Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Omkeer in liefde

Johannes Grusaam

Is die liefde blind?

Dié ding dat geliefdes aanvanklik sonder voorbehoud in mekaar se smaak indompel net om later mekaar te bestorm: ek verstaan dit nie. In die begin kan hulle nie wag om mekaar uit te trek nie. Teen die einde trek hulle mekaar uitmekaar. Wat eers oorgesien was as oulik, is nou ’n struikelblok. Daar sou sweerlik geen verhoudings in die wêreld wees as die aanvanklike euforie van die liefde nie daar was nie.

Die eerste fase van die liefde is blindheid. Die tweede: fout vind. Die derde: moddergooi. Min liefdes bly in fase een. Baie eindig in fase drie. Party haak vas in fase twee. Dié wat in die eerste fase bly, leer Braille en die gevoel bly.

Willem en Gerda se verhouding was ’n klassieke voorbeeld van vinnig dwarsdeur al drie fases. Willem het my aanvanklik met smaak vertel hoe mooi, hoe spesiaal en pragtig dié een is. Foutloos. Alles reg en op die regte plekke. Ek het sy golf van geloof saam met hom gery en gehoop hy bly bo.

Op ’n keer het hy met kwyl in sy kiewe my vertel hoe lewendig sy is. Ek het swaar gesluk aan my eie kwyl toe hy klaar is. Só ’n warm kat! Een uit ’n miljoen. Sy neem ’n man op sleeptou en soos Jona en die vis sluk sy jou in en gooi jou êrens op ’n eiland uit met die verskil dat sy saam aan land gaan. Te goed om waar te wees, maar daar is dit uit sy eie mond.

Ek het hom nie presies ontmoedig om nie die detail van hul eskapades met my te deel nie. Sy ervaring van genot moes êrens weerklank vind. Eens oor ’n bier of drie het hy weer gesê: “Ou maat, gisteraand was weer woes,” en ek het hom laat begaan. Hy het altyd sy stories so in eerste rat gevat en met hoë revolusies dit deur die ratte gedruk tot in overdrive. Hy het nie in die fynste besonderhede ingegaan nie, maar altyd net so voor die fyndraai opgehou.

Hy het aangegaan: “My voet was gisteraand skaars op die voorstoep of die voordeur gaan oop. Daar staan sy in ’n spierwit deurskynende nagrokkie, glas vonkelwyn in die hand. Sy lok my in, druk die deur toe en buig my oor die sofa in die voorportaal. Maar ek is ’n slow starter en sy weet dit. Sy begin my behendig ontklee. Dit voel soos ’n hijack met ’n goeie gevolg. Al wat ek kon doen was om oopmond verbaas voor my uit te staar. Sy stop ’n glas vonkelwyn in my hand. As ek iets wil sê (beslis nie protesteer nie) dan druk sy haar wysvinger ferm op my mond. Sy is in beheer en ek volg.”

Ek het instemmend geknik, aan my bier gesluk en gewag vir nog. Ek moes deurluister en dit agter die rug kry sodat ons oor ander goed kon praat.

“Jy weet, Tom” het hy verder gebeur: “Ek het al baie girls gehad, maar Gerda maak goed in my wakker wat nie een van die ander kon nie. Ek meen, verbeel jou. Hier kom ek moeg en sat van die werk af en loop in ’n plesierige storm soos dié in. Instant afleiding. Sy side-track jou gedagtes en worries en roer jou waar jy geroer wil wees. En ek is nie ’n kruidjie-roer-my-nie — ek wíl geroer word.”

“Dit klink my so,” het ek maar ingegooi weens ’n gebrek aan iets anders om te sê.

Hy het ’n sluk bier gevat en vol bravade voortgegaan: “Dit is ook nie lank nie of ek is reg vir haar. Maar nee, sy wil my tong goed vastrap. ’n Tafel is gedek op die systoep en twee kerse kompeteer bewerig in die buitelug. Sushi en vonkelwyn. Ek in my Adamspak en sy in haar verleidelike wit nommertjie. Ek proe amper nie die sushi nie. Teen dié tyd is my brand van begeerte erger as die brand van die gemmer.”

Hy het asem geskep, tydsaam gesluk aan die bittergeit asof hy wou hê alles moet behoorlik by my insink. Sy oë het afwagtend my reaksie gemeet.

“Dis darem ’n nice vrou, Willem,” het ek gesê om te wys ek luister en is nog by.

Hy het sy kop ongelowig heen en weer geskud en gesê: “Tom, dis crazy, man. Sy sal nog my hart laat gaan staan.”

“So julle is direk ná die eet bed toe en het die pap dik aangemaak?” het ek die verhaal probeer tot ’n einde bring.

“Nee, sy sit toe musiek aan in die sitkamer en sê ek moet op die bank sit. Daar begin sy met ’n sensuele dans, en met verleidelike moves raak sy van die wit nagrokkie in die proses ontslae. My oë peul uit en ek is net so neffens stuipe van afwagting,” het hy voortgegaan en weer gesluk aan sy bier en sy mond met die rughand afgevee.

Ek het gevoel ons is nou amper daar en weer probeer om die onderwerp te eindig: “Dit is nice, man. As ’n ou se girl nie inhibisies het nie, kan jy ver kom.”

Hy het nog in hom oorgehad en gesê: “Ou Tom, toe ek haar darem daar beetkry toe ploeg ek haar behoorlik. Ons het deurgedruk tot lank die na-nag in. Sy het ’n kapasiteit wat skrik vir niks. Ek het nog nooit so iets beleef nie. Wat ’n live-wire.” Hy het sy kop weer ongelowig geskud en ek het gedink dié man se naam moes eerder Thomas gewees het in plaas van myne. Ek glo wat hy sê, maar hyself glo dit nog nie.

“Ons sal mekaar uitbrand, man,” was sy laaste opmerking oor daai aand gewees.

Ons het nog bier bestel en oor werk, politiek en rugby gesels.

Dit was tóé.

Later met ons kuiers het Willem stiller oor Gerda geraak. Ek kon krakies sien. Hy het neusoptrekkerig na haar begin verwys.

Fase twee was in volle swang. Iets het êrens verkeerd gegaan. Hy het min woorde vir haar oorgehad. Hulle het mekaar wrágtig uitgebrand. Toe die modder kom, het ek gekoes en behendig die tema verander.

Ek sit en wag vir Willem by een van ons gunsteling watergate. Hy kom aangestap met ’n breë glimlag op sy gesig. Jy kan sien die man is in die wolke. Ons groet en hy sê: “Tom, ek moet jou vertel,” en hy lyk so ingenome soos ’n ou wat die oorstaan-lotto gewen het.

Ek antwoord net: “Ja?” en weet hier kom dit weer. Nog ’n storie oor passie en plesier tussen hom en iemand. Dit kan niks anders wees nie. Net dít kan hom só ingenome maak.

“Ek het dié girl ontmoet,” begin hy. “Jy moet haar sien ...”

Nuwe een. Fase een.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.