Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.


Vicky Scholtz
 

Hoor jy my?

Vicky Scholtz

Die wit laken druk my liggaam styf teen die kooi vas, bind my arms dat ek nie kan beweeg nie. As ek my kop skuif, kraak die kussing, al draai ek dit net effens van die een kant na die ander. Die onmiskenbare hospitaalreuk steek vas in my neusgate; ek sukkel om asem te kry. Miskien is dit ook omdat die laken te styf ingedruk is onder my. Harde, koue, wit beddegoed, soos gebleikte karton. Dit laat my dink aan die gebeentes wat ’n mens op die strand op afkom — broos, kleurloos, sonder lewe.

In my linkerarm voel ek ’n moeë seerheid — nie ’n pyn nie, eerder ’n eeue-oue bewustheid van seer wees — waar daar ’n naald in my are steek. Dwelms, voeding, weet ek nie. My ore suis met die swerm sprinkane wat nog in my brein rondraas, seker nou nog aan die vreet van al wat lewend oorbly. My ooglede skuur oop soos sandpapier, maar die duisendjaarse trane het my wimpers so laat koek dat ek net skrefies kan sien. Skrefies wit, plat, sonder inhoud. Waar is die kleur heen, die tekstuur?

Uit die saal langsaan ontsnap daar ’n lae brulgeluid. Die verpleegstertjie lag. “Professor is gesellig vandag,” sê sy aan die mensgrootte-teddiebeer wat in die besoekerstoel geprop lê. “Kom ons gaan kuier.” Sy tel hom op en verdwyn. Die brulgeluide word al hoe harder, tot ’n crescendo van pyn en frustrasie. ’n Oomblik later skarrel sy terug. “Arme Professor,” lag sy, terwyl sy die beer se sagte gewig in die stoel indruk, “hy wil seker dig, en al wat hy kan maak, is brrrrrrrrrrrrrrulll!” Sy tel iets op op die tafeltjie langs my bed, en ’n koue metaalsmaak maak my bewus van ’n harde buis onder my tong. My linkerhand word van onder die laken uitgepluk, en ferm vingers druk af op my pols. Slap val my hand terug op die laken as sy dit los, pap, ongevoelig. Ek wonder of daar nog bloed in loop. Miskien loop die goed vanaf die naald nog in, wat dit ook al mag wees. Sy haal mompelend die koorspennetjie uit my mond uit, en skryf iets neer op haar papier. Tannierige voetstappe dui aan dat sy die kamer verlaat.

Ek hou my oë toe. Dis makliker so. Die verpleegsters voel nie verplig om met my te praat nie, en ek hoef hulle nie te ignoreer nie. As my oë toe is, kan almal maak of ek slaap. Stemme en voetstappe weergalm in die gang. Seker al weer besoektyd. Vandat die vrou in die bed langs my weg is — sy’t gevra om na ’n ander saal geskuif te word — is besoektyd die enigste indrang op my alleenwees.

Hulle staan om my bed. Die beertjie staan geprop op die enigste stoel, maar niemand haal hom daaruit nie. Dis hulle wat hom gebring het. Nou bring hulle vir my sjokolade, al los ek dit net. Die verpleegsters het begin wegdra, om die hopie kleiner te maak, seker. Vandag staan dit seker weer hoër. Hulle praat met my, vra hoe gaan dit, wag nie op die antwoord wat hulle weet hulle nie gaan kry nie, gesels weer met mekaar. Vandat die vrou weg is, is daar niemand anders om mee te gesels nie. Hulle praat oor hulle lewe daar buite, wat hulle al vergeet ook my lewe was. Die woorde klink so half bekend, maar die werklikhede is nou vir my onverstaanbaar.

Hulle was vroeër ook hier — of was dit ’n ander groep? Die verpleegsters sê altyd verras aan die beertjie dat hulle nie sou verwag het dat ek so baie vriende sou hê nie. Dat elke besoekuur nog ’n klomp mense — meer as wat streng toegelaat is — om my bed saamdrom om te kom kuier. By my. Ek verstaan dit ook nie. Ek het lanklaas met hulle gepraat, of enigsins op hulle teenwoordigheid gereageer. Hoekom kom hulle nog?

Eers het dit my gepla dat hulle nog kom. Ek wou vir niemand sien nie. Wat hulle van my wou gehad het, kon ek nie gee nie. Maar naderhand het ek nie meer omgegee nie — kom of nie, is dit hulle saak. Wat hulle verwag en nie kry nie, of wel kry, weet ek nie; ek gee ook nie om nie. My gevoelens is al lankal weg — ek het nie meer krag daarvoor nie. Ek laat net die leë witheid my bewussyn oorneem.

Uit die saal langsaan brul die professor weer. Miskien het hy ook besoekers. Die verpleegstertjie kom ingestap, vra of sy die beertjie mag leen, om langsaan na die professor te vat. Iemand stem in — seker die eienaar van die beertjie — en nog iemand vra oor die professor.

“O, dis professor Opperman — die digter. Julle’t seker al van sy goed op skool geleer. Hy’t ’n stroke gehad, dis die dat hy nie kan praat nie. Dis sy tweede een — hy lê net heeldag en brul. Arme ding. Ek weet nie hoe lank nog gaan hy hou nie …” Sy vat die beertjie saam, en verdwyn. Om my gesels die mense oor die arme professor wat net kan brul.

Soms, as dit stil is, sonder voetstappe of brulgeluide, begin iets binne in my roer. My oë wil oop, en my ore spits. My gedagtes dwaal rond in geslote terreine en my vingers vat-vat op soek na ’n oopmaakplek. Soms breek hulle deur, ook. Soms dink ek aan jou.

Daardie lakens was nie wit nie — inteendeel, hulle was die diepste, donkerste blou wat ’n mens kan kry sonder dat dit in swart oorgaan. Die bloedrooi kussings en die swart duvet het ’n groot indruk gemaak op my, wat gewoond was aan koshuisgrys beddegoed of Woolworths-blommetjies. Behalwe, soos ek later opgemerk het, dat dit liggaamsvloeistowwe nog net duideliker sigbaar gemaak het.

Jou vrou was mooi — veel mooier as ek — al het sy so pas die veertigerjare betree. Sy het by ’n uitgewer in die stad gewerk, vyftig kilometer hiervandaan, gewerk met ander mense se kreatiwiteit, terwyl sy aan die einde van die dag te uitgeput gevoel het om lewe aan haar eie skeppingsdrang te gee. Maar ons, ons was nie so nie. As kunsstudent het ek elke dag skeppend te werk gegaan, my dag so ritmies in die rede geval deur die roeping om met die letterkunde of die filosofie te worstel. En jy — jy wat ’n digbundel uitgegee het toe jy nog op skool was, wat op jou dag die redakteur van die studentekoerant was toe dit nog relevant was, wat nou nog aan jou doktorsgraad swoeg dat jy nie hoef weermag toe te gaan nie — jy het aan die woord skeppend sy definisie verleen. Sonder jou sou die konsep nie kon bestaan nie. Skepping was jou lewenswyse. Ons wou almal soos jy wees.

Dat jy my gekies het uit al die ander om ná jou voorlesing te gaan koffie drink, en letterkunde te bespreek, en vir my uitgevra het oor my mening — kon ek nie glo nie. Skeppend en denkend was ek wel, maar ek het my plek as voorgraadse student goed geken, nooit my mening gelug waar dit uitgelag sou word nie, en altyd die gepaste respek aan my seniors betoon. Toe jou oë so diep in my siel gekyk het, was ek onmiddellik verslaaf. Toe jy my gevra het om saam met jou huis toe te gaan, was die vraag al in die ewigheid beantwoord.

Jou hande het so teer oor my wang gestreel, so liefkosend met my hare gespeel, so kennend te werk gegaan om my klere uit te trek. My naïewe naaktheid was jou seminaarkamer, my pasgebore denke jou lesingsaal. Ek sou my nooit kon voorstel hoe teer, hoe volmaak, hoe seer, liefdemaak kon wees nie. Toe jou lippe my onderlippe gesoen het, is ek hergebore. Toe jou vuurpyl my deurdring het, het ek met die engele gesweef. Jy het tot diep in my binnestes gereik, my siel met jou penis gestreel.

Van jou kon ek nie genoeg kry nie. Snags het jy die getroue man gespeel, jou vrou se kos gekook, haar fliek toe gevat. Bedags het ons die dieptes van ons liggaamlike plesier probeer peil, die hoogtes van ons skeppingsvermoë en die breedtes van ons verstand uitgedaag. In die ateljee was ek soos ’n besetene — skilderye het aan die lewe gespring onder my Midas-tas, en my opstelle het ’n nuwe diepte en volwassenheid getoon. My lewe was intens, volmaak.

Ek het my pille aaneen laat loop, dat ek nooit hoef te bloei nie. Al het jy gesê dis ’n vrou se warmste tyd, het ek gedink aan die bloedvlekke op die donker lakens, en jou nikswetende vrou. Maar toe die pakkies klaarloop en ek nog ’n voorskrif moes kry, toe stort my wêreld ineen. Selfs jy het my beskuldig — een of ander Freudiaanse teorie dat ’n vrou slegs swanger word as sy wil — en my laat weet dat ek self die geld vir die aborsie moet bymekaarmaak. After all, jy kon nou nie by jou vrou gaan geld vra vir so iets nie, kon jy?

Ek het bedags die koshuisgange deurgeloop op soek na enigiets van waarde wat ek dalk kon verkoop, maar niks gekry nie. Behalwe die pille. Niemand tel juis pille nie, dus het niemand opgemerk hoe die goed verdwyn nie. Ek het naderhand ’n groot hopie bymekaargemaak, allerhande soorte, van kopseertablette tot epilepsiemedisyne. Alles gekies omdat dit gewaarsku het teen gebruik tydens swangerskap.

Dis al. Ek wou net van die indringer ontslae raak, my lewe herwin. Toe ek hier beland het, het hulle klaar besluit oor my redes en denke. “Depressie”, het hulle onder aan my lêer geskryf. “Liefdesprobleme”, het die verpleegsters vir mekaar veelseggend gefluister. Ek kon nie teëpraat nie. Woorde het my ontglip, net trane het by my mond uitgespoel.

Jy het nooit kom besoek aflê nie. Hoe kon jy? Om hier te kom sou ’n gebieg word, ’n aanvaarding van verantwoordelikheid, ’n erkenning dat jy ook gedeel het aan dit wat hierna gelei het. Veel makliker om my as histeriese studentjie af te skud, om ’n nuwer, jonger liggaam te kry om die leegtes te vul, om vakansie te hou saam met jou vrou oorsee, op haar bonustjek.

Toe ek aan die bopunt van my skeppingsvermoë gestaan het, het jy eenkeer gesê my werk is oppervlakkig. Diep werk, het jy vertel, berus op ’n fondament van pyn en lyding. Slegs die wat gely het, regtig gely het, kan die intense ingewikkeldhede wan die lewe verstaan, vertolk, weergee. “Maar daar ly dan miljoene mense in die townships,” het ek gevra, “is hulle dan almal kunstenaars?”

Jy het jou kop agtertoe gegooi en geskater. “Kuns en lyding is nie dieselfde ding nie. Om skeppend te word, moet ’n mens die lyding kan verwerk, omskep in kuns. Eers moet jy ly, maar daarna moet jy ’n statement kan maak!” As ek ’n kwas ter hande gehad het, sou daar slegs trane uitkom.

Langs my lê ’n sterwende digter, en brul.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.