LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Joan Hambidge: Die Judaskus


Chris van der Merwe

Joan Hambidge, bekend as digter, kritikus en akademikus, het vir ’n groot verrassing in die literêre wêreld gesorg met die publikasie van haar eerste ernstige roman, Die Judaskus, in 1998. Hierdie postmodernistiese teks is een van die belangwekkendste Afrikaanse letterkundige werke van die dekade, wat steeds gelees sal word wanneer die dekade (en miskien die postmodernistiese fase?) verby is.

Die roman sluit aan by berigte wat voor publikasie in die pers verskyn het oor ’n geval van beweerde seksuele teistering. Lesers wat die koerantberigte indertyd gevolg het, sal allerlei parallelle (én verskille) kan naspeur tussen die gerapporteerde gebeure en die voorstelling van sake in Die Judaskus. Die roman word geskryf, volgens die teks, om tot helderheid en singewing te kom, drie jaar na ’n intens pynlike voorval waarin ’n student ’n dosent van seksuele teistering beskuldig het.

Sentraal in die roman staan die komplekse verhouding tussen teks en “werklikheid”, tussen geskiedenis en fiksie. Aanduidings van die kompleksiteit van hierdie verhouding kry die leser reeds in die “waarskuwingstekens” aan die begin van die boek. Daar word begin met ’n brief van die skrywer aan die uitgewer, skynbaar die oorname van ’n “werklike” teks — maar die brief is gerig aan “Pegasus-uitgewers”, nie aan Kagiso wat die boek uitgegee het nie, en die brief word onderteken, nie deur JH nie, maar deur HL (miskien ’n verband met Heil die Leser?) Ook heet die manuskrip Die Affaire en nie Die Judaskus nie; en die briefskrywer waarsku eksplisiet dat die gebeurtenisse gefiksionaliseer is.

Die hieropvolgende antwoord van die uitgewer krap sake egter deurmekaar, want die uitgewersbrief word onderteken deur CS, en die boek is ook opgedra aan CS — die grense tussen teks en geskiedenis vervloei. Later blyk dit ook dat Die Affaire moontlik die eerste titel van Die Judaskus was. Dus, reg van die begin af word die leser gewaarsku om nie maklike grense te trek tussen “fiksie” en “werklikheid” nie. Die Judaskus word feitlik ’n teksboek-illustrasie van “die postmodernistiese problematisering van teksgrense” (p 3), van die twyfel aan die vermoë van die taal om “die werklikheid” te representeer (pp 58-59).

Binne die raamwerk van die postmodernisme val ook die sterk intertekstuele struktuur op — in aansluiting by Derrida se beskouing van die uitstel van betekenis by teks-interpretasie, ’n beweging van teks tot teks sonder om by die uiteindelike ruspunt van ’n sluitende interpretasie van “werklikheid” en “teks” uit te kom. Dikwels het ons Hambidge die teoretikus in aksie, die skrywer van boeke oor psigoanalise en postmodernisme, wat die teorieë van Barthes, Freud, Lacan en Eco met die praktyk van lewe en skryfkuns verbind. Soms word daar na aktuele nuus verwys, byvoorbeeld oor Hugh Grant — maar steeds word die verwysings bepaal nie net deur “wat gebeur het” nie, maar ook deur die tekstuele struktuur van die nuusberig. Prominent is Van Wyk Louw se Tristia aanwesig, volgens die boek ’n teks wat die dosent met die student in die klas behandel het (weer eens ’n komplekse verbondenheid van teks en ervaring), en films wat die twee saam gesien het. Herhaaldelik is daar aanhalings van die formele aanklag van die student teen die dosent, wat dan die basis vorm vir die dosent se verweer. Literêre teorie, literêre teks, film, nuusberig, aanklag en verweer, liefdesgeskiedenis — dit alles word verbind tot ’n hegte en komplekse netwerk van tekstuele ervaring.

Die titel roep die verhaal (teks!) van die verraad van Jesus deur Judas op — die suggestie (aanvanklik) is dat die skrywer-dosent, soos Jesus, deur ’n Judas verraai is, ’n suggestie wat versterk word deur die verwysing na die verhoorkomitee as die “Sanhedrin” (p 38). Die implikasie van die verwysing is dat die skrywer onskuldig veroordeel is; maar mettertyd word die tema van skuld en verraad op ’n veel meer verwikkelde wyse ontgin. Skuld en onskuld loop deurmekaar; “ons posisies word voortdurend omgeruil van verraaier na verraai wees” (p 90), skryf die dosent. Een van die geopperde moontlikhede is dat die skrywer se soeke na kreatiewe prikkels ’n heimlike oorsaak van die verhouding was, sodat die soeke na ’n teks die verhouding bepaal het wat tot teks geword het. Dit lei tot die volgende vraag, na die mate waarin die kreatiewe mens deur ’n noodlotsmag voortgedryf word (pp 133-4).

Die romanteks bevat vier dele. Die eerste deel, wat begin met die korrespondensie met die uitgewer, en wat die sentrale aspekte van die liefdesgeskiedenis weergee, ontwikkel oor dertien dele heen — die “dertien” hou verband met die ongelukkige liefdesgeskiedenis. Die tweede deel, wat sterker verhalend is en waar ’n duidelik fiktiewe verteller optree, beweeg terug na die kinderdae en openbaar skrynende parallelle tussen kinder- en grootmenstyd. Die derde deel handel veral oor ’n reis na afloop van die gebeure in ’n poging om perspektief daarop te kry. Dit word in die vorm van ’n reisjoernaal vertel en hier is skynbaar min fiksionalisering — “die werklikheid” breek deur, soos dit voorkom. Die vierde deel handel oor die skepping van ’n roman oor die gebeure, ’n soort logiese einde. Die einde wys heen na die begin (die korrespondensie met die uitgewer), waardeur die hele geskiedenis in ’n sirkelgang binne die teks gevang bly. Ten slotte word ’n aantal los inskrywings gegee wat nêrens goed in die struktuur ingevoeg kon word nie, soos wat aspekte van die pynlike ervaring nooit heeltemal in ’n sinvolle patroon ingepas kan word nie.

Grondliggende lewenspatrone word by die skrywer-dosent onthul: die steeds vergeefse verlange na die absolute geliefde (p 98), maar ook die ongemaklikheid met die oomblikke van vervuldheid; die selfdestruktiwiteit (die “hell-bent on destruction”), die verslaafdheid aan afskeid en aan die pyn van verlies (p 132). Die spesifieke geval word verbreed tot algemene temas soos die verganklikheid van die mens en van menslike verhoudinge, die eensaamheid van die “outsider”, die pyn van verlies, loutering deur pyn, en genesing deur die kreatiewe skryfproses.

Soos te verwagte is, word die verhaal gekenmerk deur elemente van die biografie en outobiografie, deur briewe, dagboek-uittreksels en joernale — genres wat almal op ’n noue verband met “die werklikheid” dui. Daar is nie ’n sterk lineêre verloop, met ’n begin, middel en einde, en ’n chronologiese ontwikkeling nie; dit verloop eerder in sirkels, wat telkens na dieselfde sake terugkeer, in nuwe variasies, met ’n gedrewenheid om die verlede te verwerk — byna soos ’n afdaal in Dante se konsentriese sirkels van die hel.

Ondanks die skynbaar “planlose” opbou vorm die geheel ’n fyn beplande struktuur. Maar die roman is meer as ’n vernuftige konstruksie; deur al die tekstuele gegewens heen dring die intense pyn wat agter die woorde lê, met groot krag tot die leser deur. Die Judaskus is ’n roman wat ’n mens lank bybly.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.