LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Elsa Joubert: Die reise van Isobelle (1995)

Chris van der Merwe

Dit lyk my ons kan nie daarvan wegkom nie: sedert die dertigerjare verdeel ons die Afrikaanse letterkunde in dekades. Eers was daar die digters van Dertig met die debutering van die broers Louw, Uys Krige, Elisabeth Eybers, en andere. Hulle was die Dertigers, ondanks alle verskille saamgegroepeer, waarskynlik deels as gevolg van die bekende studie van DJ Opperman: Die digters van Dertig.

In reaksie teen die direkte belydenisverse van Dertig volg die gestalteverse van die Veertigers, met Opperman en Ernst van Heerden as die leidende figure. Die Vyftigers is nie juis ’n groep nie, maar die poësie van die “Vyftiger” Peter Blum verskil tog aanmerklik van wat voorafgegaan het, met onder andere ’n sterker Europese neerslag in die skryfkuns. Hierdie Europese invloed breek kragtig deur in die prosa van die Sestigers, wat min of meer almal ’n tyd lank in Parys gewoon het — Jan Rabie, André Brink, Etienne Leroux, Bartho Smit en Breyten Breytenbach. Hulle bring die wantroue van oorgelewerde waarhede en konvensionele strukture wat die na-oorlogse Europa kenmerk na die Afrikaanse letterkunde.

Een van die spanninge in die Afrikaanse letterkunde is dié tussen Europa en Afrika, tussen internasionale strominge en plaaslike omstandighede. In die sewentigerjare, die dekade van die Soweto-opstande, word die aandag van Afrikaanse skrywers na die apartheidsopset in Suid-Afrika gedwing, en as gevolg daarvan verskyn sleutelwerke soos André Brink se Kennis van die aand en Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena.

In teenstelling met hierdie “Sewentigers” is die “Tagtigers” duidelik ’n nuwe geslag, met onder andere die kortverhaal wat in die sentrum te staan kom en die oorlog op en anderkant die Suid-Afrikaanse grens wat die aandag trek. Die tagtigerjare was somber jare in die Afrikaanse letterkunde, met introspeksie en uitsigloosheid, waaraan Koos Prinsloo miskien sterker as enigiemand anders uiting gegee het.

Hierdie indeling van die Afrikaanse literatuur in dekades is vol halwe waarhede en vereenvoudigings, en tog bied dit ’n sleutel tot begrip — solank as ’n mens maar onthou dat dit ’n erg simplistiese raamwerk is.

En nou wil dit my lyk of die Afrikaanse letterkunde van die negentigerjare ook al weer ’n eie karakter ontwikkel het. Waar die Afrikaanse prosa vroeër, behalwe miskien in die sestigerjare, die mindere van die Afrikaanse poësie was, het die Afrikaanse prosa in die negentigs, meer nog as in die sestigerjare, op die voorgrond getree. Anders as met Sestig, is die werke van Negentig toegankliker, en die verhaal-element kry toenemend aandag — die onderskeid tussen “hoë” en “lae” literatuur vervaag. Anders as in die tagtigerjare is dit die roman wat in die sentrum staan. Daar word in lywige werke op die verlede teruggekyk, in ’n poging om ’n beter begrip van die hede te kry; in die proses beweeg die literatuur en die geskiedskrywing nader aan mekaar.

’n Ontwikkeling wat in die sewentigerjare begin het, en in die negentigerjare sterker as ooit geword het, is dat die vrou — as skrywer én as karakter — die Afrikaanse prosa oorheers, in teenstelling met die vroeë oorheersing deur manlike skrywers en karakters. Waar die tagtigerjare deur somberheid en sinloosheid gekenmerk is, breek die hoop deur in die negentigerjare — ten dele as gevolg van ’n sterker religieuse belangstelling.

Alles wat hier oor die “Negentigers” gesê is, is van toepassing op Elsa Joubert se roman Die reise van Isobelle. Die boek is ’n samevatting en indrukwekkende uiting van die strewes van Negentig. Dit is ’n kroniek van vier geslagte, oor vier afdelings heen, waarin die verontregting van en deur die Afrikaner belig word.

Die eerste afdeling, getitel “Vooraf”, speel af in die tyd van die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902. In hierdie deel staan dominee Josias van Velden sentraal. Hy is getroud met ’n Engelse vrou, en sy vrou se suster, wat by hulle inwoon, is ’n outydse Boerehater. So beleef Josias dan in hom die verskeurdheid van die Afrikaner-Christen, betrokke by die lyding van sy mede-Afrikaners, maar deur sy geloof aangespoor om sy vyand lief te hê. Die mistieke band met sy God gee ten slotte by Josias die deurslag, sodat hy (na die dood van sy vrou) ook vir sy verkrampte skoonsuster deernis kry. Die feit dat hierdie deel “Vooraf” heet, suggereer dat dit die agtergrond vorm vir die “eintlike” geskiedenis, die geskiedenis van die opkoms en val van apartheid; dit suggereer ook ’n noue verband tussen die apartheidsjare en die verontregting van die Afrikaner wat dit voorafgegaan het.

Agnes, getroud met die oudste seun van Josias, staan in deel twee in die sentrum. Omdat sy nie weet wie haar pa of ma is nie, het sy ’n diepliggende verlange om êrens te hoort en ’n duidelike identiteit te hê. Dit is begryplik dat sy ’n Verwoerd-ondersteuner word, omdat sy meen om in hierdie Afrikanerverbondenheid ’n veilige identiteit te vind. Omdat sy so verlang na die man wat haar as “vader” opgevoed het, word sy tot owerspel verlei deur iemand wat haar aan haar “pa” herinner. Hierdie owerspel vind plaas by die inwyding van die Voortrekker-monument, waar die nasionalistiese feesvierings feitlik ’n godsdiens word — ’n afgodediens. Deur die plasing van die owerspel hier, word ’n verband gesuggereer tussen die ekstremistiese uitings van nasionalisme en owerspel. Agnes se wit rok wat simbolies met modder besmeer word, verbind haar met albei hierdie sondes.

In ’n mooi toneel aan die begin van die afdeling druk Agnes haar wang teen die poot van ’n opgestopte leeu. Agnes se naam beteken “lam” — en ’n mens sou verwag dat ’n “lam” liewer van ’n leeu sou wegbly! Haar gebaar is in die eerste plek ’n realistiese uiting van verlange na die Afrika-omgewing waar sy grootgeword het; maar die leeu is ook in die roman ’n veelduidige simbool van God en die goddelike. Die leeu wat hier so veilig op die vloer lê, is dieselfde dier wat mense kan vernietig. Hennie, Josias se broer wat op die sendingveld deur ’n leeu vermink is, is ’n lewende herinnering aan die feit dat die mistieke verbintenis met God ’n skrikwekkende ervaring kan wees, meer as waarvoor die mens kans sien. Sommige karakters durf dit wel aan om God te soek en God se wil te doen, en word dan self “leeus”, draers van die goddelike in hul stryd teen onreg. Hierdie goddelikheid word in hul name weerspieël: by Leonara en veral Leo. In hul stryd word die “leeus” terselfdertyd “lammers”, offerdiere, wat ly en soms gedood word (soos die opgestopte leeu). Dit lyk asof “lyding die instrument is waarmee God sy kinders na Hom toe bring” (bl. 46). Die leeu moet ’n lam word om werklik leeu te kan wees.

Die konflikte van die karakters word uitgebeeld teen die agtergrond van ’n simboliese stryd van lig teen donker. Die simboliese lig-motief word aan die begin van hierdie afdeling gegee in die beskrywing van Agnes wat by haar aanstaande skoonpa op besoek kom, asof geklee in ’n stralekrans van lig. Die suggestie is dat haar persoonlike stryd deel vorm van die groter, universele stryd tussen lig en donker, tussen waarheid en onwaarheid, reg en onreg, liefde en haat.

Hiermee hang die fotografiemotief in die roman saam. Fotografeer beteken letterlik “skryf in lig”, soos wat Josias aan sy dogter Leonora verduidelik. Die seun van Josias, die fotograaf Frikkie, neem ’n foto van die oppervlakkige, flerrieagtige Kowie waarin sy ’n onverwagte skoonheid verkry — vervals die foto die werklikheid, of bring dit ’n verborge werklikheid aan die lig?

Romankuns is kennelik vir Elsa Joubert soos fotografie: dit beteken om te “skrywe in lig” — om die werklikheid, paradoksaal, te weerspieël sowel as te omvorm. Daar word gesuggereer dat die roman op biografiese gegewens steun — die foto op die omslag is dieselfde foto wat in die roman beskryf word, waarop Leonora verskyn (bl. 590) — maar die biografiese gegewens word omskep sodat die goddelike lig duideliker na vore kan kom.

In die geskiedenis van Belle, die dogter van Agnes en die hooffiguur van die derde afdeling, word op die onreg van die “Ontugwet” gefokus. Belle reis na Kenya waar sy op Hussein, ’n Indiër, verlief raak, wat die menswaardigheid van die Indiër by haar tuisbring en haar leer om die hoë vlugte van die Oosterse mistiek te waardeer, onder andere in die poësie van Muhammed Iqbal. Hussein word deur Britse soldate vermoor en Belle keer later terug na Suid-Afrika, waar sy verplig word om as getuie in ’n “Ontug”-saak op te tree — die liefde, wat van jou ’n mens maak, wat jou die wese van die heelal laat ken (bl. 331), is nou ’n strafbare misdaad indien dit “gepleeg” word tussen mense van verskillende rasse. Belle se heilige liefde vir Hussein is hier ’n wetsoortreding. Die episode is vir Belle so ontstellend dat sy die lewe nie meer kan aandurf nie. Sy begin al haar tyd in die skynwêreld van die bioskoop deur te bring en verwaarloos sodoende haar simpatieke man Holtzhausen en hul dogter Leo.

Dit is egter juis hierdie Leo wat tot die heldin van die roman ontwikkel, in die vierde afdeling wat die klimaks van die verhaal vorm. Sy, wat eers ’n “momios” was, ’n tipe mummie wat niks van die omgewing waarneem nie, moet as eerste stadium in haar ontwikkeling bewus word van wat om haar aangaan. Dit gebeur wanneer sy ’n skool in Manenberg besoek en die gesinsverbrokkeling onder Kleurlinge waarneem — die gevolg van die “forced removals” (p. 510). Leo raak nou deel van die “struggle” en word aangehou sonder verhoor. Haar bewuswording het dus gelei tot stryd, en haar stryd tot martelaarskap. In die tronk beleef sy ’n mistieke ervaring, waarin eenwording met God en meelewing met die lydende medemens saamval.

So word Leo dan ’n voorbeeld-karakter vir die leser — ’n sterk vrou wat triomfeer. In skerp kontras met haar, die heldin, staan die ietwat karikatuuragtige, konserwatiewe Afrikanermans Philip, Hendrik en Robert, die ooms van Leo. Die mans is die skuldiges wat in die politiek verbrou het; die vrou moet dit regmaak.

Wanneer Leo aan die einde besluit om met haar kind in Suid-Afrika te bly, ondanks die uitbreek van geweld en ongeag wat haar man besluit om te doen, beteken dit onder andere twee dinge: (a) die weifeling tussen gebondenheid aan Afrika en die begeerte om na Europa uit te wyk is besleg ten gunste van Afrika; en (b) anders as met die generasie van ds. Josias van Velden, is dit nie meer die man wat die vrou se lot beheer nie; sy neem nou self die belangrike besluite. Die roman handel nie net oor die bevryding van die swartmense nie, maar ook oor die bevryding van die vrou.

Die boek eindig met Leo se besluit dat haar dogter Isobelle sal heet. Die karakter wat in die titel van die roman genoem word, speel dus geen rol in die verhaal nie; aan die einde moet sy nog gebore word. Dit beteken dat die inhoud van die voorafgaande vertellings, al die verskillende lewensreise van die voorgeslagte, die “bagasie” is wat Isobelle met haar geboorte meekry — hulle reise sal haar reise word. Want geen mens se lewe begin “skoon”, van voor af nie. Jy het geen alternatief as om die bagasie te neem nie; jy het alleen die keuse wat jy daarmee gaan doen, byvoorbeeld om dit te ignoreer of te konfronteer. Leo se kind sal “voluit” Isobelle heet (bl. 616) — geen deel van die verlede sal ontken of geïgnoreer word nie: nie die onderdrukking van die Afrikanernasie óf van die swartmense óf van die vrou nie — dit is aan hierdie verlede dat die volgende geslag betekenis sal moet gee.

Naas Leo speel haar groottante Leonora ook ’n prominente rol in die vierde afdeling. Leonora, deurgaans ’n belangrike karakter, een wat telkens in ’n verteller-figuur en ’n alter ego vir die skryfster wil-wil ontwikkel, smag daarna om die mistieke belewenis van haar pa, Josias, te ervaar — maar huiwer tegelykertyd daarvoor.

In ’n roerende toneel na aan die einde van die boek het sy tog wel ’n omvattende mistieke ervaring. Dit gebeur in die nag in die buitelug, saam met twee van die heel armoedigstes, by ’n maaltyd van brood en die sing van Kersliedere. So word verskeie religieuse en mistieke elemente verbind: die ontdekking van God in die lydende naaste, van God in die natuur, van God in die nagmaal deur die geboorte en sterwe van Christus. Sterwe en hergeboorte, die nag wat gevolg word deur dag, word gesuggereer as die weg tot genesing, vir die individu sowel as die samelewing.

Met ’n panoramiese blik, deur ’n magdom gegewens tot eenheid te bring, verrig Elsa Joubert met hierdie roman een van die groot tours de force in die Afrikaanse literatuur, in ’n ryke visie van skuld sowel as hoop.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.