Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Eenders en anders

Naomi Maartens

Wat is die rol van die elektroniese diensverskaffer in die uitgewersbedryf? En wat het dit met LitNet te doen? Hoe raak dit alles die postmoderne mens? Dié vrae het ontstaan by die besoek aan Contentlot.com se kantore in Goodwood en ook as gevolg van gesprekke met skrywers en uitgewers oor die tema.

Contentlot.com

Anton Jankowitz, uitvoerende bestuurder van Contentlot.com, sit met sy laptop oop voor hom as ek by die kantoor instap.

“Ons het min geslaap verlede nag,” sê hy onmiddellik. “M-Web se nuwe ‘mother portal’ is middernag op die web gesit …”

Hy wys my Contentlot.com se onderafdelings op die Internet en ek onthou hoe Carina Diedericks — in beheer van die uitgewerskomponent van Contentlot — aan my verduidelik het hoe alles inmekaar steek.

Contentlot bestaan basies uit vier sake-eenhede wat aparte funksies vervul. Daar is die oorkoepelende maatskappy en ook die uitgewery. Dan is daar Contentlot Conversions, wat die oorskakelings van die teks na die elektroniese medium — sewe hiervan — doen. Hulle sou byvoorbeeld ’n boek op CD-ROM kan sit en daar is ook ’n print on demand-opsie, wat deur die ander eenheid, Content Solutions Online, gedoen word. Dan is daar M-Web Library — hulle winkel, noem Carina dit.

“Dis waar al ons inhoud ten toon gestel word. Ons het nou so 3 000 boektitels,
13 000 foto’s, ons het Die Burger-argiewe bygekry en ons praat met ander koerante ook. So brei dit dan nou uit; hoe groter ons word, hoe meer sal daar wees.”

Anton wys nou vir my die Contentlot Conversions-opsie op sy rekenaar en gesels oor die “issue of conversion”, die omskakelingskwessie. Dit is een van die belangrike funksies van Contentlot.com — om materiaal elektronies op die web te omvorm. Die naam Contentlot Conversions dui alreeds aan dat daar heelwat verskillende moontlikhede is: elektroniese publikasie van manuskripte, kleinmaatverkope, e-handel en ander verspreidingsmoontlikhede, soos die print on demand-moontlikheid. “You can regard that as one of our strong points: we can offer definitive solutions from A to Z,” sê hy.

Oor die literêre kwaliteit van die werke wat in e-boekvorm gepubliseer word, sê hy dis nog te vroeg in die bestaan van Contentlot om veel nuwe boeke te gepubliseer het.

“But that’s the eternal online-offline debate as far as publishing is concerned. I think it’s helluva important to set a certain standard as far as quality is concerned. Admittedly one or two things will slip through, but I think the nature of the Internet is such that it is a wonderful, democratic opportunity for everyone to use. You have to cherish that idea, but at the same time structure it in such a way that people know what they are getting. If you lose quality, you lose credibility.”

Hy voel dis belangrik om van die begin af in gedagte te hou dat kwaliteit voorop gestel word, anders sou die uitgewerskomponent van Contentlot nie kan verwag om suksesvol tot die mark te kan toetree nie.

Electronic Publishing is about storing huge amounts of data or academic material

Wat van die Stephen King-scenario? Sou ’n mens hier ook kon verwag om ’n sekere bedrag per bladsy te betaal en agterna uitvind dat dit nie gewerk het nie?

Hy dink nie so nie. Daardie projek is geloods met ’n groot hoeveelheid “hype, with huge expectations. Niche markets are important and that will be where electronic publishers will manifest themselves.”

Hy sê dat e-boek ’n modewoord geword het, maar dat dit inderwaarheid ’n baie klein fraksie is van dit waaroor Electronic Publishing éintlik gaan.

“It is about efficient content management, storage, distribution, interactivity. The eBook is one tiny experimental phase of that. Electronic Publishing is about lowering the cost of traditional publishing through automated functions, repurposing content and mining information to your users. eBooks are a different kettle of fish altogether — it is not necessarily what our focus is on. That market is not well established, especially in this country, but we are working on it.”

Hy vertel my van fictionwise.com wat eBooks uitgee, behalwe dat hul boeke op die web verskyn. Hulle vorder baie goed, sê hy. Hulle het verlede maand 10 000 eenhede verkoop — 400 titels. As jy die regte niche vind, die regte mark en die regte produk, gaan jy beslis mededingend wees. Wat jy nodig het, is ’n sterk uitgewer aanlyn en ’n lojale leserskorps wat die ruimte besoek.

“Ons moet uitvind: wie lees wat, in watter formaat, hoeveel daarvan lees hulle en hoeveel is hulle bereid om te betaal?”

Hoeveel sal die e-boeke kos?

Anton sê die boeke se pryse kan baie meer mededingend wees as wanneer ’n mens papier gebruik, maar ’n mens sal ook maar vir name van skrywers betaal.

No technology can be perfectly safe, but we have gone the extra mile in being as safe as we can

Wat van kopiereg?

“An important question; ’n mens kan enige boek by iemand koop en dit fotostateer en onwettig versprei. There will always be copyright or piracy problems; no technology can be perfectly safe. But I think we have gone the extra mile in being as safe as we can. Enigiets waarby jy gaan inskakel, is beveilig met passwords, or other mainstream encryption technologies. Printing on demand is another option and I guess that has the same implications as a normal book. Publishing doesn’t make the content more vulnerable; poor distribution systems do.”

Hoe bemark Contentlot.com homself?

“We’re working on a very tight budget. But as someone in this office said: ‘You don’t need a Concorde to travel from Stellenbosch to Sea Point.’ From the new financial year in April and in conjunction with the Klein Karoo Nasionale Kunstefees, we will be launching quite a few new titles. Reincarnated titles as well. We will have a permanent PRO company on board.”

Is Contentlot kompetisie vir ander uitgewers?

Anton dink daar kan ’n tipe verhouding wees waaruit beide partye kan munt slaan. Contentlot se uitgewerskomponent kan wel baie meer uitbrei as hulle — enigiets uitgee, want dit kos hulle niks aan papier nie. Hy is seker daar is baie uitgewers wat sekere manuskripte wil uitgee, dit nie kan bekostig nie en dan slapelose nagte daaroor het. Contentlot sou hierdie probleem kon aanspreek. ’n Verdere voordeel wat hulle volgens Anton het, is as ’n boek uit druk gaan en hulle kan dit druk — veral op publieke versoek.

Hy dink skrywers is dalk meer optimisties oor die nuwe geleentheid as wat uitgewers sal wees, waarskynlik oor hulle nie die mense was wat al die geld in die besigheid belê het nie. Maar hy dink gesonde kompetisie kan nie skade doen nie — en albei partye kan daaruit baat as hulle saamwerk. Die mark is onbestendig, maar ook lewendig.

“Choosing the right strategic partners is important. Creating the right working environment and association are even more important.”

Watter voordele hou Contentlot vir skrywers in?

Finansiële voordele, sê hy dadelik. “35% royalties. We can offer an author three times what he’d get at a normal publisher.”

Wie is Contentlot se teikengroepe?

Anton sê elke onderafdeling het verskillende teikengroepe, maar hy sou sê dis primêr publiseerders, korporatiewes, skole en leerinstansies, “all content owners and consumers.” Die onderwys is ’n goeie plek om af te skop (veral in die print on demand-besigheid), maar niche-markte is ook iets wat goed behoort te doen.

Hoe lewensvatbaar is Contentlot.com vir Suid-Afrika vandag?

“Yes, I suppose one can’t avoid that question.

“You’ve got to have a high-profile e-commerce business these days if you want any chance of survival. You can’t rely just on advertising, subscriptions or sponsorships — they don’t work in isolation. You need a hybrid model embracing all of them with an e-commerce function. Is there an opportunity for viability? Yes. Services such as the ability to licence a content management application and the accompanying skills and intellectual capital component and products resulting in commerce will make this whole thing viable.”

As ek met Carina Diedericks oor die uitgewerykomponent van Contentlot.com gesels, sê sy hulle werk vir almal: vanaf groot korporasies tot by die individu wat een boekie geskryf het en dit wil publiseer. Hulle werk is baie omvattend en handel juis oor die vinnige hantering van groot besendings werk.

Contentlot behoort aan NasBoek, maar lewer ook dienste aan M-Web.

“Dis ’n snaakse kombinasie, want aan die een kant is dit die tradisionele gang van publikasie, as ‘t ware. Aan die ander kant is dit weer vreeslik futuristies.

“Dis interessant om te sien hoe die dinge inmekaar steek en hoe dit werk. Die uitgewery-deel is my baby. En die geheim is om ’n heeltemal ander benadering te hê. Ek het op ’n stadium gedink dis makliker, want die skrywers stuur vir jou ’n kopie van hul manuskrip in ’n Word-dokument en dan gaan jy nou maar deur die prosesse. Maar in terme van bemarking en verkoop het dit heeltemal ’n ander dimensie. Joan Hambidge gaan nou ’n boek daarop publiseer — die derde een in die satiriese Swart Koring-reeks. Ons gaan dit hierdie jaar by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees bekendstel. Die idee is nie om kompetisie vir die ander uitgewers te wees nie, maar eerder ’n aanvulling. Dat hulle inderwaarheid die gedrukte weergawes het — en ons het die elektroniese weergawes. Met die opsie om boeke te druk, as jy wil hê.”

Waarom sou ’n mens ’n elektroniese weergawe van ’n boek wou hê?

“Die elektroniese weergawe het baie voordele: jy maak dit toeganklik vir baie mense. ’n Ooglopende voorbeeld van die toeganklikheid is om dit op die Internet sit. Dis een van die formate — in HTML — waarin ons die boeke plaas. Jy maak dit baie wyd beskikbaar en ons publiseer al die werke op ons webblad.

“Dis die een voordeel. Dan sou ’n mens ook ’n ander tipe program kon kies, soos PDF of Folio, waar jy fantastiese soekenjins het. Jy kan enigiets daarmee doen; dis ’n fantastiese navorsingsmeganisme. Dit bespoedig die navorsingsproses net soveel. Dis ongelooflik wat jy daarmee kan uitrig. So dit kan verskillende funksies vervul en daarom het ons die verskillende formate. Dit bied jou dus meer as wat net die boek kan gee.”

Ek wil nog vra, maar sy spring my voor:

“Nou ons verkeer nie onder die illusie dat die elektroniese weergawe ooit die boek in papier gaan vervang nie. Want mense wil met ’n boek in die bad lê. En jy wil in die kar sit en lees. Jy wil kan blaai en vat en jy wil ’n boekrak hê met boeke en ’n middag in die boekwinkel gaan sit. En daarom voel ek sterk daaroor dat ons, ten spyte van al die elektroniese boeke wat ons uitgee, steeds ’n klein oplaag van miskien ’n vyfde van wat normale uitgewers uitgee, ook beskikbaar sal hê. Want sodoende akkommodeer jy beide. As jy meer gedruk wil hê, is dit baie maklik, omdat ons ’n ander roete volg.

“Wat voordelig is, is dat ons produksiekostes minimaal is. Ek weet uitgewers sukkel en ek haal my hoed vir hulle af. Hulle gee fantastiese goed uit met baie beperkte fondse. Daar is ook heelwat reëls vir hulle aan verbonde: boeke wat hulle in magasyne moet sit en beperkte minimums wat hulle moet druk en as dit nie verkoop nie, is hulle kele af. Ons het die luukse om te druk soos wat mense wil hê. Ons druk op aanvraag. Natuurlik is die kwaliteit nie hondered persent soos ’n gewone uitgewer s’n nie. Maar daarom moet skrywers en lesers weet wat hulle wil hê en wat ons bied.”

’n Ewigdurende proses van ontvang en weggooi, as ‘t ware

Ek praat met haar oor ’n bemarkingsfrase wat ek op Contentlot se webruimte gesien het:

Electronic books take up less space and can be deleted after reading

Hoe voel sy hieroor?

“Ja, ek dink boeke is nog altyd gesien as ’n luukse. Jy het geld en jy gaan koop ’n boek. Dan kry jy ’n boek en as jy dit klaar gelees het, gaan bêre jy die boek op ’n boekrak. Een van die voor- of nadele van die elektroniese media is dat jy nou soveel meer toegang het tot werke. So dit gaan oor volumes. En omdat jy toegang kry, kan jy nie noodwendig alles hou wat jy kry nie. So dis amper ’n ewigdurende proses van kry en gooi weg en kry en gooi weg. Of dit goed of sleg is, weet ek nie. Vir sommige mense sal dit absoluut skokkend wees en vir ander mense goed. Ek dink dit bied die ruimte om soveel moontlik mense te akkommodeer.”

Wat sou ’n jong skrywer aanmoedig om by Contentlot publiseer — en wat van ’n ervare skrywer?

“Vir ’n debutant is dit bitter moeilik om gepubliseer te kry; daar is net nie meer die versekering van vroeër dat die boek of poësiebundel gedruk gaan word nie en daarom is die keuringsprosesse so streng. Contentlot se kapasiteit is groter en meer mense kan geakkommodeer word, alhoewel ons versigtig moet wees om nie ’n junkyard te word vir mense wat dit nie gemaak het nie. Hulle moet nog steeds as skrywer deur dieselfde prosesse gaan om gekeur te word.

“Vir ’n gevestigde skrywer kan dit ’n ander dimensie aan ’n bestaande oeuvre verleen. Jy het nou X aantal boeke gepubliseer en die bestaande roete gevolg en nou is daar ’n verlenging daarvan. Die skrywer kry maklike internasionale blootstelling. Elke skrywer sal sy eie redes hê waarom hy by ons wil publiseer.”

Sien sy Contentlot as kompetisie vir ander uitgewers?

“Die idee is dat ons werke van bestaande uitgewers onder hulle name heruitgee — boeke wat uit druk is, versamelings wat saamgestel word; ook boeke waarvan hulle die gedrukte weergawe het en ons het die elektroniese weergawe. Ons werk ook saam met uitgewers aan projekte.”

Hoeveel Afrikaanse boeke is daar op die oomblik?

“Nog geen Afrikaanse boeke nie, want ons het maar pas begin. Daar is talle Engelse classics: Kipling, Dickens en ander. Daar is ook boeke van Olive Schreiner en van Sol Plaatje. Ek dink dis belangrik om Suid-Afrikaanse boeke te kry, want as jy vir Suid-Afrika wil bemark, moet jy plaaslike inhoud kry.”

Geen bestaansreg as uitgewer as hy aan kwaliteit besnoei nie

Hoeveel literêre kwaliteit, voel sy, gaan in die elektroniese media verlore?

“Dis ’n gevaar, as jy op die spoedwa klim, dat sekere prosesse ingeboet sou kon word. Ek voel sterk daaroor dat dit nie moet gebeur nie. Ons is vinniger met die skep van die produk, maar ons kan nie die proses uitskakel nie. Die ironie is dat dit juis daardie proses is wat in elk geval so lank neem. Nou probeer ons maar redakteurs kry wat vinnig werk: sê miskien vir hulle om een maand te werk in plaas van twee. Die literêre kwaliteit van ’n boek is kardinaal. Ek dink nie jy’t ’n bestaansreg as uitgewer as jy op daardie front sny nie.”

Hoe voel sy persoonlik, as skrywer, oor die elektroniese uitgewersbedryf?

“Die konsep is fantasties en vir die Afrikaanse boek kan dit baie beteken. Meer boeke, minder mense wat moan oor te min boeke. Dis bevorderlik vir skrywers, vir uitgewers, vir ’n taal. Gee ’n uitgewer tyd. Kyk watter titels hy uitgee, hoe hy dit doen en bemark, hoe hy sy skrywers hanteer, hoe dit verkoop, dat dit nie deur ’n worsmasjien gaan nie. Die uitgewer moet homself bewys.”

Die skrywers

Ek het met Joan Hambidge oor die elektroniese diensverskaffer gaan gesels, as gevolg van die verskyning van die derde boek in haar satiriese Swart Koring-reeks by Contentlot.com (wat by die 2001 Klein Karoo Nasionale Kunstefees bekendgestel word):

“Die literêre kwaliteit van ’n boek lê nie in sy bemarking nie,” sê sy dadelik. “Omdat ’n boek op die Internet verskyn, beteken dit nie noodwendig dat dit van mindere gehalte sal wees nie. Hierdie publikasie is bloot vir my ’n eksperiment. Verder moet mense besef dat daar ’n hele geslag Afrikaners is wat in Ysland en Engeland en oraloor sit en Litnet en koerante en sulke goeters lees. ’n Elektroniese publikasie hoef dus nie in kompetisie of ter uitsluiting van die harde gedrukte dokument te wees nie.”

Of dit afbreuk doen aan die sjarme en sentiment van ’n gewone boek?

“Nee, daar gaan net soveel werk daarin en dit gaan in elk geval ook in harde gedrukte vorm verskyn. Dis nie net ’n goedkoop illusie nie; dit gaan op ander vlakke ook beskikbaar wees.”

Die Internet bied op paradoksale vlak nie ’n vermindering van intellektuele waardes nie; dit beteken ’n oopstel daarvan

“Die groot probleem met die Afrikaanse kultuurwêreld,” gaan sy voort, “is dat ons nog nie eintlik ’n elektroniese kultuur het nie. Veral die Noord-Amerikaanse gemeenskap is baie sterk gefokus op ’n Internet-kultuur. Die Internet bied op paradoksale vlak nie ’n vermindering van intellektuele waardes nie; dit beteken vir my ’n oopstel daarvan. Ek het al op die Internet afgekom op verwysings en tekste waarvan ek andersins nie bewus sou wees nie. Weens boikotte en stadige verskyning of verspreiding neem dit veel langer om iets in boekvorm in die hande te kry as soms op die Internet.”

Wat dan van ’n aspek waarvoor Litnet as elektroniese medium dikwels gekritiseer word: “Die toeganklikheid van die massa verminder die kwaliteit op SêNet”? Is dit die ander kant van die saak?

“Dis ongelukkig deel van die postmoderne kultuur. Die gedagte van die postmodernisme lê aan sy fondament dat daar geen verskil tussen hoër en populêre kultuur is nie — ons beleef dit met aanlyngesprekke soos by Litnet. Die besware wat ek het, is dat enige Jan Rap en sy maat se uitspraak soveel waarde het op SêNet as ’n Breytenbach of ’n Antjie Krog. Dis maar die probleme met ’n Internet-tydskrif.”

Die afbreek van grense problematiseer dinge, maar dit beteken nie dat grense nou weggeskuif is nie

“Jy gaan meer moet staatmaak op die ingeboude kennis van die leser — die eye of the beholder. Die leser gaan moet besluit wat is van waarde en wat is nie. Elke ding in die lewe — soos die gekanoniseerde poësie in Afrikaanse letterkunde — kan gerelativeer word. Maar tog, nadat alles gerelativeer, gedekonstrueer en bevraagteken is, weet ons tog dat daar agter dit alles iets is soos ’n goeie gedig. Die afbreek van grense problematiseer miskien dinge, maar dit beteken nie dat grense nou weggeskuif is nie.”

Waarom wil sy op Contentlot.com publiseer?

“Vir my sal dit lekker wees om ’n satire — ’n parodie soos die Sewe Sonjas — op die Internet te publiseer — geïnspireer deur die reaksie van gedigte wat op die kennisgewingbord op Litnet verskyn het. Mense het lekker gelag. Maar ja, in reaksie op ’n vorige vraag, miskien sal ’n Karel Schoeman nie op Contentlot werk nie. Vir my gaan dit in die skryfproses daaroor dat wanneer jy ’n teks afgehandel het, jy dit met ander moet deel. Dis hoekom ek dit na Contentlot gestuur het.”

Sou ’n debutant, in haar opinie, vir ’n goeie naam kon sorg deur op Contentlot te publiseer?

“Dit gaan van die skrywer afhang of sy kwaliteit werk op die Internet vir homself vir ’n goeie naam gaan sorg. Die tyd het ’n fantastiese manier om goeie materiaal na vore te bring. Ons is gesosialiseer dat ’n boek baie werk gevat het om in gedrukte vorm tot stand te bring, maar die kwaliteit van ’n werk is nie hierin geleë nie.”

Die uitgewers

Kerneels Breytenbach van Human & Rousseau-uitgewers meen die elektroniese uitgewersbedryf is ’n lekker vooruitsig en dit maak die mark breër. Ook die vorm van die genres word in die proses groter.

Digters wat hul eie werke op CD-ROM voordra

’n Moontlikheid om met CD-ROMs te ontgin, is die gedagte dat die digter sy eie werk self kan voordra. Hulle is trouens besig met so ’n projek, waar sommige van Breyten Breytenbach se werk deur homself op CD-ROM voorgelees gaan word.
Op hierdie stadium is dit nog nie duidelik in watter mate ’n groep soos Contentlot.com inderdaad ’n uitgewer sal wees en of die fokus nie eerder op die diensverskafferskomponente sal val nie.

Hy voorsien nie werklik dat Contentlot.com probleme vir die sogenaamde papieruitgewers sal veroorsaak nie. Volgens hom sal die gedrukte boek nog baie lank bly voortbestaan.

Hannes van Zyl van Tafelberg-uitgewers sien geweldig baie nuwe moontlikhede in die bedryf, ook as gevolg van die elektroniese uitgewers. Hy sê hy dink skrywers sal wil eksperimenteer en dat dit iets is wat aangehelp behoort te word. Dit help nie om teen die prikkels te skop nie: groter vryheid en nuwe geleenthede behoort benut te word.

Op die lang duur sal elektroniese uitgewers goed wees vir die bedryf in die algemeen. Hulle het self die afgelope jaar bykans ’n halfmiljoen rand uit elektroniese publikasies verdien en hy sien Contentlot.com nie as ’n nuwe vyand nie. Die uitgewersbedryf moet bybly met die tyd en hy dink dis goed om bewus te wees daarvan dat mense soms self hulle boeke wil uitgee, of dat gemeenskappe saam ’n boek wil uitgee.

Ontwikkeling in die uitgewersbedryf ’n noodwendige stap na ’n volwasse leeskultuur

Hy sien die ontwikkeling in die uitgewersbedryf as ’n noodwendige stap na ’n volwasse leeskultuur. In wese is dit ’n andersoortige tipe tegnologie wat aan skrywers die groter vryheid gee om te eksperimenteer.

Hy sê die volgende oor die vraag of die gedrukte woord sy plek sal behou:

“Die boek is ’n robuuste tegnologie. Dis ’n stuk tegnologie wat ’n klomp jare oud is, wat al baie veranderinge oorleef het, waarvan die tekstuur van die papier tussen ’n mens se vingers al verander het, wat gemaklik rondgedra word van plek tot plek, wat vriendelik val op die oog en wat ek glo nog baie eeue met ons sal wees.”

Ten slotte besef ek eenvoudig wat die wesenlike antwoord op my vrae was: in die kunste en in die alledaagse lewe sien ons ’n wegbeweeg van vroeëre universele standaarde na ’n multidimensionele, komplekse atmosfeer; ons sien die verdwyning van verskille. Ons sien dit in ons land. Ons sien dit op die Internet. Dinge ontwikkel vinniger elke dag.

En ons is postmoderniste: kinders van die tyd, soos almal voor ons ook eens van húlle tyd was.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.