Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

God in ’n glaskas

Koos Kombuis lees Dirk Nagtegaal se boek en kom tot ’n paar gevolgtrekkings oor die Afrikaner se nuwe reis na sekulêre geloofsekerheid.

Verlede week het ek trompop teen ’n glasdeur vasgeloop. Dit was een van die eienaardigste ervarings van my lewe. Die een oomblik loop jy nog vinnig deur jou eie huis. Die volgende oomblik word jy gestuit deur ’n onsigbare grens. Jy stap jouself trompop, en bots met jou voorkop teen ’n muur van suiwer niks.

Dis nie soos ’n motorongeluk, waar jy vir ’n sekonde of langer die gevaar sien aankom en jou liggaam kan kans gee om adrenalien uit te spuit of op gereedsheidsgrondslag te kom nie. Dit gebeur net. Die een oomblik loop jy, die volgende oomblik staan jy stil. Eina!

Om teen ’n glasdeur vas te loop is weliswaar nie so ’n rare gebeurtenis nie. Dit gebeur die heeltyd met mense. Indien nie letterlik nie, dan beslis figuurlik. Die illusies wat ons almal gedurig vir onsself skep, die dinge wat ons ontken of ons valslik verbeel, werk net soos glasdeure.

Die meeste van ons loop gedurig teen ons eie gedagtes vas. En dit kan pynlik wees. Sommer baie pynlik.

Dit was hoekom ek so bly was toe Kannetjie vir my hierdie Kersfees Oopkop deur Dirk Nagtegaal present gee. Oopkop is ’n nuwe publikasie wat verskyn het by ’n relatief nuwe uitgewery, Genugtig.

Ek het al baie selfhelp-boeke gelees in my lewe, veral toe ek jonger was, maar min was so propvol praktiese raad soos hierdie een.

As daar ’n publikasie in Afrikaans is wat mense kan leer om die glasdeure van hul eie foutiewe denkpatrone oop te skuif en die werklikheid te begryp soos dit is, dan is dit hierdie boek. Onthou die titel: Oopkop. Dis ’n dun blou boekie. Jy sal dit een of ander tyd iewers in ’n boekwinkel of in ’n vriend se huis sien rondlê. Koop dit, of steel dit. Dis die moeite werd.

Ek wil nie nou ’n resensie oor Dirk se boek doen nie. Die boek is in elk geval nie 100 persent perfek nie - hier en daar het die skrywer se taalredakteur hom ’n bietjie in die steek gelaat - maar dis nie hier ter sake nie. Die interessante ding oor ’n boek soos Dirk s’n is dat dit een van die beter voorbeelde is van ’n belangrike tendens onder Afrikaanse mense.

Daar is ’n stroming, ’n magtige stroming, van gedagtes in en om sake soos mistisisme, meditasie, alternatiewe sienings van die gebedslewe en selfs alternatiewe godsdienste. Dirk se boek, hoewel dit nie geskryf is met die uitsluitlike doel om ortodokse godsdiens te vervang nie, is een van vele boeke, essays, briewe en gedagtes wat deesdae die spreekwoordelike “cutting edge” vorm van die Afrikaner se soeke na ’n nuwe logos.

Die Afrikaner is op soek na waarheid, en die moderne Afrikaner soek dit buite die tradisionele kerke. Dit is waarskynlik te laat vir die kerke om iets hieromtrent te doen. Die proses is begin en sal voortduur. Soos ’n skoen wat nie meer pas nie, het die kerk te klein geword om die veranderende en toenemend gebroke werklikheid (Willem de Klerk se term) te akkommodeer.

Toe Afrikaners (en ander geskoolde Suid-Afrikaners) in groot getalle die land verlaat het, het almal gepraat van die “brain drain”. Deesdae verlaat soveel mense die tradisionele kerke dat mens selfs kan praat van ’n “soul drain”. Die gevolge van die “soul drain” is gelukkig nie ’n verarming van die ganse ekonomie nie; hoogstens sal ’n paar dominees een van die dae sonder werk sit!

Die nuwe idees neem geweldig baie vorme aan - van huisbyeenkomste onder die vaandel “Nuwe Hervorming” tot selfaangestelde kultusleiers, soos Johann Sôhô Rossouw wat rondval tussen die Groep van 63 en Zen-tempels oorsee - en steek kop uit op plekke waar jy dit glad nie verwag nie. Lina Spies, van alle mense, het haarself onlangs openlik geskaar by die kerk-twyfelaars. Dit sê iets van hoe Afrikanerdom verander het! Uitsprake soos Lina Spies s’n sou twintig of selfs tien jaar gelede nogal opspraak verwek het.

Twintig of selfs tien jaar gelede sou ’n sanger soos Steve Hofmeyr driekwart van sy fans verloor het as gevolg van sy skeptisisme teenoor die kerk. Nie meer nie.

Die soeke na nuwe waarhede is nie meer die prerogatief van ’n klein groepie vrydenkers nie; dit het deurgesypel na die hoofstroom. Ons is - om ’n banale analogie te gebruik - klaar met die era van die Bloomsbury-groep, en leef nou in ’n era waar DH Lawrence en soortgelyke skrywers voorgeskryf word aan universiteite. Overgezet synde: die Tupperware-houer van Calvinisme het sy deksel verloor en niemand weet hoe om dit terug te sit nie.

Lees maar gerus Etienne van Heerden se inleiding tot Die Omstrede God - dit som die situasie nog beter op as wat ek kan. Dit is trouens een van die beste stukke analitiese denke wat ek nog ooit oor die situasie gelees het, en analitiese denke is seker ook nodig naasaan die meer intuïtiewe soort mymerskrywery van Dirk Nagtegaal.

’n Paar gedagtes van my eie sal, glo ek, in orde wees (aangesien ek nog nooit aan die God-debat deelgeneem het nie en aangesien The Secret Diary of God niks verraai omtrent my persoonlike geloof nie).

Hoe ouer ek word, hoe meer kom ek onder die indruk tot watter mate geloof in God, of niegeloof in God, of geloof in verskillende persepsies van God, eintlik heeltemal afhang van die woorde wat jy gebruik om Hom te beskryf. Praat ’n mens van God, beroep jy jouself op ’n abstraksie. “God” is ’n abstraksie tot dieselfde mate dat die begrip “goeie musiek” ’n abstraksie is. Wat vir die een ou goeie musiek is, klink afgryslik vir iemand anders. Die een se Godsbeeld verskil radikaal van die ander s’n.

Dit is waarom sommige diep gelowige mense hul godsdiens op so ’n fascistiese wyse aanhang, en waarom sommige ateïste hul ongeloof met soveel toewyding en verdraagsame respek uitleef.

In kort: feitlik alle oorloë in die wêreld is die resultaat van dialektiese verwarring. Verskillende kulture demoniseer mekaar of klee hulle magshonger/grondhonger/rykdom-beheptheid in met behulp van verwarrende terminologie. Politici was nog altyd die reeksmoordenaars van die Establishment.

Wat werklik op die ou end die deurslag gee, is nie jou definisie van God nie, maar jou verhouding met God soos uitgeleef in jou verhouding met jouself en ander. Soos Jesus tereg sê, ’n boom word aan sy vrugte herken. Arbitrêre gegewens soos die maagdelike geboorte, die datum van die wederkoms, die eet van varkvleis of die heiliging van die Sabbat vervaag tot irrelevanthede. Godsdiens is daar om die mens te dien, nie andersom nie. Enige godsdiens wat lei tot dweepsug, eiegeregtigheid en emosionele isolasie, moet geklassifiseer word nie as godsdiens in die ware sin van die woord nie, maar as ’n soort patologiese afwyking.

’n Statement soos hierdie is, ironies genoeg, nie heeltemal onbybels nie! Jesus self het feitlik Sy hele loopbaan gewy aan die ontmaskering van leraars van sulke vals godsdiens (soos beoefen deur die Fariseërs en Skrifgeleerdes van Sy tyd).

In elk geval - voordat ek self te fanaties begin klink - beteken die feit dat God ondefinieerbaar is, ook dat Hy onkenbaar is? Natuurlik nie. En dit is juis waar Dirk Nagtegaal se boek van onskatbare waarde kan wees vir soekende mense. Dirk gebruik woorde soos siel, gees, gidse (in die spiritualistiese sin) en ander abstrakte terme sonder om enige poging aan te wend om te verduidelik wie of wat dit presies is waarvan hy praat. En tog ontwikkel ’n mens ’n intuïtiewe kennis van hierdie fenomene terwyl jy lees. Die lees van Oopkop het finaal ’n groot raaisel vir my opgeklaar, en dit is die feit dat jy kan werk met sekere begrippe en selfs hierdie begrippe kan aanwend om jou lewe te verbeter sonder dat jy begrippe ten volle hoef te verstaan met die linkerkant van jou brein.

Vroeër was dit altyd vir my ’n bron van konflik dat Jesus sogenaamde “demone” uit mense uitgedryf het terwyl ons vandag aanvaar dat “demone” tog nie bestaan nie. Ons weet vandag byvoorbeeld dat epilepsie ’n gewone siekte is, en dat sielkundige afwykings veroorsaak word deur die mens se vervreemding van homself, met ander woorde die skeiding tussen affek en wil. En tog is die praktiese effek van kranksinnigheid wel die skepping van addisonele “persoonlikhede” of dan ten minste personas.

Hoe hierdie personas en maskers nou ook al gedefinieer word, die gevolge is dieselfde. Die wêreld mag klinies vry wees van “demone” soos ons dit in die ou tyd verstaan het, maar as jy kyk na al die moord en doodslag en wreedheid, lyk dit inderdaad asof die grootste gros mense op aarde duiwelbesete is!

God mag nie ’n absolute adres hê nie, maar dit beteken nie dat hy nêrens woon nie. En dieselfde geld dus vir die Bose.

Om af te sluit: Soos baie ander mense dwarsoor die wêreld is die Afrikaner tans op ’n pelgrimstog op soek na nuwe waarhede. Soos talle ander, het ons begin aanvaar dat God geen adres het nie. In die afwesigheid van ’n eenvoudige roete na die Waarheid, het ons begin om die waarheid in onsself te verken.

Hierdie verkenningstog is ’n goeie en nodige proses, want ’n meer oopkop-benadering tot geestelike goedere sal van ons ook oor die algemeen meer bewuste mense maak: bewus van onsself, bewus van ander, en bewus van ons eie verantwoordelikheid teenoor die medeskepping van ’n leefbare toekoms sonder die beklemmende denkfoute van vanmelee.

In kort, ons sal nie vir altyd teen deure hoef vas te loop in diens van ’n God wat ons afgekamp het in ’n glaskas van ons eie vooropgestelde dogmas nie.

20 Januarie 2004

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.