Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

As TV-kyk onwettig was  …

Koos A. Kombuis

’n Pleidooi Vir ’n Nuwe Benadering Tot Die Gebruik Of Misbruik Van Cannabis

Ná ’n afwesigheid van ses maande het ek besluit om my hertoetrede tot LitNet te neem.

Verskeie faktore het my destyds genoop om myself te onttrek.

Toe ek laas weg is, onder ’n wolk van apologieë, was ek op ’n stadium dat ek al my sekerhede oor alles verloor het. Ek was tot ’n mate verslaaf aan LitNet (en sou dit dalk nooit besef het as Francois Bloemhof my nie so meesterlik oor die vingers getik het met sy one-liners op Kennisgewingbord nie). Ek het tot twee of drie keer per dag op Sê-Net gaan loer om te kyk of Sarel Sambok iets nice van my geskryf het al dan nie. Maar die debatte het my net al meer en meer konfoes. Tot my hewige onsteltenis het ek al hoe meer waarhede ontdek in argumente van sommige van my grootste teenstanders! In plaas van om te besef dat dit eintlik is hoe meningsverskille behoort te werk, het ek begin worry oor myself. Toe probeer Annesu my nog hoog tackle ook. In plaas van om vir haar ’n geel kaart te gee, het ek liewer gefokkof.

Onlangs het ek weer begin kuier op LitNet. So een keer per week. En ek moet sê, ek mis julle ouens.

(Dis natuurlik nie al rede hoekom ek vir Etienne gevra het of ek kan terugkom nie. Die bietjie geldjies wat ek vir my rubriek betaal word, is moers welkom, veral noudat Virgin Records my local gym oorgevat het en hulle lidmaatskapkostes verdubbel het.)

Ek is vas van plan dat my deelname aan LitNet nie weer sal ontaard in ’n verslawing nie. Ek is seker dat ek dit onder beheer het. Ek sal nie weer toelaat dat LitNet inmeng met my gewoontes om byvoorbeeld na gesonde pornografie op die Internet te kyk nie. Ek sal my inname van Afrikaanse skindernuus tot so ’n mate beperk dat dit nooit weer sal maak dat ek writer’s block kry met my ander skrywery nie.

Ek was verslaaf, maar ek dink ek is nou vry.

So waaroor sal hierdie eerste rubriek handel, noudat ek weer op die lug is?

Ek wil graag juis iets sê oor verslawing. ’n Ander soort verslawing. Ek let op dat party van die briewe van lesers deesdae hieroor handel, en daar is opnuut artikels in Huisgenoot en mense wonder of dagga nou eindelik gewettig gaan word en al sulke dinge. Aangesien ek, voor my verslawing aan LitNet ook aan elke moontlike ander ding verslaaf was — dis algemene kennis — wil ek graag ietsie hieroor sê. Veral oor dagga, die sogenaamde “gateway drug” (met ander woorde, die ding wat jou geleidelik na ander drugs toe lei).

Hier is my nuwe teorie. Ek wil dit nie net rig aan die algemene publiek nie, maar ook aan daggarokers self (komaan, ek weet die meeste van julle lees LitNet!).

Dagga is, anders as sommige ander dwelmmiddels, nie fisies verslawend nie. Met ander woorde, mens kry nie die ritteltits of horries as jy dit los nie. Tog is dit ’n sterk gewoonte wat nogal moeilik is om af te skud. Dit het baie met peer pressure te doen.

Ek wil die veronderstelling maak dat dit dalk so is dat, in die geval van dagga, die peer pressure-faktor gevaarliker is as die dagga self.

Kom ons stel dit anders. Gestel TV-kyk was onwettig. Wat sou mense gedoen het wat baie graag wil TV kyk? Hulle sou presies gedoen het wat daggarokers vandag doen. Hulle sou op straathoeke gestaan het in klein groepies en op ’n shifty manier oor hulle skouers gekyk het. Dan sou hulle een ná die ander almal in ’n sekere woonstel verdwyn het vir ure lank, om laat in die nag weer uit te strompel met oë wat op niks kan fokus nie.

En wie sou hierdie geheime TV-stelle aangehou het? Wie sou die geld ingesamel het by die deur? Kriminele. Ouens wat in hulle vrye tyd dalk smokkel met ander verbode kommoditeite.

Kort voor lank sou dominees en sielkundiges gemaan het: “TV-kyk kan lei na heroïne.”

(Natuurlik. Hulle word deur dieselfde merchant verkoop.)

Ek kan my al die bekentenisse in die populêre lektuur voorstel — byvoorbeeld ’n ou wat bieg: “Dit het begin met net ’n bietjie Baywatch saam met die manne elke naweeksaand. Binnekort wou elke dag Egoli kyk. En toe ek weer sien, is my regterhand vol eelte van die remote control. Ek het begin geld steel net om ’n M-Net decoder te bekostig. Ek het begin belangstel in al hoe meer kanale, soos die Cartoon Network, die Vyf Nasies-rugbytoernooi, en, uiteindelik, Die Casper-Rasper-Show. Vandag is ek ook aan crack verslaaf.”

Dink net aan al die vermorsde lewens, die boetes en vonnisse, die skuldgevoelens, die verwyte, al die gebroke gesinne  …

Beteken dit dat ek nou wil voorgee dat dagga-rook onskuldig is?

Wel, nee. Behalwe dat dit net so ’n mors van tyd is soos die meeste TV, kan dagga ’n mens verskriklik opfok. Dagga is juis gevaarlik omdat mense dit onderskat. Want die negatiewe effekte van dagga-rook wys mos nie dadelik nie. Waar ’n harde dwelmgewoonte aan iets soos kokaïne of heroïne jou binne ’n kwessie van maande merkbaar laat agteruitgaan in jou persoonlike lewe en gesondheid, rook baie mense jare lank gereeld dagga voor dit begin interfere met hulle effektiewe bestaansmeganismes.

Oor die negatiewe effek van dagga self hoef ek seker nie te veel uit te wei nie. Julle ou rokers weet hiervan, al ontken julle dit so heftig!

Laat ek dit so stel: Gestel jy is een van my teikengroep vir wie ek spesifiek hierdie rubriek skryf. As jy is, rook jy al tien jaar of langer dagga. Dit is vir jou ’n feitlik daaglikse ritueel.

Ek kan jou wed dat jy met die volgende probleme opgeskeep sit (hoewel jy dit dalk nog nie as probleme sien nie):

Jy is deel van ’n kliek mense, ’n vriendekring wat mekaar gedurig beskinder en beswadder. Jy het feitlik geen vriende — hoogstens kennisse — wat nie rook nie.

Jou loopbaan het begin stagneer, en die planne wat jy maak, bly gewoonlik net dit: planne.

Jy beweer jy is cosmically connected met die hele universe, maar jy is te lui of te ongeorganiseerd om ’n vliegkaartjie iewers heen te koop. Jou laaste trip Amsterdam toe was in plus-minus 1992 en jy praat nou nog daarvan asof dit gister was. Jy was ook nog nooit in die Krugerwildtuin nie en as jy was, kan jy dit glad nie onthou nie.

Jy het ’n slegte hoesie wat sommige winters oorslaan na ’n onaardse geroggel.

As jy uitgenooi word na ’n sosiale geleentheid, probeer jy eers vooraf uitvind of dit “deur rokers” gereël is of nie. As dit nie is nie, daag jy nie op nie, al het jy belowe om te gaan.

Jy het nog nooit van Boeta Wessels gehoor nie.

Jy het ’n string mislukte verhoudings agter die rug. Die mense wat jou gelos het, kla almal oor jou gebrek aan verantwoordelikheidsin, jou luiheid, en jou selfbeheptheid. Jy dink dit is die ongelooflikste toeval dat almal dieselfde klagte het. Hoekom kan hulle nie net chill nie?

So kan ’n mens voortgaan. Ja, dagga fok ’n mens op, veral as jy dit op ’n daaglikse basis gebruik, en ook veral as jy lid is van ’n geslote vriendekring.

Ek het natuurlik al mense geken wat dagga net by spesiale geleenthede gebruik: ’n sekere bejaarde sosiologie-dosent by Fort Hare en sy vrou; enkele computer analysts in die suburbs; een van my werktuigkundiges. Sulke mense is dun gesaai. Hulle het gewoonlik nie posters van Bob Marley teen hulle mure nie. Hulle besit CD-versamelings wat nie net reggae insluit nie. Hulle het ook ander belangstellings. Vir hulle is dagga soos ’n sopie brandewyn op ’n Sondagaand, of ’n rit met ’n windsurfer in Desember.

En beny hierdie mense tot ’n mate. Omdat ek aan die ander groep behoort het — die groep wat dagga misbruik het eerder as gebruik het — sal ek dalk nooit weer ’n geleentheidsroker word nie. Die swakheid was te sterk in my. As ek dus nou wil sê: “Maak dagga wettig!” is ek soos ’n alkoholis wat protesteer teen die Prohibition. As ek wil hê dat dagga gewettig moet word, is dit nie omdat ek dit self weer wil gebruik nie, want ek sal waarskynlik nie. Ek het dit juis teen die soort situasie wat van my ’n misbruiker daarvan gemaak het. Ek het dit teen die obsessiewe en rebelse rook van Jah se kastige onkruid. Ek het dit teen die hele “us-and-them”-mentaliteit, die beterweterigheid, die eindelose sirkel-argumente en die doodgewone fokken slapgatgeit van deesdae se gewoonterokers.

Maar as ons dagga finaal wettig maak, is die eerste linie ons s’n. Dit is in elk geval so ’n algemene gewoonte dat ons dit nie meer kan keer nie. Wat ons moet probeer keer, is dat daggarook te trendy word. Ons moet die kriminele assosiasies wegneem. Ons moet sonder enige vooroordele of demonisering objektief en krities na hierdie ding kyk.

Is daar voordele? O ja. Die matige gebruik van dagga doen absoluut niks aan ’n mens nie. Ek onthou dat selfs die smaak lekker was. Destyds in Amsterdam het ek die ontdekking gemaak dat die dagga van verskillende lande die geure en gewaarwordinge saamdra van die kultuur waaruit dit kom. Hollandse “skunk” was swaar, ryk en vulgêr soos die Hollandse kultuur. Oosterse Thai was die ene tjieng en tjong, soos klokkies in ’n rietbos. En ons eie Durban Poison? Sterk soos kerrie  … Soos goeie wyne dra elke daggablaar sy herkoms in hom rond. Tog jammer dat die ouens wat net rook om hoog te word, mettertyd nie eers meer hierdie subtiele verskille kan geniet nie!

Beteken dit dat ons moet toelaat dat daar, soos in Amsterdam, op elke hoek en draai in Suid-Afrika ’n sogenaamde coffeeshop moet verrys? Nee, ek hoop nie so nie. Mense sal moet betaal vir sulke lisensies. Ons laat nie meer as een casino per dorp toe nie; sal ons dan toelaat dat die daggakultuur oorvat? Juis nie. Sou ons die dame Mary Jane by ons voordeur innooi, sou sy beskeie moet wees, sou sy haar plek moet ken. Vele gaste sal op haar verlief raak, ja, en soos daar ook vele harte gebreek is deur die Heer Klipdrift, Neef Tassenberg en al die Oude Meesters van die Establishment, sal hierdie vrou altyd haar slagoffers hê.

Maar nooit weer sal dit dan kan gesê word dat dagga vir enigiemand die deur oopgemaak het na ’n erger verslawing nie. (Niemand sê dit huidiglik van drank of dobbel nie!) Persoonlike verantwoordelikheid is immers een van die hoekstene van ons samelewing.

Elke mens het die reg om sy eie sondes te kies. Hoewel my dagga-stadium verby is — ek het verlede week negatief getoets in ’n urine-toets wat Sanlam my laat doen het! — wens ek julle wat wil rook, ’n gesonde, nie-obsessiewe verhouding met die dame Mary Jane toe. Wat my betref: van nou af kies ek koffie, rooiwyn, en — in baie klein dosisse — LitNet.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.