LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Berta Smit: Juffrou Sophia vlug vorentoe

Chris van der Merwe

Dis ’n mooi storie — die storie van die publikasie van Berta Smit se laaste roman, Juffrou Sophia vlug vorentoe …


Berta Smit het aandag getrek met haar eerste roman, Die vrou en die bees, uit 1964. Op ’n verrassende manier het sy in dié werk tradisionele Christelike temas met ’n sterk eksperimentele struktuur verbind. Daarna het nog twee romans van Berta Smit gevolg: Een plus een en Die man met die kitaar; maar sedert 1971 het daar vir 22 jaar geen literêre werk uit haar pen verskyn nie.

In dié tyd het daar ’n mislukte verhaal in haar laai gelê. Die hoof van Queillerie-Uitgewery het Berta Smit aangemoedig om weer na die verhaal te kyk en sy het daaraan begin werk — aarselend en met rukke en stote. Later het sy en die uitgewer elke week bymekaar gekom om die oes van die week te inspekteer; en uiteindelik, na al die op en die af van die skeppingsproses, het daar iets verskyn wat meer as die moeite werd is: die roman Juffrou Sophia vlug vorentoe.

Juffrou Sophia handel oor ’n ou vrou wat ’n groot operasie ondergaan het en nou in haar woonstel aansterk. Sy is afgetakel en eensaam, met ’n lewe vol skynbare onbenullighede waaruit geen sin te maak is nie. Boonop word sy gekwel deur die politieke onrus en die geweld in die land. En dan begin sy ’n roman te skryf om sin te gee aan haar onopwindende bestaan en om hoop te bring aan ’n verskeurde land.

Soos wat ’n mens kan verwag van ’n verhaal oor iemand wie se lewe grotendeels uit flardes gedagtes bestaan, het die boek ’n losse struktuur: dit is opgebou uit kort stukke, elk van ’n opskrif voorsien. Dikwels suggereer die opskrif ’n gewigtige gebeurtenis, terwyl die betrokke gedeelte handel oor klein gebeurtenisse soos die binnekoms van die bediende Mavis (wat haar bad), ’n gemeentelid wat op besoek kom, ensovoorts. Deur hierdie kontras tussen die titel en die inhoud word die strewe van juffrou Sofia bevestig om waarde aan die klein ervarinkies van haar lewe te gee.

In die loop van die verhaal gebeur die verrassende: die losse brokke word aan mekaar verbind, en alles dra by en loop op tot die klimaks van die slot. Sodoende word die gedagte bevestig wat herhaaldelik geuiter word: dat alle dinge in die lewe ’n geheimsinnige onderlinge verband en ’n betekenis het.

Die Paasfees-motief staan sentraal, en daarmee saam die temas van sterwe en opstanding, van die aflegging van die skuld van die verlede en die begin van ’n nuwe lewe, van versoening en van liefde. Hiervan is al die gebeure in die roman deurtrek: die klein dingetjies wat met juffrou Sophia gebeur, die wonde uit haar kinder- en jeugjare, die probleme in die land, en ook die verhaal wat sy skryf.

Die roman is die verhaal van juffrou Sophia en ook die verhaal van die storie wat sy skryf. Op ’n subtiele manier word allerlei verbande gesuggereer tussen juffrou Sophia en die verhaal wat sy skep. Die geheime kwellinge van haar eie lewe word geprojekteer op die karakters wat sy uitbeeld, en deur oor hulle te skryf, kan sy haar eie kwellinge en skuld indirek konfronteer, en kan die skryf vir haar as terapie dien.

Juffrou Sophia se heelwat jonger buurvrou, Issa, het ’n verhouding met ’n getroude man en het nou plotseling uit haar woonstel verdwyn. Hierdie owerspelige verhouding van Issa het daartoe gelei dat die man se vrou selfmoord pleeg en dat Issa se bediende sonder werk sit. Die bediende trek dan in by juffrou Sophia se bediende Mavis en veroorsaak baie probleme met haar dranksug. En so versprei die ellende wat Issa deur haar sonde veroorsaak. Wat kan Juffrou Sophia nou aan hierdie situasie doen?

Daar vind ’n paar belangrike ontwikkelinge in die verhaal plaas.

Sentraal is die ontwikkeling in die verhouding van juffrou Sophia en haar bediende Mavis. Juffrou Sophia leer om nie neer te kyk op haar bediende nie, en Mavis laat vaar haar koelheid. Aan die einde is hulle as ‘t ware deel van dieselfde span, en gee hulle aandag aan mekaar en aan ander se lyding. Op ’n klein skaal word die oplossing van die land se probleme hier geïllustreer, met die liefde wat die afgronde van die verlede oorbrug.

Net so belangrik, maar minder opvallend, is die ontwikkeling in juffrou Sophia van bedekking tot konfrontasie van die werklikheid. Daar is aanduidings (bv pp 88-89) dat Issa meer as ’n buurvrou van juffrou Sophia is; dat daar, in elk geval van juffrou Sophia se kant, ’n erotiese verhouding met Issa was, en dat juffrou Sophia meer as ’n Christelike besorgdheid oor haar het — sy is in werklikheid jaloers op Issa se verhouding met ’n man.

Daar is ’n tweede verband tussen Issa en juffrou Sophia: Issa is nie net haar verbode beminde nie, maar ook ’n parallelle karakter, deels deur juffrou Sophia se gedagtes en verbeelding geskep, op wie sy haar heimlike probleme projekteer. Juffrou Sophia en Issa het albei deel gehad aan ’n verbode verhouding; albei het skuld om te bely; albei het ’n sombere jeug gehad — Issa verdruk deur twee onmenslike tantes, en juffrou Sophia onderdruk deur haar strenge moeder. Ten slotte word die opvoeders en die jeugomgewing van juffrou Sophia heeltemal vereenselwig met dié van Issa (pp 227, 229). Issa is eintlik maar juffrou Sophia self; en juffrou Sophia se uitreik na Issa is indirek ’n uitreik na haarself.

Aanvanklik het juffrou Sophia in die storie wat sy skryf, die pynlike waarheid van haar verbode liefde probeer verbloem. Sy skep in haar roman ’n karakter Gulda wat op Issa gebaseer is, en wat op ’n vrome wyse tydens Paasfees tot bekering kom, soos wat juffrou Sophia dit graag in die werklikheid sou wou hê. Die bekering staan in skrille kontras tot die verhaal van Issa, wat tydens Paasfees met ’n getroude man weggegaan het.

Gulda se verhaal is meer geïdealiseerd as die verhaal van Issa; maar wesenlik is albei verhale ’n verbloeming van die werklikheid. Ook Issa is, net soos Gulda, ’n projeksie van juffrou Sophia self; niks wat in die roman gebeur, staan los van juffrou Sophia nie. Alles word deur haar waargeneem en deur haar omvorm. Op ’n manier is al die karakters in die boek gestaltes van haar vrese, skuldgevoelens en verlangens.

So ook is Christoff, die broer van Issa, die simbool van wat juffrou Sophia graag wil wees. Hy is die ware Christen, besorg oor sy sondige suster; hy is ook die sterke wat kan los breek uit die knellende opvoeding deur sy tantes. Die woede waarmee hy die tantes konfronteer, is ook die woede van juffrou Sophia oor haar streng ouers; en die bevryding wat hy vind wanneer hy die tantes berispe oor hul liefdeloosheid, is ook die woede wat juffrou Sophia graag tot uiting sou wou bring teenoor haar moeder.

Die konfrontasie tussen Christoff en sy tantes is duidelik nog een van die verbeeldingsvlugte van juffrou Sophia, en wanneer sy klaar van die konfrontasie vertel het, is dit asof sy deur die vertelling verligting gevind het. Die waarheid van haar woede is gekonfronteer en tot uiting gebring, en nou kan sy ’n slot van ware versoening skryf.

Die pynlike woede, gevolg deur versoening en omgee vir ander, is die pad van kruisiging en opstanding wat juffrou Sophia beleef en beskryf. Hierdie tema van woede is nog ’n verband tussen juffrou Sophia se lotgevalle en dié van die land: die woede is ’n noodsaaklike stap in die proses van genesing, en moet deur vergiffenis en harmonie gevolg word.

Die slot, waarin juffrou Sophia hulp verleen aan haar beseerde bediende en waarin juffrou Sophia sorg dat ’n maatskaplike werker na Issa se verlore bediende gaan soek, is duidelik ’n verbeeldingsvlug. ’n Belangrike leidraad hier is die verandering van perspektief in die vorige toneel, waarin juffrou Sophia presies vertel wat tussen ’n man en sy vrou in ’n naburige woonstel plaasvind. Juffrou Sophia se verbeelding is duidelik besig om met haar op loop te sit. In die tonele hierna beskryf sy nie wat is nie, maar wat sou moet wees — dit is die siening van die hoop waarna sy die hele roman deur op soek was, en wat uiteindelik deurbreek.

Juffrou Sophia, radeloos deur verskeie kwellinge, vlug dan ten slotte vorentoe, soos die titel aandui. Sophia beteken “wysheid”, en ten slotte kry juffrou Sophia iets van die wysheid wat sy verlang. Dit is die wysheid van die nar, wat sy eie dwaasheid besef en sy hoop nie meer op homself vestig nie; wat homself laat kruisig het en gereed is vir die nuwe lewe van die opstanding. Juffrou Sophia het dit nog nie bereik nie; maar ná haar konfrontasie met die verlede is sy ten minste in staat om ’n visioen te kry van wat moet wees: sy vlug nog steeds van die ontstellende werklikheid, maar sy vlug ten minste vorentoe — sy maak vordering, sy is nie meer met die verlede behep nie, en kan die weg berei vir ’n nuwe toekoms.

Die slotparagraaf, met die aanhaling uit Jesaja, slaan op al die karakters van die boek: die fiktiewe karakters soos wat juffrou Sophia hulle geskep het, en ook die reële karakters uit die Suid-Afrikaanse samelewing na wie verwys word — almal word betrek by die trooswoorde van die profeet, wat spreek van vergiffenis en versoening.

Ons moes lank wag vir hierdie roman van Berta Smit, maar dit was die wag werd. Dis ’n boek waarin vele van die vondste van die postmodernisme opgeneem is, met ’n verwikkelde spel van historiese en verbeelde werklikheid, van fiksie en metafiksie; waarin losse flardes ervaring geleidelik tot geheel verbind word; waarin die steeds relevante tema van versoening uitgediep word, met ’n troosryke slot wat nie in oppervlakkigheid verval nie.

Wat ’n verstommende terugkeer, wat ’n indrukwekkende swanesang van juffrou Berta!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.