Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Vonk jou ook!

Koos A Kombuis


Party van julle sal dalk onthou dat daar so tien, vyftien jaar gelede, toe intellektuele Afrikaners nog die tyd en die luukse gehad het om hulle oor sulke dinge te bekommer, hierdie gedagte dikwels geopper is: “Hoe kry ons die volk so ver om na ons teaters toe te kom?”

’n Krisis het in daardie tyd bestaan in Afrikaanse teater (daar bestaan altyd ’n krisis in Afrikaanse teater). “Hoe kan ons die gepeupel bereik?” Overgeset synde (want die woord gepeupel is nie regtig gebruik nie): “Hoe kan ons die dom etters opvoed om na ons plays te kom kyk sodat die blerrie actors en streekrade ook ’n bietjie geld kan maak?”

Wel, hier’s die goeie nuus: by die onlangse Clanwilliam-fees het die volk in hulle honderde opgedaag om na goeie toneelstukke te kyk.

En hier’s die slegte nuus: dieselfde mense — presies dieselfde mense — het ook Vrydagaand en Saterdagmiddag die biertent stampvol gesit om te kyk hoe ek en Zirk Bergh ons stuitige partytjie-songs speel en hoe Ferdie sy wakka-wakka-grappies vertel.

Daar is ’n lessie hieruit te leer! Hier is dit: intellektuele mense en kunstenaars (van watter genre ook al) wat so graag hulle passie met die volk wil deel, moet oppas waarvoor hulle vra, want hulle kan dit dalk net kry.

Radiostasies sal die een of ander tyd moet swig voor publieke druk om meer Afrikaanse musiek te speel. Dit het reeds begin gebeur. Maar wanneer dit gebeur, sal hulle nie “Victoriabaai” van Lucas Maree speel nie, hulle sal “Anna-Marie my Skat “ van Gerrie Pretorius speel. Wanneer ons “Tussen Treine” wil hê, sal ons “Da-Idi” kry. En ons sal nie kan kla nie; dit is mos blerrie Afrikaans, is dit nie?!

Selfs al ontdek die gepeupel die kunste, soos wat nou begin gebeur, is die situasie vir sogenaamde slim Afrikaners net so traumaties soos voorheen. So ontstellend vind hulle hierdie proses dat, so gou soos wat die volk hulle hande op die kultuurgoedere lê, hierdie mense dit weer wil gryp en daarmee terughardloop na die ivoortoring waar hulle soveel jaar al daarmee wegkruip.

Alreeds is daar oproepe dat kunstefeeste minder moet cater vir die sogenaamde “kuiergatte” (Gabriël Bothma se woord) — daar is klagtes dat die KKNK begin ontaard in ’n “kerkbasaar”. Noudat die gepeupel uiteindelik in hulle duisende stroom na plekke waar ons ware kunstenaars optree, voel die ware kunstenaars nog steeds verneuk. En tot ’n mate kan mens dit seker verstaan, want die gepeupel, ondiskriminerend soos hulle is, sal eerder gratis in ’n tent sit en kyk hoe pleeg Kurt Darren mimiek op ’n backtrack van “Meisie Meisie” as om sewentig rand uit hulle agtersak uit te haal om na die goue stem van Anna Davel op ’n goeie klanksisteem te gaan luister.

Aan die een kant is dit dalk rede tot kommer. Maar aan die ander kant moet ons dalk so daaraan dink: vroeër het daar geen kunstefeeste bestaan nie. Die volk het nooit naby die dampkring van die kunste beweeg nie. Nou ewe skielik is almal in een week saam op dieselfde dorp: in Oudtshoorn, Windhoek, Potchefstroom, Clanwilliam, en talle ander plekke is daar feeste waar keuses uitgeoefen word, opsies bestaan, inligting ingeneem word (al is dit net deur programme en plakkate), waar groepe soos Die Grafsteensangers op straat verby Blackie Swart stap, situasies waar Pieter Fourie by ’n restauranttafel langs Zebulon Dread beland, en dies meer. Die moontlikhede vir straatteater is eindeloos. Ons het dit reeds gesien met die kroeg-onderonsies tussen Anton Goosen en Patricia Lewis.

Twee groepe Afrikaners het nog altyd bestaan, bestaan nou nog. Die groepering is net nie meer so eenvoudig soos “verlig” en “verkramp” nie. Ek dink dit gaan deesdae om “inklusief” en “eksklusief”. Dit klink soos nuwe woorde, maar eintlik is eksklusief net ’n ghrênd woord vir snobisme. Inklusief gun almal ’n plekkie in die son, maar eksklusief wil sê: “ONS is die Establishment/Anti-Establishment, net ONS is cool.”

Wag ’n bietjie, hoor ek iemand sê. Was dit nie jy en jou pelle wat destyds “Ek Verpes Bles”-T-shirts laat druk het nie? Dit was uiters on-inklusiewe gedrag.

Jaaaa, okei, maar Suid-Afrika was in daai tyd in ’n Noodtoestand, onthou? Daar was ’n Mafia-monopolie op radio- en TV-stasies, onthou? Bles het PW Botha openlik gesteun; hy was ’n simbool. Ons T-shirts was juis protes teen ’n sisteem van diep gevestigde eksklusiwiteit. Wel, in die begin, ten minste. (Eers later sou “alternatief” self ’n bemarkbare simbool word, maar dis ’n heel ander storie.)

Anyway, my gevoel deesdae is dat ons moet vergeet van ons elitisme, dat ons alle kuns moet toelaat op die openbare arena, dat ons, soos in daai Bybelse gelykenis, die koring saam met die kaf moet laat groei en geen onderskeid moet tref nie. Ons moet ophou om te panic omdat ’n Breytenbach-toneelstuk opgevoer word binne spoegafstand van ’n tombola. Die een word nie deur die ander gedevalueer of bedreig nie.

Nicol Stassen, ’n bekende uitgewer van Pretoria, het onlangs gewaarsku teen ’n “toenemende vervlakking” van Afrikaner-denke. Toegegee, so ’n vervlakking bestaan wel, maar dis niks nuuts nie. NP van Wyk Louw het oor dieselfde siekte geskryf. Daar is niks wat ons daaraan kan doen nie! Daar was nog nooit ’n kuur vir onnoselheid nie. Die armes van gees sal altyd met ons wees, en mens moet geduld met hulle hê, want party van hulle — indien nie die meeste nie — is familie van ons.

Dis natuurlik vir my maklik om te praat, want ek is self ’n bietjie vlak — ek is, after all, die outeur van “AWB-Tiete” — en daarom is my toleransie is nogal hoog. Ek hou regtig van “Skarumba”, ek dink dis ’n great song. Selfs Jacques de Koning en Kurt Darren het elkeen minstens een liedjie in hulle repertoire waaroor ek dol is (weliswaar het hulle dit waarskynlik nie self geskryf nie). My toleransie (of noem dit maar gebrek aan diskriminasie) strek ook verder as musiek! Na lang beraadslaging met myself het ek besluit dat ek van nou af die tydskrif Vonk sal support, ten spyte van hulle verskriklike taalgebruik, ten spyte van die feit dat hulle een van my artikels opgefok het en toe beweer het hulle het dit onveranderd geplaas. So sterk voel ek oor die voortbestaan van Vonk dat ek sommer nou al, nog voor die tweede uitgawe verskyn het, ’n brief op hulle website gepubliseer het om te sê “Dankie, ouens, die tweede uitgawe lyk sommer baie beter as die eerste.” (Ek weet ek is veilig, want dit Godsonmoontlik dat die tweede uitgawe meer flaters kan bevat as die eerste.)

Wanneer kuns aan die publiek opgedis word, wanneer ’n roman deur ’n mense gelees word, wanneer die volk by die deure van ’n saal instap om na ’n toneelstuk te kyk, is dit nie ’n eenrigting-proses nie. Minstens twee partye is altyd betrokke by die wonder van kreatiewe ekspressie: die akteur/musikant/skrywer/skilder en die verbruiker/interpreteerder (of herinterpreteerder). Hoe die verbruiker gaan reageer, kan nie deur die eerste party voorspel of beheer word nie. Die enigste kunstenaar in die geskiedenis wat dit nog ooit ten volle kon regkry om sy eie gehoor te beheer, was keiser Nero, wie tydens sy eie sanguitvoerings lede van die gehoor wat uitgestap het of aan die slaap geraak het, summier laat teregstel het. ’n Aanloklike opsie, ja, ek was al by tye lus om dit te doen, maar ongelukkig nie baie demokraties nie!

Dit is nodig dat ons die Bigger Picture moet raaksien hier. Wanneer die publiek, met ander woorde die volk, reageer op ’n stuk kuns, is enige reaksie beter as volslae apatie. Onder Apartheid was daar van die volk se kant af grootskaalse apatie teenoor kuns. Ons skrywers is nie gelees nie, ons teaterstukke is nog swakker bygewoon as vandag, en die populêre musiek op die radio en op TV was, indien moontlik, selfs kakker as deesdae.

Vandag reagéér die volk. Meer nog, hulle begin deelneem. Hulle begin die kunstenaars naboots. Die kuns van die copycats is natuurlik feitlik deur die bank aaklig — wat help dit om dit te ontken? — maar is hierdie situasie dan so danig abnormaal? Ons het immers vryheid van spraak. Ons kan die swak kunstenaars kritiseer in resensies, ons kan weier om hulle produkte te koop of na hulle te luister, ons kan (afhangende van hoe sterk ons daaroor voel) selfs ’n drankie op hulle koppe omkeer, maar die oomblik wanneer sê maar ek, die sogenaamde “ware kunstenaar”, maatreëls begin tref of wette begin voorstaan om hulle monde te probeer snoer, raak ek ’n bietjie soos keiser Nero. Dan is ek die ou wat die hele sirkelgang van kreatiwiteit, die gee en neem van idees, blokkeer en bedonder — hoe goed my bedoelings ook al is.

Is swak kuns dus ’n noodsaaklike euwel? Ja! Geen oop kulturele sisteem ter wêreld is vry van swak kuns nie. Swak kuns is ’n teenwig, ’n vertrekpunt waarteen ons goeie kuns kan begin meet. Swak kuns het ook ’n mark, en omdat daardie mark dikwels groter is as die mark vir goeie kuns, stimuleer dit die ekonomie in en om die kunste. Wanneer ek as musikant myself wil meet aan kreatiewe standaarde, is Gert Vlok Nel, Spinnekop en Zoid my rolmodelle. Wanneer ek streef na groter verkope, probeer beding ek teen die nommer een en twee van die DKNT-Top Tien; in daardie arena is Sies Jou Vark en Namibiese Visvang Tunes Volume Twee my meerderes. Kompeteer ek slegs in die eerste veld, loop ek gevaar om so irrelevant te word soos Breyten Breytenbach. Kompeteer ek slegs in die tweede veld, loop ek gevaar om my siel te verloor. As iemand soos Laurika Rauch ’n balans kan kry tussen die twee, kan ek ook daarna streef.

En natuurlik is die grense tussen goeie kuns en swak kuns nie altyd so duidelik nie. Meningsverskille bestaan, tydsverloop speel ook ’n geweldige rol. In die meeste gevalle kan die werklik great stuff eers ter nabetragting herken word.

Kyk maar na die verrassende nuwe Tretchikoff-kultus wat onverwags in Pretoria se avant-garde-kringe ontstaan het verlede jaar! Besef die kunshistorici dalk oor drie dekades van nou af dat Thys die Bosveldklong dié seminale sanger van die vroeë een en twintigste eeu was (ten spyte van die feit dat hy nog nooit ’n leeu geskiet het en waarskynlik niks geweet het van spoorsny nie)? Dit kan gebeur, ouens, dit kan gebeur, hoewel, om nou heeltemal eerlik te wees, ek maar net te dankbaar is dat ek nie sal leef om so ’n dag te sien nie.

Nou die dag stap ek in die veld naby die Paarl rond toe ek op ’n afstand Afrikaanse musiek hoor. Dit was te ver om die woorde uit te maak, en hoewel die melodie bekend geklink het, kon ek dit nie dadelik plaas nie. Ek kom om ’n draai in die grondpad en voor my sien ek waar die klanke vandaan kom: ’n plaaswerkershuisie, kompleet met hoenders wat skrop, krom wasgoeddrade en ’n rookkolom wat opstyg.

“Watter Afrikaanse musikant het eindelik die cross-over gemaak vanaf ’n wit gehoor na ’n bruine?” wonder ek toe by myself. “Is hierdie ’n toekomsvisie van Suid-Afrika oor twintig jaar? Wie se liedjie het eindelik die reënboognasie moontlik gemaak?”

Eers toe ek nader stap, herken ek die song: “Liewe Lulu”.

Ons durf die volk nie onteien nie, want ons is die volk.

I rest my case.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.