KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Belangriker as rugby

Jack Hammer gesels oor hulle nuwe album, rock ‘n roll, die ekologie … en Beano se jongste gedig


Onderhoud en foto’s:

Riana Wiechers*

Jy kan een van vier unieke Jack Hammer-versamelstukke wen. Klik hier om te sien hoe ...

Daar’s vier stoele met rugleunings. Daar’s vyf van ons. Ek oorweeg nog ‘n grappie oor wie van ons die sterkste rug het, toe sit Piet al op Stoel Vyf – ‘n miniatuurnommer wat lyk soos ‘n kroegstoeltjie vir kleuters. Tertius (ook bekend as Beano), Paul (oba The Duke) en Tonie (Jack Hammer se jongste toevoeging) kry hulle sit. As dit Piet enigsins skeel dat hy ‘n kop laer as die res van die geselskap is, wys dit glad nie.

Dis ‘n sonnige lentedag in Melkbosstrand. Jack Hammer is op toer in die Kaap en speel later die aand hulle tweede laaste gig by die Melkbosskerm. Daar’s ‘n opgewondenheid in die lug. Die ouens lag en terg mekaar terwyl onsigbare vonkies van hernude energie tussen hulle rondspring.

“Hoe laat moet ons gaan soundcheck?” vra Piet terwyl hy sy pyp in ‘n asbak leegkap.

“Vyfuur”, kom die antwoord.

Piet sit sy pyp neer. “Maar vyfuur begin die game”. ‘n Oomblik se stilte heers alom. Dan weer die kap-kap van Piet se pyp. “Boggher dit. Ons is vyfuur daar. Rock ‘n roll is belangriker as rugby.”

The Pilgrim is Jack Hammer se eerste studio album sedert 1996. Hoe het die album gestalte aangeneem?

Piet: Die album is al laasjaar Julie opgeneem. So dit het begin gestalte aanneem van omtrent seker Januarie 2004. Van die songs het ons redelik lank al live gespeel, soos “G8” en “Headlines” en “Russian And Chips”. Maar die ander songs was lekker nuut. Op die reggae song, “Rock Steady”, het ons vir Sam en Jacob van Tidal Wave gebruik om daai regte feeling te kry. Hulle’s ons bra’s. So van die songs op The Pilgrim het ons baie goed geken toe ons die studio ingegaan het, en van die songs het Paul en Tertius glad nie geken toe hulle die studio ingegaan het nie. Dit was nogals fun om te sien hoe dit uitkom.

So jy het die woorde gereed gehad?

Piet: Ja. Toe ons op-meet in die studio, was daar vir die meeste van die songs net ‘n acoustic en ‘n vocal. Dis al.

Jy en Paul en Tertius speel al vir ‘n baie lang tyd saam. Hoe’t dit gebeur dat Tonie by julle aangesluit het?

Tonie: In Desember, so ‘n week voordat Piet afgekom het Kaap toe op toer, het hy ‘n guitarist gesoek en my gebel.

Piet: Maar die ding het darem nie heeltemal so spontaan gebeur nie. Tonie is soos family. Sy broer Lanie was ook eens op ‘n tyd in Jack Hammer, voor hy vir Not My Dog begin speel het. Ek en Tonie kom van dieselfde plek. Daar Pretoria-Noord se wêreld. En dis nou al jare wat Tonie sê dat as ek ooit ‘n guitarist sou nodig hê, dan moet ek hom ‘n kans gee, jy sien. Ons is soos daai Southern band, Lynyrd Skynyrd, op daai manier.

En voor dit?

Tonie: Ek was in Thysis gewees toe ek jonk was. [Die ander ouens bars uit van die lag. Tonie is die jongste in die band en nie besonder oud nie.] Dit was ‘n hardcore band. Thysis het self ook baie saam met Jack Hammer gespeel. Ons twee bands het seker die meeste saamgespeel van alle bands wat ek van weet. En ja, toe daai band opbreek, toe’t ek nog so bietjie hier en daar gespeel in plekke waaroor ek nie praat nie. En nou’s ek in Jack Hammer. En dis great.

Piet: Ek het altyd geweet Tonie kan goed kitaar speel en help met die vocal side ook. Maar wat meer belangrik is, in ‘n band-opset, is dat jy weet jy ken hierdie ou soos family. Jy weet jy gaan nie ses maande later met ‘n personality clash sit nie.

Tonie: Ons is nou al jare vriende. Ek ken al vir Piet vandat ek op skool is.

Piet: Dit gaan nog verder terug. Tonie se pa en ek was saam op skool. Dis daai kinship ding. Jy weet, toe Tonie die band gejoin het, was daar baie ouens wat gebrom het – “Wie’s hy?” tipe van ding. Jy weet mos hoe’s mense. Maar Tonie het gekóók. En nou het ons hierdie edge wat ons nie vroeër gehad het nie. ‘n Meer rock edge, definitief. En ons kan voel hoe dit evolve. Van Desember tot nou het ons seker al hier by die 70, 80 gigs gedoen. En elke tien gigs of so dan hoor jy hoe die musiek evolve het. Dis nie iets wat jy kan define nie, dis ‘n energy ding. Alles raak smoother, amper soos wat jy ‘n diamant sou slyp. En nou, jissie, nou is dit half op ‘n plek waar dit amazing is. Soos gisteraand se gig. Sjoe.

Gebeur daai magic nog steeds, na soveel jare?

Piet: O ja. Partykeer gebeur dit so gereeld dat ‘n ou half bang raak. Dis net daai … ek weet nie … dis ‘n cosmic ding. Daai pure energy, as vier ouens saamspeel en ingetune is, jy weet. Dis ‘n wonderful ding. Baie keer met bands kry jy vier ouens wat speel, maar dis vier mense wat apart speel, elkeen probeer op sy eie manier afshow. En dan raak dit ‘n warboel. Ons het ‘n ou ding in die band wat al van 20 jaar terug af kom, genaamd “Get it to the middle.” Dit beteken dat elke ou sy energy so moet point dat ons almal saam die middelpunt kan vind. Sodat die sound op stage comfortable is. En dan, Woeem! Dan kan jy hom oopmaak. V8.

Is The Pilgrim alreeds vrygestel in Gauteng?

Piet: Lankal. Alles omtrent die album is weird. Die woord was nog maar stadig gewees tot dusver, maar dit gaan ook saam met die album se vibe. Dis nie ‘n commercial venture nie; ek dink daar’s net een song op die album wat korter is as vier minute! Ek sou sê dis ‘n art album. Van die inhoud tot die packaging, reg deur. Dis nie ‘n ding wat op ‘n playlist moet kom en ‘n pop hit moet produce nie.

The Pilgrim se omslagontwerp word dikwels genoem. Hoe het julle besluit op die tema?

[Hier begin al die lede van Jack Hammer tegelykertyd te lag.]

Piet: Ons het niks daarmee te doen gehad nie! Alastair James was een van The Pilgrim se executive producers. So sy advertensie-agentskap, King James, het die omslagontwerp gedoen.

Het julle géén inset gehad in die kreatiewe proses nie?

Piet: Daar was meetings in die Kaap. Hulle het gepraat van die poskaart-ding, maar ek moet bieg, ek het nie mooi verstaan nie. Ek het nooit gevisualise dat dit actually op karton sal wees nie. Ek los sulke goed gewoonlik vir daardie artists.

Maar dis tog ‘n interpretasie van jou kuns?

Piet: Maar ek dink hulle het dit goed geïnterpreteer. Ek het nie geweet dit gaan so nice uitkom nie. Die eerste keer toe ek dit gesien het, was toe Bowline die cd’s vir ons gebring het.

Wat dra julle elkeen by tot Jack Hammer?

Piet (beduie na Paul en Tertius): Hier is die engine room. Rock ‘n roll se belangrikste element is die rhythm section. Die drums en die bass. Dit is nou maar net so. En omdat hulle al tien jaar saam speel, raak dit iets onbewusteliks. Daai samewerking, dit gebeur net.

En op ‘n persoonlike vlak?

Piet: Wel, wat cool is van hierdie band, is dat daar nie eintlik ego’s is nie. Daar’s nie daai ding van kompetisie nie. Miskien is dit omdat ons nie rêrig ‘n democratic band is nie. [Lag.] Maar dit is net so deur toeval. Dis nie so beplan nie en daar’s nie hidden agendas of sulke goed nie. Miskien is dit maar omdat Jack Hammer al so lank bestaan. Die hele entiteit is baie groter as die gemene deler. Niemand is onvervangbaar nie, selfs nie ek nie. [Piet kap sy pyp en almal dink vir ‘n paar oomblikke in stilte oor ‘n Jack Hammer sonder Piet Botha. Dan bars almal uit van die lag.]

Paul: Ek sou sê Piet is die band se visionary. Hy ken die stories. Hy skryf die songs …

Piet (fluister agter sy hand): Hy’t ‘n spiets geskryf voor die tyd.

Paul: Piet vat die musiek op ‘n pad. Hy bepaal die konsep van ‘n album. Ek dink Tonie bring die jonger invloed, die meer edgy, rock-tipe klank. Ek dink ek en Bean speel baie solid saam, ons vorm ‘n goeie basis vanwaar die res dit kan vat.

Piet: Die ding is, ons is nie geskoolde musikante nie. Ons speel uit die hart uit. Ek kan nie musiek lees nie, maar dit gaan oor die gevoel. Omdat ons mekaar so goed en al vir so lank ken, weet jy half wat die volgende move gaan wees. Nie dat dit voorspelbaar raak nie, maar jy raak net meer comfortable met mekaar. Dit is maar soos ‘n relationship.

Jy en Tertius speel al vir tien jaar saam. Is dit tien jaar in Jack Hammer, of het julle al vantevore saam gespeel?

Paul: Nee, ek het Piet-hulle maar ontmoet toe ek die eerste keer vir Jack Hammer dromme gespeel het.

Piet: Weet jy wat het gebeur? Ons het ‘n drummer gehad wat vir ‘n jaar Amerika toe gewaai het. Toe het ons ‘n stand-in drummer gehad wat ons een aand gedrop het toe ons by die Blues Crossroads in Pretoria moes speel. Die eienaar bel toe vir Paul, en hy kom toe in en gig daai aand saam met ons. Sonder dat ons nog ooit vantevore saamgespeel het. En toe … toe’s hy in die band! One time.

Wanneer het Beano die band gejoin?

Tertius: Ek het seker so ‘n jaar of wat na Paul ingekom.

Piet: Ek het Tertius gesien in ander bands en toe like ek sy way …

Tertius: Piet het my gevra of ek wil speel vir Jack Hammer, toe sê ek ek sal kom vir ‘n oudisie. Toe vra hy vir my: “Wil jy speel of nie?”

Piet: Ek het nog nooit iemand audition nie. As iets werk, dan werk dit.

Tertius: Ek dink ons almal leer nog altyd baie by Piet, omdat hy al soveel langer in die band is. Soos Paul gesê het – Piet gee die vision en die creative direction. Maar dit is ook lekker om nou vorentoe te gaan met ‘n nuwe sound. En dis heeltemal spontaan. Dis wat lekker is van Tonie. ‘n Vars energie.

Piet: Ons het so ‘n paar maande terug iewers getoer, en toe speel hierdie musiek van Tonie in die kar. En ek het gesê: “Nee, sit af, dis te hectic!” En nou’s dit my favourite band! Tool. As ek by die huis kom, luister ek Johnny Cash en Neil Young. Maar deesdae leer ek baie van die moderne musiek. Nie dat ons ander bands probeer na-aap nie. Mens leer net baie. Dit gee nuwe idees.

Tonie, hoe ervaar jy dinge as die nuutste lid van Jack Hammer?

Tonie: Ek het Jack Hammer báie gekyk. Ek het al die ouens gesien kom en gaan so met die jare. En van die tyd wat Paul en Tertius in die band was, was die band vir my nogal op ‘n lekker vibe. Hulle twee saam met Piet was vir my die coolste Jack Hammer wat daar was. So dit was vir my great om ‘n kans te kry om deel van Jack Hammer te wees. Paul is baie technical en professional en precise. Op toer, as jy in sy kamer ingaan, is sy bed altyd opgemaak en alles is netjies. Die precision waarmee hy speel, is baie keer wat ons ook lekker bymekaar hou. Vir Tertius sal jy nooit stil sien staan op die stage nie. Hy het ‘n energie wat moeilik is om te beskryf; ek dink mens moet self in die band ‘n paar gigs jol om rêrig hierdie energie van hom te verstaan. En dan is Piet se kitaarspel die laaste ruk fenomenaal. Ek, ek speel maar net Piet se picks en notes, ek hike maar die distortion op, dan klink dinge ‘n bietjie beter.

Piet: Maar Tonie het die gawe om met effects en goed hierdie wonderlike, moderne klank te verleen. Hy speel nie net bloot die kitaar nie, die kitaar word iets wonderfuls …

Tonie: Maar voor ek deel van Jack Hammer geword het, het ek nooit so gespeel nie. Ek het ‘n ander ding geleer hier. Ek kan nie sê presies wat dit is nie. Ek dink nie ek weet eers heeltemal wat dit is nie. Dis magic. Dis rêrig net magic.

Piet: Hierdie is net só ‘n wonderful toer. Maar ons het hierdie ding gevoel kom, oor die laaste paar maande al. Ons is besig om deur barriers te breek. En redelik vinnig ook.

Mis julle die huis wanneer julle toer?

Piet: Hierdie toer is so agt dae weg van die huis, dis eintlik niks nie. Ons doen dikwels die naweek ding. Ry die Vrydag en kom terug die Sondag.

Ry julle of vlieg julle?

Piet: Twee vlieg en twee ry.

Tonie: Paul en Tertius ry met die vliegtuig, en ek en Piet vlieg met die kar!

Piet: Want ons moet die gear aanry, sien. Die amps en dromme en goed.

Paul: Ja. Want ek en Beano het die day jobs.

Wat doen julle?

Piet: Paul is ‘n heavy executive dude.

Paul: Ek is by Makro. PR en Operations Manager.

So jy gig in die aande en gaan werk die volgende dag?

Tonie: Dis hoekom ek sê sy precision is verstommend!

Wat doen jy?

Tertius: Ek is ‘n aankoper by Look and Listen in Boksburg.

Paul: Hy verkoop baie Jack Hammer-cd’s vir ons!

Tertius: Ja dis lekker, want dis steeds te doen met musiek. Daar is ook baie ander aspekte verbonde aan die werk, maar ten minste het ek steeds toegang tot die musiek.

Was dit die Jack Hammer-musikante wat gespeel het op jou Afrikaanse albums?

Piet: Ja. Tonie was toe nie in die band nie, maar Tertius en Paul is op al die Afrikaanse albums. Behalwe op Suitcase was ‘n ander drummer. Jorik. Wat ook vir Not My Dog speel. Ook van Pretoria-Noord. Dis hoekom ek sê ons is soos Lynyrd Skynyrd. Ons stick together. White trash.

Dis asof jou Afrikaanse songs ‘n persoonliker inslag het as die Jack Hammer-songs.

Piet: Miskien. Miskien omdat Die Mamba geskryf is na ‘n tipe van watershed in my lewe. Ek was baie in die moeilikheid met drank en dwelms op daai stadium. En ek het dit rondom daai tyd stopgesit. Dan is ‘n ou miskien meer vulnerable om sulke goed uit te laat. [Lag.] Dit sal nie weer gebeur nie!

Was dit moeilik?

Piet: Op die einde van die dag moet ‘n ou seker maar die waarheid praat. Dis maar die beste. Nie dat enige van ons vreeslike bad goeters gedoen het nie, maar mens val maklik in daai trap. Ek het geleer dat die magic eintlik in die music is. Dis waar die bron van die energie lê. In die musiek. En dis cool.

Wat hou die toekoms vir Jack Hammer in?

Tonie: Ek hoop die band gaan nog lank. Ek’s nog jonk en ek wil nog jol tot ek so sestig, tagtig is. So hierdie ouens moet vasbyt! Maar ek hoop ons loop ‘n lang paadjie en ek’s seker daar gaan ‘n hele revival wees …

Piet: Daar is alreeds een. Die basics is nog dieselfde, maar …

Paul: Ons is op ‘n growth curve. Maar ons is nog hier onder, daar’s nog baie plek om te groei.

Tonie: En ek dink ons volgende Jack Hammer-album gaan Piet se beste werk nog wees, Duke se beste werk, my beste werk en Tertius se beste werk. So ek kan nie sien dat dit nie die beste Jack Hammer-album nog gaan wees nie.

Tertius: Ek dink Tonie gaan baie input hê in die volgende album. Hy het baie goeie riffs.

Piet: Mens móét daai input hê. Nee, ek kan dit aanvoel. Dis asof die planete align het. Daar’s iets in die lug.

Paul: Ons almal voel dit, en ek dink mense wat na ons kom luister, kan dit ook voel. Van tieners tot mense in hulle sestigs – ons het ‘n ongelooflike response van ons gehore gekry.

Is die gehore anders in die Suide as in die Noorde?

Piet: Ons sê altyd Pretoria is Rock City. Maar kyk nou net wat het gebeur hier in die Kaap. Jissie! Mense sal na ons toe kom en vertel hulle het ons gesien iewers ‘n paar jaar terug en toe nou besluit om te kom hoor hoe ons deesdae klink. Dit gebeur by elke gig dat iemand kom sê: “Ons het jou laas daar gesien speel.” Maar die weird ding is, dis nie dat hulle ons láásjaar gesien het nie. Hulle kom sê: “Ek het jou laas in 1986 by so-en-so sien speel”!

Is daar nog enigiets waaroor julle wil gesels?

Piet: Love and Peace. Ekologies. Ons volgende album gaan definitief Greenpeace wees. In die songs gaan daar definitief ‘n ekologiese tema wees. Dis die grootse krisis wat die wêreld op die oomblik in die oë staar. [Die ander lede begin giggel so erg dat ek wonder of Piet dalk besig is om my been te trek.]

Paul: En Tertius het onlangs ‘n gedig geskryf. Miskien kan hy dit vir jou voorlees?

Piet (vir Tertius): Wil jy dit vir ons voorlees?

Tonie: Volgende jaar by die Woordfees gaan Tertius sy gedig voorlees.

Paul: Want dis só mooi.

KOOP The Pilgrim sommer nou.
Klik op die CD-omslag om jou bestelling by Kalahari te plaas.

KlankKas/Bowline Bonus!

WEN een van vier unieke Jack Hammer-versamelstukke. Klik hier om te sien hoe ...

Klik en koop!







*

 

Riana Wiechers is 'n vryskut-musiekjoernalis, redakteur van Musica se interne tydskrif, Sussed, en skryf ook vir die Musica-webwerf.






LitNet: 01 November 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.