KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Lady One-bekendstelling en -CD-resensie

Johann Kotze

Lady OneAlbert du Plessis, regisseur en eienaar van die Kaapse musieketiket Rhythm Records, het puik talent ingespan tot ’n meesterlike volbringing vanuit die uitvoerende regisseur se sitplek.

Wat meer is, is dat elke kunstenaar ’n beurt gegun is om as vervaardiger op te tree vir ’n snit of twee. Die gevolg is dat die groepe musikante se afwisselende style almal neerslag vind vir broodnodige afwisseling op hierdie tipe CD — sonder om rigting te verloor, danksy Albert se definitief teenwoordige regie-visie.

Met name soos die deesdae alomteenwoordige baskitaarspeler Schalk Joubert en Barry van Zyl (meester van slagwerk) en die Kaapse groep Benguela, Laurinda Hofmeyr, Paul Riekert (Battery 9), Jean Marais (ex-Duusman), Ben Amato en Tim Parr (onderskeidelik hoogs geagte nuwe en oudstryders op die Kaapstadse musiekfront), en ’n skitterende rockster/poet-tour de force van Arno Carstens, Nude Girls se voorsanger, kon hierdie nuwe (die tweede) Breytenbach-CD maar net nog ’n “baie groot name wat poep in die wind”-versameling gewees het.
B Breytenbach
Foto:
Erns Grundling

Gelukkig is dit nie, en Lady One oortref boonop ook sy voorganger, Mondmusiek, in kwaliteit. Breyten is meer duidelik hoorbaar, die musiek is meer afgerond en daar is minder konsep en meer magic alomteenwoordig. Die ondervinding met die vorige poging is duidelik, en Albert en sy span medewerkers se groeiende ervaring in die musiekbedryf is die sleutel om die konsep groter te maak as wat die inhoud reeds is.

Die grootste naam op die CD behoort natuurlik, soos dit hoort, aan Breyten self, met die woorde van sy gedigte afgedruk in die pragtig-versorgde hardebandboekie-formaat. Die woordgedeelte van die skepping skitter en troon uiteindelik bo die res van die werk uit, ook soos dit hoort.

En werk is daar beslis hierin gesit — duidelik kom ’n projek soos hierdie nie sonder eindelose oproepe, organisasiemanewales en studiotyd tot stand nie. Ook moet Kerneels Breytenbach en Human & Rousseau gelukgewens word met hulle visie om toe te sien dat hierdie tipe werk op die mark kan verskyn.

Schalk Joubert se uitstekende minimalisme en haakgroef (hookline/groove) op snit 2, en Arno Carstens se stem op die Tim Parr-produksie van snit 3, is vroeë hoogtepunte. Hiernaas groei die CD stadig aan mens, en is dit nie altyd wys om die hele tog van woord en klank op een reis te probeer inneem nie. Hierdie is nie heeltemal agtergrondmusiek nie, al luister dit ook hoe lekker.

Soms is daar ampers te veel instrumente teenwoordig (bv Laurinda se wonderskone klaviermelodie op “une vie sans ailleurs” word effe weggesteek), en alles raak net bietjie te besig, maar daar is genoeg klankskakerings en afwisseling van snit tot snit om hiervoor te vergoed. Eintlik verdien Lady One uiteindelik min kritiek, en uiteindelik kom daar nou grootse werke in Afrikaans tot stand sonder enige geraas en opspraak, maar met die nodige inslag. Woord en klank is hier die wenner, nie eggo’s, taalstryde en ander gevegsfronte nie.

Tydens die bekendstelling in Kaapstad op 22 Mei het die gehoor die geleentheid gehad om Breyten as wafferse rockster te sien: soos ’n miljoen rocksterre probeer het om “digterlike” lirieke te skrywe, het hy daar voor die mikrofoon gestaan en lees, beskeie maar duidelik gemaklik en opgewonde oor die ervaring.

Daar was TV-kameras en kameras en ligte en rookmasjiene en wierook en oranjegedrapeerde lappe in die intieme dak-venue van die Zem Café, ’n nuwe maar effens afgeslete trendy transy klub net langs Langstraat. Soos ’n Jim Morrison, eertydse beautiful poet, was Arno Carstens die ware Morrison van die oomblik, Benguela was effe gestrand buite hulle normale optrede-milieu en Laurinda het ’n pragtige Hofmeyr-melodie uitgevoer tussen die ongelooflike woorde van Breyten.

Maar daar by die bekendstelling het Breyten op die wêreldverhoog gestaan. Ek het gewens dat Allen Ginsburgh daar was, dat Jack Karuack daar was, dat die hele verflenterde Woodstock-generasie hierdie goed sou hoor in stede van om Microsoft-miljoenêrs te geword het. Dat die hele bodemlose moderne generasie eendag ook werke soos hierdie sal waardeer en skep.

Dis Albert se meesterwerk hierdie — kunstenaars hoef slegs een so ’n topproduksie te maak in ’n leeftyd. Beslis ook ’n wonderlike pluimpie in die hoed van BB. Nou kan sy werk gemaklik ’n plekkie vind op die rakkie tussen die Leonard Cohens en die internasionale gehore. Skielik is Breyten nie meer net “’n Afrikaanse digter” nie — nie dat hy ooit net dit was nie.

Afrimusik.com

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.