Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

La Carta de Vinos, Por Favor!

’n reisverhaal deur Koos A Kombuis

Stres, so deel die populêre wetenskap ons mee, is een van die siektes van ons tyd.

Dis nou bo en behalwe die ander siektes van ons tyd, soos AIDS, oorgewig en depressie.

Ek het die afgelope ruk bewus geraak van my eie stresvlakke, en dit was ’n skok. Wat is daar per slot van rekening in my lewe om oor te stres? Ek het nie so baie probleme soos baie ander mense nie. Die werk wat ek doen, sou in elk geval my stokperdjie gewees het as ek werkloos was, met ander woorde ek word betaal vir my werkloosheid — ’n ideale situasie. Ten spyte van die feit dat ek net een motor het, is ons ’n gelukkige gesin. My prostaatklier is ferm en gesond. En mens kan sommer sien dat niemand in my huishouding honger ly nie. So why worry?

Dit het ’n vakansie in Spanje gevat — ja, ek kon wragtig nog dit ook bekostig! — om my te laat besef hoe fucked-up van die stres ek eintlik is.

En wat ’n skok was dit nie! Ek, gestres! Ek, ’n kandidaat vir hartsiektes en menopouse! So nooit as te nimmer! Dit gebeur mos net met ander mense.

Dit was eers toe ek sien hoe lewe mense in Spanje dat ek verstaan het wat ’n streslose bestaan rêrig is.

In Spanje maak winkels eers tienuur die oggend oop. Drie-uur sluit alles weer plotseling vir middagete — ja, middagete — wat tot so vyfuur, sesuur die aand toe duur. Dan eers begin die traffic weer beweeg, maak die besighede weer oop, en bly oop tot omtrent nege-uur. Aandete begin stiptelik tussen tien en elf. Dan word daar sangria gedrink en seekos geëet tot ná middernag. Elke dag in Spanje verloop so, nie net Saterdae nie. Met ander woorde: in Spanje is elke dag soos ’n Saterdag.

En, ten spyte van die feit dat daar dag en nag gesmul word aan prawns en seekatlywe en berge gegeurde rys, ten spyte van al die bekers en bekers sangria en die feit dat hulle nie iets ken soos Pro-Active margarien nie — brood word eenvoudig deur die olyfolie gesmeer — het ek tydens my verblyf van ’n week nie ’n enkele oorgewig Spanjaard gesien nie. Ek het ook nie ’n enkele Spanjaard gesien met ’n aktetas, of ’n snyerspak, of ’n filofax, of ’n laptop computer of ’n selfoon nie. Die dief wat my oorrompel het sommer die heel eerste aand al, wou nie eers die kredietkaarte in my beursie hê nie — hy het dit laggend teruggegooi, en laat spaander met ’n handvol Britse ponde. Geen plastiekkultuur vir hierdie mense nie. Alles is die ene knoffel en kuns.

Het ek gesê kuns? Ja, kuns! Is Spanje nie immers die plek van herkoms van sulke groot geeste soos Picasso, Gaudi en Miró nie (mind you, ek is nie doodseker van Miró nie, maar ek kan sweer ek het sy handtekening op ’n sypaadjie gesien, so ek neem aan hy was Spaans)? Het die wêreldwye Spaanse kultuur nie vir ons al ons Lorcas en Nerudas gegee nie? En hier is die grootste verrassing van alles: vir Spanjaarde is kuns nie iets aparts nie, maar deel van hulle alledaagse lewe.

Laat ek dit probeer verduidelik by wyse van kontras. Die vorige week, toe ons in Londen was — want dit was daar waar ek die geld gaan maak het om ’n week in Spanje te kan beskostig — was die TV-nuus vol van die nuwe werke van Manet of Monet of iemand wat daar ontdek en opgeveil is. Al die nuusdekking het gegaan oor die pryse wat die werk gehaal het. Onderhoude is gevoer met kunskenners en ekonome in three-piece suits. Vergelykende grafieke is getrek. Nie ’n woord is gerep oor Manet (of Monet?) se besondere gebruik van lig, oor sy komposisies, of sy kleure nie. Kuns, in Brittanje, is besigheid.

Daar is ’n ander skreiende jukstaposisie ook tussen die twee lande. Lief soos ek is vir Brittanje — dit is al amper ’n soort tweede tuiste — is dit maklik om te sien hoe die koningin se onderrok soms lelik uithang. Hoewel Londen kastig ’n stad is van hoë tegnologie en super-hoflike diens, vat dit net een staking of een tegniese probleem om die Londense Underground, en gevolglik die hele Londen, in ongekende spitsuur-chaos te dompel. En die Britte, stiptelike mense wat hulle is, raak mos heel omgetjorrel wanneer iets gebeur wat hulle ordelike lewens deurmekaar karring. Jy moet ’n Brit hoor swets as hy nie ’n black cab kan haal nie, of nie sy baked beans op skedule kan eet nie, of as die pub ’n minuut ná elf nog oop is (ja, selfs sulke goed krap hulle om). Golly! Blimey! Heck! Hoewel Engeland ’n toonbeeld van Westerse soberheid is, skuil die anargie net onder die oppervlak.

Nie in Spanje nie. Hier word die anargie aanvaar, selfs bewonder. Mal mense word nie weggesteek in gestigte nie, hulle loop los rond op straat, waar hulle hul skilderye sit en maak, hulle spoeg sit en dribbel, hulle pesetas bedel of steel, of lang gesprekke met hulleself voer in Spaans. Dit is my teorie dat Picasso, as hy in enige ander stad as Barcelona grootgeword het, vandag nog onbekend sou gewees het. Nie net onbekend nie; dood in ’n malhuis. Ook net sy luck dat hy in Parys aangeland het in die tyd van die “ismes”. Toe kon mense aan sy blokkies en kleure en perspektieflose strepe ’n naam gee: “Kubisme”, of “Post-Impressionisme”. En ’n ding wat ’n naam het, het mos ’n prys. Vandag hou selfs die Engelse van Spaanse kuns: hulle het ’n feitlik permanente Dali-uitstalling daar. Hulle ken die woord “Surrealisme”. Maar daar is een verskil: daar is nie toue en toue mense elke dag van die week, sewe Saterdae in ’n ry, soos by die veel kleiner Picasso-uitstalling in Barcelona nie. In Spanje staan local Spanjaarde saam met toeriste bankvas agter Picasso. Die strate en stegies vir blokke om die Picasso-museum is vol Picasso-nabootsers, Picassorige winkeltjies, Picasso-geïnspireerde erdewerk en selfs papier-maché-beelde. Die Spanjaarde leef hulle kuns, soos hulle hulle prawns en geelrys en sangria en baba-oktopussies lewe. Alles is omgekeer in Spanje. Mense sê “alo” pleks van “hallo”. Mense eet brekfis om middernag. Mense het byname in plaas van selfoonnommers of URL’s. Die hele land, selfs ’n besige straat soos die La Rambla, is soos ’n klein dorpie, kompleet met sy vismark, sy village idiots, sy petty criminals, sy prostitute, en sy swetterjoel babbelende filosowe en mal skilderaars.

Sit jy in Spanje en kyk jy in jou hotelkamer na ’n program soos die BBC of CNN, kort ná ’n laat middagete en ’n siësta, lyk dit asof die hele res van die wêreld mal is.

Wall Street? Markskommelings? Oorloë? Hoekom is almal so gestres? Hoekom is almal so ernstig?

Spanje het natuurlik ook sy betogings, sy misdaad, sy ongelukkige voorvalle. ’n Paar dekades gelede was daar ’n verskriklike burgerloorlog. My vrou het vreeslike voedselvergiftiging gekry (omdat sy eendag gewaag het om steak pleks van vis te bestel), en my baba vreeslike diarree (ek vermoed die Purity was dalk vol Tabasco). Ek is nou nog vies vir die sakkerollers en vir die apatiese poliesman wat die ouens op ’n drafstappie probeer inhaal het. Op ’n manier is die probleme wat mens in Spanje ervaar, soortgelyk aan die probleme wat mens in Kaapstad ervaar. Al verskil is dat in Kaapstad elke dag van die week soos ’n Sondag is. Maar in beide Kaapstad en Spanje is die enigste vinnige goed die taxi’s. Heeltemal te vinnig, om die waarheid te sê.

Maar hierdie een ding moet ek van die Spanjaarde sê: hulle ly nie aan stres nie. Hulle is ook nie oorgewig of depressief nie. As hulle bekommernisse het, is dit dalk oor ander goed as die korporatiewe, suburbiaanse, markverwante of obese stres wat ons aan gewoond is.

Miskien stres die gemiddelde Spanjaard wel soms oor dinge soos onbeplande bevallings, die prys van olyfolie, die irriterende aftershave-reuk van die toeriste, of wat om met Breyten Breytenbach te doen, wie hom nou permanent daar gevestig het. Of dalk is hulle lywe soms seer omdat hulle deur ’n bul getrap is in ’n klein dorpie die vorige Saterdag. Dalk kry hulle soms sooibrand. Of sonbrand. Of bedsere van die lang siëstas.

Ek weet nie. Ek is bang om uit te vind.

Netnou raak ek ook lus om te fokkof soos Breyten Breytenbach …

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.