verlede het ons altyd ‘gebid en gekla en gebid oor die [apartheids]regering’, nou kla ons weer oor die nuwe regering,” sê sy.

Waarvoor staan die EKM? wil ek by haar weet, wetend dat sy dit nog nooit in ’n onderhoud openbaar gemaak het nie. “Ag, nie weer nie,” kraai sy, “ek gaan jou nié sê nie. Net wel dat dit ’n mengelmoes is van my ouma en oumagrootjie.”

Sy onthou haar heel eerste onderhoud na haar boek gepubliseer is. Die verslaggewer het haar heel dronkgeslaan toe sy haar oor “die postmodernisme goeters” in haar boek begin uitvra het, “en ek was so geïnspireer om uit te vind wat al die hoge woorde is wat die mense praat.”

“Ek gaan definitief by my skryfstyl hou. Met my volgende boek, ’n roman, wil ek wys dat ‘my mense’ nog baie rassisties is en die pad vorentoe kortwiek,” laat val sy. Sy glo dat dié roman, wat sy steeds op haar ou rooi Brother-tikmasjien aan ’t tik is, nog vanjaar sal verskyn.

Dido noem dat sy nie aan die Suid-Afrikaanse Skrywersvereniging behoort nie, alhoewel sy vir lidmaatskap genader is. “Na ek ’n hele paar van hul vergaderings bygewoon het, en ook saam op Brandvlei was, kon ek nie lekker agterkom wat hul doelwitte is nie. Dit lyk asof daar ’n kommunikasieprobleem is, én of hulle nie lekker weet in watter rigting hulle vaar nie.”

Hierna volg ’n gesprek oor Afrikaanse skrywers in die algemeen. André P Brink. Etienne van Heerden. Ook oor bruin skrywers: Adam Small, SP Benjamin, Heindrich Wyngaard, Kirby van der Merwe. Hulle moet as inspirasie vir ander dien, dink ek. “Ons mense is nie eintlik leesmense nie,.” sê sy “Ek veralgemeen so bietjie, want ek praat nie van akademici nie.”

En is sy nou famous of kwasi-famous oor sy die eerste bruin vrou is wat in Afrikaans gepubliseer is? Met dié vraag skud sy van die lag; ék verstik byna in my koffie van lekkerkry. “Glad nie. Ek het nog nie eers besef dat ek nou rêrig ’n skrywer is nie. Ek het nog te veel om te leer.”

Op pad huis toe loop ons ons vas in ’n oranje versameling Hare Krishnas wat hande in die lig deur die Kaapse strate sing-sing aan ’t wandel is. ’n Afrika-koor se melodieë laat ons ’n oomblik stilstaan. Ons groet, en ek is verstom om te sien hoe dié groot skrywer so enigmaties stil, omkyk-omkyk tussen die mense verdwyn.

Uittreksels kom uit Rugdraai en stilbly deur EKM Dido. 1997: Kwela Boeke.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.