Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Parfuum

Koos A Kombuis


Ek het uiteindelik ’n vrou opgespoor wat nie na parfuum ruik nie. Vandat ek kan onthou, smag ek na presies so ’n vrou. Sy moes klein wees, en nie te maer nie, en effens bysiende, maar sy mag nie na parfuum ruik nie. Knoffel, ja. Motorolie, ja. Uieringe, ja. Maar nimmer, so nimmer as te nooit parfuum nie!

Ek het orals navraag gedoen na so ’n vrou: in die Voortrekkers, by my plaaslike Algemene Handelaar, Spoornet, selfs in die beheerliggame van die KKNK. By al hierdie instansies het ek voorslag-vrouemateriaal raakgeloop; broodbakkende brunette, skisofreniese blondines (voltyds sowel as deeltyds), feministiese rooikoppe, selfs ’n (voormalig) onwettige swartkop of twee. Hier was vroue te kus en te keur: met of sonder voortande, gebruik of ongebruik, kerrie en vanilla, al die geure van die reënboognasie. Ek het soveel as moontlik van hulle vir toetsritte geneem.

Na verskeie seminoodlottige ongelukke moes ek egter aan myself erken dat ek in my doel gefaal het. Nie een van hierdie vroue was my ware lewensmaat nie. Die boude was daar, die binnegoed was daar, die eierstokke was almal in werkbare toestand, dog die hoender se poephol was nog nie vol stuffing nie, die goue vlies was nog sonder sy jason, dit was die jakobregop maar nie noodwendig die ware Jakob nie.

Moedeloos het ek besluit dat liefde dalk nie vir my beskore was nie. Ek was gedoem om deur die stegies en stede van die wêreld te wroeg en te swoeg op soek na ’n parfuumlose vrou. Waar sou ek haar vind? Op die sneeubedekte steppe van Siberië? In Kampsbaai se Wimpy Bar? In KykNet se ateljees? Op Hartenbos se strand? Ek was selfs bereid om my standaarde te verlaag — sy kon maar ’n bietjie na parfuum ruik as sy nie anders kan nie (net nie Charly nie).

’n Reeks rampspoedige verhoudings het weliswaar gevolg. Die grootste enkele probleem wat mens teëkom as jy ’n liefdesverhouding met ’n vrou het wat na parfuum ruik, het ek gevind, is die enorme handtasse wat hulle orals ronddra. Wel, nie altyd so enorm nie, maar voortdurend in die pad en onder ’n mens se voete en vreeslik sigbaar. As ’n parfuumdraende vrou byvoorbeeld agter die stuurwiel van haar kar inklim (hulle het almal hulle eie karre), is die eerste ding wat sy doen om haar handtas op jou skoot neer te plóns waar jy niksvermoedend in die passasiersitplek sit.

Nou, as daar een ding is wat enige regdenkende man haat, is dit om in die passasiersitplek van ’n Citi Golf (dis gewoonlik ’n Citi Golf) te sit met ’n vroumens se handtas op jou skoot. Dis vernederend. Dis swaar. Dit ratel. Iemand kan jou dalk sien. Dis die mees vernederende ding wat ’n vrou aan ’n man kan doen behalwe om vir hom te sê “Jy’s soos ’n broer vir my.” En natuurlik bly dit nie by die handtas net sit en vashou nie. Kort voor lank sal die vrou jou terloops vra, asof dit die maklikste ding ter wêreld is: “Ag, wees ’n skat en soek gou vir my in my handtas na my lip-ice.”

Van die man word nou verwag om nie langer ’n objektiewe dog ongemaklike “bystander” te wees nie — hy moet aktief betrokke raak, hy moet homself bemoei met die inhoud van die handtas. Skrikwekkend! Wat kan erger wees? Daar binne wag, op die niksvermoedende man, ’n bodemlose put van nuwe vrese en halfherkenbare parafernalia uit die skemerwêreld van vrouwees. Lipstiffies, kleingeld, tampons, breinaalde, allerhande pilletjies (meesal vir naarheid), Christelike traktaatjies, dooie skoenlappers, reisigerstjeks, fotoalbums, etlike gekrimpte skedels van eksboyfriends, kiste vol trousseau, gebruikte trourokke, ’n broodmes, leë cutex-botteltjies, die volledige stel Kinders van die Wêreld,-ensiklopedieë, ’n kleuter-klimraam, ’n paar duisend stukkies opgefrommelde tissues, ’n pap selfoon en ’n enkele stowwerige strepsil. Helaas, alles behalwe lip-ice. Wanneer die man dan die vrou van sy mislukte strooptog deur die handtas vertel, volg daar onmiddellik ’n ontploffing. “Jy’s hopeloos!” Sonder om haar te steur aan toeters en skreeuende remme van vreesbevange motoriste, swaai sy doodsveragtend haar kar van die pad af, parkeer op die skouer, ruk behendig die handtas van die man af weg, en produseer, binne ’n paar sekondes en met die minimum gevroetel, die vermiste lip-ice (“dit was in die sysakkie, onnosel!”).

Daar is ook ander grusame gewoontes wat parfuumdraende vroue beoefen wat maak dat voorheen goedaangepaste mans die aakligste komplekse ontwikkel, sodat hulle hulself mettertyd nie meer in die oë kan kyk nie. Die manier wat hierdie vroue het om byvoorbeeld op die onmoontlikste tye sonder enige rede in trane uit te bars. Soos op hul eie verjaarsdag (hoe moes ’n mens nou weet dis hulle verjaarsdag?). By die nuus van die geboorte van veraf vriende of familie se babatjie wat hulle nog nooit gesien het nie. Wanneer een van hulle naels afbreek. Wanneer hulle iets sê soos, “Ek kan nie vanaand met jou uitgaan nie” en jy vra, “Hoekom nie?” en hulle sê, “Ek moet my hare was” en jy antwoord, “Dit vat die gemiddelde man sowat dertig sekondes om sy hare te was” (hulle wil hierdie inligting klaarblyklik glad nie hoor nie). Hierdie trane-uitbarstings is veral algemeen voor en tydens sekere tydperke van spontane bloederige lekkasie een maal per maand (gewoonlik met volmaan).

Mans is natuurlik glad nie so nie! As mans in trane uitgebars het (dis nou as ons meer sensitief was, soos almal blykbaar wil hê), sou ons in trane uitbars as daar ’n goeie rede is. Soos byvoorbeeld as die Cats verloor. Of as ... Of as ... Wel, ek kan nie nou dadelik aan nog iets dink nie, maar dis blerriewel erg genoeg as die Cats verloor. In ieder geval, ons mans is rasionele wesens. Ons het ’n vaste lys prioriteite wat almal respekteer behalwe vroue, veral vroue wat na parfuum ruik. Dit wys jou net. Maar ek dwaal van die punt af.

Wat ek eintlik wou sê is, ek het toe eindelik ’n vrou opgespoor wat nie na parfuum ruik nie. Maar dit het my dekades van aktiewe marknavorsing geneem. Ek was al oor die veertig toe ek haar raakloop! Sy is klein, bysiende, en effens oorgewig. Sy besit wel ’n handtas, en die inhoud daarvan is ook ’n eindelose warboel en misterie, maar dis so ’n klein lapdingetjie wat sy oor haar skouer dra, nie ’n enorme swaar ratelende voorwerp van kunsleer soos wat mens gewoonlik aantref by parfuumdraende vroue nie. Verder het sy wel, dit erken ek, haar oomblikke van irrasionele buierigheid, maar die frekwensie en intensiteit is darem min of meer hanteerbaar. Sy sê ten minste nooit goed soos, “Ek kan nie vanaand uitgaan nie, ek moet my hare was” nie. En sy verdwyn nie vir ure agter die badkamer se toe deur om haarself mooi te maak en kom dan uit en lyk presies dieselfde nie. Sy vra nooit strikvrae soos, “Het jy my nuwe rok opgelet?” nie (sy dra in elk geval nooit rokke nie, net as ons trou of een keer per jaar my familie ontmoet om hulle naels te trek).

Beste van alles, sy kan vleisbraai. En sy ruik na knoffel en tabasco.

Dis ’n godswonder dat ek so ’n vrou gekry het en ek sal haar nooit inruil nie, nie eers vir ’n jonger model nie, want ek het my les geleer. Goeiste.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.