Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Laat die sterre wag

Koos A Kombuis

Na ’n afwesigheid van omtrent sestien jaar het ek verlede jaar teruggekeer na die teater waar ek destyds my eerste ernstige konserte gegee het.

Die Sterrewag in Bloemfontein.

Ja, daai koepelronde, moskee-vormige geboutjie in die middel van Naval Hill, met dieselfde kronkelpaadjie waar Kerkorrel die aand Dimpels se kar afgeskryf het. Dieselfde teater waar ek die snaar gebreek het en “POES” gesê het. Waar, as gevolg van daardie eerste flater, die rock-en-roll-revolusie in Afrikaans toe eintlik sy eerste hupstootjie gekry het.

Die plek het verlede jaar nog behoort aan Die Vrystaat Ensemble, en hulle het dit opgefix en omgebou en afgestof en verander, maar essensieel is dit dieselfde teater met dieselfde ou plakkate en roemryke foto’s en pikante seating arrangements en outydse spotlights waar ek destyds my melktande as uitvoerende kunstenaar gesny het.

Met die instap, toe ek opdaag vir die sound check, vang die gees van die plek my sommer dadelik vas, soos ’n ystervuis om my hart. The memories come thick and fast. So erg is dit dat ek eers moet afstand kry. Dadelik tree ek terug na buite, en probeer tot verhaal kom in die sonlig. Stap eers ’n draai om die gebou. Kyk na die bokkies wat wei in die verte.

Kitaar in die hand moet ek my eindelik na binne wend. Die spoke trotseer.

Die vleuelklavier staan nog presies op dieselfde plek waar hy gestaan het toe Johannes Kerkorrel — toe nog Ralph Rabie — hom bespeel het.

Die backstage-area is tegelyk beknop en ruim. Hulle het alles behalwe tandestokkies. Gelukkig is daar ’n gerieflike stage prop — ’n hoed vol ystervarkpenne — waarmee ek gou-gou die oorblyfsels van middagete se vleisies verwyder.

Ek neem plaas op ’n baarstoel op die verhoog.

’n Gawe teaterfiguur met die naam Johnny help my met my kabels en klanke.

Voor my, in my verbeelding, sien ek weer die see van gesigte van daardie eerste aande, herleef ek weer die vrees.

Wat, wat op dees aarde, is erger as die stage fright van ’n jong kunstenaar?

In al die jare tussenin het ek dit byna vergeet. Die vrees was altyd daar — mens ontgroei dit nooit ten volle nie — maar vir groot dele van my lewe het ek dit ontken — onderdruk, doodgesmoor met dagga en dwelms, versuip onder ongelooflike hoeveelhede Tassies, was ek skaars bewus van dinge wat om my aangaan.

Wat ’n ironie! Hulle sê dwelmmiddels verskerp ’n mens se sensoriese gewaarwordinge — maar dis glad nie waar nie! Sedert ek nugterder geword het, is dit asof elke senuweepunt, elke dendriet, skielik oopgegaan het, nie net vir my eie emosies nie, maar ook vir indrukke uit my omgewing. Skielik is ek in touch met alles wat ek voel oor hierdie plek, al die herinneringe, die koepel bo my kop, die stoffies op die vloer van die verhoog, die reuk van bekleedsel en ou toneelstukke, die patos wat hom al hier, presies hier, afgespeel het, in konsert na konsert na konsert deur die jare …

Later die aand is ek weer backstage. Hierdie keer wag ek vir die show om te begin. Daar is liggies wat brand, ’n reuse-spieël, en ’n speakertjie in die muur waardeur hulle jou laat weet hoeveel tyd oor is voor jy voor die gehoor moet opstap. “Koos Kombuis van Koos Kombuis, jy het presies vyf minute oor …

Ek gaan piepie gou, kom terug en stem my kitaar nog een laaste maal.

Bittersoet.

Hier is ek, miskien nog nie heeltemal aan die einde van my loopbaan as musikant nie, maar alreeds op die stadium dat ek drasties begin afskaal. Vanjaar het ek minder shows gedoen as verlede jaar. Verlede jaar het ek minder shows gedoen as die jaar voor dit. Ek probeer konsentreer op kwaliteit eerder as kwantiteit.

Party mense moan omdat die kaartjies duurder geraak het. Maar ek het al die klassieke probleme waarmee enige performer van my ouderdom sukkel: my stem gee soms mee. Ek kry rugpyn as ek te lank toer en te ver moet bestuur. Alte dikwels raak ek verveeld met my eie materiaal. Ek dryf myself om nuwe liedjies te skryf, maar dit lyk asof die mense slegs belangstel om die oues te hoor, asof die meeste platemaatskappye net die een kompilasie na die ander van gebruikte goed wil uitgee. Ek moet seker nie kla nie, want kompilasie-CD’s is beter as geen CD’s nie! Aan die begin van mens se loopbaan word mens bedreig deur anonimiteit; later verswelg die blootstelling jou, laat dit jou voel jou kreatiewe vryheid word ingeperk. So gaan dit met generasie na generasie. Elke liddoring, elke pyn, elke frustrasie, elke teleurstelling, elke verraad van die highway is voor my gevoel deur ander soos ek. En baie van hulle het ook in hierdie of soortgelyke backstage-kamertjies gesit soos ek.

Soos ek, was hulle telkens by hierdie punt. Die vyf-minute-voor-die-show-begin-punt. Die punt waar hulle, ten spyte van alles wat in hulle lewens aangaan, alles wat hulle voel en dink en is, binne die volgende duisend tellings voor ’n saal vol mense moet opstap en sê: “Hier is ek, en ek is presies dieselfde as gisteraand en die aand voor dit. Ek is presies wat julle al geleer het om van my te verwag.”

En dan, as hulle op stage stap, verdwyn alles, en al wat oorbly, is die persona wat hulle moet voorstel.

Selfs ek, wat as myself op die verhoog moet verskyn, is ’n persona. Ek is ’n versameling cliché’s in een lyf. Van die bottel Tassies wat ek ongeërg op die baarstoel neersit tot die eerste akkoord wat ek speel — gewoonlik ’n D — is ek nie regtig ek nie; ek is ’n voorstelling van Koos Kombuis. Ek is meer as ek, en ook minder as ek.

Hoe vry ek ook al voel met ’n gehoor, tot watter mate ek ook al hulle vertroue wen, en hulle myne, kan ek nooit op stage gaan en letterlik sê: “Ek is nie vanaand lus vir speel nie.” Ek kan nie vir hulle vertel dat ek eerder sou wou TV kyk in my hotelkamer nie, dat ek ’n omgekrapte maag het of ’n ingegroeide toonnael nie; ek durf nie noem dat my onderbroek in my gat opgetrek het en dat ek ongemaklik sit nie, of dat die sexy bene van die girl in die mini op een van die voorste sitplekke my aandag van die show aftrek nie. Hulle is hier om nie na my te kyk nie, maar na ’n driedimensionele beeld van dit wat hulle beskou as Koos Kombuis.

Na die show kan ek my hoed afhaal, my gesig was, die persona laat vaar. Selfs as ek handtekeninge moet uitdeel in die foyer, is ek min of meer myself. Die taak is verby. Die illusie het sy loop geneem en is uitgedien.

Daar is iets onuithoudbaars aan die laaste vyf minute voor elke vertoning. Maar net so onuithoudbaar is die einde van ’n show; die wete dat hierdie show verby is, vir altyd.

Nog ’n konsert is nou deel van die teatergeskiedenis van Suid-Afrika, om onthou te word deur diegene wat daar was, vaagweg, soos ’n droom van ligte en klank en snarsies gesprekke en woorde, ’n grap hier en daar, die glimmer van ’n kersvlam in die blink hout van ’n kitaar. ’n Ou handtekening op ’n verbleikte CD-cover met ’n datum wat sê: “Gister, lank gelede.”

Na my moet ander kom, natuurlik, baie ander. Die mense sal nie altyd toustaan om my te sien nie. Die sitplekke sal nie altyd uitverkoop nie. Nuwe gesigte en name klop reeds aan die deur, nuwe musiekstyle word gedurigdeur ontdek, nuwe rebelle staan breëbors en kaalbolyf in die middelblaaie van tydskrifte.

Ek slaan die ander dag ’n magazine oop en lees oor Karen Zoid. Later hoor ek haar lyrics, sien ek haar eerste video, ontmoet ek haar persoonlik, en voel ek sommer vir haar part opgewonde. Sy is presies soos ek was toe ek jonger was (net mooier). Dieselfde woede, net ’n ander era. Dieselfde opstand, ’n nuwe taal, nuwe wysies.

Net so met ander nuwe kunstenaars; hemel, daar is skielik so baie van hulle! Diff-Olie, Beeskraal, Ddisselblom, Anika, Christo Strauss, Jana, Spinnekop, Dozi, te veel om op te noem. Local musiek kook nou, veral Afrikaanse musiek. ’n Paar jaar gelede, onthou ek nog, was dit net No Friends of Harry, Juluka en Psycho Reptiles.

So hoort dit. Die een geslag volg die ander op. Die stage fright sal hierdie nuwe kunstenaars ook eis, en as die stage fright later verby is, die vergetelheid.

Soos ’n aflosresies, so is die kuns, so is roem. Ek gee my stokkie aan vir jou, sodat jy ’n rukkie daarmee kan hardloop. En jy moet hardloop so vinnig as wat jy kan. Want ek het gehardloop so vinnig as wat ek kon. Maar nou is ek moeg, nou’s dit jou beurt, en sterkte, ou maat.

Ek weet hoe dit voel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.