Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Steeds op soek na die vlugvoetige Chris Coetzee

Hy is:
  • Die wenner van die De Kat/Queillerie-romanprys;
  • Die wenner van die Eugène Marais-prys;
  • Die wenner van die M-Net-prys;
  • Opgelei in Oxford;
  • ’n Dosent in die Filosofie; maar
... wie is hy? Izak de Vries het hom gaan soek, maar twee ontmoetings en ’n telefoongesprek later, is hy:
Steeds soekende na Chris Coetzee ...

Inleidende subredakteursnota
Ons geslag lesers stel al hoe meer belang in die magiese persona agter die blaaie van ’n boek. Meer mense weet van Virginia Woolf as van haar boeke — of hulle dink hulle weet. Ons luister met gespitste ore na brokkies nuus oor die bekendes, ook uit Hollywood, en verslind die agterblaaie van ons Sondagkoerante.

Hoekom?

Hoekom e-pos ’n leser uit Pretoria my en vra of ek meer inligting het oor Chris Coetzee?

“Ek geniet die boek baie,” laat sy weet, “hoe meer ek lees, hoe meer vlakke ontdek ek. Maar inligting oor Chris Coetzee self is skaars. Kan jy help?”

Gek, nè? Onderaan haar brief staan baie duidelik dat sy ’n inligtingstelselspesialis is.

“Gaan maar na www.naspers.com toe en tik ‘mannetjies mentz’ in. Jy sal sien hoeveel ons deesdae al weet oor hierdie boek,” skryf ek terug.

“Ja, maar oor Chris Coetzee?” kom dit per kerende e-pos. “Ek wil meer weet oor hóm, asseblief.”

Dis waar. Tik maar “chris coetzee” in. Niks nie, behalwe die groot aantal verwysings na sy verowering van De Kat en Queillerie se eerste prys, die Eugène Marais-prys, die M-Net-prys. Jy gaan boonop, as jy nie mooi tik nie, heelwat oor Dirk Coetzee ook kry. Maar kyk, nou raak die lyne deurmekaar. Die een is skynbaar ’n skrywer met ’n baard, die ander ’n amperse generaal sonder baard en sonder werk. Generaal, sê jy?

Nee, wag nou ... ek het Chris Coetzee al gaan soek, en ek het hom ontmoet ook. Of altans, so dink ek ...

Die eerste ontmoeting was op Oudsthoorn (Klein-Karoo) se kunstefees, 1998. Ek het die boek gaan koop en daar, toe ek uitkom, sit hierdie kêrel met sy enorme baard en piepklein brilletjie en skryf aan ’n eksemplaar van Op soek na Generaal Mannetjies Mentz.

Genade! Ek blaai na die foto op die skutblad. Daar sit hy: grootbaard, klein brilletjie, frons op die voorkop. “Foto: Karina Turok” staan daarnaas. Sý is for real, dié weet ek. Sal Karina dus ’n model gryp, afneem en sê: dit is nou hy? Ek twyfel.

Weer slaan ek my oë op. Daar sit dieselfde man en skryf aan ’n ander eksemplaar van die einste boek wat ek hier in my hand het.

Die son is besig om te verdwyn. Elkeen wat al André Brink se Inteendeel gelees het, sal weet dat sonsondergange die uur van mirakels inlyf.

Ek kyk weer na Turok se foto, weer na die witbaardman voor my. Bygelowig was ek nog nooit. So? So, ek waag dit: “Ekskuus, meneer. Ek wil net graag my boek geteken hê.”

Die ogies loer op: klein ogies, diep en bang onder baie plooie, maar vriendelik — sy oë is sagter as sy gesig. Net onder Turok se foto staan daar dat hy ’n Namibiese burger is. Son, dus, besluit ek. Dis die son wat hom so gelooi het.

Hy sit die boek neer, dan die glasie (is dit whisky?) en dan, skynbaar asof daar ’n onsigbare derde hand is, die potlood. Heel verlig sien ek dat die lettertipe in die boek waaraan hy skynbaar skryf, dieselfde is as dié van my eksemplaar wat ek na hom uithou.

“Blerrie foute,” sê hy. “Ek soek na blerrie foute.”

Hy neem my boek. Sy stem is grof, laag. Dis nie onvriendelik nie, dis eerder net nóg ’n plooi om die mond te beskerm — soos die oneindige ander plooie skynbaar daar is om sy oë te beskerm.

Sy baard is enorm. Dis nog erger hier in die halflig. En daarom lyk sy mond kleiner. Heelwat kleiner as sy stem.

Of lieg ek nou? Dink ek nou, al skrywende, aan ’n artikel van Xander Strachan? Nee, wag, kom ons los nou eers dié puntjie. Ek sal Xander self laat praat.

“Wa’s jou naam?” grom die stem weer van iewers agter die baard.

“Izak,” sê ek. “Izak met ’n zet.”

Hy maak die boek oop en met ’n swart pen, wat nog ’n hand van iewers af opgetoor het, skryf hy my naam, toe syne. Eenvoudige skrif, g’n fensie geskribbel nie, net ’n doodnormale swaar hand wat eers my naam skryf en toe Chris Coetzee. Hy klap my boek toe, gee dit terug.

“Lekker lees,” grom die mond, definitief klein.

Een hand sit die pen weg, ’n ander tel die potlood op, nog een die glas, ’n volgende weer die boek.

Hy begin skynbaar verder skryf aan die reeds gedrukte boek.

“Dankie,” sê ek.

“Bleddie foute,” sê die mond agter die groot baard. “Ek soek na bleddie foute.”

“Haai, Lientjie, rêrig?”
Maar meer mense het Chris al gesien.

My pel op die plaas leen my eksemplaar van Mannetjies Mentz en kry dit reg om ’n paar druppels koffie daarop te mors. Hy weet ek is lief vir boeke — heg ’n besondere waarde aan sekere eksemplare in my versameling. Hy vra so om verskoning dat ek dog die druk is daarmee heen, maar ag ... saam met die verskoning kom ’n brokkie inligting wat die klein bruin vlekkie in die middel van die boek soveel meer waarde gee.

“Ek sal nog ’n boek koop,” sê hy. “Dan sal ek dit vir Chris stuur en vra dat hy dit weer vir jou teken. Ek ken hom.”

“Jy ken hom,” sê ek, stik amper in mý koffie. (Koffie is ’n belangrike deel van die skryfproses — vandaar die dubbele verwysing na koffie in hierdie gedeelte.)

“Ja,” sê hy. “Sy broer was mos my vrou se babysitter.”

Genugtig.

Ek ry terstond uit plaas toe om meer te gaan hoor. “Ja,” sê sy vrou. “Sy broer, die een waaraan hy die boek opgedra het, sou saans daar opdaag met sy kitaar en sy bottel brandewyn, dan het hy allerlei stories vertel en liedjies gesing.”

“En Chris? Het jy Chris geken?”

Sy dink ’n oomblik. “Ek was nog baie jonk. Sy broer was eintlik meer my suster se maat.”

“Dan bestaan hy tog,” sug ek tevrede.

“Jy bedoel, jy het getwyfel aan sy bestaan?” vra Fanie, wat ook opgedaag het vir ’n sundowner.

“Ja,” sê ek.

Hieroor lag Rike heerlik. “Hy was al by ons aan huis.”

“Inderdaad,” eggo Fanie. “Chris het ons kom vertel oor al die navorsing wat hy moes doen. Om daardie gedeeltes te skryf oor die liggame wat verbrand word, moes hy glo ’n hele paar verassings gaan afloer ...”

Slim Xander gebruik sy laptop
Nadat ek die e-pos uit Pretoria kry, gaan ek verwoed aan die krap onder die klomp De Katte wat in die sitkamer lê. Iewers onthou ek is ’n onderhoud met Chris. ’n Uur later het ek dit: Oktober 1988. Op die voorblad is drie rooikoppe. Daar word ook gepraat met Sean Pollock, Bettie Cilliers-Barnard en Johann Slee. Die feit dat daar ’n onderhoud met Chris Coetzee in voorkom, haal nie die voorblad nie.

Alexander Strachan het, na ’n visvangekspedisie in Namibië, vir Chris gaan opsoek. Dis ’n lekker storie — ons weet nou dat Chris oudhede versamel, mooi kunswerke besit en nie lief is vir kortverhale nie.

Wat nog? Dit wel: hy het in Oxford gestudeer en is ’n koerantman van formaat, hy hou van gewone mense, maar nie van mooies nie. Ook dit: Xander het opgemerk dat sy mond besonder klein en broos lyk onder die baard. “Soos ’n sandhaai s’n,” beskryf hy dit.

Daar het jy dit. Die res van die gesprek vertel niks meer van die mens, Chris, nie. Dis eerder ’n storie oor Xander se belewenisse.

Bowendien het Xander, slim storieverteller wat hy ook is, redelik gou duidelik gemaak dat hy bereid is om nie die onderhoud te voer nie — en dit toe tog geskryf.

Kan ons dus alles glo wat in die artikel staan? Die nieu-joernalistiek het soveel maniere uitgevind om oor ’n onderwerp te praat, sonder om ooit daarby uit te kom, dat my handjie vol inligting aan Pretoria (“Chris aldus Xander”) so maklik kon wegwaai soos die Namib se sand. Tog, iets is beter as niets en daarom probeer ek die onderhoud met ’n aftaster lees sodat ek dit per e-pos kan versend. Maar not ’n hel. Om die een of ander rede besluit die vervlakste stuk tegnologie dat daardie twee bladsye nie leesbaar is nie.

Ek toets dit met ’n werkopdrag wat die bure se dogtertjie wou laat aflees. Perfek. Terug na die onderhoud. Nee, Xander se woorde kom in hiërogliewe na my toe terug. Weer probeer ek en weer. Maar niks. Ons peperduur programmatuur (oftewel “sagteware”) weier om hierdie onderhoud te aanvaar.

Moet óns? Almal weet nou al wat Koos Prinsloo aangevang het met ’n kuier by Xander. Koos beweer dat hy wat Xander is, sy hand by ’n meisie se broekie wou insteek ... Fiksie-fiksie, maar Riana Scheepers sê (in haar Ph.D.) dis beslis Xander wat beskryf word ... oor die meisie en haar kleredrag wou sy haar nie uitlaat nie.

Fiksie vertel ons dus soveel meer oor mense as al die droë feite saamgelieg. Het Xander dieselfde gedoen met hierdie onderhoud?

Rofwerk oor ’n aand saam met die skrywers
Daardie einste oggend in April moes ek eers gaan poseer vir ’n reeks foto’s. Heel formeel begin ons met baadjie en das, maar hoe later hoe kwater ... Stukkie vir stukkie waai my klere, sodat ek later net in my wit onderbroekie daar sit.

My vriendin is ’n kunstenaar en sy stileer haar foto’s. “Natuurlikheid” en “lewensgetrouheid” is minder belangrik as die estetiese. Alles vir ’n goeie saak, sê sy. Dis ook die rede waarom ek instem om deel te neem aan ’n gesprek met “plaaslike skrywers” in die provinsiale hoofstad. Ek ry in elk geval al die honderde kilometers om die aand na PG te gaan luister wanneer hy sal praat oor die “adulterations” in sy boek.

Jan sit regs van my, Jeanette is laat en kom sit tussen ons. Peet is links van my, Pieter en Jenni langs hulle.

Skielik is hy ook daar: blou jeans, wit baard, klein brilletjie en swaar pyp. Uit die bloute. By die deur het hy nie ingekom nie, ek sou dit gesien het. Hy kon onmoontlik vroeër al ingeglip het, want die restaurantjie waarin ons optree, is klein en ek het in totale anonimiteit daar gesit en koffie drink. Ek het die wêreld gesit en bespied soos ’n veggeneraal, dink die uwe nou wrang — en weer klop die skrywer van Mannetjies Mentz my loshande. Hy staan jou werklik net langs die tafel. Wragtie.

Iemand herken hom, skarrel, gryp ’n stoel en laat hom sit.

Die voorsitter stel hom voor, vra dat mense tog nie juis oor sy boek moet praat nie, want dit gaan by ’n ander geleentheid plaasvind. Enige ander vrae mag maar aan hom gerig word.

Chris grom hoorbaar.

Jenni word voorgestel, toe Pieter. Peet glimlag wanneer hy aan die beurt kom. Ek sit steeds en gaap, want hier sit die man minder as twee meter van my af ...

Buite, deur die groot vensters, sak die son weg agter die bome. Iemand moes die voorsitter van gruwelike feite voorsien het, want sy stel my voor as die kleinseun van Boerneef, met ’n ellelange publikasiegeskiedenis. Steeds gaap ek, en Jan vertolk my reaksie verkeerd.

“Wat van Pierneef?” sê hy en giggel.

Dit bring my terug na die harde stoel onder my agterent. “Pierneef,” sê ek. “Ja, maak dit Pierneef. Dit klink beter.”

’n Paar mense in die restaurant lag ongelowig.

Jeanette en Jan is bekend, so hulle word korrek voorgestel. Ons sien PG in die gehoor sit, hy wil nie saamspeel nie — is hoeka op vir optree later vanaand.

“Waar begin ’n storie?” wil die voorsitter weet van ons klomp.

Sy begin by Chris, wat iets mompel en toe sy pyp aansteek. Jenni is sonnig in haar antwoord, Pieter betrek onmiddellik die gehoor. Peet is ou hand. Ek probeer iets sê oor kommunikasie, maar gelukkig is Jeanette welsprekend, hoewel sy duidelik senuweeagtig is. Jan gaan ook goed af.

Nog ’n vraag: “Hoe weet ’n skrywer wanneer om te stop?”

“Wanneer ek die punt sit,” grom Chris.

Iewers in my agterkop donder ’n scène uit Casspirs en Campari’s rond: Rachel wat iemand met ’n vuishou plattrek.

Jeanette begin rook. Jan bedel ook een. Peet sluk verwoed aan sy koffie. Chris stook ’n pyp en iemand uit die gehoor stuur ’n kelnerin om ’n glas wit wyn voor hom te laat neerdaal.

Dank vader vir Pieter. Hy wat ’n bosveldstorie met ewe veel smaak as ’n kreefresep kan vertel, het dit vanaand oor boeke wat verpulp word. Jenni lyk dolgelukkig aan Pieter se sy.

Dis baie gou duidelik dat niemand nog ooit van Boerneef óf Pierneef se kleinseuns gehoor het nie, so dis gaaf om uiteindelik vrygelaat te word. Jeanette het nou al ’n paar keer om verskoning gevra dat sy rook, maar so ’n paneel is harde werk. Uiteindelik is ons klaar.

Ek staan op en ek draai my na Chris — skoonveld.

Tussen neus en ore het hy verdwyn — Poef!

Miskien is my bloedsuikervlakke laag. Daarom eet ek en ry na die saal waar PG sou optree. Daar aangekom gee ’n inleier ’n hoogdrawende (tong-in-die-kies) niksseggende oorsig oor die boek.

Dié storie is nie oor PG nie. Die storie is oor ’n klein mannetjie met ’n grootbaardboek, want, toe ek na afloop van alles uit die toilet kom, staan hy weer daar — net so: een kant, tussen die rye en rye boeke.

Langs hom staan ’n vrou — sy sien my staar en groet. Die pyp is in sy hand, dan in sy mond. Hy kyk nou ook na my. Dié keer, besluit ek, gaan hy vasgepen word.

Nader en nader stap ek. Sy baard is intimiderend. Die klein ogies loer nou weer na my, hou my dop onder die beskerming van die plooie. Hy trek-trek die pyp, staan met sy boude stewig teen die tafel vol boeke aangedruk. Dis neonlig bo ons, die son is al lankal onder.

“Hallo,” sê ek.

“Hallo,” sê hy. “Chris Coetzee.”

“Ons het al ontmoet,” sê ek en gee my naam. “Dit was op die Oudtshoornfees, jy het my boek geteken.”

Sy hand kom na my toe. Ek druk dit. Dis warm, regte-egte vlees en bloed.

“Ek onthou nie almal nie,” sê Chris.

“Dis okay,” lag ek. “Jy het gesit en whisky drink.”

Sy oë se plooie trek saam, vorm ’n klompie klein glimlaggies. Die vrou langs hom se oë glimlag ook. Haar naam het ek nooit gevra nie.

“Dit was nie whisky nie. Iemand het my ’n bottel mampoer present gegee ...”

Daar is ’n paar oomblikke van stilte, ek vra: “Het jy al die bespreking gesien wat ek van Mannetjies Mentz gedoen het op die Net?”

“Nee,” sê hy, die stem effens kleiner, die mond skielik oper agter die baard. “Ek weet niks van computers nie. Kan jy dit vir my pos?”

Ja, knik ek, en skryf die adres af.

Hy vra waar ek vandaan kom. Ek sê. Hy knik en sê dan dat hy vir Fanie ken.

“Ja,” antwoord ek. “Fanie sê so. Hy sê ook dat hy jou genooi het om met die leeskring te kom praat?”

Die plooie trek weer saam in ’n digte linie, die baard rank groot om die mond. Sy kop knik, uit die klein mond kom ’n groot knor. “Ek sal kom, maar ek sal nie praat nie. Ek glo nie in die mens agter die boek nie. Sê vir die mense.”

Ek knik, hoor iets agter my.

PG en Pieter is aan die beduie. PG se vinger stamp grond toe, Pieter se arms waai in die lug rond.

Wanneer ek terugkyk, is Chris en sy metgesel ... weg. Heeltemal skoonveld.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.