Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Na ekstase … verdriet

Vroom Oom

Rekeninge maak die kantoor reg vir die jaar se Krismispartytjie. Vanjaar versier hulle die administratiewe kantoor van Consolidated Appliance Manufacturers Ltd en laat hulle dit min of meer gesellig lyk. Verkope en Bemarking bring die eet- en drinkgoed. Die fabriek het klaar sy eie party gehou.

Mrs Geldenhuys sorg vir die musiek. Sy het ’n Atwater-Kent-platespeler met twee sterk luidsprekers en ’n breë keur van wat “in” is: sakkie-sakkie vir Parow en Goodwood, Joe Loss se Strict Tempo Dance Band vir die wat wil ballroom, en natuurlik Elvis, Bill Haley and the Comets en Little Richard. As almal reeds ’n klomp kappe in het en romanties of plein spuls raak, speel sy die dromerige plate soos Billy Vaughn se “Tammy”, Bert Kaempfert se “Wonderland by night” en die immergroen “My blue heaven” sodat hulle in die regte stemming kom vir wat volg, sê sy. Mrs Geldenhuys was ’n WAAF in die oorlog - Women’s Auxiliary Air Force.

Tina Bekker, Mr I se sekretaresse (Mr I is Ike Gilinsky, rekenmeester en finansiële direkteur) en Magda van Vuuren, die assistentkredietbestuurder (met ’n BCom-graad, blerrie slim, lyf soos Marilyn Monroe en hardegat) hou toesig. Die kerskaartjies wat leweransiers aan Consolidated gestuur het, hang soos wasgoed aan twee toue wat oorkruis oor die kantoor gespan is.

Ek het min erg aan partytjies. Susan sê ek’s asosiaal en nors. Eintlik is ek bang ek maak ’n gat van my as ek dronk is, soos op my eerste partytjie by Consolidated toe ek aan Magda se tiete probeer vat het. Sy moer my toe deur die gesig so met die rugkant van haar hand. Skoon nugter geskrik. Ek is maar hier net omdat ek hier moet wees.

Nou probeer ek so deur al die gewerskaf om die aankope-leggers deur te gaan. Kyk of dit wat deur krediteure betaal word vir Consolidated se gebruik aangekoop is. Wat klaar is, is klaar, want een van die dae kom Krawitz & Stein, ons buite-ouditeure. Hulle is ewig haastig om hul seën oor die sesmaandesyfers uit te spreek vir die tussentydse verslag vroeg in Januarie. Wat ek onder ’n gegiggel en lawaai kan klaarkry, doen ek nou.

Ek probeer altyd ’n mate van afstand tussen my en die ander personeellede te handhaaf, maar ou Mr N (dis nou Nathan Levin, besturende direkteur) sê ek hoef my darem nie heeltemal so opstêrs te hou nie. Ek moet ’n bietjie meer approachable wees. As ek net ’n bietjie vriendeliker is, sal die klikbekke die stories na my toe aandra en dan kan ek die diewe en bedrieërs vinniger betrap. “They must trust you, boytjie,” sê Mr N, “even if you’re not paid to be popular.”

Ek het in elk geval nie vanaand nodig om vroeg huis toe te gaan nie. As ek by die huis aankom, sit Susan op die rusbank met haar voete onder haar ingevou, ’n Mills & Boon in die hand, Kotex tussen haar bene en Springbok Radio luister. Ek haat Springbok.

Terwyl ek die Oktober-aankope deurgaan, kyk ek so nou en dan hoe die meisies met die kantoorversierdery vorder. Nellie Giannini staan bo-op ’n lessenaar en maak ’n tros ballonne bokant haar kop vas. Sy het ’n modieuse uitskop-onderrok aan en van waar ek sit, kan ek haar pantie sien. Maar sy’s nie die flerrie van Rekeninge nie. Het ’n man en hy is ’n tegnikus in die fabriek. Dis Hilda Jones wat vanaand weer in iemand anders se kooi gaan slaap. Gee haar net ’n halwe glasie Grand Mousseaux in, en sy’s so spuls soos ’n teef op hitte. Nie ’n sleg lyf nie, maar sy sal goed dik wees voordat sy dertig is. Sy’t reeds ’n paar stewige boude. Wonder net wie haar vanaand nader sal sleep.

Die dubbele deur na die kantoor klap luid oop en Jan Baard en sy span dra die drank binne. Jan Baard drink niks. Independent Order of True Templars. Dit keer hom nie om vir die ander dop te gooi en te kyk hoe hulle gatte van hulle maak nie.

Hy’t nogal ’n punt beet. Dis nogal plesierig om te sien hoe die ander al dronker, al luidrugtiger, al verspotter rondom jou raak. En wanneer ’n mens soos Peet Minnaar begin vertel hoe mooi hy is, dan sorg jy dat jy wegkom. Ou Peet is die ou wat altyd iemand wil moer as hy poepdronk is. Hy het ook al oor een van die vroumense se rokke gekots en laas jaar dronkverdriet gekry. Jan Baard sal weer vir hom en Angus Clark, die verkoopsverteenwoordiger vir die Boland, en Dave Smit, die loneklerk, huis toe moet vat ná die party. Hy ry die firma se Dodge-bakkie en laai die ou dronkes sommer agterop. Hymie Finkelstein, kredietbestuurder, is ook lief vir sy dop, maar hy kan sy drank vat. Dit verstom my hoeveel mense kan suip as die drank verniet is.

Verkope se vroue pak die eetgoed eenkant op ’n paar tafels wat teen mekaar gestoot is. Ken hulle net so van sien: Anna de Jongh en Liz Ingram van Small Appliances, Dvora Lubinsky van Sales Promotions and Advertising, Imogen Rutherford en Myra February van White Goods en Hannie Kleyn, Mr A (dis nou Aaron Shapiro, verkoopsdirekteur) se sekretaresse. Myra is ’n bruin vrou en werk jarre der jarre vir die maatskappy. Mr A sê ou Verwoerd se gat. Sy’s goud werd, meer as ’n duisend ou Nat-parlementslede, sê hy, en hy steur hom g’n aan aparte geriewe nie. Sy eet saam met die ander meisies in Verkope en piepie in dieselfde pot.

Product Development se mense, byna almal Italianers, hou saam met die fabriek party. Die brein agter die hele besigheid is Ovidio Cattaneo, wat voor die oorlog ontwerper by Elettrica Emilia in Modena was.

Mr N kom nader, met sy twee swaers, Mr A en Mr I, weerskante van hom. Hy maak keel skoon en begin met sy toespraak: “Namens die direksie en die aandeelhouers wil ek vir julle dankie sê vir nog ’n besondere jaar. Verkope vorder goed en dit lyk asof ons vanjaar ’n goeie verhoging in die omset sal toon.

“Ons moet net onthou dat ons nie alleen in dié besigheid is nie. Die ander ouens hou ons goed dop en maak ook uitstekende produkte. Ons produkte moet net beter wees, goedkoper ook, en ons moet dit doeltreffender bemark. En koste sny.

“Maar dit is wat ek van julle gewoond is en ek wens julle alles van die beste vir die vakansiedae toe. Plesierige Kersfees en voorspoedige Nuwe Jaar.”

Almal klap beleefd hande en die drie base groet.

“Nou kan ons begin gooi,” sê Peet Minnaar en sorg dat hy heel voor in die ry is om sy eerste dop te kry.

Hymie Finkelstein het reeds ’n kringetjie om hom wat na die nuutste van sy grappe wil luister. Hymie vertel selde ’n ou grap oor. Soms is hulle slim, soms is hulle net morsig.

“What collective noun would you use to call a group of prostitutes?”

Sy gehoor weet hier kom iets goeds.

“If you’re a baker, it’s a jam of tarts. If you’re a librarian, it’s an anthology of pro’s. If you’re a musician, it’s a fanfare of strumpets! And talking about whores, what do you call a prostitute in Yiddish?”

Sy gehoor sê niks, maar Dvora probeer met: “A shikseh, Hymie, everybody knows that.”

Hy swaai sy vinger voor sy haakneus: “Oh no. It’s a schmock-absorber!”

Hier ken almal die belangrikste Jiddisje woorde soos “Tochis afn tisch”, “Mazeltov”, “Oi veh”, “Mechulah” en “Shekels”. “Schmock” is die Jiddisj vir “piel” en fatsoenlike Jode gebruik daardie woord nooit nie

Ek probeer halfhartig om ’n geselsie met elkeen aan te knoop, om sosiaal te wees. Swaar om skaam te wees soos ek. My ma het altyd gesê ek is inkennig. Ek suig lank aan my whisky en soda. Sal nie ’n gek van mý maak nie, maar darem vriendelik wees. Krismis kom net een keer per jaar.

Mrs Geldenhuys het die nuwe Elvis-album, GI Blues, op die draaitafel toe ek by Verkope se mense uitkom. Dié wat nie staan en suip nie, rock ’n roll. Anna de Jongh, ’n valerige maer meisie met ’n stemmige liggrys rok, staan eenkant en kyk. Sy lyk kompleet soos ou eerwaarde Meyer se vrou, die sendeling van die bruin gemeente op my tuisdorp: ’n hoekige gesig, prominente kaak, vaal oë en vaal hare. Sy’s skraal. Van tiete is daar min sprake, maar die kuite lyk netjies. Slanke enkels. Stewige, dienlike swart skoene. Sy het ’n glas witwyn in die hand en haar wange gloei effens.

“Jy’s mos die binne-ouditeur?”

“Ja.”

“Hou jy van dié lawaai?” vra sy.

“Nee. Elvis was nog nooit my gunsteling nie,” sê ek.

“Waarvan hou jy dan?”

“Opera, operette en klassieke musiek, kabaret ...”

“Ek hou ook van opera. Neem sangles ook.”

“By wie?”

“Madame Daisy Nussbaum.”

“Sopraan?”

“Nee, mezzo.”

“En wat sing jy graag?”

“Liedere. Schubert, Schumann, Brahms.”

Ek onthou die woorde van ’n Brahms-lied. Sing in my heserige bariton:

“Der Tod das ist die kühle Nacht,
Das Leben ist der schwüle Tag.
Es dunkelt schon; mich schläfert -
Der Tag hat mich müd’ gemacht.”

“Jy’s ’n ou pessimis, is jy nie?”

“Nee, nie juis nie, maar as ek die dag lang bome toe gaan, moet iemand dit sing. Die dood is die koel nag. Die lewe is die swoel dag. Die skemer daal, ek word vaak. Die dag het my moeg gemaak.”

“Mooi, maar dit laat jou huil.”

Hilda Jones kom nader en roep vir Anna.

“Jou man het nou net gebel. Hy’s nog al die tyd in Johannesburg. Hy sal eers môre ’n vlug Kaap toe kan kry.” Sy giggel terwyl sy terugtrippel na die dansers toe.

“O hel,” mompel Anna, duidelik ontsteld.

“Wat’s die probleem?” vra ek.

“Desmond sou my hier kom oplaai het op pad van die lughawe af. Ek moet nou ’n geleentheid soek. Hier kort voor Kersfees bly ek weg van die trein en die Tramways af.”

“Waar bly jy?”

“Plumstead.”

“Geen probleem nie. Wil in elk geval nou skededdel. Ek bly in Kalkbaai.”

“Gaan gou ’n draaitjie loop.”

“Ek kry jou buite.”

Die partytjie is nou behoorlik op dreef. Peet Minnaar sing: “Ha-haf I-I told you-ou lately tha-hat I lo-hove you …”

“Elvis in person,” gil een van die meisies.

Niemand neem notisie van my toe ek groet nie. Ek wag by my beige Volksie vir Anna.

“Bly om weg te kom,” sê ek.

“Ek ook.”

My hand raak aan haar knie toe ek van tweede na derde rat oorskakel.

“Eerste keer dat ek in ’n Volkswagen ry.”

“Watse soort kar het julle?”

“Morris Oxford. Sy ratte sit by die stuurwiel.”

By ’n verkeerslig in Observatory staan ’n bruin man en blomme verkoop. Hy druk sy kop by die venster in en sê: “Carnations virrie merrem? Net ten bob.”

Ek haal ’n randnoot uit, neem die bossie angeliere by hom en sit hulle op Anna se skoot. “Vir jou.”

Die lig word groen en ek trek weg. My hand raak weer aan haar been.

Dit voel asof ek aan ’n kaal elektriese draad vat.

Ek merk op dat sy effe wydsbeen sit, met haar knie amper teen die rathefboom. Die volgende keer toe ek ratte verwissel, laat ek my hand op die knie rus. Sy trek dit nie weg nie. My hand bly daar, buiten wanneer die Kewer se ou asma-enjintjie ’n ander rat vra.

Ons gesels oor musiek, ons gunstelingsangers. Sy hou van Fischer-Dieskau, ek van Gerard Souzay. “En Mimi?” vra sy.

“Ek ken te min van haar. Het darem ’n volledige Skepping van Haydn met Patzak.”

“Interessant. Nie geweet sy het ’n plaat daarvan gemaak nie.”

Voorstedelike huis op ’n klein erfie. Die motorhuis raak aan die oostelike buurman se grensdraad en tussen die De Jonghs se huis en die westelike buurman is ’n smal gangetjie. Rooi teëldak, reguit rooi sementpaadjie van die voorhekkie tot by die rooi stoep; boujaar so 1930 tot 1940.

“Jy sal seker ’n koppie tee of iets drink voordat jy loop?” vra sy toe sy die voordeur agter ons toemaak.

“Sal lekker wees.”

Met die wegloopslag en met die venster agter haar sien ek die silhoeët van haar lyf wat deur die rok skyn. Nie te onaardig nie, al is sy so ’n maergat. Sy vroetel in die kombuis rond, sit die blomme in ’n blompot en verdwyn ’n rukkie. Toe sy met die tee instap, merk ek op dat haar borsies effens anders lyk, nog kleiner, minder gepunt. Haar asem ruik na tandepasta toe sy oorbuk om die tee vir my in te skink.

Ek staan op en kyk in haar oë. Sy sit die teeketel op die tafeltjie neer en staan regoor my. Ek neem haar in my arms en ruik haar hare. Ek streel haar rug en voel dat sy nie ’n bra aan het nie. My hande kruip verder af, voel die dimpeltjies bokant haar boude, haar dye. My vingers gly heen en weer oor die randjie van haar broekrek wat oor haar dye span.

Toe soek ons tonge mekaar.

“Kom.” Dis ’n kalm bevel. Sy is heeltemal in beheer.

Ek loop agter haar aan. Sy maak die slaapkamerdeur oop. Die swaar gordyne is styf toegetrek en dit is sterk skemer. Op die bedkassie is ’n groen boksie, Anovlar. Die Pil. Susan gebruik dit ook.

“Trek jou klere uit.”

Ek trek my skoene uit, rol die sokkies netjies op en bêre hulle in die skoene en vou my klere op voordat ek hulle op die stoel stapel. Dit mag nie kreukel nie.

Sy staan voor my terwyl ek my onderbroekie afstroop. Toe lig sy haar rok op, trek dit met een beweging oor haar kop en laat dit op die vloer val. Sy klim uit haar broekie uit.

Sy’s ’n bleek meisie. Kom bepaald nie baie in die son nie. Haar borsies is onbeduidend klein, die linkertietie hang effens laer as die een regs. Haar maag maak ’n effense kom. Die vaal skaamhaartjies is baie yl met ’n smal weliger strepie in die middel al met die spleetjie af. Sy kom sit langs my op die bed. Ek sit my arm om haar skouers en weeg haar tieties in my bakhande. Na ’n rukkie streel ek die tepels wat onmiddellik op aandag spring. Sy gaan lê op haar rug.

My regterhand beweeg verder af, streel haar dye. Dan weer boontoe. Sy draai half na my toe en nou gly my hand oor haar gespierde boud. Weer na haar buik, raak net-net aan die krullerige haartjies. Dan weer terug rugkant toe. Ek begin haar borsies soen en ek suig aan haar tepels. Haar bene gaan stadig oop en my middelvinger gly oor die yl bossie, vind die glibberige warm peul. Sy druk my kop af onder toe en my tong woel in haar naeltjie rond. Meedoënloos druk sy my kop verder af. Hare teen my ken. My lippe verken die verbasend mollige Venusheuwel, eers aan die linkerkant van die klofie, dan regs. Haar lyfparfuum walm van tussen haar bene op. Dan gly my tong tussen haar kleinlippies in, dan boontoe, weerskante van die knoppie. Ek voel hoe die lippies onder my tong uitdy, nes ’n blom wat oopgaan. Haar asem jaag en sy maak klein tjankgeluidjies, amper soos ’n klein hondjie wat seerkry. Skielik stu haar onderlyf vorentoe, agtertoe, vorentoe, agtertoe terwyl sy skor gil.

Toe die stuwing kalmeer en dit net ’n ligte siddering word, streel ek haar koekie met my lippe. Sy kreun effens, maak haar bene wyer oop en sê: “Kom.”

Ek gly in haar in. Haar hakke speel tamboer op my agterent toe sy kom. Ek bly in haar totdat my voël heeltemal pap is. Sy bly lê, bene wyd oopgesper toe ek van haar afskuif. Elke dan en wan maak sy ’n klein geluidjie, “Hm?” asof sy my iets vra.

Ek streel haar lyf, my hande beweeg al verder weg van die middelpunt van my verlange. Sy bedaar. Sy stoot my weg van haar en rol weg van my. Op die beddeken is ’n taai blerts.

“Gaan stort,” sê sy, effe kortaf.

“Hoekom?”

“As jy by die huis kom, sal jy na Ander Vrou ruik, veral jou hare. ’n Vrou ruik fyner as ’n man. Amper soos ’n hond. En gebruik toiletseep vir jou hare. Jy gebruik tien teen een ’n ander soort sjampoe as ek.”

Sy wys my waar die badkamer is en onder die stort was ek my hare en my gereedskap met oorgawe.

Ek droog my af terwyl sy op die badrand sit en na my kyk.

“Hy’s nou pap en klein.” Effe meerderwaardig. Sy loop agter my slaapkamer toe. Ek trek my klere aan. Sy staan eenkant, haar oë bly op my gesig. Sy is steeds kaal. Sy hou haar hande voor haar mik asof sy skielik skaam geword het.

Met trane wat langs haar wange afloop, sê sy sag: “Ons moet nou totsiens sê. Moenie naby my kom nie. Moet dit nooit weer probeer nie. Jy gaan terug na jou vrou en haar ou Springbok Radio en ek na Des met sy onwillige ou voël.”

Sy snik en gaan sit op die bed met haar kop in haar hande.

Ek draai om en loop by die huis uit sonder om iets te sê.

Ek wonder wanneer ek haar van die Springbok Radio vertel het. Hoop net ek het my bek oor die Mills & Boon gehou. Is sy ’n dogter van ou eerwaarde Meyer? En is dit so dat Desmond de Jongh ’n boyfriend in Johannesburg het soos die mense van Verkope skinder?

Ek klap die Volksie se deur agter my toe. Kan nie ry nie, want my oë is die ene trane. Wat het daardie Romeinse wysgeer nou weer gesê? “Post coitam semper triste”, of so iets. Latyn was nooit my sterk vak nie. In elk geval, as jy klaar genaai het, sê die Romein, is jy verdrietig.


to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.