KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Wat is die storie van kwêla-jazz?

Waldo Müller


Een Sondagmiddag, iewers in die tweede helfte van 2002, het ek sit en koffie drink saam met die skrywer Marlene van Niekerk op die stoep van ’n pragtige, landelike hotel te Devon Valley buite Stellenbosch. Ek was uitasem en natgesweet nadat ek erg gejaag het om betyds te wees vir ons afspraak. En al het ek my uiterste bes gedoen om nie laat te wees nie, was ek tog laat. Dalk is dit geneties, dalk patologies, dalk astrologies, hierdie onverklaarbare en onafskudbare onvermoë om betyds te wees vir enigiets.

Ek en Marlene het meestal gesels oor kuns en letterkunde, veral oor watter onderwerpe vandag nog oorbly om te verken deur middel van kreatiewe skryfkuns sonder dat jy skryf wat reeds geskryf is. Sy het die meeste praatwerk gedoen, terwyl ek gereeld my kop instemmend geknik het en flinke (dog futiele) pogings aangewend het om haar uitsprake met potloodaantekeninge te dokumenteer. Partykeer moes sy geduldig die name uitspel wat so moeiteloos van haar tong gerol het: “H-O-U-E-L-L-E-B-E-C-Q”, “T-U-R-N-I-E-R”, “R-I-E-F-E-N-S-T-A-H-L”…

Nou, verskeie maande later, lê dieselfde stel Stellenbosse notas langs die skootrekenaar waarop hierdie rubriek getik word. Sowat agt of nege treë regs van my, net agter ’n maroen stel Basix-tromme, draai ’n langspeelplaat op ’n ou platespeler wat pas ’n nuwe naald gekry het: Top Hits of the Big Three deur Lemmy Special Mabaso, Spokes Mashiyane en Reggie Msomi.

Tussen die aantekeninge wat ek daardie Sondag op die hotel se stoep gemaak het, is ’n opskrif wat lees “Jazz romans”. Marlene het tereg opgemerk dat daar nog nie so iets in Afrikaans bestaan nie, dat dit iets is wat ongeskryf bly in Afrikaans — al woon ons in die Afrika-land waarin reeds dekades lank die meeste van die kontinent se jazz opgeneem, geluister en uitgevoer word.

Terwyl ek hier skryf, word die Kaapse nanag rondom my gevul deur die klanke van township-jazz uit die laat vyftigs — die musiek van Msomi, Mabaso en Mashiyane (dit is ook in laasgenoemde volgorde waarin hulle verskyn op Top Hits of the Big Three se omslagfoto, van links na regs).

Vanuit die swart vinielgroewe, via die naaldpunt van die draaitafel, deur die klankversterker en by die luidsprekers uit vloei dit — die klankvibrasies van ouwêreldse township-jazz; kwêla-klanke wat op onverwagse wyse pas by die uitsig wat ek het op Harringtonstraat, een van die Kaap se oudste strate, dofweg sigbaar as ek opkyk van die rekenaarskerm: ’n donker, verkeer- en lewelose straat met verouderde, kleinerige kantoorgeboue en pakhuise uit die jare veertig-vyftig, met hier en daar ’n stokou Kaaps-Hollandse platdakgebou wat die modernisme oorleef het. En alles is spookagtig verlate, effens mistig.

Die klankskeppings van die township-jazz-pioniers wat deur die vertrek spoel, laat ’n storie-idee by my posvat: As ’n mens die tyd, finansiële bronne en navorsing-infrastruktuur gehad het, sou jy ’n heerlike Suid-Afrikaanse jazzroman kon skryf oor die penfluitjie-era, die dae, tussen veertig en vyftig jaar gelede, toe Mabaso en Mashiyane se plate topverkopers was. Jy sal dalk een van Tretchikoff se portrette van penfluitjiespelers (uit dieselfde era) vir die omslag kon gebruik — of dalk nie, want ’n mens sal waarskynlik ’n fortuin vir die voorreg moet opdok.

Vir die doeleindes van hierdie rubriek en aan die hand van Top Hits of the Big Three gaan ek ’n bietjie van die niefiktiewe agtergrond verskaf waarteen so ’n (fiktiewe) kwêla-jazz-verhaal sou kon afspeel. En met die publikasie van dié rubriek aan die einde van Maart 2003 plant ek ’n kuberbewysstuk dat dit mý idee was om ’n Afrikaanse roman te skryf wat in ’n kwêla-jazz-milieu afspeel. Steel dus gerus die idee, maar onthou dat ek en hierdie rubriek stellig by jou sal kom spook.

So, wat is dan die storie van die plaat op die draaitafel? Wat is die storie van kwêla-jazz?

Mashiyane het in 1954 (vyf jaar voor Top Hits opgeneem is) ’n revolusie in die apartheidsera-musiekbedryf ontketen toe hy ’n nommer 1-treffer behaal het met die penfluitjie-nommer “Ace Blues”. Die sukses van hierdie topverkoper-solus-sewe, wat gewild was onder swartes én blankes, het gelei tot ’n stortvloed van kwêla-opnames deur ’n witbeheerde musiekbedryf wat vir die eerste keer besef het daar is geld in swart musiek. Penfluitjie-gedrewe kwêla het sodoende Suid-Afrika se eerste kommersieel suksesvolle, grootskaals opgeneemde swartmusiekgenre geword.

Aanvanklik is Mashiyane en ander swart kunstenaars uitgebuit. Sy kontrak met Trutone het bepaal dat hy ’n staande, vaste fooi van tussen 20 en 30 pond sou ontvang vir elke solus sewe wat hy opgeneem het. Hierdie kortspelers het gemiddeld tussen 50 000 en 70 000 kopieë elk verkoop — sonder dat Mashiyane ooit ’n sent van die winste gesien het. Dit was destyds die norm vir swart musikante, terwyl wit musikante wel kon deel in die profyt wat platemaatskappye op hul werk gemaak het.

Mettertyd het ’n organisasie wat hom vir die regte van swart kunstenaars beywer het, die Union of South African Artists, besluit om Mashiyane se onbillike Trutone-kontrak in die hof uit te daag met die hulp van ’n prokureur, Harry Bloom. Die kontrak is ongeldig verklaar en Mashiyane het — omstreeks 1958 — aangesluit by ’n ander platemaatskappy, Gallo, waar hy geskiedenis gemaak het deur die eerste swart musikant in Suid-Afrika te word met ’n kontrak wat hom laat deel het in die winste van sy musiekverkope.

Teen hierdie tyd het Mashiyane oorgeslaan van penfluitjie na saksofoon, miskien om sy musiektalent en -styl verder te ontwikkel, of dalk omdat die penfluitjie-mode besig was om te taan.

Ander penfluitjiespelers het sy voorbeeld gevolg. Top Hits of the Big Three kom uit hierdie stadium — toe daar ’n evolusieproses was van penfluitjie-kwêla na ’n meer gesofistikeerde township-jazz. Top Hits is ’n goeie illustrasie van hierdie era, toe dit die in ding was om kwêla en Amerikaanse swing te kombineer en orkestrasies te hê wat ’n groter verskeidenheid instrumente bevat het as penfluitjie-kwêla (wat gewoonlik gemaak is deur trio’s — fluit, kitaar en tromme). Die huwelik tussen kwêla en swing het gelei tot die geboorte van ’n uniek Suid-Afrikaanse jazzklank.

Teen die vroeë sestigs het Suid-Afrika ’n dinamiese en omvangryke swart jazztoneel gehad. En dit het veel wyer gestrek as net Sophiatown en sy sjebiens en danssale — Sophiatown wat platgevee is om plek te maak vir Triomf, die wit buurt waarna Marlene van Niekerk se bekroonde roman vernoem is.

Top Hits bevat eintlik musiek deur vier verskillende musiekeenhede. Daar is (anders as wat die omslag suggereer) geen snitte waarop Mabaso, Mashiyane en Msomi al drie saam speel nie. Net twee van die twaalf snitte is deur Mabaso. Die res bestaan uit die werk van drie verskillende groepe met Mashiyane as die middelpunt van elk: Mashiyane and Msomi Double Five, Spokes and Golden Sax, en Spokes Mashiyane and Big Band. Mashiyane speel heeltyd net saksofoon — hy het teen hierdie tyd reeds die penfluitjie vaarwel geroep.

Oor Reggie Msomi, die derde persoon op Top Hits se omslag, is daar min inligting. Die jazztydskrifte en musiekboeke tot my beskikking bevat niks oor hom nie. Selfs ’n deeglike Internet-snuffeltog het nie veel opgelewer nie. Al wat ek kon vasstel, is dat hy kitaar gespeel het in Mashiyane se Big Five 77-orkes omstreeks 1959 — hoewel hy op die omslag van Top Hits ’n saksofoon vashou. Wat wel duidelik is, is dat hy ook ’n komponis was en musiek geskryf het vir Mashiyane.

As ’n mens na Top Hits of the Big Three luister, val dit jou op dat dit merkwaardig vrolike musiek is, in ag genome die sosio-ekonomiese en politieke toestande waaronder die skeppers en die meeste aanhangers daarvan geleef het. By ’n eerste luister klink al die liedjies dieselfde — wat tot ’n mate steeds die geval is nadat jy vyftig of vyf honderd keer na die plaat geluister het. Maar dit is deel van die bekoring daarvan.

Die musiek op Top Hits is herhalend, byna hipnotiserend, met vinnige ritmes en opgewekte koperblasers. Onder die invloed van Amerikaanse jazz word plek gemaak in die kort snitte vir bondige instrumentsolo’s en repies improvisasie. Ongelukkig sê die omslag niks oor wie verantwoordelik was vir die welluidende trompet en tromboonsolo’s op die plaat nie.

Met “Zulu Khayalami” van Spokes Mashiyane and Big Band op die draaitafel, verpoos ek vir ’n oomblik voor ’n venster wat uitkyk op Harringtonstraat. Drie verdiepings laer, aan die oorkant van die straat, is my motor geparkeer langs ’n verrinneweerde, gryskleurige kerkie uit 1910. Bergies het ’n tent opgeslaan agter die kerk se traliemuurtjie, reg by die gebou se ingang, net ’n paar meter van my geroeste Ford Meteor. Die bergies slaan elke aand hul tent op en verwyder dit weer die volgende oggend. Ons is op goeie voet, want ek is streng gesproke ook ’n plakker — wat met tydelike grasie woon hier op die derde vloer van Ellem House, ’n nieresidensiële gebou waarin ’n ou universiteitsmaat se punk-rock-groep sowat twee keer per week oefen.

Hierdie deel van die stad is nogal verwaarloos. Daar is dekades laas iets nuuts in Harringtonstraat gebou. Bestaande strukture is lanklaas opgeknap. Ek woon in ’n groot, leë vertrek (sowat veertien treë lank en agt treë breed) met hier en daar verdwaalde tromme, ’n kitaar of luidsprekers. En oral is die nalatenskap van die laekoste-musiekvideo wat die punk rockers onlangs geskiet het: oral op die sementvloer en op al die musiektoerusting is veelkleurige glitter gestrooi, ’n paar honderd rand s’n — derduisende rooi, blou, groen, silwer en goue spikkeltjies wat onstuitbaar skitter.


(WORD VERVOLG)

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.