Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die kruisverhoor van ’n oopkop Nagtegaal


(draaiboek vir ’n strooisage)

Die doel

Om seker te maak dat DIRK Nagtegaal nie ’n phoney is nie.

Die rede

Bestel nou hier!

DIRK Nagtegaal se boek Oopkop — ’n eerste stap tot mistisisme, ISBN 0 95846 041 8, uitgegee deur Genugtig!

Die agtergrond

Kommissies van ondersoek is al weer met ons: Ryk krieketkapteins, kaalgat-rugbyspelers, bebaarde manne wat nie kamers wil deel nie, hoernalissies en spioene … almal word ondersoek. Hoekom nie ook die mistici nie?

Rolverdeling

DIRK Nagtegaal: Suksesvolle regsgeleerde en sakeman. Sy maatskappy, LIPCO, verskaf bekostigbare toegang tot die reg. “LIPCO, law for all”, lui hulle motto. Hy besit ook ’n uitgewersmaatskappy. Al is hy al aan die verkeerde kant van 40, lyk hy soos ’n jong man. Hy dra modieuse driekwartlengte-kortbroeke en eenvoudige, smaakvolle hemde. Sy skoeisel is gemaklik en modern. Onder kruisverhoor lyk hy aanvanklik selfbewus, maar nie gespanne nie. Later word die gesprek warmer en DIRK se persoonlikheid begin domineer.

IZAK de Vries: Leser, skrywer, uitgewer, gefrustreerde joernalis, redelik vrot filosoof (so het sy filosofieprof destyds gesê). Sy kleredrag is effens Madiba-agtig, al is dit net omdat hy nie mooi weet hoe om in die donker beter aan te trek nie. Hy lyk moeg, want sy seuntjie het hom wakker gehou.

KELNERIN: Verkeerde kant van jonk, probeer haar bes om nie vriendelik te lyk nie.

KOOR: ’n Mecer-laptop.


Eerste scène

IZAK> (Lees die boekie. Die boekie is klein en lê lekker in sy hand. )

KOOR: Oopkop is in drie dele verdeel: “bewuswording”, “binne-in my” en “kyk anders”. Die eerste gedeelte handel oor die vryheid van denke, die vryheid van keuse en die siel.

Tweede scène

DIRK en IZAK op soek na ’n sitplek — loop deur die middestad en neem plaas in ’n koffiewinkel. KELNERIN neem bestelling sonder veel entoesiasme.

KOOR: In die tweede deel van Oopkop vertel DIRK dat hy aan sy emosies name gee. So kan hy hulle beheer. Dit is vir hom soos ’n toneelspel waar die regisseur aan verskillende karakters rolle toeken:

So veroorsaak omstandighede dat die alewige gefrustreerde karakter in my die oorhand kry en tydelik die hoofrol speel. Ek noem hom Fika. Ek laat hom toe om homself te laat geld en sy frustrasies op die tennisbaan uit te woed, maar ek laat hom nie toe om die kelner in die restaurant aan te val nie (p 59).

DIRK: Wat sal dit wees? Wyn?

IZAK: Die kleinman maak my te gereeld wakker. As ek wyn drink in die dag, raak ek aan die slaap!

DIRK: Okay. Ek het ook gisteraand laat gekuier oor ’n paar bottels wyn.

DIRK bestel ’n Coke, IZAK ’n koffie.

IZAK (Maak eerste skuif): Ek was aanvanklik effens gefrustreerd met Oopkop. Ek het iets meer akademies verwag. Soos ek gevorder het, het ek dit al hoe meer geniet. Dit het amper meditatief geword. Is dit beplan om meditatief te wees?

DIRK: Nee, maar ek het dit so probeer skryf dat jy kan oopmaak op enige bladsy en dit kan lees. Ek het nie probeer feite skryf nie, of akademies wees nie. Dit is dalk middelmoot, maar dis okay, dis hoe ek dit probeer skryf het. Down to life.

IZAK: So dis hoe jy leef?

DIRK: Ek probéér so leef. In my werk ook, ek gee dit deur. Die persoon wat my hare sny, het ook Oopkop gelees en het die ander dag gevra: “Kry jy dit reg?” Ek sê toe dat ’n mens soms vergeet. Maar dit word ’n leefstyl. Selfs met LIPCO.

IZAK: So jy pas die filosofie van Oopkop toe in jou werk ook?

DIRK: Beslis, ja. Met LIPCO glo ons dat ’n mens die regstelsel ook anders kan bedryf. Dis die vryheid waarvan ek praat.

KOOR: In Oopkop word die nuwe vryhede van die mens met ’n oop kop vergelyk met Plato se klassieke beeld van die mense in die grot. Hulle dink die skadu’s teen die muur is die werklikheid, dan staan een op en gaan kyk buite die grot … Oopkop se betoog is dat mense die bande van hulle ou manier van dink moet afskud en die vryhede van ’n oopkoplewenstyl moet begin geniet.

IZAK: Okay, maar kom ons wees nou prakties. ’n Ou stap by jou werk in en hy het ’n regsprobleem. Hoe kan hierdie vryheid hom help?

DIRK: Ons het ’n ander manier van doen. Ons sal probeer skik, of onderhandel namens jou. Ons sal vir jou sê: “Okay, jy het ’n probleem, maar dalk moet jy kyk na jou aggressie.” Selfs die advokate wat vir ons werk, sal dikwels mense berading gee oor dié goed. Die vryheid is ook ’n politieke ding. In 1994 het LIPCO juis daaruit begin. Baie mense het nie besef hier kom so ’n vryheid in Suid-Afrika nie. Die boekie is ook oor dié vryheid en hoe jy dit kan praktiseer.

IZAK: Goed, maar hoe sluit dit nou aan by mistisisme? Kan jy vir my mistisisme definieer?

DIRK: Dis om ’n nouer kontak met jouself, met God te hê, noem dit ’n hoër mag, ’n krag. Jy is ingestel op iets buite die wêreld.

IZAK: So jy glo?

DIRK: Ek glo 100 persent. Iets is aan die gang. Dis nie tasbaar nie, maar ek is bewus daarvan. Ek wil nou nie oor die teologie praat nie. Ek en Reinet is al deur dit alles. Dopper, Rhema, die hele works. Uiteindelik kom jy by jouself uit.

IZAK: “Uiteindelik kom jy by jouself uit.” Ek hou hiervan.

DIRK: Die ding het begin in 1986. Ek was daar in Jeffreysbaai. Ek sit toe daar op my paddle-ski en niks gebeur nie. Ek wag nou maar vir die branders. Hier langs my sit ’n surfer. Ons het gesit en chat. Hy sê toe vir my van die boeke oor mystic life.

IZAK: Daar is iets Boeddhisties aan die boek. Het jy die Boeddhisme bestudeer?

DIRK: Nee, nie spesifiek nie.

IZAK: Ek wil ook vra oor die rolle wat jy toeken aan elke karakter. Daar is Isa, die donker een; Fika, die een wat gefrustreerd is; Amin, wat wil beter weet; Ringo, die waagmoedige een … Ek wonder nou: sou Sartre nie sê jy is juis besig om nie-eksistensieel te leef as jy die karakters laat oorneem nie? Sartre wou juis dat die eksistensiële mens ophou rolle vertolk en net hom- of haarself moet wees in alle omstandighede.

DIRK: ’n Mens kan so maklik verdwaal tussen al die feite en dan akademies raak. Ek wou eenvoudig net ’n ding skryf wat down to life is. Die rolle is eintlik name vir al die emosies. ’n Mens raak so meer bewus van jouself.

KOOR: In Oopkop word dit so beskryf:

Die proses om na binne te kyk maak steeds wêrelde vir my oop, want ek leer al hoe meer om hierdie karakters binne in my te beheer. Ek leer om sommige te onderdruk en ander weer sterker na vore te laat kom. My siel is soos ’n knap regisseur wat ’n lewensbelangrike toneelstuk op die planke bring (p 58).

IZAK: Jy sê in die boek jy en Reinet leef baie nou saam. Praat julle oor hierdie goed ook? Ek vra, want in haar boek Voorvaders kan vlieg, sê Delores is daar ook ’n hele aantal karakters wat rolle speel, wat opvoerings hou. Die voorvader is natuurlik die sterkste een.

DIRK: Dis interessant. Ons praat hieroor, ja, maar Reinet is baie analities. Sy soek feite, die akademie. Oor die rebel wat wil wegbreek, daaroor voel ons eenders.

IZAK: En Jackie? Praat julle hieroor? Op bladsy 84 is daar ’n wonderlike scène waar jy een aand alleen by die huis kom, die see ruik, musiek aansit en begin dans op die stoep. Daar is ’n baie, baie soortgelyke scène in Jackie se Daar’s vis in die punch, waar die jong verteller ook so by die huis kom en alleen begin dans op die stoep.

DIRK: Ons praat. Ons gesels. Ons leef saam. Dan praat ons. Jackie tel op. Sy weet wat aangaan. Sy het net eendag gesit en gesê sy gaan nou ’n boek skryf. Sy was nog altyd goed met opstelle op skool. Toe vaar sy in en skryf dit.

IZAK: Uit Oopkop lei ek af jy hou van kook?

DIRK: Ek is ’n groot kok. Ons het die kombuis nou verander; daar is twee kante: DIRK se kant en Reinet se kant.

Laaste scène

KOOR: Die tyd stap aan. Die dramatiese halfuur van die strooisage nader ’n einde. Maak gereed vir die nekslag. Fokus die kamera op IZAK se mond. Dramatiese musiek uit Wagner.

IZAK: Die laaste deel van Oopkop gaan daaroor dat jy beheer moet neem. Dat jy aggressie geen toegang moet gee tot jou lewe nie. Dat jy alles as uitdagings moet sien en nie alles moet probeer beheer nie. Jy stel voor ’n mens kyk van buite na jou situasie. Op bladsye 102 en 103 praat jy spesifiek van mense wat hulle werk verloor. Jy sê: “Dis bloot ’n historiese feit. Jy is die een wat daaraan betekenis gee deur dit met emosies te klee.” Is dit so maklik?

DIRK: Niks is maklik nie. Jy het egter die keuse. Jy kan jouself bejammer, maar as jy positief is, trek jy positiewe goed aan. Ag, ek het dit destyds dikwels met die vakunies ook gesien. Of vat nou die polisie. Die outjie verloor sy werk. Hy’s kwaad. Hy wil sommer die polisie sue. Dan is dit my werk om met hom te praat en hom te help.

IZAK: Goed. Maar jy is ’n suksesvolle sakeman. Jy het ’n groot huis. Wat sê jy vir die ou wat daar in jou kantoor sit en sê: “Dis maklik vir jou om so te sê. Jy’s ryk!”

DIRK: Hoe weet jy waar ek vandaan kom? Hoe weet jy hoe ek hier gekom het?

Krediete

KOOR: Die tyd het ons ingehaal. Die gesprek tussen IZAK en DIRK loop op ’n einde. Die rekening word gevra. KELNERIN bring dit. DIRK dring aan om te betaal. Hy laat ’n fooitjie van een honderd present.

IZAK: Sal jy asseblief my boek teken? Ek sal dit baie waardeer.

DIRK (terwyl hy die datum skryf): Dis die sestiende Januarie. Dis ’n datum wat ek nooit sal vergeet nie. Dis die dag wat ek klaargemaak het met die polisie. Toe kon ek gaan article.

28 Januarie 2004

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.