KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



LitNet het twee resensente — die een ’n filosoof, die ander ’n bynastudent wat pas matriek voltooi het — gevra om Die Melktert Kommissie se debuut-CD, Volroom, te resenseer.


’n Skaflike debuut wat tot tieners spreek

Johann Rossouw

Die herlewing van Afrikaanse musiek wat aan die einde van die 1980’s deur die Voëlvry-beweging ingelei is en in die 1990’s deur Voëlvryers soos Koos Kombuis voortgesit is, maar ook deur musikante soos Valiant Swart en Piet Botha gedra is, sou onvermydelik daartoe lei dat ’n hele nuwe geslag Afrikaanse musikante na vore tree. Elders het hierdie resensent al geskryf dat wat die Sestigers vir Afrikaanse kultuur in die 1960’s was, die Voëlvry-beweging vir die 1980’s was. Soos wat massas jongmense dan deur die Sestigers geïnspireer is om te skryf, maar nie almal ewe goed geskryf het nie, so sou dit dan ook met Voëlvry en hul nakomelinge wees.

Dit is miskien teen hierdie agtergrond dat ’n mens na Volroom, die debuut-CD van Die Melktert Kommissie, moet kyk. Soos alombekend was Die Melktert Kommissie die algehele wenners van die JIP Rockspaaider Kompetisie 2002, met sowel die beste Afrikaanse liedjie as die beste nuwe Afrikaanse groep. Dat daar vandag so ’n kompetisie bestaan, is in sigself ’n bewys van die energie waarmee ’n nuwe geslag vandag in Afrikaans musiek maak.

’n Jaar of wat gelede het een van ons voorste rock-joernaliste sy kommer teenoor my uitgespreek oor die skade wat die geveg onder sekere voorste Afrikaanse musikante aan die bedryf kon doen. Hy het tereg daarop gewys dat die musiekbeweging maar deur ’n klein groepie mense gedra word, sodat relatiewe onderlinge harmonie tussen hulle ’n basiese voorwaarde vir die sukses van hierdie beweging is. Sy opmerkings is sprekend van die feit dat ’n klein taalgemeenskap soos Afrikaans altyd twee maal so hard as groot taalgemeenskappe sal moet werk om gehalte te lewer. Aan die anderkant laat dit ’n mens met die klassieke probleem dat jy as resensent verdeel is tussen die eis vir deeglike kritiek en die wete van hoe broos dit is wat jy onder oor of oog neem.

Met dié vreeslike draai by Klapmuts om kan ons Volroom miskien van nader bekyk. Wat opval met die eerste luister, is die varsheid en energie waarmee hierdie groep jong musikante tussen die ouderdomme van 17 en 20 laat waai. Die een snit na die ander het dieselfde lewenslustigheid en bereidheid om te ervaar. In ag genome dat dit musikale beginners is, het hulle ’n heel skaflike beheer oor hul instrumente. Lucinda Strydom se stem is sterk en gevoelvol, hoewel sy nog aan haar tegniek moet werk om nie te eenselwig te klink nie.

Dit is egter by ’n tweede luister wat ’n mens begin wonder oor die diepte van die musiek en liriek. Toegegee, Die Melktert Kommissie gee nie voor om die voorhoede van die rewolusie te wees nie, maar nogtans kon hierdie resensent nie help om te wonder of die lewe selfs op 17 nie al meer om die lyf het as mislukte romanses of handelsname nie. Aan die anderkant is dit ewe waar dat hulle temas hanteer wat die meeste Afrikaanse jongmense van ’n wit middelklasomgewing sal herken.

Dit ly geen twyfel nie dat Die Melktert Kommissie heelwat belofte het. Ou hande soos Valiant Swart en Jurgen von Wechmar het ook hul deel bygedra om hierdie jong musikante touwys te maak, en daarvoor kan ’n mens hulle bedank. As hierdie jong groep die moeite sal doen om so wyd as moontlik te luister, te lees en te leef, is die kans goed dat hulle nog uitstekende werk sal lewer. Vir nou het hulle ’n skaflike debuut gelewer wat waarskynlik veral tot tieners sal spreek, en as sodanig verdienstelik is.

(Johann Rossouw is ’n Zen-monnik en bekende filosoof. Hy is tans besig met ’n proefskrif oor tegniek en republiek in die Afrikaanse gemeenskap onder leiding van Régis Debray aan die Universiteit van Lyon-III in Frankryk.)




Te veel invloede om ’n eie Melktert-smaak te hê

Ingrid Strasheim


Verlede jaar se wenners van JiP se Rockspaaider-kompetisie se debuut-CD bevat klomp catchy liedjies wat mens vinnig mee begin saam sing en lekker is vir voetjie tik, maar daar is ’n tekort aan variasie en oorspronklikheid wat dit meer van ’n 2%-ervaring as ’n volroom-een maak.

Die lirieke is lig en iets waarby meeste mense sou kon aanklank vind, iets in die lyn van Mean Mr Mustard — dit draai maklik in mens kop rond al het jy dit net een keer gehoor. Onderwerpe sluit in liefdes, verlore liefdes, fantasieliefdes, drank en stereotiepe karakters wat mens raakloop, soos die poppie aan wie mens voorgestel word in my persoonlike gunsteling, “Tiener”. Dit is maar die gewone dinge en ervarings van hoërskoollewe, maar gesien vanuit die meer alternatiewe oogpunt en nogal heel interessant geskryf.

Die melodieë van die liedjies is egter effens eentonig. Baie klink so min of meer dieselfde en mens is geneig om nie eintlik die oorgang tussen verskillendes op te let nie, soos as mens te lank na iemand soos The Corrs luister. Dit is asof elkeen op ’n standaard geskep is met slegs ’n ander tempo en daarom is daar nie ’n gevoel van ’n indiwiduele gees aan elke liedjie nie. Bydraes van Valiant Swart (elektriese kitaar, backing vocals en mondfluitjie), Simon Orange (elektriese orrel) en Anjulie de Vos (tjello) verleen effens meer innovasie hier en daar, maar dit slaag nie daarin om die tekort aan variasie te breek nie.

Die album word gedra deur die lirieke, terwyl die melodieë te veel herinner aan ddisselblom met ’n knypie Karen Zoid om regtig ’n eie Melktert-smaak te hê, en ek dink dat mens na ’n tydjie moeg sou raak daarvoor, eerder as wat dit op mens sou groei, soos ’n goeie album moet.

Volroom mag egter, met ontwikkeling wat die tyd hopelik en sekerlik sal bring, slegs die eerste van ’n reeks Melktert Kommissie-albums wees wat net beter kan raak.

(Ingrid Strasheim het vanjaar matriek voltooi aan die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch. Sy gaan volgende jaar kuns studeer aan die Universiteit van Stellenbosch.)

5 Desember 2003

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.