KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Digitale klankparadys

Johann Kotze

“Onthou jy nog die dae toe ons nog vir ons vriende en meisies tapes gemaak het? Daardie wonderlike praktyk waarvolgens jy jou gunsteling-liedjies op band opgeneem het met titels soos ‘Motors en Meisies’- vir jou meisie maar eintlik vir jou eie plesier, natuurlik.”

So het ek my CD-rubriek in die Januarie-uitgawe van die Insig-tydskrif begin. Die idee was om die wonderlike en omstrede onderwerp van “home taping” aan te spreek, veral noudat die Internet en die nuutste tegnologie dit so vergemaklik het om puik-gehalte kopieë te maak, vanaf ou vriende se CDs, of vanaf die Net se volop bronne.

Vandaar die titel, dan: Digitale Klankparadys. Ek haal myself verder aan:

    Deesdae kan mens, met die hulp van die Internet, steeds meer wonderlike goeters met liedjies aanvang. Met die MP3’s (’n klankgreep) wat oral op die net gevind kan word is dit nou moontlik om gratis liedjies af te laai sonder om eens jou plaaslike musiekhandelaar te gaan pla.

Jy kan, met ’n bietjie vaardigheid en toegang tot onlangse rekenaartegnologie, al te lekker jou eie versamelings “sny” op ’n CD-skrywer, of in jou rekenaar berg, vanaf geleende CDs of veral met die Internet as bron. Dis juis met die toegang tot CD-skrywers waar die probleme inkom: met so ’n “opneembare CD-speler” kan enigiemand hele albums kopieer teen so min as R10 of R15 per sewentig plus minute. En dis nie soos in die ou dae van kassetkopieë ’n geval van ’n minder klankgetroue weergawe in ’n minder gerieflike formaat nie — ’n CDR-kopie bied vir alle praktiese doeleindes dieselfde kwaliteit as die oorspronklike.

Die probleem is dus nie die ywerige musiekaanhanger, soos die voorbeeld heelbo, of die ou wat die Internet deurkruis wat sy eie versamel “tapes” van verskillende bronne (gewoonlik uit sy eie versameling en vanaf Internetbronne of vriende) maak nie. Dis die vent wat nooit self CDs aankoop nie, maar eenvoudig sy vriende s’n kopieer en sodoende direk ’n sale steel by die platemaatskappy — die kunstenaar se brood uit sy mond neem. Dís waar die probleem lê. Natuurlik voel ek self dat U2 sekerlik heel lekker gaan eet sonder my bydrae. Dis (soos gewoonlik) die kleiner maatskappye en kunstenaars wat elke verlies van ’n verlore verkoopslag voel.

Terug dan by die ywerige luisteraar en die Internet. Nog ’n aanhaling:

    Nuut op die plaaslike mark is die Friedjam (www.friendjam.com) maatskappy wat slegs Suid-Afrikaanse musiek op die Internet verkoop. Jy betaal per kredietkaart vir die liedjie. Jy kan heerlik rondkyk vir nuwe liedjies wat jou moontlik kan bekoor deur die klein klankgrepies wat verskaf word.

Verder:

    Talle ander nethandelaars bied sulke klankgrepe aan. ’n toonaangewende onafhanklike verspreider van plaaslike CDs per pos is OneWorld.com (www.oneworld.com). Naspers se Kalahari.net (www.kalahari.net) het onlangs ook ’n CD-katalogus beskikbaar gestel in ’n poging om hierdie mark van die toekoms te beheer.

Met die fenomenale groei van net-maatskappy soos Amazon.com (www.amazon.com) is dit net logies dat elke musiekhandelaar wat sy sout werd is, hierdie speelveld wil betree.

Steeds glo ek nie vir ’n oomblik dat mense op die lang termyn daarvan sal hou om op die onpersoonlike en koue Internet besigheid te doen nie. In die winkel waar ek werk is daar nou reeds ’n stadige terugkeer van die kliënte wat vroeg reeds op die Internet begin koop het. Dit is nou maar net nie dieselfde plesier om na ’n rekenaarskerm te staar as om deur ’n CD-winkel se rakke te blaai nie. Daar staan jy, sintuie verskerp, afwagtend vir daardie een omslag wat jou na jou beursie sal laat reik soos ’n pistool in ’n Wilde Weste-film.

Terloops, fotokopieermasjiene het tog nie die boekehandel vernietig nie. Watter versamelaar van digbundels is tevrede met ’n fotokopie van ’n meesleurend-ontwerpte bundel in volkleur en wat met sorg gebind is?

Volgens alle marknavorsing het die Napsters en MP3.com’s van die wêreld slegs vuur geblaas in die opnamebedryf. Juis daarom dat die Universals (buffel-platemaatskappy) van die sakemagnate so angstig was om die Internet-handel eers te probeer keer met wettige aksie, en nou deur dit maar stelselmatig uit te koop. Musica, die land se grootste musiekkettingwinkel,het ook onlangs sy web-verkoopblad begin.

Die pluskant van die Internet bly maar die rykdom en beskikbaarheid van informasie. Suid-Afrikaanse maatskappye was tot dusver maar effe stadig van die merk, seker omdat ons mark ly aan ’n gebrek aan volume van rekenaargebruikers. Die internasionale trefkrag van die Internet-handel kan egter nie onderskat word nie.

Van die groter plaaslike musiekmaatskappy het BMG die beste blad — Click2Music (www.click2music.co.za). Hier is onder andere ’n lekker warm katalogus van die “Afro-jazz”-genre en dit beskik oor ’n hip en funky voorkoms. Iemand soos Select (www.select.co.za) se blad is weinig meer as ’n so-so lys van kunstenaars en titels, maar steeds ’n nuttige ding vir die handelaar en navorser. Soos in die geval met byvoorbeeld Friedjam.com bied die beter webtuistes ook meer aan oor die kunstenaars wat hulle probeer bemark, plus ’n lys van optredes / gigs.

Soek jy meer oor spesifieke kunstenaars kan jy die plaaslike “search engine” Ananzi (www.ananzi.co.za) inspan. Hier kan jy iets van alles opspoor. Talle individuele kunstenaars het deesdae hulle eie webwerwe, byvoorbeeld Valiant Swart (www.valiant.co.za) of Koos Kombuis (www.kooskombuis.co.za). Verskeie musiek- “e-zines” is ook te lese, bv Amuzine (www.amuzine.co.za), CD (www.samusic.co.za) en die SA Rock Digest (www.cd.co.za/sarock).

Vir Afrikaanse musiek kan jy kyk by plekke soos Knoopsgat (www.geocities.com/knoopsgat/index.html) wat ’n skakel sal gee na werwe waar jy JNS-produkte of byvoorbeeld die nuwe Laurika Rauch-CD kan aanskaf. Soek maar lekker, krap rond.

En soos ek gesê het aan die einde van die Insig-artikel:

    Gaan dan en koop ’n regte CD (verkieslik ’n plaaslike kunstenaar s’n) by ’n regte winkel waar jy die verkoopspersoon kan vra om te luister terwyl jy die boekie deurblaai en die ander omslae beloer met die vertroue dat iets “koop my” in jou oor sal fluister. Miskien iets wat jy op die Net gesien het ... hou daai beursie skiet-gereed.

  • Johann Kotze is van www.afrimusik.com

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.