Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ontwaking - Deel 2

Grys Klip

Dis na aandete. Maklik en gou. Koue vleise en lekker vars brood wat vanmiddag op pad huis toe vir die naweek gekoop is. Gelukkig. Souse - lig asook branderig - en 'n bottel atjar. Kaas - sy hou darem 'n klein verskeidenheid aan. Lekker sterk Engelse mostert en 'n geurvolle Duitse ene. 'n Koningsmaal. O, ja. En die gerookte salami wat sy al vroeër die week gekoop het om Sondagmiddag se lê en musiek luister saam met 'n bottel lekker rooiwyn en 'n kardoes waterbeskuitjies op te kikker.

Twee glase wit wyn elk uit die oop bottel wat reeds van Woensdag onder in die yskas se deur staan, het tog steeds goed met die ete afgegaan.

"Ek het nie kans gehad om by die woonstel te stort nie. Die badkamer was beset deur een van die dames. Mag ek maar gou hier stort?"

"Daar is mos nie 'n stort hier nie. Net 'n bad."

"Ja, natuurlik. Enigiets wat werk."

"Dan gaan ek solank pajamas aantrek en die kombuis kom opruim." Sy hoop hy vang die skimp van 'n vroeë aand.

Later, net voor hulle voor die TV gaan sit en regmaak om die fliek te kyk: "Is jy lus vir 'n bietjie wyn? Ek het 'n bottel baie lekker merlot van die Kaap af gebring."

"Goed dankie. Maar dan net een glas. Ek het 'n rowwe week agter die rug en wil liewers vroeg gaan inkruip. Net die fliek klaar kyk. Jy sê dit is goed? Van die verlamde ou?"

"Dankie …"

"Ja, dit is heerlike wyn. Watter jaar is dit?"

Die titels en akteurs se name rol en hy besef nadat hy dit reeds al by die toonbank gehad het, het hy The incredible lightness of being vir Daniel Day Lewis se fliek My left foot omgeruil omdat die liefdestonele in sy eerste keuse dalk nie vir haar vermaak sou wees nie. Maar eintlik sou hy self graag die eerste ene wou sien.

Op die skerm wys die ou met net 'n voet wat werk hoe dapper en vasbyt 'n mens kan wees. Op die rusbank sit hy soos gewoonlik met sy hand om haar skouers. Ook soos nou al amper gewoonte is, sak sy hand af om teen die kant van haar bors te rus. Maar nou is daar net die japon en pajamatop se dunnerige materiaal tussen sy hand en haar bors, nie die beskerming van 'n bra nie. Sy raak intens bewus van die kontak. Sy hand voel warm. Hier onder in haar maag is iets wat sy nie ken nie, so amper soos 'n baie ligte gevroetel. Leun vorentoe om 'n sluk wyn te neem, maar met die terugsit is die hand weer daar. Nog 'n slukkie wyn en dan effens skeef draai met die terugsit. Daar's hy. Dit het gewerk. Sy hand rus nou teen haar boarm. Maar haar bors voel steeds warm daar waar sy hand was. Eintlik was dit lekker. Oeps. Daar's sy hand nou heeltemal oor haar skouer; hang hier voor haar af. Wanneer sy asemhaal, raak-raak sy vingerpunte aan die bokant van haar bors, net bo die tepel, en vryf dan saggies heen en weer. Laat ek liewer doodstil sit, dink sy; vlak asemhaal.

Die wyn is heerlik en dit stuur 'n malse gloed langs haar rug af. Sy hoop die fliek eindig gou. Dit raak nou vinnig tyd om te gaan slaap. Waar trek die storie nou? O, OK.

Ek wonder wat oor hom gekom het. Gewoonlik wanneer ons fliek kyk, is hy stil en hy konsentreer op wat aangaan. Maar nou is daar hierdie regterhand van hom wat al meer voor op die wa klim. By wyse van spreke. Hy het al twee keer opgehou fliek kyk om aan my wang te knibbel, asof hy soen soek. Maar ons soen mos meestal net wanneer hy groet om te loop. Al vat dit dan ook 'n kwartier. Of soms langer. Vanaand slaap hy hier in die spaarkamer. Hoekom nou al begin soen? Is dit omdat hy dalk aspirasies koester om 'n voorspeler te word? Ek hoop nie so nie. 'n Vrou moet dit seker maar deurmaak as sy eendag kinders wil hê, maar daar is 'n tyd daarvoor en dis nie nou nie. Lyk my Ma was reg toe sy gesê het: "My kind, jy moet oppas vir mans. Hulle het net een ding in hulle kop; en dit beteken hulle stel omtrent niks belang in wat tussen jou ore aangaan nie. Hulle sal probeer en probeer tot julle getroud is en dan het jy nie meer keuse nie; hulle val die eerste aand weg met al daardie stories en daarna hou dit nooit op nie." As Ma maar net sou weet! Ek het gedog hy's anders. 'n Gentleman. En kyk nou net …

Sy hand het 'n gaping voor in haar japon gevind en streel so ligweg net oor haar pajamas. Skielik glip van sy vingers tussen die knope van haar pajamatop deur. Die gevoel van sy vingers teen haar vel hier tussen haar borste - hulle raak net so ligweg aan haar, maar sy voel elke raakpunt asof sy vingerpunte vuurwarm is - verbreek die draad van die fliek wat sy nog op die skerm probeer volg. Dan, wanneer sy vingers half onskuldig sywaarts gaan en die rondings van haar borste streel, begin dit tot haar deurdring dat haar borste die mees sensitiewe en die mees onderskatte dele van haar liggaam is. Veral wanneer die vlinder in haar maag so fladder-fladder in 'n poging om op te styg. (Waarheen?)

Sy dink aan hoe hard sy as jong meisie probeer masturbeer het volgens inligting wat haar vriendinne ná LO onder die stort aan haar oorgedra het oor wat 'n vroumens aan haarself kan doen om sekere geheime plesiertjies te ontdek. Ja, sy het probeer, maar seker nie op die regte manier nie. Sy kon wel sekere gevoelens wakker maak deur hier te druk en daar te vryf, maar sy was so bang na alles wat haar Ma haar teen gewaarsku het dat sy amper histeries was van vrees dat haar ma die kamer mag inkom terwyl sy "besig" was.

Die voorspeler het ook haar borste gemanipuleer; dit was egter 'n gevroetel en 'n gefriemel en 'n geknie wat haar seergemaak het. Ook maar amper bly wanneer hy die bokant gelos het om laer te neig, alhoewel sy nuwe speelgoed glad nie vir haar meer aanvaarbaar was nie. Al wat sy geweet het, is dat wanneer sy hand onder haar rok of in haar slaapbroek in verdwyn het - en ná die eerste keer dat hy kom kuier het moes sy nie 'n broekie aangehad het nie - dan het dit nie meer lank geduur voor alles verby was nie, dat sy sommer gou daarna wydsbeen op haar rug sou wees en maar die pyn vir 'n rukkie moes vat. Toe sy eers op die pil was, het sy gegril vir alles wat na die tyd teen haar bene afloop. Dan het sy maar wydsbeen op die mat bly lê terwyl hy gou 'n draai in die badkamer gaan maak het en koers gekies het huis toe. Die kol op die mat kon sy altyd later uitwas.

Nou is sy hand weer buite die japon, maar dit omvat en omhels die hele bors saggies, gee 'n drukkie en begin dan gelykmatig streel sodat sy vingers kitaar oor haar tepel speel - en dié staan nou orent en laat haar besef hoe gevoelig die punte van haar borste is - veel meer as wat sy netnou ervaar het.

Buk weer soos vroeër vorentoe na die wynglas en druk sy hand met haar skouer so weg. 'n Slukkie wyn. Sommer dan nog ene. 'n Goeie een. Hierdie keer toe sy terugsit, draai sy weer effens, ook nes vroeër, maar nou sodat sy hand haar bors makliker kan bykom. Of wat sê die ouens nou weer? Haar "pram". (Ek het twee pramme, en sy giggel sonder om te wys dat sy 'n stille grappie geniet.)

Die sagte gevryf al oor haar tepel en langs haar regterbors laat die vlinder al vinniger en meer indringend fladder. Dit is laag in haar maag en sak al laer. Na haar lende toe, soos haar ma in Bybelse taal van die onderkant van haar lyf gepraat het. Die gevryf begin om boodskappe soontoe te stuur, boodskappe wat 'n kortpad verby haar brein vat, anders het sy hulle voorgekeer. "Lende - dis so 'n lekker warm woord; as Ma maar net geweet het," dink sy terwyl sy probeer konsentreer op wat op die skerm aangaan, maar ook op wat binne haarself gebeur. Die gevoel van lippe wat hier onder haar wang knibbel laat die skerm die stryd verloor.

Stadig draai sy haar kop weg van die skerm af en kyk hom in die oë, reg hier by haar. Sy maak haar oë toe en draai haar mond. Haar lippe is op 'n skrefie oop. En nat.

Die soen is sag en lank. Dit is iets nuuts! Sulke sagte lippe op hare, lippe wat sommer net so meegee as sy 'n bietjie harder druk. 'n Vrysoen moet mos hard en knersend wees, soos die voorspeler haar geleer het, anders as 'n vinnige groetsoen. Sy is reg om haar mond wyd oop te maak sodra hy gereed is om tong-tong hier agter by haar mangels te speel. Maar dit gebeur nie. Sy lippe bly sag; tog is hulle nie stil nie. Hulle beweeg effens, amper asof hy met haar wil praat. Dan voel sy dit: 'n ligte, klamme, warm raakslag teen haar lippe. Sy tong! Gaan die mangelspel nou begin? Daar's dit weg. Wat nou? Weer. En nog 'n keer. Net liggies. Net raak-raak en weer weg. Stadig maak sy haar lippe effens wyer oop en stoot haar tong net so 'n bietjie vorentoe. Die volgende keer toe sy tong te voorskyn kom, raak dit aan hare. Dié keer bly dit daar. Dit streel ligweg oor die punt van haar tong en die gevoel wat dit wakker maak, ritsel teen haar rug af. Maar kom ook by haar lende uit. Sy sit een hand agter sy kop en druk liggies, terwyl sy ook haar lippe effens meer oopmaak. Haar tong kry 'n lewe van sy eie en streel oor syne, oor die punt en langs die kante. Maar net voorlangs. Dis mos veiliger. Glip dan net so effens in sy mond in.

Wat gaan met haar aan?

O mag. Terwyl sy op die soen gekonsentreer het, het sy ander hand besig geraak. Met sy regterarm agter om haar skouers het hy haar al meer na hom toe gedraai sodat die soen meer doeltreffend kan geskied, maar dit het ook haar regterbors binne bereik van sy linkerhand gebring. Die vryf en die druk het meer intens geword, maar nie naby soos die voorspeler dit gedoen het nie. O, maggies, nee! Daardie was seer. Nou is dit iets anders; sy weet nog nie mooi hoe en wat anders is nie, maar sy kan voel dat …

Kyk net wat doen hy nou! Sy hand het weggegly van haar regterbors en terwyl hy haar linkerbors - reg op die tepel! - met sy handpalm vryf, maak sy vingers knope los. Eers die japon se een knoop en dan twee van die pajamas s'n. En nou is dit vel op vel en sy hand voel koel op haar warm bors en sy wonder of dit weer sulke stories gaan wees, dat sy binnekort wydsbeen moet gaan lê net sodat hy nie sy humeur verloor nie. En sy het nie sulke goed verwag nie en het 'n broekie aangetrek. Wonder of hy ook kwaad sal wees.

Sy hou van hom. Eintlik baie. Indien sy soos met die voorspeler sekere toegewings - of is dit eintlik opofferings? - moet maak om sy vriendskap te behou, dan moet dit maar so wees. 'n Vrou se lot - van toeka se dae af en seker vir altyd.

Weer beweeg hy sy hand soos vroeër sodat sy oop vingers so liggies kitaar speel oor haar tepel, maar hierdie keer op en af. Die trillings trek diep in haar wese in, sprei deur haar borskas sodat sy amper benoud voel, asof sy nie kan asem kry nie. Sy moet net keer of haar asem wil jaag asof sy vinnig geloop het. Daar is 'n warm gloed laag af in haar maag. Haar maag? Haar lende! Haar hele lyf tintel wanneer hy sy tong stadig vorentoe bring en haar tong betas, voor, bo, langs die kante en dan steeds dieper, en hy streel die kante van haar wange met sy ongelooflik warm, mobiele tong. Terselfdertyd het sy manipulering van haar bors driftiger, meer intens, met verhoogde tempo geword. Maar sonder enige pyn, sonder ruheid, sonder om haar af te skrik. Net baie lekker! Opwindend lekker. En sy tong hou aan om die binnekant van haar mond van hoek tot kant te verken. Sy kry die smaak van sy mond op haar tong en op haar verhemelte. Dit proe lekker, is die gedagte wat in haar kop insnel en dit lui 'n klokkie en …

Sy proes en snik half en pluk haar kop weg sodat hy vir 'n kort oomblik heel potsierlik lyk met sy tong ver uit sy oop mond gestrek.

"Wat's dit? Wat's verkeerd?" is sy verwarde woorde. Verskrik sit hy terug, wil-wil sy hande op haar skouers sit en pluk hulle dan in sy skoot in. "Wat nou?"

"Nee niks. Sommer net aan iets gedink." Steeds so half aan die proes wat nou amper soos giggel begin klink. "Kan nie vir jou sê nie."

"Het ek iets verkeerd gedoen? Wat was dit? Ek is baie jammer!. Ek het nie gedink jy sou dit verkeerd opneem nie. Jammer, hoor."

Sy besef hoe verslae hy is. Dit is tog nie wat sy wil hê nie. Glad nie. Maar om met hom oor soen te praat en dat sy besef het hoe lekker sy tong smaak? En waaraan dit haar laat dink het? Dit is mos nie iets wat 'n voorbeeldige meisie maklik sal doen nie.

Daar is stilte. Haar giggel word sagter en dan vervaag die glimlag wat oorbly ook, want daar is geen teken van 'n glimlag op sy gesig nie. Hy lyk bekommerd. Bekommerd en baie onseker. Dit tref haar: teen hierdie tyd sou die voorspeler haar al 'n oorveeg gegee het vir haar onbesonne optrede terwyl besig was om haar te "soen". Dan moet sy maar vertel.

"Jy gaan nie vir my kwaad wees nie? Belowe jy?"

"Ek is nie kwaad nie. Ek sal nie kwaad word nie. Ek weet net nie wat aangaan nie."

"Wat my laat lag het? Dis nie jy nie; dis net iets waaraan ek gedink het. Nee, dit is verkeerd. Dit is eintlik jy, maar ek het net aan iets snaaks gedink."

"Nou toe, vertel. Wat het ek verkeerd gedoen?"

"Niks nie. Jy het niks verkeerd gedoen nie. Onthou jy die advertensie van Farmer Brown se hoenders? 'Hulle proe so lekker want hulle eet so lekker.' Maar kom eers; moenie só vir my sit en kyk nie; dan kan ek nie vir jou vertel nie. Sit weer jou arm om my."

Hy skuif reg en sy arm gaan om haar skouers. Sy draai so dat hy net haar profiel sien, want dan kan sy makliker sê wat sy gaan sê. Dit bring haar bors weer binne bereik van sy hand, maar hy rus net teen die kant daarvan. Té deur die wind nog om die kans te wil benut. Sy neem sy hand en trek dit af na haar bors toe, vee dit oor die tepel sodat dit weer duidelik voelbaar word en los dan sy hand op haar bors. "Wel, toe jy jou tong in my mond sit," - van die kant af kan hy sien hoe sy bloos "- toe proe dit vir my lekker. En toe dink ek: 'Hy proe so lekker want hy eet so lekker,' en toe kon ek my lag nie hou nie. Ek is jammer."

"Ja. Nee. Goed. Maar dit is jy wat my vanaand so 'n lekker ete gevoer het. Ek het net nie geweet wat jou bedoeling daarmee was nie. Kom. Nou wil ek uitvind of jy ook so lekker geëet het."

"Wat bedoel jy?"

"Kom nader dan wys ek jou."

Sy draai reg soos sy arm haar beweeg en hulle soen weer. Weer is sy hand voor by haar pajamas in en weet sy nie mooi waar om te konsentreer nie - sy hand en wat dit besig is om (ook aan haar binneste) te doen, of sy tong wat nou speels al teen hare vee en dan weer verdwyn. Dan besef sy: hy het sy tong diep in haar mond gehad toe sy begin lag het. Hy verwag nou sy moet dieselfde doen - dis hoekom sy tong net so vlietend vorentoe kom en weer terugtrek. Hy wil hê sy moet volg. Die voorspeler het nie daarvan gehou nie; hy het alles oorgeneem en sy moes net "daar" wees en stil lê. Dit lyk asof alle mans dalk nié dieselfde is nie.

Sy begin meer aktief speel met haar tong: volg syne, maar doen dit speels, nie haastig nie en tog met vordering. Uiteindelik is haar tong net so diep in sy mond as wat syne in hare was. Sy verken sy tong, sy wange; skielik glip haar tong onder syne in, en die effek kom soos 'n skok vir haar. Dit is 'n heel ander sensasie. Weer glip sy haar tong daar onder in. Streel heen en weer. Wat 'n wonderlike gevoel, dink sy. Dat wat in 'n man se mond aangaan, my so kan aangryp. Weer maak die vlinder haar bewus van haar lende.

'n Geleidelike verandering in temperatuur op haar vel laat haar afloer en besef dat haar bolyf aan die een kant omtrent ontbloot is. Wanneer hy sy hand beweeg, kan sy sien hoe haar tepel orent staan. En lyk haar bors nie ook voller, fermer as gewoonlik nie? Dit voel effens anders - stywer, meer sensitief as wat sy kon dink. Die tepel lui klokke wanneer sy vingers daaroor beweeg. Is daar dan 'n magiese krag in sy hand?

Terwyl die soen steeds voortduur en sy steeds die aktiewe rol in sy mond speel - wat 'n heerlike plek is dit nie! - wonder sy wat hy verder verwag noudat hy begin het om haar te ontklee, al is dit maar net gedeeltelik. Kom ons nou by die wydsbeenspeletjie?

Sy verskuif haar posisie sodat sy met haar elmboog voor op sy broek kan druk. Ja-nee. Daar is dit. Hy is gereed vir seks. Nou goed dan. Laat ons dit maar agter die rug kry.

Sy trek terug van die soen af en gee net 'n finale kus op die lippe.

"Ek weet dat mans 'n groot behoefte aan seks het. Veral na wat ons nou hier sit en doen het. Ek is nie 'n maagd nie en gee nie om om met jou seks te hê nie. Ons kan dit hier op die mat doen, of as jy wil, kan ons kamer toe gaan. Ons moet net 'n kondoom gebruik. Ek is nie meer op die pil nie."

Verbluf sit hy haar en aankyk.

"Wag 'n bietjie, wag 'n bietjie. Sommer net so? Ons soen 'n rukkie en dan wil jy sommer op die mat gaan lê? Êrens is iets fout. Vertel my 'n bietjie van die pil-storie. As jy nie omgee nie, natuurlik. En tussen hakies: ek het nie kondoom hier nie. Dit was nie deel van my agenda toe ek slaapplek hier by jou kom soek het nie. As jy nie een het nie, dan is daar geen kans dat ek jou 'uitnodiging' kan aanvaar nie - selfs al sou ek wou instem - wat op die oomblik, ná wat jy gesê het, die verste van my gedagtes is."

'n Halfuur later is die tweede bottel wyn al oop en sy sit star en luister hoe hy haar vertel dat die voorspeler haar nie werd was nie, nie eers om haar skoenveters vas te maak sou sy skoene met veters hê nie.

Aanvanklik het sy nie na hom gekyk toe sy begin uitpak het oor haar vorige verhouding nie. Met slim vrae het hy haar so ver gekry om al meer uit te wei, en uiteindelik raak sy stil en wag op sy reaksie. Gaan hy nog by haar wil wees nadat sy haarself so goedkoop gemaak het? 'n "Slegte vrou - 'n hoer," soos haar Ma sou gesê het.

Sy voel hoe sy arm oor haar skouer pas en bied weerstand toe sy voel hy wil haar na hom toe draai, maar gee dan toe wanneer hy harder druk. Sy soen is weer soos die eerste ene was: sag, strelend, vloeiend en glad nie indringend nie. Haar mond is aanvanklik effens stram; sy wil terugtrek omdat sy nie weet wat hy dink nie, wat om te verwag nie. Dan verslap die spiere om haar lippe en stadigaan maak sy hulle oop. Haar tong beweeg tot voor tussen haar lippe om 'n uitnodiging te rig, een wat hy baie stadig en met duidelike teerheid aanvaar. Dan word dit meer intens. Sy druk hom stywer vas; sy hand is weer voor in haar pajamas, en waar sy dit vroeër tydens die vertelling so half toegetrek het, is haar bolyf nou nog meer ontbloot as wat dit vroeër was. Hulle tonge knoop om mekaar en wriemel binne die ander se mond in. Spoeg bou op en hulle moet by tye sluk om te kan voortgaan. Hy druk sy hand heeltemal verby haar bors agter haar rug in en trek haar vas teen hom. Dan is dit weer al om haar tepel en sy vingers speel weer kitaar, net om dan die tepel te gryp en te rol en te druk - maar sonder pyn. O ja, sonder pyn, maar in die plek daarvan hierdie ongelooflike tinteling wat by die punt van haar bors begin en tot diep in haar maag afsak. En weer die vlinder wakker maak. En sy tong! O liewetjie, sy tong wat nie einde het nie.

Sy skuif weer so dat sy met haar elmboog voor op sy broek kan druk. Toe sy dit netnou gedoen het, was daar iets in haar liggaam wat snaaks gereageer het. Nie lag-snaaks of skrik-snaaks nie, maar lekker-snaaks. Sy wil sien of die gevoel steeds daar is. Dadelik kom sy agter hy is weer styf. Baie styf. En weer begin daardie gevoel by haar opkom. Net soos die tinteling van sy gevryf aan haar tepel, maar anders. Dis nie lekkerder nie, maar ook nie minder lekker nie. Net anders. Met groter effek hier onder in haar maag, waar die vlinder besig is om ekstaties te raak. Iets wat sy nie ken nie, behalwe so een of twee keer in haar jong dae toe sy nog nuuskierig was en begin eksperimenteer het. Sy het niks so iets ervaar terwyl die voorspeler met haar besig was nie. Lekker. Gril-langs-jou-rug-af-lekker. (Ek wonder of hy kan voel ek druk daar. Ek moenie te hard druk nie. Dalk is dit seer.)

Skielik sit hy terug, trek sy mond van hare af, los haar tepel en trek haar japon weer toe - sommer so losweg. Hy sit sy hande op haar skouers en draai haar sodat sy reg na hom kyk. Sit vir 'n oomblik stil en kyk haar vol aan. Sy kan nie die uitdrukking op sy gesig lees nie en skrik. Ja. Nou is dit seker die einde. Na wat ek vroeër vir hom gesê het, loop en bewys ek nou vir hom hoe 'n losse meisie ek kan wees. Ek moes nie so voorbarig gewees het om hom "hier onder" te druk nie.

"Weet jy dat ek jou lief het? Ek het dit voel groei al 'n hele ruk, maar ek is van nature traag om té vinnig te wil vorder. 'n Mens kan nie 'n verhouding ryp druk nie."

Toe hy so 'n vinnige glimlag oor sy gesig trek, dink sy onwillekeurig aan wat hy so pas besig was om aan haar bors te doen. Dis seker waaraan hy ook gedink het. Sy glimlag terug en begin dan besef wat hy gesê het.

"'n Verhouding groei met die tyd saam; met kommunikasie en kontak. Stadig. Soos wat met ons besig was om te gebeur. Ek het besef dat jy versigtig behandel moet word. Ek weet dat jy uit 'n konserwatiewe klein dorpie kom en dat ek nie te vinnig moet optree nie - wat in elk geval nie my natuur is nie.

"Maar na wat jy my vanaand vertel het, weet ek hoekom dit so is. Verstaan ek beter hoe jy voel. Dat jy my vanaand in jou vertroue geneem het - om my hier te laat oornag - en veral wat jy my vertel het, het my laat besef dat ek regtig doller as kopaf verlief is op jou. Nee, nie vérlief nie. Liéf. Lief vír jou. En nét vir jou."

Hy trek haar nader en soen haar. Heel kuis en sag. Amper versigtig. Dit is sy wat haar arms om hom slaan en stywer trek, haar lippe oopmaak en haar tong laat vroetel. Hy laat dan ook nie op hom wag nie en soen met mening terug. Vurig. En sy linkerhand skuif weer die japon en pajamatop opsy en dié keer nog meer as vroeër. Hy wil half verbaas terugsit wanneer sy hom los en haar arm uit albei die moue trek voordat sy hom weer vasgryp in 'n stywe omhelsing en die onderbreekte soen voortsit.

  • Klik hier vir "Ontwaking - Deel 3"



    LitNet: 16 Februarie 2005

    Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
    Of stuur jou eie smaakvolle, smaaklike erotiese prosa en poësie na Jaco Botha by hygstories.


    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.