KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Luna se stem vat jou anderkant die maan

Erns Grundling

Resensie: Luna
Opgeneem by Jurgen von Wechnar se Sunset Studios, Herfs 2003
Bestel CD by: www. kwaailight.com/luna/contact/index_html

Luna se debuut-CD

Die oueres van dae het ’n pragtige uitdrukking: “Iemand het ’n stem soos ’n voice.”

Hierdie resensent het lanklaas ’n stem gehoor soos dié van die 23-jarige Luna Pieterse. Die feit dat dit uit eie bodem kom is merkwaardig. Sy is al met groot geeste soos Tori Amos en Suid-Afrika se Lesley-Rae Dowling vergelyk, maar steeds is dit nie heeltemal in die kol nie. Selfs “warm sjokolade” is al gebruik om haar stem toe te dig!

Maar Luna klink soos Luna. Punt. En dis nie ’n stem wat ek met die mooiste woorde of ’n arsenaal byvoeglike naamwoorde sal durf beskryf nie. Ek sal gewoon te kort skiet.

Eintlik wil ek net sê: Gaan koop Luna, haar debuut-CD. En luister dit. Jy sal skaars jou ore glo. Dit mag dalk net een van die beter maniere wees om 30 minute en 11 sekondes te spandeer.

Luna

Lesers het dalk al met Luna Pieterse kennis gemaak as die skaam, amper teruggetrokke lid van die musiekproduksie Eve — in the garden of song, wat al by die Stellenbosch Woordfees, Aardklop en die KKNK opgevoer is. Daar het sy saam met ervare kunstenaars soos Lesley-Rae Dowling, Nicole Holm, Laurinda Hofmeyr en Eugenie Grobler opgetree, en dadelik ’n blywende indruk gemaak.

Haar snit “La Luna”, ’n meesleurende vertaling van ’n gedig deur Pablo Neruda, was een van die hoogtepunte op die Eve-CD, wat saam met die vertonings verskyn het. Dis jammer dat dié snit nie op haar debuut-CD is nie, maar sy sing dit gelukkig altyd tydens optredes.

Vanjaar het Luna haar solo-loopbaan geloods en is haar kortspeler opgeneem tydens vier mistige, reënerige dae by Jurgen von Wechnar se Sunset Studios buite Stellenbosch.

Sy het al sewe snitte se “musiek” en lirieke geskryf, en skuif self agter die klavier in. Sy het die ateljee gedeel met Barry Steenkamp (van Akkedis) op baskitaar, Tinus van Dyk op akoestiese kitaar, Francois Kruger (voormalige Springbok Nude Girl) op tromme, Jan-Hendrik Harley (viola) en die broers Chris en Robert Jeffery (onderskeidelik viool en tjello). Almal jong en uitstekende musikante in eie reg.

Die musiek vloei moeiteloos tussen folk, blues en jazz. Veral “Grapevine” het ’n luilekker jazz-gevoel wat heeltemal aansteeklik is. My gunsteling is “Lullaby”, wat jou in droomland het voor die CD sy einde bereik.

Sy sing oor bietjie liefde, bietjie leegte, maar mens raak so verlore in haar stem en die melodieë dat die lirieke mens nie dadelik tref nie. En dis nie kritiek nie — eerder ’n moerse kompliment. Dis eintlik eers met die tweede en selfs derde luister dat die lirieke met mens begin gesels ... en dan is dit tickets.

Luna

Luna en haar span het die CD self befonds, en toer nou om die album wyer blootstelling te gee. Hulle beplan om volgende jaar ’n vollengte album op te neem; Luna het reeds meer as genoeg songs geskryf.

Diane de Beer het Luna as volg beskryf in Aardklop se Spat-feeskoerant in 2002:

“Sy het ’n weerbarstige stem wat die hart deurkloof. Sy het ’n stem wat mens laat stilstaan en binnekort gaan laat toustaan.”

Ek voorsien ’n tyd in die afsienbare toekoms waar feesgangers en gehore angstig gaan rondtrippel om kaartjies vir ’n Luna-vertoning te kry.

As Luna haarself goed bemark en hierdie CD by die regte ore uitkom, behoort sy nie te sukkel om ’n goeie platekontrak los te slaan nie. Sy is nog jonk en nuut in die bedryf, maar ek reken as die kaarte reg val sal haar musiek beslis nie net op eie bodem bly nie.

Want haar stem doen iets aan mens waarop min kan roem: dit vat jou anderkant die maan, en al die pad terug.

18 November 2003

Klik hier vir Luna se webruimte
Klik hier vir Luna se Kaapse gigs in November en Desember

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.