Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Klagskrif van die laaste warmblanke

Nog 'n Ope Brief aan Thabo Mbeki deur Koos Kombuis

(Klik hier om die Engelse weergawe te lees: A white liberal's last stand)

Beste president Thabo Mbeki

Ek het nou al twee ope briewe aan jou geskryf in my lewe en nog nie een antwoord van jou gekry nie. Dit verbaas my, want ons het so baie gemeen. Soos ek, is jy 'n skrywer. Soos ek, is jy lief daarvoor om jouself in woorde uit te druk - so lief, inderdaad, dat jy amper niks in die praktyk kan doen nie. Ek sukkel om 'n gloeilamp om te ruil of 'n gat te boor; jy sukkel om 'n land te regeer. Ai, die alledaagse irritasies van die driedimensionele werklikheid tog.

Dalk moet ek eers net verduidelik waarom ek elke keer ope briewe aan jou skryf. Jy is, soos almal weet, nie iemand wat baie hou van openbare kritiek nie. Mens moet liefs deur polities korrekte kanale gaan, sê jy altyd. Enige vorm van openbare kritiek is onlojaal aan die massas. Hieroor vra ek wel om verskoning. Maar my probleem, president Thabo Mbeki, is dat ek nie weet waar jy woon nie. Ek het nie 'n adres om 'n private, geslote briefie heen te stuur nie. Ek weet dis iewers in die buiteland, maar briewe buiteland toe is baie duur, en selfs al het ek 'n adres, wil ek nie graag geld mors op seëls wat ek eerder vir die tsunami-rampfonds kon bydra of skenk vir die fonds wat jy waarskynlik binnekort gaan stig om die droogtegeteisterde boere te help nie. (O, by the way, het jy al jou nuwe aeroplane gekry?)

Ek kan natuurlik epos stuur, maar ek weet nie of jy 'n laptop by jou op die aeroplane het nie, en of epos werklik so privaat is, weet ek ook nie, want as ek reg onthou, het jy jou loopbaan as President begin deur voor te lees uit iemand se private epos. En dit was nie eers aan jou gerig nie. So toe besluit ek om liewer my nek uit te steek in die bladsye van die geskrewe media. Want nou dat die SAUK besig is om sy gat te sien is die koerante en die internet dalk al wat ons nog het.

Anyway, ingeval jy dalk wonder: nee, ek is nie anti-ANC nie. Om die waarheid te sê, ek dink die ANC het die laaste ruk nogal verbeter ten spyte van al die kwaai briewe wat jy skryf op hulle website (party selfs onder jou eie naam) en ten spyte van al die korrupsie, al die toesmeerdery, al die skandale, al die vermiste fondse en die gekroekery. Ek is mal oor die Hop-behuisingskema wat eindelik van die grond af is en ek is vreeslik bly dat die rand stabiliseer en die ekonomie beter lyk. Ek is, soos alle ander warmblankes (overgeset synde: white liberals), ook nie in beginsel gekant teen regstellende aksie, grondhervormings, en transformasie in die onderwys nie. Om die waarheid te sê, anders as baie ander white liberals, wat bewe van vrees dat hulle dalk hulle jobs en hulle gholfbane kan verloor, wil ek bitter graag hê al die hervormings en transformasie word nou so vinnig as moontlik afgehandel sodat ons eindelik by die punt kan kom dat ons weet waar ons staan en rustig voort kan boer en lees en skryf sonder om te worry oor kwotas en of die persentasie van die ouens wat actually die werk doen, nog wit of al swart is. O, en van kwotas gepraat, ek dink al vyftien Springbokke in ons toetsspan plus die reserwes kan maar swart wees. Dis rêrig okei. Hulle kan maar lede van die radikale vleuel van El Kwaito ook wees, solank hulle net 'n slag teen Engeland kan wen.

Van Engeland gepraat, ek lees nou die dag in 'n hoofartikel in Rapport jy was glad nie eintlik in Suid-Afrika tydens die Struggle nie. Hel, hoe't jy dit reggekry? Ek sou wat wou gegee het om liewer oorsee rond te sit tydens daardie verskriklike jare, maar my ma-hulle wou nie vir my 'n kaartjie koop nie. Volgens 'n boek wat ek gelees het deur 'n ou met die naam Boetman, was jy in Engeland toe jy vir die eerste keer intellektuele Afrikaners soos Willie Esterhuyze ontmoet het. (Interessant genoeg ontken hy deesdae dat hy 'n intellektueel is; maar wat is hy dan? 'n Warmblanke? Not 'n fok!) Blykbaar het julle 'n paar drankies gesit en drink - hopelik nie net tee nie - iewers in 'n townhouse in Bath en toe besef Willie en jy tegelyk, wow, dalk kan ons maar die leisels van die land aan FW de Klerk en die swartmense oorgee. Die res is geskiedenis. Mandela is vrygelaat, en almal was happy. Tog net jammer jy het, net soos FW de Klerk, die Waarheids- en Versoeningskommissie gejippo.

Dit bring my nou eindelik by die eintlike rede hoekom ek hierdie brief skryf. Weet jy, ek kon al jou uitlatings die laaste ruk nog handle, al het dit my partykeer die ritteltits gegee. Ek kon die "Twee Nasies"-speech handle, al was ek teleurgesteld dat dit gekom het op die presiese oomblik toe alle ander Suid-Afrikaners eindelik besef het ons in een reënboognasie. Ek kon dit handle - al het dit my 'n logistiese hoofpyn gegee - toe jy sê AIDS is soos verkoue (want ek het self nog nooit 'n HIV-virus onder 'n mikroskoop gesien nie). Ek kon dit handle toe jy sê jy wil nie vir Mugabe in die openbaar slegsê nie want julle praat stilletjies met mekaar. (Ek praat soms stilletjies met my bankbestuurder ook en die resultate is wonderlik.) Ek kon dit handle toe jy nou die dag sê daar's 'n Koue Oorlog aan die gang in Suid-Afrika tussen swartmense en witmense. Dis nou wel nie die soort ding wat Mandela sou gesê het nie, want dis sleg vir moraal, maar okei, daar steek waarheid in daardie woorde. Rassisme in Suid-Afrika is nog nie dood nie. Enigiemand wat so dink, het nog nie my broer se vrou gehoor as sy krieket kyk en Ntini speel nie. Ja, al hierdie goed kon ek handle, want ek haat rassisme, en ek besef die Nuwe Suid-Afrika is 'n moeilike plek vol wrede realiteite - jy weet dit self, jy was al 'n paar keer hier - maar weet jy, Thabo Mbeki, hierdie ding met biskop Tutu het my, om dit in plein Afrikaans te stel, seriously my moer laat strip.

Jy, of iemand wat jy ken, het onlangs op die ANC-website beweer biskop Tutu is die witmense se ikoon.

Kak!

Dit nogal nadat biskop Tutu vir jou gewaarsku het dat jy besig is om 'n kultuur van napratery in jou party te probeer vestig. Nadat Tutu jou oor die vingers getik het omdat jy te min omgee vir die arm mense. Daar was in biskop Tutu se aanval op jou nie 'n woord oor witmense nie. Hy het dit gehad oor arm mense, oor mense wat bang is om te kritiseer, oor mense wat verstote voel en steeds onwelkom in hul eie land. Witmense het niks met die prys van eiers te doen nie.

As daar iemand in Suid-Afrika is wat juis kleurblind is, wat hoegenaamd nie onderskeid tref tussen wit en swart nie, is dit juis biskop Tutu. Vandag nog is biskop Tutu een van die mees gehate mense onder regsgesinde blankes juis om hierdie rede. Die steun wat hy onder blankes geniet, kom van warmblankes, blankes wat óf as aktiviste deelgeneem het aan die Struggle óf in beginsel ten gunste van versoening en demokrasie is. Soos die briefskrywer op jou website self sê, is die aanval nie 'n aanval op biskop Tutu per se nie, maar op die blankes wat hom ondersteun.

Watter onsin! President, met alle respek, nóg jy nóg enigiemand anders in jou binnekring is waardig om Tutu se skoenveters te knoop. Wat gaan jy volgende sê? Dat Nelson Mandela 'n blanke is? Ek ken net een swartman wat waarlik blank is, en dis Michael Jackson.

Deur warmblankes aan te val, ondermyn jy 'n geweldige bastion van potensiële steun. Deur warmblankes aan te val, ontken jy die bydraes van honderde en duisende mense wat saam met die massas van die ANC betoog en gewerk en gely het vir 'n vry Suid-Afrika. Deur warmblankes aan te val, skilder jy 'n prentjie van jou ideale Afrika-Renaissance as 'n donker gebou sonder vensters, 'n eksklusiewe swart klub, 'n filosofiese denkrigting wat slegs kan lei na etniese suiwering en toenemende polarisasie. Deur warmblankes aan te val, maak jy vyande van presies dieselfde mense van wie die ou NP vyande gemaak het, en om soortgelyke redes.

Natuurlik is nie alle blanke liberals opreg nie, natuurlik is daar van hulle wat naïef is, wat maak of hulle lief is vir "kaffers", en wat 'n vereenvoudigde paint-by-numbers-idee het van hoe die reënboognasie veronderstel is om te werk. Maar deur hierdie hele diverse groep mense met een sweeping statement te wil wegdoen, doen jy ook weg met die filosofiese basis van die liberalisme. Jy verwerp humanisme, glasnost, verdraagsaamheid, en alle ander vorme van realpolitik om jouself permanent te vestig in 'n totalitêre kaartehuis. Kan ons bekostig om in hierdie tye, wanneer voorheen rasionele lande soos Amerika, Frankryk, Nederland en Engeland toenemend Fascisties word, die bietjie oorblywende welwillendheid weg te kalwe? As Suid-Afrika so gepolariseerd word soos daardie lande, hoe gaan ons ooit die blink lig word wat die wêreld deur middel van die Afrika-Renaissance teruglei uit die tonnel op pad na die Derde Wêreldoorlog? Is die Afrika-Renaissance dan nie veronderstel om 'n baken van vrede en voorspoed op 'n donker planeet te wees nie? In kort: Is die Afrika-Renaissance nie veronderstel om die wonderlikste ding te wees sedert die Beatles nie?

Ai, meneer die President, ek dink nie ek gaan weer aan jou skryf nie. Hierdie is waarskynlik my laaste ope brief. Al antwoord jy my nie, het jy een van twee opsies: jy kan die wonderlike staatshoof en internasionale held word wat jy reeds dink jy is, of jy kan aftree en voltyds skryf. Soos ek. Of soos Jeffrey Archer.

As jy eersgenoemde opsie uitoefen, sal ek moerse bly wees. My nageslag van klein warmblanketjies sal ook moerse bly wees. Daar sal weer hoop wees vir hierdie land, hierdie kontinent, hierdie wêreld.

As jy die tweede opsie uitoefen, sal daar dalk nog steeds hoop wees vir hierdie land, hierdie kontinent, hierdie wêreld, maar daardie hoop sal nie van jou kom nie. Nuwe leiers sal opstaan in jou plek, mense van visie en entoesiasme. Wie weet! Dit kan dalk selfs Cosatu wees. En jy sal op die vullishoop van die geskiedenis beland saam met jou tweedegenerasie-diktator-vrinne. Jy sal waarskynlik teruggaan Engeland toe en shopping doen as jy nog geld oor het.

Maar om terug te gaan Engeland toe is miskien glad nie so 'n slegte idee nie, hoor! Engeland is 'n pragtige plek. Mens kan duiwe voer op Trafalgar Square naby die Suid-Afrika-Huis. (Onthou jy Suid-Afrika? Jy was al daar …) Jy kan artikels skryf vir Private Eye! Ja, Engeland is 'n great plek vir afgetrede poltici met fokkol om te doen. Maggie Thatcher is daar, en ek dink Ian Smith (of sy stoflike oorskot) is daar, en een van die dae is Tony Blair ook afgetree, om nie van Tony Leon te praat nie, want hy sal tien teen een soontoe gaan sodra Patricia de Lille hom vervang het as amptelike leier van die opposisie. Ag, hoe lekker!

President, jy het hierdie een kans oor om te begin sense praat of nie. Die geskiedenis sal jou nie nog 'n gap gee nie.

Beste wense

Koos Kombuis



LitNet: 26 Januarie 2005


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.