KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Oude doos (1)

Waldo Müller[1]

Laat my toe om julle terug te neem na ’n Valentynsdag, eendag lank, lank gelede. ’n Valentynsdag iewers in die vroeë jare sewentig, in ’n gans ander wêreld as vandag s’n. Ons bevind ons by die pastorie van ’n Afrikaanse predikantspaar in ’n netjiese voorstad van Pretoria. Ds en mev De Wet woon in ’n ruim platdakhuis met ’n lowerryke tuin omraam deur ’n voormuurtjie van natuurlike rots. Anders as vandag se erfmure, is die muurtjie voor hul huis laag genoeg vir ’n mens om oor te klim deur slegs jou been op te lig. Dit is die helfte so hoog as ’n atletiekhekkie. Jy kan dus letterlik oor die muurtjie huppel. Die De Wets se voordeur het geen tralie-veiligheidshek nie, want hulle het geen behoefte aan een nie. In die vroeë sewentigs word hierdie vreeslose, geruste staat gedeel deur die meeste mense in hul deel van die stad. Dit is nog lank voor superkragtige diefwering en lidmaatskap van snelreaksie-sekuriteitsdienste alledaagse verskynsels in Suid-Afrika sou word

Die Soweto onluste sou eers oor ’n paar jaar uitbreek en die tweede helfte van die dekade donkerder kleur. Die vroeë sewentigs is ’n paradyslike tyd vir die De Wets en ander Suid-Afrikaners wat gelukkig genoeg is om nie vir township- of tuislandverblyf te kwalifiseer nie. Dit is ’n goue era waarin ’n vrou haar huis se voordeur saans tot lank na sononder kan laat oopstaan terwyl sy agter in die huis besig is om wasgoed te vou en haar man — aan die ander kant van die erf — in die motorhuis doenig is met houtwerk. Die De Wets het nie eens ’n hond nie, net ’n grasieuse Siamese mannetjieskat wat reggemaak is sonder dat hy ooit die vrugte van die vlees geproe het.

Elders in Suid-Afrika is die sewentigs ook ’n paradyslike era vir baie mense wat nie die De Wets se Christelike lewenswyse deel nie — daardie minder moreel standvastige mense (van alle rasse en alle seksuele oriëntasies) wat na hartelus kondoomlose seks kan geniet met ’n magdom bedmaats sonder dat hul amoreuse avonture lei tot besmetting met ’n dodelike virus.

In die vroeë jare sewentig is Valentynsdag nog nie deur ’n kapitalistiese massamedia opgeblaas tot ’n grootskaalse orgie van koop-koop-koop en vreet-vreet-vreet nie. Dit sou nog jare duur voor handelsmerke en hul produkte deur ’n eindelose stortvloed TV-advertensies verhef sou word tot ’n nuwe evangelie — materialisme as weg tot saligheid. Op hierdie spesifieke Valentynsdag, vroeg in 1973 of ’74, bevind die De Wet egpaar van Pretoria hulle nie in ’n kettingrestaurant waar hulle kankerwekkende, hormoonbehandelde, in-olie-gebraaide biefstuk en MSG-gebombardeerde groente gaan verorber nie. Geen geld is gemors op massageproduseerde, geneties gemanipuleerde rooi rose in bloedstollende blink verpakking nie. Daar is wel ’n asemrowende rangskikking vars, inheemse blomme in die pastorie se ingangsportaal, maar dit is niks buitengewoons nie, want mev De Wet is gaande oor ons land se blommeprag en haar hand staan nooit verkeerd vir self rangskik nie.

Ds De Wet is in die motorhuis besig om ’n houtoppervlak met skuurpapier glad vryf. Hy is te ver om te hoor hoe sy vrou die volumeknoppie harder draai op die hoëtroustel in hul sitkamer wanneer haar gunstelingsnit op Sing van Liefde deur die a Capella Koor begin — snit een, kant twee: “Daar’s liefde in my drome”. Mev De Wet ken vir Elise Rautenbach, die brein en dryfveer agter die a Capella Koor. Elise is — net soos sy — ’n predikantsvrou van Pretoria wie se man die leraar is van ’n Afrikaanse gemeente. Mev De Wet stap terug na die kamer en begin al singende wasgoed wegpak in kaste wat ruik na motbolletjies: “Daar’s liefde in my drome. Daar’s vreugde in my hart.”

In 2003, sowat dertig jaar later, laat ek my draaitafel se naald sak op dieselfde snit vanaf dieselfde langspeler — om met ’n 21ste eeuse oor te luister na die stroopsoete, retro samesang van die a Capella Koor se 32 lede. Die musiek laat ’n rilling heimwee deur my binneste skiet, hier waar ek my bevind voor ’n platespeler op die sesde verdieping van ’n Kaapse woonstelblok wat uitkyk op Duiwelspiek, tans gehul in die skadu’s van ’n sterwende dag se laaste lig. Ek was nog ’n baba toe hierdie plaat geboer het op die draaitafels van talle Afrikaanse huishoudings. En nou dat ek dit in ’n ander millennium hoor, ontketen dit ’n rits onverwante, melancholiese gedagtes wat kulmineer in medelye met die groot aantal mense wat op hierdie Valentynsdag bitter min het om te vier: my broers en susters van alle rasse wat sterwend is aan vigs; hulle wat in ondraaglike pyn en deurtrek van infeksies vandag niemand se Valentyn sal wees nie. Al wat hulle kan doen, is om te wag op die finale verlossing wat die dood bring — soos ’n gesonde mens wag op die tydelike verlossing uit eensaamheid wat ’n minaar of minnares bring, hetsy langtermyn of vir ’n eenmalige nag van passie.

Wat is die beste doepa teen sulke teneerdrukkende gedagtes? Dwelms? Drank? Nee, ek stem vir musiek. En gereelde dosisse humor. Want as dwelms of drank se euforie eers afgewerk het, voel jy nog goorder as wat jy gevoel het voor jy hoog/dronk geraak het in ’n poging om jouself op te beur. En dan beland jy in ’n duur en selfvernietigende kringloop van heeltyd smag na hoog/dronk wees. Musiek is ’n veel gesonder en goedkoper bewerkstelliger van ontvlugting, opkikkering en transendensie. Daar is immers wetenskaplike bewyse dat musiek jou stemming positief (of negatief) kan beïnvloed. Dwelms kan dieselfde doen, maar hoekom wil ’n mens R300 op ’n gram kokaïen vermors as jy tot sestig ou langspeelplate met dieselfde geld kan koop, of ten minste twee nuwe romans? Ou plate kos dikwels net R5 of R10 elk by vlooimarkte en tweedehandse winkels, terwyl dit duurder is by gesofistikeerde versamelaarswinkels. As die retro-vinielgogga jou eers gebyt het, kan sommige van ons nooit weer matigheid voor oë hou nie. Die jag en geniet van ou vinielplate kan meer verslawend wees as die mees verleidelike chemiese middels. Op die langtermyn kan dit jou groter genot en meer volhoubare euforie bied as enige dwelm. En dit is die onderwerp van hierdie rubriek: ou langspeelplate, spesifiek Suid-Afrikaanse plate, en verbandhoudende obsessies — die versamel van ou plate, die beluistering en bestudering daarvan, asook die kreatiewe en/of sosiologiese en/of erotiese verbeeldingsvlugte wat daarmee gepaard kan gaan.

Die plan is dat elke aflewering van dié rubriek[2] sal fokus op twee Suid-Afrikaanse albums uit die vinielera, omstreeks 1950 tot 1990. Om dinge interessant te hou, gaan ek dikwels (maar nie altyd nie) twee langspelers kies wat mekaar konstrasteer, sodat twee uiteenlopende opnames — in jukstaposisie — ’n meer dinamiese diskoers moontlik maak. Dit bied ’n mens ook die geleentheid om die twee plate teenoor mekaar af te speel met bietjie satire en humor. Alles in die rubriek behoort dus nie ernstig opgeneem te word nie, hoewel die geskiedkundige en musikologiese feite so ver moontlik korrek sal wees — inligting oor datums en tye en plekke en style en strominge: die wie, waar en wanneer van die mense en prosesse agter die musiek wat bespreek word. En terloops: toekomstige rubrieke sal nie noodwendig so lank wees as wat hierdie eerste een is nie. Maar hulle sal dikwels begin met ’n storie, ’n loshangende tafereel.


Sing van liefde


Dazz
Terwyl ek hier sit en tik, lê daar twee langspelers langs die rekenaar. Een is Sing van Liefde deur die a Capella Koor (1973, Brigadiers) en die ander is Dazz deur City Soul (1977, Jo’burg Records). Dit is twee Suid-Afrikaanse uitreikings uit die sewentigs wat in talle opsigte soos dag en nag verskil. Sing van Liefde is ’n eenrassige, heteroseksuele, Nederduits Gereformeerde poging uit die Pretoriaanse hartjie van die destydse apartheid-establishment. Dit is kuis en stigtelik en propageer ’n vorm van romantiese liefde wat ongetwyfeld voorhuwelikse seks uitsluit. Dazz deur City Soul is net die teenoorgestelde — hoererig en loslittig; die snykant-produk van ’n Johannesburgse musiektoneel waarin wittes en bruines en swartes en heteroseksuele en nie-heteroseksuele saam musiek gemaak het in die jare sewentig, dikwels in weerwil van wette wat sulke veelrassige spanpogings verbied het. En City Soul se godsdiensbeskouing was ook onkonvensioneel — die omslagnotas stel dit onomwonde: “The Glory of Life is to Disco …”

Dink net aan die rillings van horries wat deur ds en mev De Wet sou geskiet het indien ’n platjie hulle ’n wrede poets sou bak deur die Dazz omslag te plant reg in die middel van die bal-en-kloukoffietafel in die pastorie se sitkamer. Watter skokgolwe sou so ’n onwelvoeglike omslagfoto van ’n swart vrou nie deur hulle gestuur het in die vroeë jare sewentig nie. Die pastoriepaar sou dit hoegenaamd nie as ’n snaakse poets beskou het nie. En tog wonder ’n mens of daardie koffiekleurige poppie met die afro dalk ’n onwelkome, geheime beroering in ds De Wet se onderbroek sou kon veroorsaak het.

Dit is wel jammer dat die vroulike liggaam uitgebuit en tot seksobjek gereduseer word op Dazz se omslag. Dit is voorwaar ’n bisarre foto. Daar lê sy met ’n verfkwas in haar regterhand, terwyl haar linkerhand haar skoen se hak vasgryp om haar bene oper te kan sper — nadat sy oënskynlik net oomblikke tevore “DAZZ = DISCO JAZZ” in die agtergrond geverf het, haastig en onnet. Daar is mense wat meen hierdie soort prent spoor verkragtings aan. Volgens hulle kan sulke foto’s gevaarlik wees in ’n land wat ’n skokkend hoë verkragtingsyfer het. Die feit dat sy ter wille van ’n paar rand haar bene vir ’n kamera oopgemaak het, is reeds ’n vorm van ekonomiese verkragting — omdat dit bes moontlik finansiële behoeftigheid was wat haar daartoe gedryf het om vir so ’n foto te poseer.

Op ’n heeltemal ander vlak illustreer Dazz se omslag die Swart Gevaar in al haar mees ontugtelike wildheid. Hierdie variant daarvan kan jou snags soos ’n inkubus oorval op jou vrome, Calvinistiese bed. Een oomblik lê jy nog en skapies tel, die volgende oomblik is die afro-gevaarte langs jou, besig om soos ’n petrolbom op jou lakens vlam te vat. Daar is vuur in jou lendene. Al wat julle kan doen, is om die brand tussen julle te probeer blus. In die hofrekords van 1974 staan: “Edelagbare, ek het hierdie vrou nog net een keer in my lewe gesien. Die Sondagmiddag wat ek — in ’n onderbroek, dit erken ek — op my bed gelê en slaap het en wakker geword het met ’n naakte … vreemdeling wat wydsbeen op my gesit het. Die skok het my letterlik laat stuiptrekkings kry. Ek weet nie hoe sy in die huis in gekom het nie. Ek kan net die Here dank dat my wetsgehoorsame buurman deur die venster gekyk en gesien het hoe sy bo-op my sit.”

Agterop Sing van Liefde se omslag poseer die a Capella Koor vir wat lyk soos ’n formele skool- of universiteitsfoto. Ons sien al 32 lede, insluitende die Rautenbach egpaar. En die 1970’s Nederduits Gereformeerde atmosfeer is tasbaar — maagdelike wit hakskeenlengterokke vir die dames en swart pakke vir die manne. Almal staan kiertsregop op die foto, hande langs die sye in drie netjies rye. In perfekte simmetrie staan mev Rautenbach (die koorleier) presies in die middel van die voorste ry, terwyl ds Rautenbach (tenoor, solis en koorbestuurder) reg in lyn met haar staan in die middel van die boonste ry, verhef bo haar, soos dit die hoof van ’n huishouding betaam. Party van die vroue lyk monargies selfvoldaan, terwyl ander onseker en skugter voorkom. Onder die skoongesig manne is daar een knaap wat ooglopend kamp is en waarskynlik eers jare later uit die kas sou kom, indien ooit.

Dit is merkwaardig dat Sing van Liefde se omslag terselfdetyd meer kuis én meer psigedelies is as Dazz se omslag. Die helder geel, oranje en rooi lyne van die grafiese ontwerp op die a Capella omslag ego ’n ontwerpstyl wat Suid-Afrika van oorsee bereik het saam met vredestekens, klokbroeke, mini-rokke en die Beatles. Die lettertipes en ontwerp van die Sing van Liefde omslag het iets hippie-agtigs omtrent dit. Die vibrerende, helderkleurige lyne van die ontwerp bevat spore van LSD. Hierdie psigedeliese dwelm het gewis ’n rol gespeel in die evolusie van die betrokke ontwerpstyl, maar lank voor sulke hippie-agtige ontwerp ’n invloed sou hê op konserwatiewe nie-hippies aan die ander kant van die wêreld. Die kêrel op Sing van Liefde se voorkant is inderdaad geen hippie nie. Nee, hy is netjies genoeg om ’n diaken te kon gewees het. Die blonde meisie wat hy tussen hoë, blaarryke bome in die lug hou, is egter ’n ander storie. Is dit net my verbeelding, of vertoon haar gesig ’n soort besete wellustigheid? Dit is alles in die vorm van haar laggende mond.

Kyk bietjie mooi na hoe sy opgetel word in haar kort oranje mini (gewis te wulps vir kerk in 1973). Let ook op die manier waarop haar hande om sy nek klou. Dit lyk asof hy haar nog net ’n voet of twee hoef op te lig voor hulle kan oorgaan tot ’n akrobatiese daad van cunnilingus. En te oordeel na die uitdrukking op haar gesig, wéét sy wat kom … Die erotiek van die situasie word egter drasties getemper deur die manier waarop sy haar linkervoet buig terwyl sy in die lug gehou word — die verstyfde, reguit houding van haar linkerbeen wek die indruk dat sy die fotosessie met ’n balletles verwar het. Sy plat boudjies, gegiet in ’n stywe broek, sou op hul beurt waarskynlik vandag ’n paar manne se koppe kon laat draai op ’n Groenpuntse sypaadjie, hoewel hy stellig geen “bubble butt” is nie.

a Capella het sowat 20 langspelers oor ’n kwarteeu uitgereik. Die groep het — ondanks sy naam — koorsang gekombineer met intstrumentele, “easy listening”-begeleiding. Deur ligte rock- en popritmes by koorstemme te voeg, was hulle ’n Suid-Afrikaanse weergawe van soortgelyke oorsese groepe, onder meer die Ray Conniff Singers en New Classic Singers. Op Sing van Liefde is verskeie buitelandse komposisies wat van Afrikaanse woorde voorsien is. Dit lei tot eienaardige komponiskrediete. Ons sien telkens hoe ’n paar volksvreemde vanne gevolg word deur ’n Afrikaanse van (vermoedelik van die persoon wat die Afrikaanse lirieke gebesig het). Enkele voorbeelde: “Bly by my” (Plessas, Munro, Panas, Viljoen) of “Drome droom ek van jou” (Hertha, Cumberland, Steyn). Oraloor val hierdie musiek nie aangenaam op ’n kontemporêre oor in 2003 nie. Dit sal wel deug as klankbaan vir ’n gru-rolprent wat in die ou Suid-Afrika afspeel, ’n inheemse weergawe van Halloween of The Exorcist of Texas Chainsaw Massacre. Dit is die soort onskuldige, dromerige hysbakmusiek wat perfek sal wees om ’n grillerige bloedbadtoneel nog meer grotesk te maak.

Die musiek op Dazz het beter verouder. Dit is uitgereik op die Jo’burg etiket van Patric van Blerk, die wit produksieleier/liedjieskrywer agter die geskiedkundige deurbrake van Margaret Singana en later Joy (die eerste swart groep om die topposisie te bereik op Suid-Afrika se amptelike treffersparade gedurende die apartheidsera). Van Blerk was ’n wit produksieleier wat daadwerklike pogings aangewend het om swart Suid-Afrikaanse musiek te laat insluit op die speellyste van die destydse wit radiostasies. Hy was dekades gelede ook op ander gebiede ’n pionier — hy was nie skaam om teenoor ’n musiekjoernalis/-skrywer soos Muff Andersson te erken dat hy dwelms gebruik het en biseksueel is nie. Andersson beskryf hoe Van Blerc en Singana in die sewentigs na Londen en Cannes toe is en dat die jong Xhosa sangeres vir Van Blerc vergesel het wanneer hy na gay uithangplekke toe gegaan het. Van Blerc het interessant genoeg ook — omstreeks 1980 — die rol gespeel van Sonja Heroldt se bestuurder in die rolprent Sing vir die Harlekyn. Van sy komposisies soos “Light up the night” is destyds verbied omdat die sensors gemeen het dit kon township-onluste aanblaas. Van Blerc het reeds in die vroeë sewentigs opnamesessies gereël waarin top wit musikante (soos Trevor Rabin van Rabbitt, later van Yes) kragte saamgesnoer het met top swart musikante soos Mike Makhalemele en Kiepie Moeketsi.

Dazz was nog ’n rewolusionêre projek uit Van Blerc se stal in die sewentigs. Die plaat bevat net twee (uitermate lang) snitte, een op elke kant — Dazz (13.40) op Kant 1 en die minder geslaagde Funky Dunky (15.14) op Kant 2. Die sang op die titelsnit is bietjie irriterend, maar die liedjie se funk-gedrewe, instrumentele disco-krag maak dit hoogs luisterbaar. Die geheim is om ’n liniaal te neem en van Dazz se begin af sowat twee sentimeter te meet dieper in die liedjie in — en dít is waar jy die platespeler se naald moet laat sak om die beste tien minute van ’n indrukwekkende dansproduksie te hoor. Twee sentimeter in die liedjie in (oftewel na drie minute) hou die sang op en kom die instrumentaliste tot hul reg. Die produksie bevat verbasend baie elektroniese klanke vir sy tyd. Dit was immers — soos die omslag aankondig — die eerste opname in Suid-Afrika om die Roland Guitar Synthesizer te gebruik. Die musiek is gemaak deur Julian Laxton (orkestrasie, kitaar, bas, perkussie), Duke Makasi (tenoor- en sopraansaksefone), Robbie Jansen (fluit), Mervin Africa (klawers), John Galanakis (klawers) en Neil Cloud van Rabbitt (tromme). René Veldsman was verantwoordelik vir die sang. Sy sou sowat ses jaar na Dazz kortstondige roem verwerf saam met Via Afrika, wat ’n groot treffer behaal het met “Hey Boy”, destyds ’n verbande liedjie omdat dit (volgens die sensors) verwys het na ’n swart man wat met begeerte na ’n wit vrou kyk.

Die grootste oomblik op Dazz is Robbie Jansen se briljante fluitsolo. Die solo begin eers in die laaste derde van die snit en duur skaars 90 sekondes, maar dit is aardskuddend goed. Dit is net so aangrypend en dansbaar as die fluitspel op St Germain se “So Flute” vanaf “Tourist” (Blue Note, 2000). Jansen kan vandag, 25 jaar later, steeds by jazzkonserte gehoor word. En hy skop steeds gat.

Wat Dazz verder uniek maak, is die feit dat die sang deur ’n wit vrou gedoen word op ’n plaat wat duidelik op die apartheidera se swart mark gerig was. Die bemarkers daarvan het blykbaar gehoop dat swart luisteraars sou dink die wit René Veldsman is ’n swart sangeres. Dit is nie te vergesog nie, want René het inderdaad ’n swart musieksiel gehad — ’n mens kan dit hoor in haar kragtige, swartklinkende sang op Dazz en later in die mbaqanga baskitaarwysies wat sy gespeel het saam met Via Afrika se trommasjien-klubritmes.

In 1977 sou ’n platemaatskappy wat gehoop het om ’n treffer in die Suid-Afrikaanse wit mark te behaal, gewis nie ’n wulpse, oopbeen-afropoppie op die omslag gesit het nie. Hierdie was immers die era waarin plate deur swart oorsese kunstenaars wat goed onder wit Suid-Afrikaners verkoop het, byvoorbeeld Nat King Cole en Percy Sledge, gereeld voorsien is van nie-swart verpakkings wanneer dit in Suid-Afrika uitgereik is — pleks daarvan dat ons, soos die res van die wêreld, die swart kunstenaar se gesig op die omslag sou sien, was die enigste omslagprent op die Suid-Afrikaanse uitreiking ’n wit (dikwels blonde) model, ’n naamlose aster, afgeneem in ’n romantiese ruimte soos ’n welige tuin of bekoorlike sonsondergang. Dit was ’n gekke gevolg van die rasseskeidings-mentaliteit van die tyd.

Dieselfde mentaliteit het ’n rol gespeel in hoe Dazz verpak is. Waarskynlik om te keer dat die publiek besef dit is ’n veelrassige plaat waarop wit en bruin en swart saam musiek maak. Die mees logiese afleiding is dat die platemaatskappy besluit het Dazz moet onder swartes bemark word deur ’n sexy, swart vrou op die omslag te sit. En deur slegs haar op die omslag te hê, sou die indruk onstaan dat die omslagpoppie en die plaat se sangeres een en dieselfde persoon is. René Veldsman was immers ’n wit sangeres wat nie wit geklink het nie — iets wat aangehelp is deur die manier waarop haar stem gedokter is in die ateljee. Miskien het die skeppers van Dazz aanvanklik gehoop om die wit en bruin en swart musiekmakers saam op die plaat se omslag te wys in musikale en vennootskaplike harmonie. Maar toe het ’n konserwatiewe grootbaas besluit dit moet voorgehou word as ’n swart poging vir die swart mark. Dit was immers 1977 en dit sou nog ’n paar jaar duur voor ’n “crossover”-benadering meer prominent sou word in Suid-Afrikaanse popmusiek.

Volgens Dazz se omslagnotas was ene Charles Coetzee van Space & Design verantwoordelik vir die ontwerp van die plaat se omslag. André Loubser van Rentastudio het die foto geneem van die swart vrou met die oopgesperde bene. Dink net aan daardie fotosessie iewers in die Suid-Afrika van 1977. ’n Wit fotograaf oortuig ’n sexy swart vrou om vir die kamera haar bene oop te maak met net ’n skrapse doekie as bedekking vir haar lendene. Daar was destyds wette wat so ’n fotosessie ongetwyfeld ’n misdaad (of byna ’n misdaad) sou gemaak het. Waar in die destydse Johannesburg het die fotosessie plaasgevind? Wat het deur fotograaf André Loubser se kop gegaan in daardie oomblikke? Hy moes gewis ’n goeie verstandhouding met sy model gehad het om haar so ver te kon kry om in daardie posisie te poseer — sonder dat rasverskille in hul pad gestaan het. En waar is die mooi afro-nooi op die plaatomslag vandag? Hopelik lê sy nie iewers in ’n plakkershut sterwend aan vigs nie. ’n Mens hoop dat sy eerder vandag ’n bejaarde mama is wat in ’n netjiese township-huisie woon, ’n toegewyde kerkganger en die trotse ma van kinders wat danksy regstellende aksie vinnig opgang maak in hul beroepe. Maar dalk het sy ’n wilde kleindogter wat dagga rook en droom daarvan om eendag ’n sexy danseres te wees in ’n kwaitovideo, geklee in ’n eina-bikini terwyl haar heupe die ritme hou met suggestiewe pompbewegings. Wat sal ouma daarvan sê?

[1] DJ Oudedoos, alias Dr Waldo, is elke Dinsdagaand tussen 21h00 en 23h00 agter die draaitafels by Marvel, 236 Lang Straat, Kaapstad. Later die aand neem neef Charl (oftewel Zero) die leisels oor. Hulle speel ’n brousel van ou en nuwe musiek, enigiets van wit trailer trash country tot bruin Brasiliaanse breakbeats tot swart sewentigs-funk. Toegang is gratis.

[2] Stuur gerus ’n e-pos na katvis22@yahoo.com indien u kommentaar het op hierdie rubriek of inligting wil deel wat aansluit by die inhoud.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.