Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

INSIG-artikel: Mei*

Klik hier om Charles Fryer se artikel in die Mei-uitgawe van INSIG oor Dalene Matthee se wysheid én nukkerigheid te lees

INSIG se Mei-uitgawe!

Snuki oor die kole

‘Meer lugtyd vir ministers as in ’n Boeing 747.’ ‘Thabo-TV.’ … Die SABC is gedurig onder skoot omdat hy glo ’n ANC-spreekbuis is. En die man wat koes vir die spervuur is Snuki Zikalala, magtige hoof van die uitsaaier se afdeling vir nuus en sake van die dag. Boonop is Zikalala loshande die gunsteling om eersdaags by Peter Matlare as nuwe grootbaas van die SABC oor te neem. Sue Grant-Marshall het in die nuwe Mei-uitgawe van INSIG die wêreld vir hom warm gemaak.

Ons ontmoet vroeg, lank voordat die sluimerende SABC-reus wakker word. Net ’n dun straaltjie werkers syfer nog die massiewe gebou binne. Ek stap met daardie eindelose doolhof van gange langs wat die organisasie se siellose ontsaglikheid versinnebeeld. Aan weerskante van my is Snuki Zikalala en Paul Setsetse; laasgenoemde is die SABC se hoof van korporatiewe kommunikasie deur wie ek twee weke lank gesukkel het om hierdie afspraak te reël.

Zikalala, met ’n bondel koerante onder die arm en ’n aktetas in die hand, is deftig geklee in ’n donker pak, swierige ligblou hemp en donkerblou das. Hy tik sy kode in die kantoorslot en die deur swaai oop om ’n allamintige kantoor te onthul – syne – met satellietkantoortjies wat daaruit lei, almal in omtrent dieselfde kleurskema as Zikalala uitgedos.

Dis 07:00 en ons is die eerste aankomelinge. Setsetse sak in ’n stoel neer terwyl Zikalala wegdraf om te gaan tee maak nadat hy alle aanbiedinge van hulp van die hand gewys het. Hy kom terug met ’n skinkbord met onder meer die suurlemoenskyfies en heuning op waarmee hy sy rooibos geur.

Toe ek my onderhoud begin, sak Setsetse nog dieper in sy stoel terug. Hy is vasberade om te bly en kraak sy kneukels teen sy handpalm – senuwees? Hy onderbreek ons ’n paar keer tot ek hom herinner dat ek nie met hóm ’n onderhoud voer nie. (Dis maar die tweede keer in my joernalistieke loopbaan dat iemand in ’n onderhoud bysit – die vorige keer was met Rhema se Ray McCauley.)

Zikalala is ontspanne, glimlag dikwels en lag stilletjies as ek hom konfronteer met vrae oor personeel wat padgee vanweë sy bestuurstyl wat hulle glo demoraliseer, sy gebrek aan onafhanklikheid van en kritiek op die regering en sy rol in die bedanking van Peter Matlare, groephoof van die SABC.

Hy hou vol dat nie een joernalis weens hom daar weg is nie. “Hulle gaan werk vir die regering omdat hulle meer geld daar kry.” Hy is verontwaardig oor bewerings dat hy die nuus beheer. “Ek lol glad nie met die joernaliste nie. Al wat ek sê, is ‘jy moes dit eintlik uit hierdie of daardie hoek gedoen het, maar dis nie ek wat dit vir jou moet sê nie. Jou baas (Jimi Matthews) sal dit vir jou sê’,” sê hy in ’n openbarende oomblik. En as daar werklik ’n probleem ontstaan, “dan bel ek vir Jimi”. Waarop hy wel aandring, sê Zikalala, is gebalanseerdheid, verantwoordelikheid en die waarheid, “niks anders nie”.

As voorbeeld van gebalanseerdheid kies hy spontaan ’n nuusitem van ’n paar maande gelede toe ’n groep jong wit mense hulle aan ’n heining by die Pretoriase dieretuin vasgeketting het uit protes omdat hulle nie op gelyke voet te midde van swart bemagtiging kon werk nie. Hy vertel hy het besluit teen ’n uitsending op dieselfde dag omdat die storie eers “gebalanseer moes word met ander standpunte, soos Cosatu s’n”, en dat dit dus tot die volgende dag oorgestaan het. Dan gee hy te kenne dat hy die betogers ’n guns bewys het deur hulle meer uitsaaityd te gee as wat hulle op die dag van die protes sou gekry het. “Ons doel is om in te lig en op te voed,” antwoord hy op my kritiek dat dit nuus is en nie kan “oorstaan” nie.

Zikalala lag bewering af dat Peter Matlare by die SABC padgee omdat Zikalala se heraanstelling die groter geloofwaardigheid ondermyn wat nuusprogramme onder Matlare gekry het.

(Zikalala is laas by die SABC weg kort ná Matlare se aankoms. Hy word ook beskou as die gunsteling om eersdaags sy skoene onder Matlare se lessenaar uit te skop.)

“Ek het nooit met Peter baklei nie. Ek respekteer hom as my baas. Sy kontrak verstryk vanjaar en hy het besluit om groener weivelde te gaan soek.”

Paul Setsetse val ons in die rede: “Daar moet tog perke wees … waar eindig persvryheid? Dis suiwer laster om te beweer Snuki het van Peter ontslae geraak. As ek in sy plek was, het ek die media hof toe gevat.”

“Wat jy sien, is wat jy skryf,” verduidelik Zikalala. “Moenie dit interpreteer nie. Vertel net die waarheid. Ons doen verslag van wat ons sien en nie van wat ons dink nie. Dis die voordeel van TV – ons skryf met beelde. Beelde lieg nie.”

Maar selektiewe beelde kan wel lieg. As jy vir Zikalala vertel dat nuus gemanipuleer kan word deur beelde te redigeer, of deur sekere nuusgebeure glad nie te dek nie, is sy reaksie om op te spring, die Uitsaaiwet van die rak te haal en die SABC se rol voor te lees: “om die publiek in te lig, op te voed en te vermaak.”

Dit word feitlik ’n mantra in ons gesprek. Hy beklemtoon herhaaldelik die noodsaak dat die SABC wonde moet genees, vir Suid-Afrikaners moet wys dat die land vorder. Hy vertel ’n paar keer hoe hy politici voor stok gekry het wanneer hulle hul verkiesingsbeloftes van werkskepping en paaie en huise bou nie gestand doen nie. Dit klink of hy die SABC as ’n waghond beskou wat moet sorg dat die regering sy ondernemings uitvoer. Hy waarsku dat “ons by die betrokke minister (sal) spook” as hy of sy nie hul spertye haal nie.

Toe ek hom vra of die ministers nie by hóm spook nie – veral die minister van gesondheid, dr. Manto Tshabalala-Msimang, wat hom ’n ruk gelede persoonlik gebel en aangesê het om ’n internasionale konferensie oor melaatsheid te dek – lag hy verleë. “Dis ’n moeilike vraag,” erken hy, maar voeg by dat hy daagliks oproepe kry van sakeleiers, arbeidsleiers, van almal. Weer val Paul Setsetse ons in die rede: Hy het dieselfde gedoen toe hy by die departement van justisie was “omdat TV so ’n magtige wapen is en almal ’n mediageleentheid soek. Waarom is dit nou skielik ’n skandaal?”

A, dis dus waar die knoop lê. Die protestasies deur die “gedrukte media in wit besit” – om Zikalala aan te haal – dat die SABC ’n spreekbuis van die ANC is, het hul teiken getref, hoewel dit nog onseker is wat daarvan sal kom. Die magtigste kommunikasiemedium, televisie, is vandag in swart hande; en ons woon in ’n land wat deur ’n oorweldigende swart meerderheid geregeer word. Waarom dus die behoefte aan klaarblyklike nuusmanipulasie met Zikalala wat dit duidelik aan sy personeel stel dat pres. Thabo Mbeki, nooit, maar nooit, in die tweede helfte van ’n nuusuitsending mag verskyn nie? En dan persoonlik die nuuslyste nagaan om seker te maak dat sekere nuusitems daarop verskyn?

Sy agtergrond help om ’n antwoord te gee. Zikalala is ’n ANC-akoliet, ’n selfbetitelde “ANC struggle commissar” wie se gesprekke by elke moontlik geleentheid besaai is met uitdrukkings soos “my party”. Sy “politieke oriëntasie”, soos hy dit stel, het soos baie ander begin toe hy ’n ampertiener was en sy gesin uit hulle huis in Alexandra geruk is en ingeboender is in ’n vierkamerhuisie in Diepkloof, Soweto. Sy vroegste herinneringe aan wit mense is van polisie met gewere, Afrikaanse aksente en blaffende honde wat jou laat in die nag byt. Armoede het sy skooljare kortgeknip en hy het werk gekry as ’n joggie by die Observatory-gholfbaan in Johannesburg, waar hy met weggegooide stokke begin gholf speel het.

In 1969 het hy ’n jaar in eensame opsluiting deurgebring, soos sy vriendin Winnie Mandela, wie se naam hy dikwels noem. Ná sy aanhouding is hy vyf jaar verban. Hy het uitgewyk na Botswana, Zambië en Tanzanië en uiteindelik ’n doktorsgraad in joernalistiek behaal aan die universiteit van Sofia in Bulgarye. Dis waar die titel “dr. Zikalala”, wat hy graag gebruik, vandaan kom. Dit verskyn op sy CV en in alle persverklarings, soos dié wat hy uitgereik het toe hy die arbeidsdepartement se kommunikasiedirekteur was in die twee jaar dat hy van die SABC weg was.

Hy praat geesdriftig oor die B.A. Honneurs in bedryfsosiologie wat hy ná sy terugkeer uit ballingskap in die 1990’s aan Wits verwerf het. Dit was die verwesenliking van ’n jeugdroom. Toe hy ’n jong kind was wat stokkielekkers op straat verkoop het buite Wits – destyds ’n universiteit net vir blankes – om sy ma te help om sewe kinders groot te maak, het hy vir sy broer vertel van sy “brandende begeerte” om eendag daar te studeer.

Sy woede oor sy apartheidskinderjare pols soos ’n lae koors deur ons gesprek, maar daar kom geen uitbarsting nie. Hy verduidelik hy kom “uit ’n ANC-agtergrond waar ons geleer is ons moenie die persoon haat nie, maar die politiek. Ons blameer nie wit mense nie, maar die stelsel, die ideologie, die onderdrukkers”. Trouens, sê hy, “wit mense het ’n belangrike rol te speel in die transformasie en genesing van Suid-Afrika – hulle is op slot van sake Suid-Afrikaners”.

Maar steeds hou die kritiek nie op nie. “As daar enige bewys nodig is van bevooroordeelde verslaggewing,” sê Dene Smuts, DA-woordvoerder oor kommunikasie, “was dit die dag toe min. Tshabalala-Msimang Zikalala persoonlik gebel het weens daardie konferensie oor melaatsheid. Die konferensie moes wag totdat Zikalala ’n nuusspan uitgestuur het.” Onlangse bevindinge deur die Mediamoniteringsprojek wys dat 40% van die nuusbulletins die doen en late van die regering dek, sê sy. “Die nuus het verander in ’n ministersparade met die president vooraan.”

Dis nou al ’n jaar sedert Zikalala se aanstelling met argwaan begroet is. Smuts se eweknie by die IVP, Suzanne Vos, het gesê: “Die hand van staatsbeheer is stewig om die nek van Aucklandpark.” Die voormalige redakteur van die Rand Daily Mail, veteraanjoernalis Allister Sparks, het gesê Zikalala “is teruggebring as nuusbeheerder en vermoedelik in diens van die regering”. Skrywer, joernalis en politieke kommentator Max du Preez het die aanstelling as “onheilig” beskryf. Anton Harber, professor in joernalistiek aan die Universiteit van die Witwatersrand, het in Business Day geskryf: “Zikalala is nie ’n joernalis wat ’n mens verbind met woorde soos ‘onafhanklik’ en ‘krities’ nie.”

Toe kom groephoof Peter Matlare se skokbedanking in Januarie vanjaar – en Selby Khumalo, die ACDP se segsman, sê volgens Sapa hy hoop dat die aanstelling van ’n nuwe grootbaas by die SABC “minder skeefgetrekte beriggewing ten gunste van ministers” sou beteken. In dieselfde berig gee Dene Smuts te kenne dis ’n valse hoop en herhaal sy haar standpunt dat die aanstelling van Zikalala as nuusbaas die begin van die einde vir Matlare beteken het.

Op pad uit stel Zikalala my voor aan sy bestuurder van strategiese ontwikkeling, Graham Welch, en wys my waar sy persoonlike assistent, Thelma Barrett, sit. “Hulle is wit – waarom al die praatjies oor wit mense wat nie werk kan kry nie?” Ek wil hom vertel van talle jong wit manlike gegradueerdes wat nie werk kan kry nie, maar ons is op pad na die hyser van waar ’n personeellid my deur die verwarrende SABC-doolhof na buite begelei. Die begeleier, ’n lang (wit) man, vertel my hy is ’n geesdriftige gholfspeler, nes Zikalala wat met ’n flink voorgee speel. Hy mompel: “Dis onbillik dat hy so deurloop in die pers.”

Maar is dit? Sy blootstelling in die pers het regstreeks te doen met sy rol as ANC-ideoloog wat so ver gaan om die ANC-denke te bevorder dat hy selfs vrywilliglik vertel hoe hy ter wille van “balans” die uitsaai van die dieretuinprotes teruggehou het. Dis ’n heeltemal ander mens as die vriendelike, bebrilde grootbaas wat self die tee maak en telkens in die uurlange onderhoud te kenne gee dat hy resultate moet lewer, anders is hy sy werk kwyt.



* Die Mei-uitgawe van INSIG is nou op die rak.



LitNet: 18 April 2005

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.