Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Fyndraai by Magoebaskloof

Blou Viooltjie

Deur die newels van haar slaap hoor sy die melodieuse roep van honderde voëls wat die vroeë oggendlig begroet, ’n kakofonie van klanke uit die skemer woud. Vir nog ’n paar minute teug sy die vars lug in wat by haar houthut se luike instroom. Die kruiereuk … onmiskenbaar van Magoebaskloof se digte groen valleie. Onwillekeurig dink sy terug aan ’n paar weke gelede toe sy nog moes besluit om die navorsingsprojek te aanvaar. Sou sy kon aanpas in die mistige tropiese klimaat van hierdie onbekende streek?

Die bergstroompie naby haar hut klink vanoggend luider as gewoonlik. Dit moet seker die resultaat van die nag se deurdringende reën wees wat die stroom laat swel het. Amper heeltemal wakker beur sy orent om deur die luik na buite te kyk. Dit gaan ’n nat goggasoekery afgee vandag, dink sy. Sy het nie veel van ’n keuse nie, want sy het nie meer baie weke oor om die snuitkewer se habitat intensief te bestudeer nie. Boonop moet sy nog al die data by die universiteit behoorlik sorteer en haar tesis laat tik en bind.

Die gedagte van dringendheid laat haar sommer vinnig uit die enkelbedjie wip en in amper dieselfde beweging trek sy haar dun nagjurk oor haar kop en gooi dit oor haar stoel by haar laptoprekenaar. Nakend staan sy voor die oop luik en voel hoe haar vel tintel van die koel briesie. Spontaan staan haar tepeltjies orent vanuit haar mooigevormde borsies.

Onwillekeurig vryf sy met haar warm hande oor haar borste en dink vir ’n kort rukkie aan haar soms valerige vriend wat sy vir eers in Johannesburg agter moes laat. Selfs hy sou die hunkering wat sy nou al ’n paar alleen nagte beleef, kon stil …

Amper haastig grendel sy die hut se deur agter haar toe, tel haar vangnette en houers op. Met haar rugsak stewig op haar rug, gevul met haar dag se kosvorraad en apparaat soos ’n veldmikroskoop en ’n klomp kleiner houertjies, begin sy versigtig in die gladde veldpaadjie afstap na die stroom se kant toe. Dis vandag gladder as tevore en kort-kort moet sy gryp na die slingerplante wat welig oor die paadjie groei. Haar jannas se sitvlak is al rooi van die modder soos wat sy telkemale onvroulik haar stempel op die modderpaadjie afdruk.

Die grootste deel van die oggend spandeer sy al langs die oewer van die stroom en keer talle verrotte stompe om op soek na die spesifieke snuitkewers wat sy bestudeer. Teen middeldag stroom die sweet van haar bruingebrande gesig af … sy voel hoe die boshemp wat sy dra, voor en agter deurweek raak van die sweet. Sy sal eers bietjie rus …

Die son is uitmergelend en kom nou reg van bo, wat min skaduwee laat direk langs die oewer … en die gladde blink rotsplate weerkaats skerp in haar oë.

Die rustigheid van die stroom word versteur deur ’n skerp, kras roep van ’n voël taamlik naby haar. Sy sit haar halfgeëte toebroodjie terug in sy plastiekhouer. Die klank herhaal hom nou onnatuurlik meer keer. Watse voël kan tog so aanhoudend roep? dink sy. Sy tuur in die donker lower van die woud in … draai haar kop om te probeer vasstel waar die klank vandaan kom. Dis baie naby. Sy besluit om te probeer nader stap.

Sowat veertig meter verder hou die klank op. Sy staan bokant ’n groot, diep poel water. Die klipplaat waarop sy staan is bedrieglik glad, maar sy wil nog net so entjie verder. En dan … deur die digte blaredos van ’n mengerhoutboom sien sy ’n deel van die poel onder haar. Dit kan tog nie wees dat haar oë haar bedrieg nie? Kan dit waar wees?

Op die oorkantste oewer van die poel sien sy hom staan. Bruingebrand en met kaal bolyf sit hy met sy voete in die water terwyl hy met bakhande voor sy mond die voël wat sy gehoor het, naboots. Tien minute lank hou sy hom aandagtig dop, verskuil agter digte varings. En dan hou hy op roep en staar ’n rukkie lank na die koel waterpoel. Asof sy ’n voorgevoel kry, besef sy alreeds wat hy beplan. Met ’n flinke beweging stroop hy sy kort oefenbroekie van sy smal heupe af. Sy verwonder haar aan die man se soepel gespierde lyf … haar oë amper vasgenael op sy nou ontblote onderlyf. Daar spoel ’n ligte rilling van opgewondenheid oor haar hele lyf. Sy sien hoe hy onskuldig een of twee keer oor sy manlikheid streel en dan grasieus in die water ingly.

Sy hou hom byna angstig dop waar hy geluidloos amper tot reg onder haar skuilplek dryf. Sy sien hoe die gespierde rug eindig in sy kleinerige maar goedgevormde agterstewe. Hy draai op sy rug en nou kan sy die volle manlikheid beskou wat onbevange tussen sy lieste beweeg. Duidelik voel sy die stuwing van haar borste wat dringend teen haar nat boshemp druk. Sy voel die vogtigheid in haar donker driehoek wat beslis nie deur die bedompige hitte veroorsaak word nie.

Teenstrydige gedagtes woel met haar … eintlik moet sy liewer wegkom, maar haar skuldgevoel word erg onderdruk deur nuuskierigheid, ’n voyeurisme wat haar aanhoudend aanpor. Vlietende gedagtes soos kort drome laat haar prentjies vorm van hoe sy naak saam met hierdie bosgod in die poel rondswem. As sy maar net nog so entjie vorentoe kan skuif … haar uitsig nog net so effens kan verbeter.

En dan … in ’n breukdeel van ’n sekonde gly sy op die slymgladde rotsplaat en begin onbeheerst na onder glyval …

Verskrik en nog baie duiselig kom sy by uit die newels van ’n kloppende hoofpyn. Sy moes duidelik haar kop iewers hard gestamp het in haar glyval na ondertoe. Sy voel aan haar arms en bene … lyk nie of iets gebreek het nie, net ’n paar skaafplekke aan haar elmboë en knieë. Sy probeer opstaan, maar voel hoe ’n paar gespierde arms haar omvou, en hoor ’n tenoorstem wat haar rustig vra om eers net so te bly lê. Baie bekommerd vra hy haar of sy seergekry het. Nog steeds verdwaas mompel sy dat sy ok is. Sy draai haar kop en besef met angs dat die man in die poel besorgd oor haar kniel. Sy besef dat hy steeds poedelkaal langs haar sit. Sy lig haar kop en kyk vas in die bekommerde man se diep blou oë.

Hy maak vinnig verskoning oor sy naaktheid en draf gou na sy klere. Vinnig trek hy sy oefenbroekie en gryserige onderhemp aan terwyl hy haar vra om net so te bly sit en wag. Binne ’n minuut is hy terug en bied aan om haar terug te help vanwaar sy ook al kom.

Ondersteunend hou hy haar ferm om haar lyf terwyl sy effens mankerig beduie waar haar rugsak lê. Geselsend sukkel hulle met ’n ompad terug na waar haar besittings nog in die skadu van die varings lê.

Laatmiddag kom hulle taamlik moeg by haar hut aan en sy nooi hom binne vir tee. Ten minste ken sy darem nou al sy naam, en haar ergste verleentheid het sy al effens verwerk, danksy Christiaan se gemoedelike geaardheid. Sy het hom darem immers vertel dat sy ’n entomoloog is en onverskillig agter ’n gogga aan was toe sy haar balans verloor en gegly het.

Vir ’n oomblik of wat hou sy hom dop en sien hoe sy oë nogal geamuseerd oor die karig gemeubileerde vertrek loer. Met ’n skalkse glimlag wat sy mondhoeke effens laat bewe, beveel hy haar om op die bed te lê sodat hy na haar skaafplekkies kan omsien. Gedwee val sy moeg op haar bed terwyl hy haar sagkens met sy hande ondersoek. Hy vryf die enigste bietjie kamferroom wat sy beskikbaar het, saggies oor haar velaf knieë. Sy aanraking is vir haar soos magiese medisyne … sy kan letterlik voel hoe die ligte pyn verdwyn en plek maak vir ’n amperse erotiese ervaring. Met haar oë toe lê sy daar en laat hom begaan.

Haar vel voel skielik ekstra sensitief, elke aanraking voel soos ’n ligte elektriese skok wat deur haar gaan. Dis asof sy die strelende hande met blote telekinetiese krag self wil beheer, hulle stuur na plekke waar sy graag gestreel wil word. Dis asof hy haar begeerte kan aanvoel. Sy ferm en mooi hande vind nou nie net hul pad na haar skaafplekke toe nie, maar beweeg verleidelik hoër op langs haar dye, so asof hy haar seer spiere wil masseer. Amper ongemerk en onskuldig raak hy liggies aan die onderkant van haar vagina. Die ligte drukking van sy vingers teen haar jannas net op die regte plekkie laat haar amper ’n jubelgilletjie uiter! Dit laat ’n onbeheerste rilling deur haar druis … en sy voel die opwelling binne haar posvat. Onwillekeurig beweeg haar bene meer van mekaar af. Sy voel half skaam om haar oë oop te maak, alhoewel sy kan aanvoel dat Christiaan se oë brandend en ondersoekend oor haar lyf loer.

Die teewater kook en hy staan op om die tee te maak. Terwyl hy by die tafel staan waarop die gasstofie staan, kan sy sien dat die oefenbroekie nie meer dieselfde profiel het nie … asof sy manlikheid beslis ’n duidelike metamorfose ondergaan het. Die langwerpige heuwel voor by sy broek laat haar terdeë besef dat hy haar begeertes deel. Hy kom sit-lê weer by haar op die bed terwyl hulle tee drink.

Vir ’n rukkie kyk hy na haar fyngevormde gesig … speel met sy vingers liggies deur haar hare. Sy weet dat die bietjie weerstand wat sy nog kon hê, nou heeltemal verdwyn het toe hy na haar borste loer en noodgedwonge haar stywe tepels deur haar hemp sien. Sonder om ’n woord te sê laat gly hy sy vingers gladweg voor by haar hemp in. Sy voel hoe hy eers liggies oor haar sygladde borste streel, haar hempsknope een vir een loswikkel met sy een hand. Haar oë gaan toe met afwagting … sy voel sy warm asem digby haar gesig. Hulle lippe raak mekaar. Eers saggies, maar later al hoe dringender soen hy haar. Sy voel sy harde orgaan dringend teen haar heupe druk. Sy sagte lippe beweeg al soenende teen haar nek af … hy knibbel met sy mond saggies aan haar oorlobbe.

Erika kan nou voel hoe sy tong heerlike nat strepies aan die bokant van haar borste lek. Haar asemhaling raak amper onmiddellik half hortend toe sy lippe haar een tepel lekkend en suigend ondersoek, sy tong die stywe tepel heen en weer wikkel. Sy hande is nou soekend na haar broek se knoop.

Angstig help sy hom met die knoop en voel dan hoe die ritssluiter gladweg oopgly. Behendig stroop hy haar broek van haar lyf af sodat sy ontbloot voor hom lê. Hy staan ook vinnig op en pluk behendig sy eie klere van sy lyf af. Met ’n ligte skok … eintlik meer van verwondering … sien sy hom staan … sy penis heeltemal orent teen sy gespierde maag. Dit lyk vir haar amper dreigend … ’n skrille kontras met wat sy vroeër in die poel gesien het.

Hulle is nou beide nakend en sy voel totaal ontbloot van enige skaamte. Dis asof die wellus haar verdoof van al haar inhibisies. Wriemelend, ondersoekend betas en proe hulle elke deeltjie van mekaar se liggame. Golwe van verrukking skeur deur haar binneste as hy haar skaamlippe met sy mond verken. Sy heupe is bo haar terwyl sy die warmte van sy geswolle penis in haar mond voel … die onbeheerste rukkings wat sy penis nog groter laat voel. Sy streel oor die lengte van sy dik en ferm skag … vryf oor die blink kop. Sy sien die eerste blink, taai vloeistof ligweg uitsypel … dis glad en sy vryf dit oor die geswelde kop voor sy dit weer in haar mond sit.

Sy verlustig haar vingers om sy skrotum en voel hoe die testikels heen en weer deur haar vingers glip. Hy hoor haar gedempte klein vreugdegilletjies uiter as hy met sy tong sirkeltjies maak om haar geswelde klitoris. Met sy duim en wysvinger trek hy haar skaamlippies effens oop en voel met sy tong dieper na binne. Golwe van uiterse ekstase spoel golf na golf deur haar liggaam en dit word al hoe intenser. Onbeheerst druk sy telkens haar skaambeen stywer teen sy mond. Die reuk van hul liefdespel meng met hul plesierkreuntjies en ’n nuwe aura vul die vertrek. Die manjifieke laaste bedryf is nou baie naby. Dit voel of haar siel uit haar lyf beweeg en dis asof sy neerkyk na haarself op die bed … sien hoe hy haar ritmies penetreer … Sy sien die blink glans van haar vloeistof wat oor haar lieste spoel. Haar gewaarwordinge is nou baie skerper … dis asof sy in ’n nuwe dimensie beweeg … elke sweetdruppel op sy gespierde rug wat soos blink pêrels van hom rol, ontgaan haar blik nie.

En dan … asof deur ’n dirigent georkestreer, bereik hulle die piek … die crescendo van hulle simfonie. Soos luidende simbale en dringende tromslae voel sy die laaste dringende penetrasie diep binne haar … die volheid van sy storting voel warm in haar …

Die musiek verdoof saggies … die laaste klokkies klingel as hulle uitasem en tevrede langs mekaar lê en staar na die houtbalke van die hut se plafon. En dan … net voor sy haar aan die slaap oorgee, dink sy. Die oomblik toe hy sy minder stywe penis uittrek, sien sy die lang dun slymstringetjie vanuit haar opening na sy peniskop … en sy wonder … Dit lyk nes ’n naelstring … Sal dit breek … nadat die passie verby is?

Verkwik en tevrede maak sy haar oë oop om die eerste lig te aanskou … Sy voel met haar hand. Waar hy was, is net die duik in die matras waar hy gelê het. Hoe kon hy opstaan en verdwyn sonder dat sy hom kon hoor? Nakend sit sy regop, staar deur die vertrek heen. Op die tafel by die mikroskoop lê ’n stukkie papier van haar notaboek. Sy lees: “Dankie, jy is spesiaal, wens dit kon vir altyd hou, maar jy sal nie verstaan nie.”

Skaam en amper verwese smyt sy die nota neer … “Hoe kón hy!” dink sy.

Die hele oggend kan sy maar nie aan die gang kom nie. Gisternag se gebeure speel hom oor en oor soos ’n video in haar kop af.

Sy hoor die harde gedreun van vierwielvoertuie wat snel op die tweespoorpaadjie ry. Hulle ry in die rigting van die ou vervalle plaashuis so entjie bokant haar hut. Die leë en skaam gevoel maak plek vir ’n soort onrustigheid. Sy trek vinnig aan om te gaan verken wat aangaan. Sy kan sien dat daar heelwat gewoel by die ou opstal is. Sy is nou baie nuuskierig en wonder wat die mense daar maak. In die afgelope weke het sy nog nie ’n siel daar gesien nie.

Sy draf met die paadjie langs op pad boontoe, neem kortpad die laaste entjie oor ’n stywe heuweltjie. Toe sy daar kom, kan sy net sien hoe die bakkies met die blou ligte bo op teen die paadjie terugry.

Sy voel sy wil nogtans sien wat in die ou bouval aangaan. Sy stap in ’n vertrek in wat eens seker die kombuis was. Oral in die vertrek, op blikke en houtkassies, staan daar leë blikkieskos en koeldrankblikkies rond. Die muwwe reuk is amper walglik … hoe kon iemand in elk geval in so ’n plek bly? In die hoek onder ’n lendelam tafeltjie lê daar ’n hopie ou koerante. Hier het beslis iemand in die laaste ruk gebly, is haar opsomming.

Asof aangevuur deur ’n onnatuurlike krag stap sy na die hoek van die vertrek toe. Sy tel een van die amper gelerige koerante op en lees die hoofberig voorop. Haar oë verstar … die foto, sy herken ken dit … dis die man van gister!

Sy lees die vet letters van die hoofberig … REEKSVERKRAGTER ONTSNAP UIT AANHOUDING.



LitNet: 09 Junie 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.