Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Afspraak met Lalie

PG Gouws

Dis jare laas dat ek ’n storie geskryf het. Ek is nie seker of ek nog kan nie. Wat ek veral van my vroeëre skryfsels onthou, is die baie koppies swart koffie. En die eindelose vassteek, opstaan en gaan loop in die tuin om die chaos van moontlikhede in my kop te probeer orden. Dan terug na die rekenaar om woordjie vir woordjie voort te struikel oor dryfvere, bybedoelings, misverstande en die onbegryplikhede van die menslike gees.

Dit alles eintlik maar om te kyk wat gebeur en om te sien of ek kan.

Later het ek soms nog ’n idee vir ’n storie gekry, of ’n ware gebeurtenis ’n bietjie verdraai en dit saans in die bed vir my vrou vertel. Dan het sy gesê: “Dis ’n goeie storie, hoekom skryf jy dit nie?”

“Omdat …” So het ek begin en dan moed opgegee. Haar persepsie was dat ek heeldag in die tuin wandel terwyl sy kos kook en huis aan die kant maak.

’n Storie wat ek níe vir haar vertel het nie, is die ene van Lalie Visser. Dis sleg genoeg soos dinge tussen ons is.

Maar dalk moet dit tog vertel word; laat ek kyk of ek die regte woord kan raakvat.

***

Blos. Blosend. Vars roos, ’n bietjie dou op. Só sou ek Lalie Visser wil onthou. Nie die ander ding nie. Maar nou het die ander ding gebeur en dis so jammer.

My vrou is tuis, hierdie tyd van die middag waarskynlik aan die stap met die hond. Dit is een van die alledaagse pligte wat sy slegs in my afwesigheid hoef te verrig. Ek is op die pad, soos hulle sê.

By Drie Susters moet ek oornag en ek het by ’n chalet inbespreek. Met die formaliteite afgehandel, my klere opgehang en nadat ek my gesig en hande gewas het, is daar die vooruitsig van ’n yskoue bier of wat in die tuintjie langs die chalets. Met ’n bier of drie en ’n paar brandewyne na die lang, vervelende reis herbewapen ek my vir nog ’n dag van sieldodende werk.

Dis toe ek na die toonbank stap, dat ek haar in die halfskemer by ’n tuintafel sien sit. Heel eerste die gekleurde toonnaels in sandale met ’n luiperdvel-motief, die bene in die swart langbroekpak gekruis, sigaret tussen die vingers. Toe my oë hare ontmoet, is dit sy wat eerste praat. “Slaat my dood. Piet Vermeulen.” Haar stem het nog steeds die sagte rasper van destyds.

“My jinne, Lalie.”

Sy wip uit die stoel en soen my plaps op die mond. “Waar val jy uit, Piet?”

Die eerste ding wat in my kop kom, is nie ’n dou-klam roos nie. Dis ’n mengsel van rou begeerte en berou oor ’n verspeelde kans van lank gelede. Dis meisieborsies en ligbruin kuite wat afloop na wit sokkies en swart skoolskoene.

Met ’n soet glimlag staan sy voor my, mollig in haar klere gegiet, haar kop skuins om my met haar besonder helder blou oë te betrag. “Weet jy, dis nege en twintig jaar.”

Net so openlik takserend beskou ek haar van kop tot tone. “Die tyd het jou goed behandel.”

Sy gaan sit. “Ag jong, veg net teen die vet. Jy lyk self goed, Piet. Maak jou tuis, kom ons gesels dat die spoeg spat.” Die oorbelle klingel as sy haar kop skud en die son blits op haar blondgekleurde kapsel. Ek onthou haar as ’n brunet. Sy het heelwat goue behangsels aan haar lyf, benewens die oorbelle. Daar is ’n halssnoer, armbande, ringe aan ’n hele paar vingers, ’n kettinkie aan haar linkervoet. Die grimering aksentueer haar oë, maar is nie oordadig nie.

“Iets van die kroeg af?” vra ek.

Sy kyk af na haar drankie. “Net ’n glas water, asseblief.”

Toe ek terugkom met die water en ’n skuimende bier, sê sy, turend na die skerfies wolke: “Die Karoo se sonsondergange is darem die mooiste in die wêreld.”

Sy lag toe ek vra of sy baie reis. “Nee, ek is net op pad na my dogter in Bloemfontein. Vanoggend vroeg weg uit Worcester. En waar bly jy en waar gaan jy, Gehasi?” Sy dolwe in haar handsak rond en pak ’n verskeidenheid plastiekbotteltjies op die tafel uit.

“Ek is op pad Kaap toe,” sê ek. Haar winkbroue roer effens. “Besigheid,” voeg ek by.

Haar volgende vraag verhinder my om oor my plek van herkoms te moet verduidelik. “Getroud? Kinders?”

“Nog nie.”

“Good for you. Wat my betref, is ek finaal klaar met getroud wees. Derde skeisaak is nou net afgehandel.” Sy kyk my reguit aan, asof my reaksie bepalend vir iets mag wees.

Ek weerhou my van kommentaar en gooi sommer ’n lawwe vraag na haar. “Jou groen Elantra daai?”

Sy lag. “Nee, jong, ek ry met daai rooie langsaan.” Sy knik in die rigting van die BMW en begin pille uit die verskillende botteltjies in haar een hand uittel. Ek kyk verwonderd hoe sy twee-twee met die water afsluk.

Halfpad deur die slukkery sit sy haar hand op my voorarm. “Moenie worry nie, die meeste is vitamien-aanvullings. Een drie maal per dag, twee een maal per dag, een saans. ’n Klomp schlep. Ek drink al veertien one shot gelyk dan is dit klaar. Vanoggend met die ryery het ek vergeet.”

Twee biere later — en twee martini’s vir haar — is ons uitgesels oor ou skoolmaats en onderwysers. Haar drie huwelike het sy opgesom as rampspoedige dinge wat nooit moes gebeur het nie.

Intussen het die sterre ’n koepel oor ons getrek. Teen die een dowwe liggie van die ontvangskantoor kan ek net haar buitelyne waarneem — en haar gloeiende sigaretkooltjie. Kort-kort flikker die aansteker en is haar gelaatstrekke vlugtig sigbaar.

“So, hoe behandel die lewe jóú?” vra sy.

Dit klink so opreg belangstellend dat ek eerlik moet antwoord. “My lewe is gekompliseer. Ek vind dit moeilik om in my omstandighede te berus. Nie dat ek ’n keuse het nie.”

“Vertel my.”

Ek dink aan my werk en skep eers asem. “As ek ontslae kan wees van al die kettings … Vorms, sleutels, slotte, rekeninge, nommers, fakture, kwitansies, bestelbriewe.”

Haar simpatieke “u-hm?” verlei my. So byna bely ek dat my vrou my nie verstaan nie.

“So, wat sê jy van dans?” vra sy skielik.

“Ek weet nie veel van dans af nie, hoekom?”

“Ek bedoel — wil jy gaan dans?”

“Hier by Drie Susters?”

“So ’n ent uit op die pad het ek ’n bord gesien wat sê: ‘Dans Saterdagaand.’”

“Ons kan gaan kyk.”

“Fantasties,” sê sy. “Jy skuld my hoeka ’n date. Onthou jy?” En sy lag uitbundig.

***


Ek wens ek het in al die jare geweet presies wát om te onthou. Wat het ek uitgedink en wat was die feite van die saak? Wat het Gert Klopper in my kop geplant en wat het ek gewens of gedroom? Ek het ’n afspraak met Lalie gehad, want sy het gesê ek moet die aand oorkom, haar ouers gaan iewers heen en sy en haar kleinboet is alleen by die huis. Gert Klopper het gesê dis my kans. Ek het vir hom gesê dis nie so eenvoudig nie. Gert was ’n roekelose ou, hy was nie gepla of hy matriek deurkom nie, hy het net een ding op die brein gehad. Ek het darem ’n paar ander dinge ook op die brein gehad. Toe Gert met my klaar was, was ek nie seker of Lalie gesê het haar pa het gevra ek moet die aand ’n ogie daar kom hou, en of sy gesê het alles is OK nie, haar kleinboet sal vroeg gaan slaap. Dalk het ek my verbeel dat sy nie ’n bra aangehad het nie en dat sy haar een blou oog geknip het toe sy gesê het: “Onthou, dis ’n date.” Dalk het ek dit agterna gedroom.

Sy was in standerd agt. Ek het pas die matriekeksamen geskryf en ek was nie oortuig van my kanse om te slaag nie.

***

Ons ry met my kombi. ’n Lang slingerpad tussen bosse en bome deur eindig by ’n klipskuur waar motors van heinde en ver geparkeer staan. Ons hoor die musiek voordat ons daar kom.

By die deur word ons ontvang deur ’n swart vrou wat heel eerste die kroegtoonbank — ’n deurgesaagde bokwa — aan my uitwys. Lalie se oë skitter in die lig van die lanterns wat oral aan die dakbalke hang, saam met stringe roltabak, rieme, melkemmers en mieliekoppe. Die dekor bestaan verder uit bale wol en voer, sakke mielies, en ’n perdekar waarop op die oomblik ’n meisie staan en sing.

Lalie het my aan die arm en nog voordat ons behoorlik by die dansendes aangesluit het, begin sy haar lyf rondgooi, nou teenaan my, dan ’n entjie weg. Ek vaar nog redelik met die passies wat ek uit vervloë tyd onthou, maar wanneer die moderner danse aan die beurt kom, wend ek my ná ’n paar lomp pogings tot die kroeg. Lalie dans voort, haar lyf in perfekte harmonie met die lawaai, haar gesig stralend.

Ek sit naderhand net en kyk hoe sy in vervoering die een na die ander ritme deel van haarself maak, soms saam met ’n ander man, ander kere op haar eie.

’n Verposing word aangekondig. Sy kom reguit na my toe. “Hoog tyd vir ’n rookbreek,” sê sy en ons loop uit op ’n koel grasperk. Sy gaan sit op een van die banke en steek ’n sigaret aan. “Dit was fantasties,” sê sy. “Geniet jy dit nie?”

Ek staan agter haar, my hand op haar skouer. “Ek is nie so fiks nie,” sê ek en sit my hand op die warm vel onder haar bloes se kraag. Ek voel die hartslag in haar nek en streel die sagte skouer.

“Ons kan gaan as jy wil,” bied sy aan.

“Nee, ons kan nog bly.”

Sy oorweeg dit. “Ek moet vroeg opstaan.”

Ek soen haar nek en voel hoe sy gewillig meegee onder die vingers wat haar kontoere verken. Sy leun effens vooroor wanneer ek haar bra losknip. Ek laat die swaar borste in my palms rus. My regterhand ontdek ’n rif wat in die middel tussen haar ribbes begin. Ek volg dit afwaarts sonder dat my vingers my toenemende verbasing verraai. Dit moet ’n operasieletsel wees. Van onderkant die borsbeen huppel dit soos ’n dowwe voetpad oor die bultjies van haar maagvet soos sy daar sit, oor die naeltjie, en glip verder oor ’n gladde heuwel om in die digte bos daar onder te verdwyn.

Sy draai haar mond na my en ontvang myne. “Kom ons gaan,” sê sy.

***

Gert was ’n ou grootprater. Agter die kweperlaning waar ons ’n sigaret deel, vertel hy my hy het een aand voor haar oop kamervenster draad getrek terwyl hy na haar asemhaling luister. Die deel oor die oop venster was die waarheid, want daardie tyd het niemand in die somer ’n venster toegemaak nie.

’n Ander keer loop ek en Gert verby haar huis waar sy en ’n paar kleintjies in die halfdonker jillend ringtennis speel. Ons hoor: “Wanneer kry ’n seun hare tussen sy bene?”

Ek en Gert lag. Agterna sê Gert: “Jis, hè? Het jy gehoor wat vra sy?”

Ek sê dit was haar kleinboetie, man.

“Nyt!” stry Gert. “Dit was sy. Sy soek dit, sy gaan dit kry.”

Toe was ek nie meer seker nie.

***

By die chalets is dit doodstil wanneer ons stilhou. Dit is asof albei van ons huiwer nadat ons uitgeklim het.

“Wil jy by my ietsie kom drink?” vra ek.

“O, die sterre is pragtig,” sê sy.

“Ons kan hier buite sit. Ek het nog ’n slukkie brandewyn in die kombi, vir die wis en die onwis.”

“’n Kleintjie. Met baie water,” antwoord sy.

Ek kry die bottel, gaan skink in die kombuis en skakel die lig af en gaan buitentoe. Haar sigaretkooltjie gloei by dieselfde tafel waar ons vroeër gesit het. Die nag is oorweldigend swart, met net die sterre wat gloei.

’n Hele ruk sit ons net en kyk. Sy vra onverwags: “So, onthou jy daardie aand, Piet?”

Ek weet dadelik waarvan sy praat. “Ja.”

Dit is weer stil. Die kooltjie verskiet soos ’n ster langs my verby.

“Tog jammer.”

Ek weet nie wat om te sê nie. Ek probeer om in die donker haar hand raak te vat, maar slaag nie daarin nie. Ek skuif my stoel nader en druk haar knie.

“Dis nou te laat om witvoetjie te soek.”

Terg sy of is sy ernstig? Die sigaretaansteker flikker. Die oomblik is te kort om haar oë te kan lees.

Skielik bars die borrellag weer uit haar keel. “Nege en twintig jaar, en hier het jy dit nou!”

Ek stamp my glas om toe ek dit probeer raakvat. Nou lag ons so dat ’n vermanende stem uit een van die chalets opklink.

“Miskien moet ons maar ingaan,” sê ek.

“My flat of joune?”

“Myne is klaar oop.”

***

Ek haal my kuifpruikie af, sit dit op die spieëlrakkie en bepeins my yl wordende voorkop en die plooie tussen my oë. Dit val my op dat my borshare voorheen heelwat geiler was.

Ek het haar gevra om my ’n oomblik te verskoon en in die badkamer besluit om gou te stort.

Onder die pietsende waterstrale dink ek aan Lalie se eenoog-knip en sien ek hoe my spier regop wil beur in afwagting. Na die haastige stortbad oorweeg ek dit om die handdoek om my onderlyf te draai, maar besluit daarteen. Met my maag ingetrek, halfstyf lat kordaat vooruit swaaiend, loop ek die slaapkamer binne.

Sy lê met die laken tot net bokant haar naeltjie opgetrek. ’n Vraende kyk. “Aitsa!” lag sy. “Nou lyk jy darem anders.”

Ek skuif langs haar onder die laken in. Op die bedkassie lê ’n pakkie kondome. Ek merk dat die pakkie se ore afgeskeur is.

“Vir die wis en die onwis,” sê sy. Ons lag. “Sjuut!” beduie sy met haar vinger voor haar lippe. “Die bure wil slaap.”

“Blikkie Drie — onthou jy?” vra ek. “Daai tyd mag ons nie eers daaroor gepraat het nie. Nou se dae is dit ’n slogan.”

Sy kry ’n nuwe sigaret met haar stompie aan die brand.

“Daai tyd se onderwysers het vir ons vertel rook maak jou dom, dit tas die breinselle aan,” onthou ek verder. “Nou sê hulle rook is die hoofoorsaak van hartvatsiektes, dertig persent van alle soorte kanker en tagtig persent van alle chroniese longsiektes.”

Sy knip haar oë gemaak-verbaas. In die bedlamp se lig is dit die eerste keer dat ek bewus raak van die krakies in haar vel, langs die oë, om die mondhoeke.

“So what, die lewe gaan verby. Maar die lewe is nou.” Sy leun oor my om die asbakkie by te kom en haar tepel kielie my skouer. Sy trek die laken af en stryk haar vinger oor my halfwas-ereksie. “Gaan ons nou ’n intelligente gesprek voer, of wat?”

Ek maak my oë toe wanneer ek die verdikte are op haar been sien. Soos boomwortels kronkel dit uit die opgetrekte kuit.

“Hm?” wil sy weet en sy klim flink op my, haar borste bengelend. Ek ruik die rook op haar asem, die sweet aan haar lyf. Ek doen mee aan die nat soenery en hoor in ’n stadium haar effens los kunstande kliek. Haar hand skuif af tussen ons.

Sy sit skielik regop. Die wit spoor van die letsel oor haar buik streep oor elke vetrol. Hoog teen haar regterheup is ’n pers kol.

“En nou?” vra sy.

Sy druk die smeulende stompie in die asbak dood en steek ’n nuwe sigaret aan voordat sy weer langs my gaan lê. Ek skink ’n stywe brandewyn en drink dit proe-proe. Sy lê na die plafon en kyk. Ons praat nie.

Ek voel verneuk. Hoe kan ek vir haar sê sy is nie Lalie nie?

Die prosedure met die asbakkie word herhaal, voordat sy haar hand om my klem en liggies skud. “Opstaan, opstaan,” sê sy.

Dit moet die drank wees, te veel te vinnig, dink ek terwyl ek halfhartig lag. Ek klink half histeries vir myself.

Sonder om iets te sê, neem sy my in haar mond. Ek knyp my oë toe en voel haar growwe hare onder my hande soos haar kop beweeg. Ek wil vir haar sê sy maak my seer, maar sy kom dit self agter. “Sorry, ek is te gretig.” Ek hoor kliek-kliek en dan is dit skielik sagter. Ek maak my oë oop en kyk na die grynsende tande op die bedkassie terwyl sy my met haar tandvleise kneus.

Ek beur weg van haar.

“Wat is fout?”

“Lalie, ek is jammer.”

“Wat is dit?”

“Ek het te veel gedrink.” En ek voel die lang pad in my skouers.

Sy vee spoeg van haar mond af, druk haar tande vinnig terug. “Gee my ’n sluk.”

Ek kyk hoe sy die glas met een teug leeg maak, haar gesig trek en dadelik soek na haar pakkie sigarette. Sy trek die laken op en gaan sit regop. Na die eerste trek aan die sigaret draai sy haar na my en vra: “So, dink jy ek is maar net ’n hoer?”

“Hoekóm?”

“Dis hoe die meeste mans my laat voel.” Haar oë dam op. ’n Traan drup oor uit die linker-een. Dan nog druppels.

“My liewe Lalie …”

“Hoer. Sê dit.”

“Dis nie waar nie.” Ek vat die glas by haar en skink weer. Vars roos, onthou ek. ’n Bietjie dou op.

Sy snuif. “Om te dink ek was nogal verlief op jou, onnosel tiener wat ek was. En ons het ’n date gehad.”

Ek wil haar alles vertel. Dat Gert Klopper my kop deurmekaar gekrap het. Dat ek te bang was vir die begeerde omdat ek gevrees het ’n bliksemstraal sal my tref, of ek sal matriek dop indien sy nie swanger word nie, of haar pa sal ons betrap en ons al twee doodskiet.

“Ek het gedink ons sal saam plate luister,” sê sy. ’n Bitter laggie. “Ek het gedink dalk sal jy my probeer soen voordat jy huis toe gaan.”

Ek raak saggies aan haar wang, nat van snot en oogskadu. “Ek het jou nooit vergeet nie, Lalie. Ek het koorsdrome oor jou gehad.”

Sy blaas haar neus in ’n punt van die laken uit. “Ek het die hele aand gewag.”

Ek wil verduidelik, maar ek weet wat ek ook al sê, sy sal dit nie glo nie. “Ek was siek daardie aand.”

“Se gat. Ek het jou nooit weer gesien nie.”

“Ons het die volgende oggend met vakansie vertrek.”

“Se moer.”

“En toe is ek Bloemfontein toe, universiteit toe.”

“Jy kon gebel het. Jy kon geskryf het.”

Ek neem haar kop in my hande. “Jy het die mooiste oë,” sê ek met oortuiging. Sy maak hulle toe. Ek sien die twee vlekke teen haar voorkop en vermoed velkanker. Ek wil huil en ek sê: “Jy laat my dink aan ’n vars roos met doudruppels op.”

Die trane stoot onder haar ooglede uit. “Nou hoekom kan jy nie jou ding op kry nie?” Sy ruk die laken af en staan op. “Kyk hoe dik is my bene, kyk my maag. Is dít hoekom?”

Ek sê: “Jy sal nooit weet hoe ek daardie aand na jou verlang het nie.”

“Jy hoef nie te lieg nie,” sê sy. “Ek kan die waarheid vat.” Sy raap kledingstukke op en verdwyn met wippende boude in die badkamer. Die stort begin op een toonhoogte sing.

Ek bly lê, starend na my verkrimpte geslagsdeel. ’n Rukkie later, waarskynlik terwyl sy haar afdroog, hoor ek: “Fokken ou oom.” ’n Gedempte snik volg.

Met klam hare kom sy by die badkamer uit. Ek sien ’n beweging van haar hand en iets tref my teen die oog. Dit is my pruikie. “Sit dit op,” spoeg sy. “Jy lyk beter daarmee.”

Die deur klap agter haar.

***

Ek raak in ’n onrustige droom weg. Nog voor die son opkom, hoor ek ’n motor met oordrewe lawaai wegtrek. Later maak ek die deur oop en probeer die sonstrale uit my brandende oë vee.

Die deur van Lalie se chalet staan oop. Ek loer in. “Hallô?” Stilte. Die bed is onopgemaak, die kasdeure is toe, die badkamerdeur oop.

Ek kyk oor my skouer na die parkeerplekke. Die rooi BMW staan nog daar. Maar die groen Elantra is weg.

Daar is niemand by die ontvangskantoor nie.

Wat, het ek alles gedroom?

Ek loop terug na my chalet, verby die tuintafel waarop twee glase staan. Rondom die tafel lê sigaretstompies gesaai.

***

Ek gaan maak my draaie in die Kaap. Op pad terug, by Drie Susters, huiwer ek by die afdraai na die chalets, dan versnel ek doelbewus. Elf ure na my vertrek is ek terug by my donker huis.

My vrou word wakker toe ek ’n oomblik by haar kamerdeur vertoef. “Moet ek vir jou koffie maak?” mompel sy.

“Dit sal gaaf wees,” besluit ek. “Ek het ver gery, jy weet.”

Sy lig haar kop half op en sak terug op die kussing. “Dalk is daar iets te eet in die yskas.” Dan snork sy voort.

Die hele nag en die helfte van die volgende dag slaap ek my moegheid uit.

My vrou het ’n briefie op die kombuistafel gelaat: “Ek gaan kuier ’n bietjie by Gertrude. Jy het seker weer ’n vervelige tyd gehad. Miskien kan ons vanaand gaan fliek.”

Met ’n beker swart koffie gaan sit ek by die rekenaar. Ek skakel dit aan en maak ’n nuwe lêer oop en noem dit “Tuin”. Ek begin skryf aan die storie van Lalie Visser. Net om te kyk of ek nog kan.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.