Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Uithaal en Wys, Vroue van Suid-Afrika!

Koos Kombuis

Dit was nou een van die mees sensible dinge wat Thabo Mbeki ooit kwytgeraak het. In ‘n toespraak verlede week kondig hy aan: “Die volgende president van Suid-Afrika moet ‘n vrou wees.”

En, net daar, troef hy al sy teenstanders. Hy troef die hele Zuma-faksie. Want as julle mooi oplet, sal julle sien: Jacob Zuma is nie ‘n vrou nie.

Die downside van Thabo se speech is natuurlik dit: hy het waarskynlik die een of ander boring vrou in gedagte soos dr Manto, minister van Knoffelsake. Nooit, nooit sal die ANC toelaat dat Patricia de Lille die leisels oorvat nie.

Ek voel egter só: Thabo raak deesdae so selde iets werklik inspirerends kwyt dat ons hom in hierdie saak moet ondersteun. ‘n Vrou as president van Suid-Afrika? Dit is inderdaad ‘n lekker idee! Het Nostradamus nie hoeka iewers so iets voorspel nie? Ek kan aan sommer ‘n hele boel vroue dink wat met groot sukses in Thabo se job sal kan instap.

Dit hang natuurlik af van op watter vroulike eienskappe ons die klem wil laat val. Soek mens sterk leierskap – soek jy byvoorbeeld na iemand wat nie bang sal wees om Robert Mugabe op te fok of die misdaad-situasie met ‘n ysterhand vas te vat nie – hoef jy nie verder te kyk as Joan Hambidge nie. Glo my, nie eens George W Bush sal dit waag om met so ‘n vrou te sukkel as sy eers in die Uniegebou is nie.

Maar is brute krag genoeg? Moet mens nie ook probeer om sterkheid te kombineer met, sê, ervaring nie? Ms Hambidge is eintlik net ‘n digteres (‘n superdigteres, weliswaar, maar ‘n digteres). Dalk moet ons ‘n sterk vrou uit die onakademiese mediawêreld kies, iemand met ‘n wye algemene kennis en wat gewoond is aan die aktuele kalklig. In daardie geval is Huisgenoot se redaktrise, Esmaré Weideman, dalk die voor die hand liggende keuse. Hierdie vrou is ‘n leeutemmer, glo my.

Of, as sy haar nie beskikbaar wil stel nie – daar is dalk net te veel perks by haar Huisgenoot-job (soos persoonlike ontmoetings met Ryk Neethling en Brad Pitt) – is daar natuurlik die veteraan-tydskrifredaktrise Jane Raphaely. Dis nou as sy nog lewe. Ek het lanklaas iets van haar gehoor.

Nou begin die idees vir kandidate vinniger kom. Mens kan “sterk” en “ingelig” ook kombineer met “populêr”. As daar nou een vrou is wat Jacob Zuma kan ore aansit in die populistiese stakes, is dit sonder twyfel Winnie Mandela. This woman is hit hot, man! En sy is só gevaarlik dat twéé voormalige presidente (beide Thabo en Madiba) weier om haar ‘n soentjie op die wang te gee. Dit wil gedoen wees! Die feit dat sy ‘n kriminele rekord het, hoef geensins in haar pad te staan nie; omtrent almal in ons huidige regering is anyway kriminele.

“Nee,” hoor ek iemand anders sê. “Wat ons nodig het, is ‘n Groot Leier – letterlik groot. Watter politici is dit wat die meeste skade aanrig in die wêreld? Die ouens met kort-mannetjie-sindroom. Soos Thabo. Soos Napoleon.” Goed dan, oukei, oukei, ek gee toe. Enige verskoning om Petronella Baard ook op die lysie te kry. (Tensy Jake White haar wil nader wink vir die lynstane met die volgende toetsreeks.)

Natuurlik sal daar in ‘n meningspeiling soos hierdie een onvermydelik ‘n drukgroep wees wat agiteer vir ‘n diep godsdienstige leier, iemand met hoë morele standaarde, ‘n kennelik wedergebore persoon, ín die wêreld maar nie ván die wêreld nie. Maryna Blomerus klink vir my na die tipe vrou wat hierdie mense se aspirasies goed behoort te verteenwoordig. Sy het sjarme ook, hoor, ten spyte van haar vormlose haarstyl.

Gepraat van sjarme: sommige ouens voel natuurlik dat sjarme genoeg is. Wie wil nou ‘n edele, morele, slim president hê as jy een kan kry wat, soos Mandela van ouds, die hele planeet op hul knieë kan dwing? Hoef ons verder te kyk as Ruda Landman? Ek kan aan geen ou tannie dink wat groter sex appeal het as sy nie. Net jammer sy lyk soms so kwaai, maar nouja, party van ons het natuurlik ons Dominatrix-fantasies, nè.

Aan die ander kant, wie sê sy moet noodwendig Suid-Afrikaans wees? Kan ons nie vir Oprah invoer nie? Sy sê mos al lankal sy’s gatvol vir talk shows. Of wat van Hilary Clinton? Sy’s ook nogal ‘n looker, hoor, en as sy een van haar power dress suits aan het, kan sy vir Ruda onder die tafel in Domineer.

Mens kan, om alle basisse te dek, ’scuse the pun, ook gaan vir die teenoorgestelde van sjarme, en iemand kies wat so min sjarme het dat almal dink: hel, sy moet iets anders hê (maar wat?). Dan is Tannie Pandoor die obvious keuse. Glo my, sy hét daardie “iets anders”. Daar is iets misterieus aan haar, iets byna moederlik. Elke keer as ek Tannie Pandoor op die TV sien, is ek lus om vir haar ‘n drukkie te gee en vir haar te fluister: “Ek weet sommer my kinders is veilig in die skool vir so lank jy minister van onderwys is.” Sy boesem vertroue in, met die klem op “boesem”.

Ek moet darem ook sê, tot nou toe het ek my eie constituency, die kunstenaars en skrywers en musikante van Suid-Afrika, heeltemal vergeet. Natuurlik sal die mense van my kerk iemand wil hê wat hulle belange op die hart kan dra. Iemand soos Hettie Scholtz. Of, vir dié wat nie van letterkunde hou nie, dalk Dowwe Dolla. Of selfs Yvonne Chaka-Chaka. (Al drie hierdie mense is formidabele vroue, hoor – ek ken hulle persoonlik en hulle is absoluut geskik vir die pos). En moenie vir Nataniël weggooi nie! Nie net oulik en slim en kunstig nie, maar het al bewys dat dit moontlik is om berg te klim in ‘n rok.

Ten slotte moet ek erken dat ek slegs een groot mental block het: ek is bang, werklik bang, dat Edith Venter die job kry. Ek het ‘n totale mental block teen Edith Venter. Dis een van my grootste vrese om Edith Venter een nag in ‘n donker stegie teë te kom. Ek kan aan niks erger dink nie. Moet asseblief nie vir my vra om te verduidelik nie, dit het dalk te doen met iets wat met my gebeur het in my vroeë kinderjare.

Nee wat, aan die einde van die dag (wat ‘n aaklige idioom, maar desnieteenstaande) is daar dalk net een Vrou wat Al die Goeie Eienskappe wat ek tot dusver genoem het, in haar verenig. Come to think of it, sy is dalk die enigste Logiese Keuse. Ons Laaste Uitweg. Die Een Reusagtige Madame wat tegelyk Groot, Edel, Slim, Sjarmant, Populêr, Gewoond aan die Kalklig, Internasionaal Aanvaarbaar en Diep Moreel is. En by the way, lekker kan spring ook. Dit het sy so pas vir die soveelste keer bewys.

Hulle noem haar “Vrou” en “Moeder”.

HESTRIE.

I rest my kys.

HESTRIE FOR PRESIDENT … OR ELS!!!!!

www.kooskombuis.co.za


LitNet: 16 Maart 2006

Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.