Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die man wat wegloop vervolmaak het …


Ronel Terblanche

Moer toe die vreemde inMoer toe die vreemde in het reeds meer as 4 000 eksemplare verkoop — ’n groot prestasie vir ’n Afrikaanse bundel kortverhale. Ek ontmoet Johan Bakkes, alias Johannes die Loper, op ’n Vrydagoggend by die Terrace op Stellenbosch en probeer meer uitvind oor die man agter die gewaad.

RT: Jy het verskeie identiteite — geoktrooieerde rekenmeester, professor, toeroperateur, ekspedisieleier, deeltydse wildboer en nou ook skrywer. Wie is jy eintlik en in watter rol is jy op jou gelukkigste?

JB: Ek kan die laaste deel van die vraag die maklikste beantwoord. Ek is die gelukkigste wanneer ek op die lang pad is, in die natuur. Wanneer ek nie presies weet wat môre gaan gebeur nie. Daar moet natuurlik ook bietjie risiko in wees, want ek hou daarvan om nuwe dinge te beleef. Ek is baie lief vir mense, maar dit is ongelooflik om so vir tien dae alleen in die Richtersveld of die woestyn te sit. Om op te som: wanneer die pad so oop lê en die musiek speel, met ’n bier tussen my bene, op pad na nêrens, is ek op my gelukkigste. Om weg te kom van die normale.

My groot liefde is eintlik geskiedenis, maar ek het nie gedink daar is geld in nie. En op ’n stadium wil almal mos maar geld maak. Volgens die RGN-opnames in 1972 was die hoogs betaalde professie bourekenaars en tweede was ’n ouditeur. Omdat ek nie wetenskap op skool gehad het nie, word ek toe ’n ouditeur. Alhoewel mens tog ook met mense werk, het ek weldra besef dit is ’n 18-ure-werksdag en daar is nie kwaliteit-tyd nie. Ek het goeie geld verdien, maar was besig met ’n sinnelose oefening.

Ek het die akademie betree, maar nou was genoeg geld om te reis ’n probleem. Deur ander op reis saam met my te neem, kon ek die toer bekostig en die natuur beleef.

RT: Hoe hanteer die familie hierdie wegloop van jou, of gaan hulle saam?

JB: Nancy en ek was jonk toe ons getroud is — ons het mekaar nie werklik geken nie en moes saam aanpassings maak. Ons het vyf jaar gewag voor ons kinders bymekaar gemaak het en besluit OK, as ons kinders kry, neem ons saam die verantwoordelikheid, want ek sal nie kan verander nie. Kleintyd het die kinders saamgegaan, toe dit nog prakties was. Ek dink nie dit was werklik vir Nancy lekker nie, maar dit was ons leefwyse.

Ek hoop my kinders verstaan my so. Mense sê dikwels vir Nancy sy moet ’n medalje kry — sy sê te hel met ’n medalje, sy soek geld! Goed, ek het verseker ’n skuldige gewete, maar wanneer ek hier is, spandeer ek kwaliteit-tyd met hulle.

Ek loop weg sonder om enigiemand te sê. Wanneer my mense die oggend wakker word en die bakkie is weg, weet hulle Pa het alweer die pad gevat — gewoonlik net so vir tien dae. Maar nou moet ek ook sê, my vrou is ’n sielkundige en deesdae vra sy my wanneer loop ek weer, en nou vat sy al die fun daaruit.

RT: Een van jou kortverhale handel juis oor Cara, toe 14, wat saam met jou Uhuru, die hoogste piek in Afrika, bereik het. Vertel bietjie meer.

JB: Daar is drie mense in my binnekring. Die een is Nancy, die ander Cara en Marc. Elkeen kry een keer ’n jaar alleentyd. Dit was Kara se beurt. Ek het werklik swaar gekry, want Kara ly aan hoogtevrees. Maar ek het my pa ook saamgevat — hy was toe 72 jaar. Ons was dus drie geslagte saam daar gewees.

RT: Hierdie uitrustings van jou — is dit ’n skans, is dit om anders te wees, of voel jy werklik gemaklik daarin?

JB: Dit is ’n baie moeilike vraag. Ek hou nie van die normale nie, maar daar is soms ook ’n moedswilligheid betrokke. Maar ek is totaal gemaklik daarin. Indien dit nie ek was nie, het dit ek geword. Ek het toestemming gehad om ’n baard in die weermag te dra. Die dra van ’n rok in die woestyn is ’n praktiese uitweg. Die Arabiere dra dit ook. Die bangles het ek gekry in my omswerwinge in Afrika en het so deel geword van my — ek bad en leef daarmee en wanneer ek dit nie aan het nie, voel ek kaal. Sommige mense maak teelepeltjies bymekaar — ek hou van bangles. Sommiges is gekoop van ander se arms en sommiges geruil vir ’n blikkie boeliebief. Dit het miskien begin as ’n rebelse situasie om weg te kom van die normale, maar nou is dit deel van my lewe.

Die bangles is natuurlik ook ’n bemarkingsfoefie. Mense sal vra waar kom ’n spesifieke bangle vandaan en ek sal sê Ivoorkus of Mali. Dan vertel ek van my volgende reis en vra of hulle wil saamkom. Ek versamel dit nou al van 1978 af. Die kopdoek het maar begin met die dat ek vir mense moet kosmaak. Die kopdoek hou die hare en sweet uit my oë. Die hoed was maar die uitvloeisel daarvan.

RT: Die passie van jou om die vreemde in te vlug. Waar kom dit vandaan?

JB: Ek dink dit kom maar van my familie af. My ma en pa was reisigers. Wanneer daar ’n ou geldjie was, is óf my ma óf my pa vir ’n ruk oorsee. Ons het gaan vakansie hou met ’n karavaan of ’n tent en so die land deurkruis en nooit vir lank op ’n plek gebly nie. Die romantiek van reis is nog steeds by my. My ma het my gedwing om te lees en dit wat ek gelees het, wou ek ervaar. Ek wou dit wat ander mense vir my in boeke vertel het, self belewe. Dit is seker maar hoe dit begin het.

RT: Jy kom uit ’n kreatiewe familie. Jou ma, Margaret Bakkes, en broer Christiaan is skrywers; Marius is regisseur en filmmaker. Loop dit maar in julle bloed?

JB: Die groot skryf kom eintlik van my pa af. Hy is ’n geskiedkundige en hy het stories geskryf. Hy hou byvoorbeeld dagboek van sy sestiende jaar af. Hy is nou 76. Maar nie die standaarddagboek nie. Hy dokumenteer detail oor mense, gebeurtenisse, politiek ens. Sy dokumente strek van die tyd toe hy stormjaer was in die Ossewa Brandwag, verby die eerste hartoorplanting, maanlanding. Hy glo dit is ’n geskiedkundige dokument. Maar onthou, ek kan nie skryf nie, ek wil maar net ’n storie vertel.

RT: Hoe het dit gebeur dat jou ervaringe en omswerwinge te boek gestel is?

JB: Ek het nou al 16 keer die Visrivier-canyon gestap. Elke keer gaan daar omtrent 40 mense saam. Die eerste keer het my pa saam met my gestap en ons het sy uittreksel uit sy dagboek vir die mense gegee, saam met die foto’s, as ’n memento. Ek het ook dagboek begin hou van my omswerwinge — nie my lewe nie, net wanneer ek gereis het. Die mense wat saam op safari was, het dan ook so ’n stukkie ontvang. Maar ek het nooit besef dat dit in boekvorm sou verskyn nie.

Maar dit het eintlik so begin: elke maand het ek en ’n paar vriende bymekaar gekom om te kuier en te vertel hoe sleg ons vroue ons behandel. Die aand, of eintlik oggend, na ’n baie suksesvolle kuier, skryf ek ’n storie oor Hennie se broer. Aan die einde van die storie huil ek self. En net daar besluit ek dat hierdie storie, ter nagedagtenis aan die broer, gepubliseer moet word. Vriende by die tydskrif het laat weet dat dit nie ’n tydskrifstorie is nie, maar ek moet Riana Scheepers kontak, want sy was op daardie stadium besig om ’n kortverhaalbundel saam te stel. Sy vra my toe om nog ’n paar avontuurstories te skryf wat sy met haar leerlinge by ’n seunskool kan behandel. In vier weke skryf ek 30 stories.

Toe ek my oë uitvee, sê sy sy gaan dit vir H&R voorlê. Binne vier dae laat hulle weet hulle kan iets daarmee doen. Maar toe kry ek die kakste keurdersverslag terug. Kyk, ek kan bietjie spel, maar my sinsbou is moer toe — ek skryf soos ek praat. Maar hierdie perd sê ek moet teruggaan en Hennie Aucamp (toevallig my ma se neef) se Hoe om kortverhale te skryf gaan lees.

Om ’n lang storie kort te maak, uiteindelik is dit gepubliseer met ’n paar veranderinge.

So, ek het fokkol pryse gekry, maar die mense koop my boek. Ek maak ook nie geld daaruit nie, maar die lekkerte daarvan is dat gewone mense op straat vir my kom sê hulle het dit geniet. ’n Paar van my Engelse studente op UWK sê hulle sukkel daarmee, want dit is nie geskryf in die grammatikaal korrekte Afrikaans wat hulle ken nie, maar dit is maar soos dit is.

RT: Het jy enige aspirasies om eendag hierdie groot roman te skryf?

JB: Glad nie. Nee, ek is nie ’n skrywer nie — ek stel net my belewenisse te boek. My konsentrasiespan is te kort en ek sal gatvol raak. Vir my M-graad het ek 250 bladsye geskryf, maar dit was net te erg.

RT: Kry jy tyd vir lees?

JB: Daar was ’n tyd wat ek nie gelees het nie. Toe ek ’n ouditeur was, was ek vir 18 uur ’n dag besig om fokken debiete en krediete uit te sorteer. Daar was net nie tyd vir lees nie. Ek lees nie swaar goed nie. Ek lees ’n Louis L’Amour en dan is ek ’n cowboy daar êrens in die bos — nie filosofiese goeters nie. Ek lees vir ontspanning en plesier. My laaste boek was deur Jeanette Winterton, iets van To write on the body.

RT: Jy het ook ’n groot passie vir Afrikaanse musiek?

JB: Ja, ek het ’n groot passie vir my taal en sal enigiets doen om dit te bevorder.

Hierdie passie kom ’n lang pad. Destyds toe ek daar in Arcadia sit en swot het, het daar ’n stuk musiek oor die radio opgekom — “Skadu’s teen die muur” van Koos du Plessis. Dit was die eerste keer dat Afrikaanse musiek vir my sin gemaak het. Maar nie alle Afrikaanse musiek nie. Die manne wat Duitse musiek vat en Afrikaanse lirieke bysit, is nie vir my nie.

Die verdere betrokkenheid het gekom toe ons drinkebroers weer een aand ons vergadering gehad het. In ’n naburige restaurant was Theuns Jordaan aan die sing en ons is almal soontoe. Ons het hom gevra of hy iets in Afrikaans kan sing. Net daar het die manne besluit hierdie ou moet ’n CD sny. Wel, jy kan nie glo hoe ons gesukkel het om ’n sponsorship te kry vir Afrikaanse musiek nie. Ek het vir ’n jaar my siel verkoop sonder enige sukses. Toe kom die boys weer bymekaar en ons reik R2 000-aandeelsertifikaatjies uit.

Ek is nie in die musiek-scene nie, dis maar net vir Theuns wat ons gehelp het. Al die geld wat ons geleen het, het ons weer teruggekry en as gevolg daarvan sit ons nou met ’n trustfonds wat aangewend kan word om enige up-and-coming Afrikaanse kunstenaar te kan help


Na byna twee uur se lekker gesels en lang stories is dit tyd om te groet. Terwyl ek wegry, dink ek dat Johan Bakkes werklik gelukkig is, want hy het die sisteem vir hom maak werk.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.