Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Twee vir die prys van een

Josephine Bertrand

Dit sou net nog 'n vakansie in Mauritius wees. Soos al die vakansies voor dit, sou ek die meeste van die tyd alleen op die strand spandeer, alleen deur die nou straatjies en stalletjies van die Maandagmark loop en alleen die son sien ondergaan oor die turkooisblou see. Die lewe en lot van 'n vlieënier se vrou.

Soos gewoonlik het ek my strandsak die eerste oggend gepak en presies om nege-uur my geliefde plekkie onder die kokosboom op die strand ingeneem, gewapen met 'n spritsbottel sonbrandolie, my donkerbril en 'n versameling tydskrifte wat ek deur die jaar nooit tyd gekry het om te lees nie. Eienaardig hoe ek selfs op vakansie by 'n bepaalde skedule hou. Dit was my agt weke van ongesteurde rus, terwyl my man sy pos as vryskutvlieënier vir Air Mauritius inneem.

Voor die aanbreek van sy eerste kontrak het ons so uitgesien na die agt weke op die eiland. Ons het beplan om soveel dinge saam te doen, soveel plekke te sien, saam met die dolfyne te gaan swem en bromponies te huur om die eiland mee plat te ry. Ek wou graag net sommer kwaliteittyd opmaak vir die "droë" maande wat ons in Suid-Afrika onder al die werksdruk ervaar het. Hier was ons vry van enige onderbrekings: sy selfoon, sy kinders en sy eks. Ek het regtig gedink dat ons soos twee skipbreukelinge aangewese op mekaar, in hierdie idilliese plek ons liefde vir mekaar sou herontdek. Ek het geglo dat ons gebluste passie weer sou vlamvat. Ek was verkeerd. Dit was vier jaar gelede en sedertdien het niks verander nie. Nee, inteendeel: álles het verander. Die bietjie liefde wat daar oor was tussen ons, het nie die afgelope jaar vol leuens oorleef nie. Die passie was nie opgewasse teen die jaar se kilheid nie. Alles het platgeval, net soos sy slap penis, 'n Feniks wat nie uit die as wou rys nie.

Die eerste tydskrifartikel wat my oog vang se opskrif is: "How to make your sex life more rewarding". Ek lag en dink, watter sex life nogal? Die laaste keer wat ons seks gehad het (ek kan dit lankal nie meer liefdemaak noem nie), was net na die Safari Rally in Kenia in Februarie. Amper tien maande gelede! Dit was so 'n slegte, koue en emosielose ervaring dat ek hom toegesnou het om eerder 'n prostituut te betaal voordat hy weer sou durf om so emosieloos met my liefde te maak. Hy het soos gewoonlik nie 'n woord gesê nie. Net omgedraai en aan die slaap geraak terwyl ek my aan die slaap gehuil het op die kussingsloop vol maskaravlekke wat nie meer wou uitwas nie.

Ek het begin voel hoe die son my rug brand en skielik besef dat ek die tannery stadig sal moet neem. Ek het omgerol op my rug om die olie uit my sak te haal, toe ek die twee figure aangestap sien kom.

Dit was 'n buitengewone gesig vir die eerste week in Desember. Die meeste van die huise op die strand in Blue Bay het aan locals behoort wat nie sommer elke dag op die strand gesien is nie. Die vakansiegangers het die strande in die noorde, soos Grand Baie, verkies. Ek het gewoonlik die hele strand vir myself gehad tot en met die laaste week in Desember, wanneer die locals die paar feesdae saam met gewoonlik ongenooide familielede van Europa op die strand deurbring.

Met die verbystap het die twee mans vriendelik ge-"bournjour" en ek het vriendelik terug geantwoord, soos die Franse gebruik hier maar is. Hulle het 'n entjie aangestap, hul handdoeke op die sand neergesit en dadelik gaan swem.

Ek kon sien dat dit 'n pa en seun moes wees. Daar was definitief ooreenkomste tussen die lywe: die lenigheid, die boog van die biseps en die ronde kuite. Ek het skielik belangstelling in die tydskrifartikel verloor. Ek het op my rug gaan lê, die groot hoed uit Madagaskar wat ek gister gekoop het, styf oor my oë getrek. Op dié manier kon ek hulle dophou sonder dat hulle dit sou agterkom. Hulle moes Franse wees wat hier kom vakansie hou het. Miskien een van die vlieëniers se familie, broers of swaer? Hulle was albei aantreklik. Definitiéf aantreklik, soos die tinteling in my lyf dit skielik beaam het!

Die jongste een - hy moes iewers in sy vroeë twintigs wees - se donker hare het in 'n bos krulle oor sy breë skouers gehang. Sy dagoue donker baard het vir my meer Italiaans as Frans gelyk. (Dit was wat Sebastian so onweerstaanbaar gemaak het toe ek hom ontmoet het. Sy donker oë, sy Franse aksent en natuurlik daardie sterk baard wat 'n paar uur nadat hy geskeer het, deur sy vel kon skyn.) Die oudste van die twee moet die pa wees - was besig om liggies grys te word met die sofistikasie van 'n Europese Richard Gere. Sy lyf was ferm en ek kon sien dat hy genoegsame tyd in 'n gimnasium spandeer.

Ek het hulle 'n geruime tyd dopgehou, totdat die felheid van die twaalfuur-son my laat besluit het om op te pak en 'n verfrissende stort te gaan neem. Ek sou die middag by die huis spandeer met een van my getroue boek-metgeselle.

Die volgende oggend was dit net die jongste een wat ek op die strand raakgeloop het. Ons het weer vriendelik gegroet, en na 'n uur of wat, wat ons in stilte 'n paar meter van mekaar af op ons handdoeke gelê het, het hy begin gesels. My Frans was op sy beste maar nog steeds redelik swak. Maar ek kon myself ten minste uitdruk, en op die eiland, anders as in Frankryk of België, is Frans met die afwesigheid van al die grammatikareëls aanvaar as 'n soort variasie van Kreools, die dialek wat die locals hier praat.

"Je m' apelle Jean-Luc. Comment vous appelez-vous?"

"Je' mapelle Julia," het ek geantwoord.

Ons het oor alles en nog wat begin gesels, van die ideale snorkeltoestande en die orkane wat die eiland gewoonlik in Januarie teister, tot die verwaarlooste diere op die eiland en die misdaad in Suid-Afrika. Hy het my vertel dat hy ingenieurswese swot aan die Universiteit van Parys en dat hy deeltyds by sy pa se argitekfirma werk. So, ek was reg - pa en seun. Hulle was hier op 'n soort werksvakansie, om meer inligting te kom insamel oor die eiland, vir 'n projek wat sy pa se praktyk later in die nuwe jaar hier wou aanpak. Hulle het een van die huise op die strand vir Desember en Januarie gehuur.

Dankie tog, het ek gedink. Nie familie van enige van die vlieëniers of die plaaslike Franse Mauritius-gemeenskap wat so saamkoek nie. Ek het dit so beklemmend gevind, hierdie gesaamkoekery. My vriendin Elsa, die kliniese sielkundige, sou dit "in-meshing" genoem het. Dieselfde mense wat jy dag na dag in die winkels, op die mark, op die strand en by die seiljagklub sien. Daarom dat ek juis die jagklubstrand vermy. Hulle reël hul eie vermaak en die hele gesin spandeer naweek na naweek by die klub. Die ouer garde speel boules, die jonges, pool. Hulle ry in die baai rond op hul bote, eet gulsig aan oesters en smeer mekaar se lywe entoesiasties met sonbrandolie. Dit is nou wanneer hulle nie hul gunstelingtydverdryf beoefen nie, naamlik om by mekaar se mans en vrouens aan te lê. Ek het vir Sebastian gesê dat dit my herinner aan 'n White Mischief. Hier sal ons dit egter "Island Mischief" moet noem.

Sebastian wou met alle geweld dat ons by die seiljagklub aansluit. Na 'n paar speletjies-dae - suikerkaskenades soos ek dit noem - het ek gatvol geword vir die feit dat jy nooit saam met jou eie man in 'n span speel nie, maar dat die organiseerders altyd sorg dat daar meer as net "mixed doubles" gespeel word. Terwyl Sebastian strandtennis speel met 'n halfgeklede blonde spanmaat diep in haar veertigs wat kort-kort 'n orgasmiese skreeugeluid uiter as hy 'n punt aanteken, was ek uitgelewer om ringtennis te speel saam met die voorsitter van die klub, monsieur Henri de Falbert, as my spanmaat. Elke keer as die opponente die ring teen die net vasgegooi het, het hy aangehardloop gekom en my gegryp en in die rondte getol. Elke keer het hy sy hande hoër oor my ribbes geskuif, totdat sy vet, ronde duime oor my tepels kon streel. Dit was vir my die einde van die wedstryd. Sonder om 'n bohaai op te skop - ek kon dit anyway nie in Frans doen nie - het ek voorgegee dat ek my enkel verswik het. Ek het hinkepink tot by die klubhuis gehop, my sak gegryp en die pad huis toe gevat.

Ek het Jean-Luc weer die volgende dag op die strand ontmoet. Ek weet nie of hy beplan het om presies nege-uur daar te wees nie. Na ons drie ure in die son, soos al die dae tevore, het ek my goed opgepak en uitgesien na my koue stort en my stukkie baguette met camembert voor my middagslapie.

Terwyl ek die tydskrifte inpak, wat ek toe in elk geval glad nie die afgelope week tyd gekry het om ordentlik te lees nie, het Jean-Luc opgestaan van sy handdoek af en by my kom staan. Hy het liggies aan my arm geraak en gevra dat ek saam met hom 'n toebroodjie moet kom eet en van die Franse wit wyn moet kom proe. (Ek het juis vroeër gestry dat ons Suid-Afrikaanse wyne net so goed soos enige Franse wyn was.) Ek was huiwerig om ja te sê. Vandat ek hom ontmoet het, het hy nie 'n woord geuiter oor enige vrou of vrouens in sy of sy pa se lewens nie. Hy moes die huiwering in my lyftaal gesien het. "There is no one at home." Dit was die eerste keer dat hy Engels met my gepraat het. Engels, met so 'n deurweekte stroopsoet Franse aksent. Dieselfde aksent waarmee Sebastian sewe jaar tevore my Calvinistiese weerstand gesmelt het en my tot nuwe hoogtes van euforiese plesier gevoer het. Die Franse is mos after all nie skaam nie. As hulle lus is vir 'n ding, dan wys hulle dit.

Die huis was koel binne. Die dekor, in blou en wit, was kenmerkend van die huise op die strand. Hy het my strandsak by my gevat en gevra of ek 'n stort wou neem. Die taaiheid in Mauritius kon my nogal by tye onderkry. Daar was nie 'n manier dat enige grimering in hierdie warm klamheid kon klou nie en ek het skielik selfbewus gevoel oor die maskara wat taai op my ooglede gevoel het.

Die koue water op my warm lyf was verfrissend. Ek het my oë toegemaak en my kop agteroor gegooi om die koel stroom op my warm kopvel vol sout en sand te voel .

Dit was sy hande op my borste wat ek eerste gevoel het, toe sy vol mond in my nek en sy geswolle penis teen my rug. "Laat my asseblief toe om dit aan jou te doen?" het hy saggies, in die ordentlikse, mees formele Frans in my oor gefluister. Ek het nie my oë oopgemaak nie. Ek het nie eers vir 'n oomblik gedink of gehuiwer nie, net met my kop teen sy borskas aangeleun en my liggaam warm en klam vir hom gegee. My tepels het ywerig op sy aanraking en die koue water gereageer. Ek kon voel hoe die bloed na die oppervlak van my vel vloei, ek kon sien hoe my tepels tot 'n granaatrooi verkleur terwyl die vel om die tepels in hoendervleis uitslaan.

Hy het die koekie seep in sy hande gerol en die wit skuim oor my maag, borste en rug gesmeer. Elke haartjie op my lyf het soos 'n klein antennatjie regop gestaan, hipersensitief in afwagting! Ten spyte van die koue stortwater het 'n warm gloed soos radiogolfbewegings vanuit my vroulikheid gesprei. Hy het weer sy hande vol skuim gemaak en teen my dye laat afgly. Ek kon voel hoe my klitoris soos 'n klein vlammetjie begin gloei en pols. Dringender en dringender. Ek het lighoofdig begin voel. Dit moes 'n kombinasie van honger, die hitte en opwinding wees. Toe ek weer my oë oopmaak, was ons op sy bed. Ek kon die koel wit lakens teen my rug voel en sy warm lyf bo-op my.

Die eerste soen was sag en warm. Ons kon daarna nie genoeg van mekaar se monde kry nie. Sy tong het saggies om myne geknoop. Soos 'n klein koeksistertjie, losgeknoop en weer geknoop. Sy penis het hard en dringend teen die mik van my bene gestamp. My hele lyf wou hom omvou en insluk.

Sy vlak asem het in my nek begin jaag en ek kon die warm lug teen my vel voel. Hy het sy voorarms langs my kop verby op die kussing uitgestrek, sy lyf het in rukbewegings bo-oor myne styfgespan en skielik kon ek die warm sperm teen my maag voel spuit.

Hy het slap op my lyf neergesak terwyl hy "pardon, exuse moi" oor en oor mompel. Ek kon sy trane in my nek voel afloop, net soos ek die semen kon voel wat teen my sye afgly . Ek het nie geweet wat om te doen nie. Gewoonlik is dit ek wat huil wanneer Sebastian met my liefde maak. Gewoonlik omdat ek so emosioneel raak oor die feit dat hy weer enigsins in my belangstel. Ander kere huil ek weer omdat hy emosieloos met my liefde maak.

"Ces't rien. Ces't rien," het ek gefluister terwyl ek hom vashou en oor sy bos hare en wang streel. Deur sy trane kon ek aflei dat sy meisie, 'n kunsstudent, hom drie maande gelede verlaat het omdat sy net nie meer met sy probleem kon saamleef nie. Hy was selfs al by 'n sielkundige, wat aan hom verduidelik het dat dit 'n nagevolg van 'n trauma is.

Ons het net so in mekaar se arms gelê terwyl hy vertel dat hy sy meisie een aand saam met sy beste vriend in die bed gevang het. Albei van hulle het dié aand hul eerste kunsuitstalling gevier en dronk saam in die bed beland. Hy het haar en sy vriend vergewe, maar elke keer daarna wat hulle liefde gemaak het, het hy prematuur geëjakuleer. Die sielkundige het verduidelik dat dit tyd sou neem om weer sy selfvertroue terug te kry.

Ek weet nie wat my op daardie oomblik besiel het nie. Miskien was dit die feit dat my hele liggaam, onbevredig, na hom gesmag het. Miskien was dit die manier waarop sy lyf op myne gereageer het en my laat voel het asof hy my met alles in hom wou hê. Ek het soos 'n fanatiese lid van 'n bende my hand op syne gelê en in my beste Frans onderneem om hom te help om sy probleem te oorkom. "You are so kind," het hy in sy soete aksent gesê terwyl hy 'n handdoek in die badkamer gaan haal het.

Nadat hy met die nat punt van die handdoek die taaiheid van my maag en sye afgevee het, het hy sy kop op my maag neergesit en my bene saggies oopgestoot. Sy lang hare het my maag gekielie en ek kon voel hoe my klitoris weer begin klop, soos 'n klein saadjie wat wou oopbreek. Hy het liggies oor my lippies geblaas, terwyl sy hande op en af teen my bobene gly. Met die punt van sy tong het hy my kort lekkies gegee. Die warm gevoel het weer eens vanuit my onderlyf opgestoot en my hele lyf omvou. Ek het my rug hol gemaak terwyl sy tong vinniger en dringender teen my stamp. Hy het sy hele mond oor my buitenste lippies gesluit en klein suigbeweginkies begin maak. Met sy lippe het hy my klitoris uitgesonder en dringender begin suig en lek. Suig en lek. Ek het harder begin asemhaal en steungeluidjies van plesier gemaak, my rug nog meer uitgehol, terwyl sy mond my dringender en dringender gesuig en gelek het. Ek het die lakens tussen my vingers vasgegryp en gevoel hoe die plesier oor my kom. Eers net waar sy tong se punt was, en toe het dit al hoe wyer en wyer uitgekring. Ek het gehyg na my asem terwyl die kamer om my draai. Ek het my vingers ontspan en agteroor op die kussing geval, my rugspiere seer van die saamtrek. "Mmmmmm, I'm glad to see that I can still give pleasure." Ek was te skaam om my oë oop te maak na hierdie "performance" en het vir 'n paar sekondes net so gelê.

So het dit dan gekom dat ek en Jean-Luc vir die volgende vier weke, getrou soos atlete wat oefen vir 'n marathon, of getroue praktiseerders van joga, elke middag om twaalfuur ons plek in die wit houtbed voor die venster ingeneem het. Gereed vir ons oefensessie van die dag. Ons het die huis vir onsself gehad aangesien sy pa eers na die opening van die nuwe hotel in Reunion, waaraan hy gewerk het, sou terugkeer om by Jean-Luc aan te sluit.

Soms het die voorspel al op die strand of in die see begin. Teen die tyd dat ons uit die stort geklim het, het ek Jean-Luc reeds een keer laat kom. Dit het hom help ontspan en ek en hy kon dan saam weer tot die grense van ekstase groei. Na die derde week of so was sy probleem iets van die verlede en kon hy my orgasme na orgasme gee voordat hy in ekstase kom.

Sebastian het pas sy Parys-roete voltooi en sou oorskakel na die Johannesburg-roete, wat sou beteken dat hy elke tweede aand by die huis sou wees. Die plan was dat hy elke tweede aand by ons huis in Johannesburg sou slaap, en so kon hy darem 'n ogie oor die diere en die huis hou. Ek het egter geweet dat dit nie die geval sou wees nie. Hy sou tien teen een elke tweede aand wat hy in Johannesburg was, in sy eks se bed opeindig. Hy sou ons bed deurmekaar krap, en dan net ná Magriet haar ligte afsit, uit die erf sluip. Sy sou geen onraad vermoed nie, net die arme meneer jammer kry wat so hard werk. Hy sal die foon in die huis deurskakel na sy selfoon. Ek sou dit nie kon agterkom as ek 'n internasionale oproep van Mauritius na ons huis maak nie. Foolproof plan. Min het hy geweet dat ek 'n privaatspeurder die vorige Desember gehuur het om hom die paar weke wat hy die SA-roete gevlieg het, dop te hou . Ek het die bewyse in kleur op video gehad. Hoe hy byna elke aand wat hy in Johannesburg oorgeslaap het, net na elf ons huis verlaat, sy afstandbeheerder gebruik om sy eks se hekke oop te maak en sy motor in haar garage parkeer. Hoe hy die volgende oggend in sy uniform die huis verlaat terwyl sy hom passievol afsien by die voordeur.

Ek het hom telkemale beskuldig dat hy haar besoek het tydens die aande wat hy in Johannesburg was, en elke keer het hy dit ontken. Ek was nie sterk genoeg om die video vir hom te wys nie. Ek kon die werklikheid nie in die oë kyk nie. Ek was lief vir hierdie man, ten spyte van die feit dat hy en sy eks my soos 'n speelbal tussen hulle rondgeskop het. My vriendinne was oortuig dat ek in 'n soort dwaal vasgevang was, 'n web wat Sebastiaan om my gespan het en waaruit ek nie kon loskom nie. Ek het myself telkemale gevra hoekom ek by hom bly, gedreig om hom te los en na 'n paar aande weer teruggekom. Hy het my dan styf vasgehou en my laat voel asof ek die enigste ding in die wêreld is wat vir hom saak maak.

Dit was toe. Nou, met die wete dat hy van oormôre af elke tweede aand weer saam met my in dieselfde bed sou slaap, het ek skielik anders gevoel. Dit was nie omdat ek verlief was op Jean-Luc nie. Nee, ek het van die eerste keer dat ons liefde gemaak het, geweet dat hierdie niks meer as net 'n vakansieromanse sou wees nie - in my geval, omdat ek getroud was, eerder 'n vakansie affair. Ek was vyf en dertig en Jean-Luc skaars drie en twintig. Dit sou nooit kon werk nie. Ons was nie net van twee verskillende generasies nie, maar ook uit twee verskillende wêrelde. Nee, dit was nie oor Jean-Luc nie, maar oor die geluk wat ek vir die eerste keer in sewe jaar weer ervaar het. Dit was vir my duidelik dat ek weer 'n kans op geluk sou kon hê, nie noodwendig saam met Jean-Luc nie, maar saam met iemand anders.

Ek het Danielle geskakel en gevra of ek in haar huis kon bly totdat sy en Eric aan die einde van Januarie van hul vakansie uit België terugkeer. Sy was een van die min eilanders met wie ek iets gemeen gehad het en ons het goeie vriendinne geword in die kort tydjie wat ek hier spandeer het. Sy het van my en Sebastian se probleme geweet en sy was bewus dat ek al 'n jaar of wat dreig om hom te los.

Ek het my tas haastig gepak en die sleutel by Danielle se bure opgetel. Ek sou later die aand vir Sebastian 'n brief skryf en by die huis gaan los.

Ek het die middag vir Jean-Luc vertel dat ek Sebastian sou skei so gou moontlik nadat ek terug in Suid Afrika was. "So, nou voel ek beter. Ek kon jou dus ook help," het hy gesê. Ek het gelag, maar dit was nogal waar. Hy het my vasgedruk en genooi om die aand by hulle te kom eet sodat ek sy pa kon ontmoet.

Teen skemer het ek op die stoep onder die bougainvillea gaan sit en vir Sebastian begin skryf. Dit was nie 'n lang brief nie. Ek het die brief saam met die video vir hom op die kombuistafel gaan los, 'n bottel Simonsig uit die yskas gehaal en al langs die strand na Jean-Luc hulle se huis gestap.

Op pad het ek madame Falbert raakgeloop wat haar ongenoeë uitgespreek het omdat ek nog nie by hulle kom pastis drink het nie. Ek het haar vriendelik ingelig dat ek familie van Suid-Afrika oorgenooi het vir Kersfees en dat ek bedrywig was met die voorbereidinge. Sy was tevrede met my verduideliking aangesien sy self, volgens haar, haar doodgewerk het om al haar kinders en kleinkinders uit Europa te onthaal.

Ek was senuweeagtig oor die ontmoeting. Ons het afgespreek dat hy my sou voorstel as 'n vakansieganger uit Suid-Afrika. Ek het Jean-Luc gevra om nie te veel uit te brei oor my persoonlike stand van sake nie. Wat sou sy pa van ons "vriendskap" dink? Dat ek op die rebound is en toy boys van sy seun se ouderdom jag?

Dit was toe glad nie so erg nie. Raymond, met sy diep stem en vriendelike oë, het my onmiddellik tuis laat voel. Jean-Luc, in beheer van die kokery, het daarop aangedring dat ek sy pa op die stoep geselskap hou. Sy Engels was uitstekend, vanweë die baie projekte wat sy firma in Engeland en Afrika uitgevoer het en ons het oor alles en nog wat gesels. Ek kon nie glo dat Jean-Luc so 'n bedrewe kok was nie, iets wat hy blykbaar by sy Italiaanse ma geleer het.

Om elfuur het Jean-Luc 'n oproep op sy selfoon ontvang en ek kon aflei dat dit die kunsstudent moes wees. Hulle het lank gesels en Raymond het aangebied om my huis toe te vergesel. Dis toe dat ek regtig bewus geword het dat ek tot hom aangetrokke was. Voorheen was ek senuweeagtig bewus dat ek 'n goeie indruk moes maak en Jean-Luc was die heeltyd daar. Nou was dit net ons twee wat in stilte langs mekaar stap.

My voet het skielik oor 'n stukkie rots onder die sand gestruikel. Raymond het my arm geneem en my gestut. Ek was so senuweeagtig dat ek sommer begin giggel het. Moes ook die kombinasie van die Suid-Afrikaanse en Franse wyne gewees het.

"I know what you have done for my son. You have given him his confidence back." Wat? Het hy geweet wat ons gedoen het? Ek was so geskok en skielik so skaam dat ek nie 'n woord kon uiter nie.

"Non," het ek sommer in Frans geantwoord.

"Yes. It's true. You helped him restore faith in his ability to give a women pleasure". Sjoe, nee, ek moes bloedrooi gebloos het. Gelukkig was dit 'n donkermaan en kon hy nie die verleentheid op my gesig sien nie. Maar het pa en seun dan alles gedeel? Hierdie Franse darem! Wat het hulle nie nog bespreek nie? 'n Prentjie het skielik voor my opgekom. Ek kon sien hoe pa en seun by die tafel sit en hoe Jean-Luc vir Raymond stappie vir stappie verduidelik wat ons in die sitkamer, op die eetkamertafel en in die wit houtbed aangevang het. Hy het gelag en sy arm om my skouer gesit. "I hope you also had some fun, though."

"Please, please," het ek gepleit. "It is not how you see it."

"And how do you think I see it?" het hy geantwoord. Ons het op die trappie voor Danielle se agterdeur gaan sit. Hy het my stip aangekyk en begin verduidelik dat ons albei, ek en Jean-Luc, net weer herinner moes word dat ons wel weer geluk kan ervaar. Dat die verhoudings waarin ons vasgevang was, nooit weer vir ons die geluk sou kon gee nie en dat dit tyd was om te breek en weer te begin. Soms het ons pret in ons lewens nodig net om vir ons te wys hoe ons dit gemis het.

Ek was verstom. Ons het mekaar net 'n paar uur gelede ontmoet en hier sit ek met hierdie vreemdeling en gesels oor my diepste gevoelens. Ek het saamgestem dat ons albei net weer moes glo dat ons weer geluk kon ervaar.

Jean-Luc sou die volgende aand na Parys vertrek. Ek en Raymond het hom gaan afsien. Hy het my hom laat belowe dat ek nie hartseer sou wees nie, maar dat ek die wonderlike seks en die passie sou onthou. En natuurlik sou onthou dat ek hom gered het van 'n onoorkombare probleem.

"Ek kan sien dat jy en my pa gek is oor mekaar. Ek voorspel dat ek jou gereeld in die toekoms gaan sien. Wie weet, dalk word jy nog my stiefma," was sy laaste woorde voordat sy vlug aangekondig is. Ek kon nie anders as om net te lag en hom styf vas te druk nie.

In die motor het Raymond my hand in sy hand toegevou. Ek het so gemaklik saam met hom in die stilte gevoel, asof ons mekaar se gedagtes kon lees. Ek het geweet dat hierdie oomblik die begin van geluk vir my sou wees.



LitNet: 31 Maart 2005

Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
Of stuur jou eie smaakvolle, smaaklike erotiese prosa en poësie na Ingrid Lehmensich by hygstories.


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.