Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Insake

Johannes Grusaam

Ek plaas my aktetas op die ronde tafel in die hotelkamer. Die telefoon op die kassie langs die reusebed lui skril. “Wie sal my nou hier soek?” wonder ek. Ek ontknoop die telefoontou en bring die gehoorstuk na my oor.

“Hallo,” sê ek in die spreekbuis.

“Meneer Griesel?” vra ’n mooi vrouestem.

“Ja,” antwoord ek geduldig.

“Dit is Monica wat praat. Ek het gewonder of jy sou belangstel in company vanaand.”

“Uh … jy meen …,” probeer ek flouerig die skielike inval verwerk.

“Ek is beskikbaar as jy belangstel. Ek is hier onder by ontvangs. Ek kan opkom na jou kamer as jy wil.”

Ek rek my nekspiere en draai my kop rond om die senuweelyne na my lyf spasie en bloed te gee om dit wat nou in my ore en kop vasslaan, na ander dele in my lyf te neem vir verwerking en waardering. Aan die een kant voel dit soos koue water in my gesig en aan die ander kant voel ek hoe gloede in my lyf invloei en ’n lamheid my gebeente takel.

Ek sluk swaar aan niks in my keel en roggel half: “Ek sê jou wat. Gee my twintig minute en ek kry jou in die kroeg daaronder” — met die hoop dat sy nie haastiger as dit sal wil wees nie.

“OK. Ek het blonde hare en dra ’n rooi rok. Ek wag vir jou …,” sê sy so sappig soos ’n ryp papaja en lui af.

Ek plaas die gehoorstuk stadig terug waar dit hoort en vryf beide tempels met die punte van my vingers. Hoekom dit juis tempels genoem word, weet ek nie, want die mees boosaardige gedagtes word soms tussen die twee tempels uitgedink. Soos nou. Dinge wat jy nie juis met ’n tempel sou assosieer nie.

Ek ontklee en neem ’n warm stort. My gedagtes is op hol en ek kan nie een spesifieke gedagte vir ’n oomblik vaspen nie. Die gedagte van ’n Jack Russell wat op ’n randsteen met ’n yslike Greyhoundbus in sy mond sit, flits deur my kop. Terwyl ek aantrek, besluit ek dat ek net sal kyk hoe sy lyk en dat ek myself nie sal commit nie. Om net te kyk kan nie kwaad doen nie.

Aangetrek in ontspanne drag kry ek koers kroeg toe. In die kroeg sien ek haar dadelik. Jy kan haar nie mis nie. Sy het lang blonde hare. Die rooi rok tot net bo die knie pas gemaklik aan ’n stunning lyf met al die kurwes en bates proporsioneel goed toegedeel. Sy kyk in my rigting en ek stap nader. Ek hou van wat ek sien en die elektrodes in my kop word positief gelaai.

“Monica?” vra ek toe ek binne hoorafstand kom.

“Dit is reg. Meneer Griesel,” groet sy glimlaggend.

Haar oë is blou en groot. Haar mond is mooi en vol. Pragtige wit tande versier haar glimlag.

“Sy het nie myle op nie,” besluit ek dadelik. Sy is omtrent twintig. Sy lyk nie baie ervare nie, maar straal tog selfvertroue uit. Op die oog af lyk dit of sy alles het. Sy moet seker baie dom wees om te doen wat sy doen. Of dit is ’n grap. Sy is dalk verlangs familie waarvan ek nie weet nie en wil die moraliteit van die Griesels toets. Ek het klaar die toets gedruip. Sy weet dit gelukkig nog net nie.

“So, jy bied jou dienste aan?” vra ek en bly staan.

“Dit is reg. Stel jy belang?”

“Ek weet nie. Ek is nie gewoond aan dié styl nie.”

“Daar is altyd ’n eerste keer,” sê sy selfvoldaan en glimlag weer mooi. Daardie glimlag en oë maak my knieë lam en ek sit.

“Jy is direk, huh? Het ek ’n keuse?” vra ek.

“O ja. Dit is jou besluit. Ek is beskikbaar. Teen ’n prys natuurlik. Maar dit is jou keuse en besluit,” sê sy matter of factly.

“So, wat is jou prys?” vra ek.

“R1 500 per uur of verdubbel dit vir die hele aand,” sê sy sonder om ’n oog te knip.

Een helfte van my sê sy is van haar sinne beroof en die ander helfte sê dis ’n bargain.

“Ek gaan mos nou nie so baie betaal vir ’n bietjie plesier met jou nie,” kry ek wurgend uit die een helfte uit terwyl die ander helfte sy kop vasgryp en gil: “Jou bobbejaan! Wat maak jy?”

“Wie’t gesê dis ’n bietjie plesier?” vra sy verleidelik en versier dit met haar mooi glimlag.

“Whatever …,” antwoord ek voordat die ander helfte die oorhand kan kry. “Dit is nog steeds ’n helse prys,” gaan ek voort en die strydende helfte skreeu in my kop: “Boring!! Jou pyn!! Vat wat jy kan kry en hardloop!!”

“Gaan jy nou staan en stry oor ’n paar rand? Koop vir ons ’n drankie en kom ons praat daaroor,” bied sy aan en ek aanvaar onmiddellik. Ek moet tyd koop ten einde die regte besluit te neem. Ek beduie vir ’n kelner en dié kom nader.

“Wat kan ek vir jou kry?” vra ek.

“’n GNT asseblief,” antwoord sy.

“One GNT and one Castle draught,” stuur ek die kelner op sy pad.

“Wat is jou naam?” vra sy en dit lyk asof sy regtig belangstel en dit nie fake nie.

“Johan.”

“Johan, jy hoef nie bang te wees nie. Ek sal jou nie kwaad aandoen nie. Dit is geensins ’n ekonomiese besluit nie. Dit is net ’n wilsbesluit. Dit gaan oor of jy wil of nie.”

“Ek is nie so seker daarvan nie. Vir my voel dit na ’n helse kombinasie van af-, op- en inpersing,” val ek haar half in die rede.

Sy lag en sê: “Johan, jy’s snaaks. Jy hou jou so vroom en formeel. Moet nou nie ’n issue van dit maak nie. Sê ja, en dan gaan ons aan met die deal. Jy kompliseer dit onnodiglik.”

“Dit is nie so eenvoudig nie. Ek het ’n helse probleem om te betaal vir dit wat ek andersins verniet op ’n ander manier kan kry,” probeer ek my verwarring verduidelik.

“Het jy ’n vrou by die huis wat jou worry? Ek sien jy dra nie ’n ring nie.”

Ek is 36, geskei, sonder kind of kraai en vry om te vry soos ek lekkerkry. Ek het natuurlik al lankal besef dat dit in dié lewe nie net om lekkerkry gaan nie, maar dat commitment, wedersydse respek en al daai mooi dinge baie saak maak. Ek is egter nie van plan om haar in te laat in my persoonlike omstandighede nie — nog nie nou nie — en antwoord: “Dit het niks met wat nou hier gebeur te make nie.”

“Dit het baie daarmee te make. Ek kan sien hoe jy twyfel. Dit is gewoonlik maar daardie skuldgevoelens van ’n ander party wat jou laat twyfel,” onderbreek sy my op haar beurt.

“Dit is nie dit nie. Ek verseker jou my twyfel het niks met iemand anders te doen nie. Ek het ’n probleem om te betaal vir iets wat veronderstel is om spontaan tussen mense te gebeur. Geld behoort nie ’n rol te speel nie.”

Die drankies arriveer en ons wag vir die kelner om sy ding te doen. Toe hy wegstap, lig ons ons glase maar sê niks. Nie “Gesondheid”, “Cheers” of “Geniet dit” of enige iets nie. Dit is asof ons mekaar boggerol toewens. Die atmosfeer is gedemp en ons sluk beide ongemaklik aan ons drinkgoed. Die bier voel of dit my keel oop wurg en gaan lê so swaar soos kwik in my maag.

“Jy kompliseer die ding onnodiglik,” begin sy weer.

“Dit is helse kompleks to start with,” antwoord ek en sluk weer kwik.

“Nee, jy maak ’n issue van iets wat nie ’n issue hoef te wees nie,” sê sy nou redelik heftig.

“Sê my, hoekom het jy my getarget? Hoe weet jy my kamernommer en my van? Hoekom ek?” kom ek net so heftig terug.

“Cynthia wat by ontvangs werk, help my. Ek het jou gesien toe jy inboek en gedink jy sal ’n goeie vangs wees. Sy het jou besonderhede vir my gegee,” antwoord sy ongeërg.

“Mag sy so iets doen? Is dit toelaatbaar?” vra ek beskuldigend.

“Gaan jy haar aankla of verkla? Dit is seker nie reg nie, maar dit is hoe ons dit doen. Dit het mos niks van jou afgevat nie?” antwoord sy skouerophalend.

“Kyk, ek hou van jou en ek dink jy is baie nice. Maar ek sien nie kans om volgens jou voorwaardes enige iets met jou te doen te hê nie. Frankly, jou voorwaardes staan my nie aan nie. Ek sou jou graag onder ander omstandighede wou ontmoet het … ek dink ons sou goed kon jel, maar nie met die angle wat ons nou het nie,” sê ek en voel soos ’n ou wat sy fortuin wegteken.

“Wel, is dit jou final answer or would you like to phone a friend?” vra sy geïrriteerd. “Ek kan nie ’n minuut langer aan jou spandeer nie — tyd beteken geld vir my.” Sy lig haar wenkbroue en wag vir my finale antwoord.

Ek leun agteroor en plaas beide my hande agter my kop. “Kyk, is jy bereid om te negotiate vir heeltemal iets anders of nie?” vra ek in ’n poging om te red wat daar te redde is.

“Johan, ek het jou genader met ’n aanbod. Take it or leave it,” antwoord sy, maar nie so beslis as wat sy dit dalk sou wou hê nie, verbeel ek my.

Ek leun vooroor en neem ’n teug van my bier. Die ergste lood is uit dit uit en die medisinale waarde daarvan begin in my lendene werk. Sy neem ook ’n yslike teug van haar GNT asof haar hulp daarvandaan moet kom.

Ek vryf oor my ken en sê: “Jy’s ’n tawwe koekie, huh?”

Sy is duidelik nie beïndruk met my besluiteloosheid nie en sy lyk moedeloos.

Ek besluit daar en dan om ’n einde te maak aan die gewharra-wharra en sê: “Let’s call it a day. Dankie, maar nee dankie.” Ek weet dit is ’n helse fout, maar laat dit daar.

Sy lig haar glas sonder ’n woord en ledig dit in een teug. Sy sit die glas terug op die tafel, kyk na my en sê: ““Then so be it,” terwyl sy met haar een hand half waai om my behoorlik te dismiss. Sy staan op, draai om en stap die kroeg uit. Heelwat oë volg haar wulpsheid en my eie oë kan nie glo wat hulle sien nie.

Ek bly net so sit. ’n Klomp gedagtes gaan deur my kop en nie een daarvan is lekker nie, want die lekkeres het in my lendene vasgesteek. Ek neem ’n paar groot slukke bier en dit proe soos satyn wat afgly tot in die diepste holtes van my lyf. Ek rek my rugspiere en probeer die stres wat daar pak, na die bier in my lyf te druk en hoop die bier los dit op.

“Magtig, maar so vroumens kan ’n man darem upset,” dink ek hardop. Ek is so gefrustreerd met wat gebeur het. Ek het nie sulke crap nodig nie. Ek sluk nog ’n paar slukke satyn. Ek byt my een vinger onwillekeurig en besef: “This is not the best outcome. Dis ’n moerse verloor-verloor-scenario dié.” Ek besluit daar en dan om iets daaraan te doen. Ek ledig my glas, gooi R30 op die tafel en storm die kroeg uit.

Ek wonder waar is die vroumens. Ek stap in die rigting van die toilette — dit is mos gewoonlik waarheen hulle vlug as hulle nêrens anders het om te gaan nie. Die spieëls gee hulle bevestiging van hulle skoonheid en hulle selfbeeld word weer in die spieël gebou nadat dit ’n bietjie gekrenk was. ’n Man is net die teenoorgestelde. Bly myle van ’n spieël af na so ordeal, want die spieël beaam die negatiewe.

Ek staan in die ruim ontvangsarea met my hande diep in my sakke en bruisende bier in my binneste. Ek staar blind na die portrette teen die mure. My oë is net op soek na iets mooi in rooi.

Na ’n minuut of wat kom sy aangestap van die toilette soos verwag en ek gee myself tien uit tien vir intuïsie. Sy sien my en probeer my ignoreer.

“Monica,” sê ek en beweeg in haar rigting.

“Ja?” vra sy toe sy besef daar is nie wegkomkans nie.

“Sal jy omgee as ons in my kamer verder hieroor praat?” vra ek.

“Sê jy ja vir die transaksie? Ek is nie seker ek is lus vir jou nie,” sê sy, steeds liggeraak. “Daar is ’n prosedure daaraan gekoppel om te verseker ek kry my geld,” voeg sy saaklik by.

“Ja, ek weet. Kom ons gaan praat daaroor.”

“Praat bring my niks in die sak nie,” protesteer sy. Ek neem haar aan die arm en begin in die rigting van die hysbakke stap. Sy rem half, maar besef dat sy nie ’n scene kan maak nie en sy volg my half gedwonge met my hand wat haar stewig dryf in die rigting wat ek wil gaan.

“Johan …,” sê sy en onderdruk dit om so normaal moontlik voor te kom.

Ek druk die knoppie van die hysbak en besef die vroumens het lankal reeds my knoppie gedruk. Die hysbak kom en ons klim in. So stil soos dit altyd in ’n hysbak is, gaan ons op na my vloer. Ek het intussen haar arm gelos en toe ons stop, laat ek haar eerste uitklim. Ons stap stil die gang af na my kamer, waar ek ons beide inlaat en ek die deur agter ons toedruk.

“Sit gerus,” sê ek en stap nader na die yskas. “Kan ek vir jou iets skink?” vra ek.

“’n GNT, dankie,” sê sy met haar neus half in die lug en probeer om haar eer te behou.

Ek meng die gin en tonic vir haar en oorhandig die glas. Ons vingers raak effe en Eskom het kompetisie. Ek knak ’n kasteeltjie vir myself oop en skink dit skuins skuimloos die glas in. Ek gaan sit oorkant haar en sê glimlaggend: “Sê my eers — is jou naam regtig Monica?”

“Ja, my naam is Monica.”

“En jou van Lewinski?”

“Jy is nie snaaks nie!” snou sy my toe met ’n glimlag wat sy hard probeer verbloem.

“Jy probeer hard om te wees wat jy nie is nie.”

“Johan, is jy ’n sielkundige of wat?”

“Hoekom doen jy wat jy doen?” ignoreer ek haar vraag.

Sy kyk onseker weg, skud dan haar kop en byt haar onderlip vas.

“Kom. Vertrou my en vertel my,” por ek haar aan.

“Ek het ses maande gelede my Bemarkingsdiploma by die Technikon hier verwerf,” begin sy. “Ek kon nie werk kry nie en was nie bereid om till te slaan by Seven Eleven nie. Ek moet my pot op ’n manier self krap en Cynthia het voorgestel en aangebied om my met die ding te help. Ek het ingestem, maar op my voorwaardes. Ek sou die keuses maak en nie net op die rak sit om gevat te word deur enige een nie. Glo dit as jy wil, maar jy was my eerste poging en ek het miserably gefail.”

Sy staar voor haar uit en bly stil asof sy kommentaar van my verwag. Ek kyk haar belangstellend en begrypend aan en wag vir nog.

“So that’s the story,” sê sy en gee ’n snuif om te wys daar is nie meer nie.

“Ek moet sê, jy het te goed gelyk en geklink om waar te wees.” Ek neem ’n sluk bier en sê: “Ek dink nie ons hoef in meer detail in te gaan oor hoekom jy uiteindelik tot dié keuse gekom het nie. Die feit is dit is nie ’n goeie keuse nie.”

Ek sluk weer en sy kyk my stip in die oë. “Ek is vir twee dae hier om onderhandelings af te handel om ’n groot plaaslike besigheid te koop. As alles goed afloop, sal ek jou ’n pos kan aanbied waar jy jou bemarkingskennis kan aanwend en ondervinding opdoen. Effens anderse ondervinding as wat jy beplan het,” grap ek om die somberheid wat wil-wil oorvat, te demp.

Haar gesig bly vir eers uitdrukkingloos en toe kry sy ’n glimlag wat haar ware gevoelens wys. Haar oë en mond is pragtig as sy glimlag.

“In elk geval,” gaan ek voort, “as die deal deur die mat val hier, kan ek jou ’n soortgelyke pos in Johannesburg aanbied as jy sou belangstel om soontoe te gaan.”

Sy buk vooroor, neem haar glas en sluk stadig aan haar drankie en kyk dan verleidelik oor die rand van die glas na my. “Jy is besig om ’n yslike klip uit my pad te rol, Johan,” sê sy. “So, dit is ’n amptelike job offer? Hier of daar?” vra sy asof sy net wil seker maak sy het reg gehoor.

“Ja,” antwoord ek en probeer om dit so normaal as moontlik te laat klink.

“Dit is wonderlik!” roep sy uit en kan haar blydskap nie meer inhou nie. Sy spring op en storm my en druk ’n gevoelige soen op my wang. Ek gryp met my een hand half in die lug en weet nie of ek moet keer of haar moet nader trek nie. Sy neem my hand in hare en kyk my bewonderend aan. Die nabyheid van haar en die reuk van haar parfuum goël met my.

“Ons moet dit behoorlik vier,” sê sy opgewonde. “Is daar vonkelwyn in die yskas?” vra sy, los my hand en stap na die yskas. Sy buk vooroor en kom met ’n groot groen bottel vonkelwyn in haar hand orent. My brein registreer alles en ek dink daardie mooi rooi rok wat so goed lyk aan haar sal net so goed lyk in ’n bondel op die vloer.

“Johan?” sê-vra sy en staan glimlaggend met die bottel in haar hand en haar kop half skuins in my rigting. Ek kan sien my gedagtes word gelees soos ’n boek. Voor ek kan antwoord, vra sy: “Kan ek ’n skuimbad neem, dan bring jy my glas vir my soontoe? Ek wil graag al die gemors wat ek beplan het, vergeet, en voel lus vir ’n bad. Ek dink dit sal my goed doen. I want to start with a clean slate right here and now.”

Ek staar na haar. My mond so droog soos ’n stoflap. ’n Tintel gaan deur my en trek laer in my lendene. “Gerus. Help jouself,” wurg ek uit. “Ek sal jou vonkelwyn vir jou bring.” Ek staan op en betrap myself dat ek geweldig swaar sug in die proses. Sy plaas die bottel op die buffet, draai om en verdwyn na die badkamer. Ek druk willekeurig aan die ossewaens om die ongemak te verlig en behoorlike parkering vir almal te reël. Ek breek die bottel se seël en hoor hoe water die bad inloop. Ek skink twee glase vol vonkelwyn en wag vir die loop van die badwater om op te hou. Die afwagting wel in my op en die touleier beur na bo.

Die water word stil en ek vra: “Is jy reg vir vonkelwyn?”

“Ja,” antwoord sy.

Ek stap in. Sy lê bedek met skuim in die bad. Ek hou haar glas uit na haar. Sy lig haar hand en neem die glas by my. Sekere verleidelike kurwes skyn deur die skuim met die beweging. Ek mis niks en neem alles in. My klein brein probeer my groot brein groter kry en slaag daarin.

“Hmm … dit gaan heerlik wees. Dankie,” koer sy.

“Gesondheid,” sê ek en sy herhaal “Gesondheid” en ons klink glase.

“Is jy getroud, Johan?” vra sy onverwags.

“Nee. Geskei,” sê ek. “Met geen kind of kraai,” voeg ek by.

“En ’n meisie?” vra sy terwyl sy oor die rand van haar glas na my loer.

“Nie op dié stadium nie, nee,” antwoord ek.

“Is jy ernstig?” vra sy verbaas.

“Ja. Ek het nie nou iemand nie. My werk hou my te besig,” antwoord ek laggend en sluk van die vonkelwyn.

“En jy?” vra ek.

“Huh-uh — niks,” sê sy en skud haar kop. “Ek het ’n liefdesteleurstelling gehad lately en ’n redelike hekel in julle spesie vanweë dit ontwikkel. Dit was ook ’n rede hoekom ek wou begin met wat jy nou gestop het. Ek wou julle mans op ’n manier laat suffer.”

“Ja, revenge can do harm both ways,” sê ek en hoop dit klink nie prekerig nie.

“Ek dink dit is alles nou agter my, danksy jou,” sê sy met dankbaarheid wat vlak in haar oë lê. “Wil jy nie saam met my bad nie?” vra sy so normaal soos kan kom.

Ek verbloem my verbasing en sê: “Ja, dit sal lekker wees,” en begin daar en dan ontklee. Toe my onderbroek waai, sien ek uit die hoek van my oog dat sy belangstellend in daardie rigting loer. Die Eiffel-toring kan nie misgekyk word nie. Ek klim in die bad in en die lummel wys hemelwaarts en swaai selfvoldaan rond. As daar een ding is wat soos ’n paal bo water staan, dan is dit die feit dat ’n man in sulke omstandighede nie sy diepste geheimenisse kan wegsteek nie. Die periskoop loer belangstellend deur die skuim en hy hou van wat hy sien. Hy rek sy nek behoorlik om niks te mis nie.

Ons suig aan die vonkelwyn en probeer om die elektrisiteit en loerder tussen ons so normaal as moontlik te beleef. Die vonkelwyn werk egter in presies die teenoorgestelde rigting. Die seksuele energie laai. Die periskoop mik na my maar kyk na haar. Ons raak subtiel aan mekaar. Die sagtheid van haar vel, die fermheid van haar lyf en die mooiheid van haar gesig laai my kanon met genot. Die glase word hervul en ons praat sag en platonies, maar onder die plato kook dit.

Sekere inhibisies begin wegkalwe soos die vonkelwyn daaroor spoel. Ons lag lekker vir elementêre sêgoed. Die bottel is leeg. Ek leun vooroor en trek haar nader en soen haar hartstogtelik op die mond. Sy reageer passievol en ons kan mekaar skielik nie uitlos nie. Ons verrys saam soenende uit die bad en begin mekaar halfhartig afdroog met die handdoeke wat byderhand is. Dit is egter duidelik dat materiaal tussen ons hande en velle nie nou wenslik is nie. Ons storm soenend en betastend kamer en bed toe en gee uiting aan wat die laaste uur of wat opgebou het. Ons pomp en beur en druk en kan nie genoeg kry nie. Die kanonskote klap en gille van genot vul die kamer.

Dit was te vinnig. Ons bly net so lê en probeer tot verhaal kom. Verhaal kom na vyftien minute en ons herhaal die verhaal maar dié keer stadiger, verkennend, intens en vol passie.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.