KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Die ding ruk mal in Robertson

Katvrou

I

Die ding begin elektronies.

Bra Bloukie se e-pos land in my [Inboks]:

Up The Creek gaan nie in Februarie 2006 gebeur nie. Savanna, die hoofborg, het onttrek. Blykbaar wil hulle meer in die televisiewêreld gaan ronddinges.
So is dit dan.

Geen Up The Creek nie. Die pyn plof intens in 'n dowwe grys kol iewers onder my borsbeen.

Ek bloei nog wanneer sy volgende e-pos op my skerm bliep:

Maar, het jy al op die Robertson Rocks webwerf gaan kyk??? Hulle gaan 'n rockfees hou - 2 tot 3 Desember, net buite Robertson, by Silwerstrand.

Ek bekyk die musiekspyskaart op die Robertson-webwerf. Ouens soos Bed On Bricks, Rudimentals, Delta Blue, Fokofpolisiekar en Rooibaardt gaan optree. Die besluit kom klim kaalpoot in my kop. Ek gáán. En lees verder. Die Melktertkommissie. Willim Welsyn. Boulevard Blues Band. Akkedis. Karen Zoid. Hog Hoggidy Hog. Skallabrak.

EK GÁÁN. Die nuwe name is ook 'n wortel voor my neus - The Lancaster Band, Jack & Jill, Grassneier, Acid Blues, Oordosis. Interessant.

'n Haastige verlofvorm, 'n geleende Fuji Coolpix en 'n handvol kalmeerpille vir Kulula se boepensvliegtuig kry my summier in die Kaap.

Bloukie se Vroetelbus vat die pad uit, vanaf Dorpstraat Teater se stoep, na Bonnievale se kant toe. Die oggend is krokant en vars, en ek hou die musiek aan 't werk terwyl Bloukie die wiele op die teerpad hou. Die verkeer is besig, veral met groot vervoertrokke en dieselbakkies. 'n Lang ding kom regs verbygedreun. Moerat's Interstate. Die bestuurder glimlag oopbek wanneer ons verbytrek. 'n Haastige bakkie sjjirrrrr ongeduldig agter ons, vat dan die hoek verby, horison se kant toe. Springbok Verkoeling. Haastig, haastig.

Ons ry oor Smalblaarrivier. Dan verby Holsloot. Mauritz Lotz speel "Karoo Trance" en die bome dans langs die pad.

"Check hierdie sign," sê Bloukie. Regs langs die pad hou 'n klein padstal die koelte vas. RUSKS/UIE groot in swart letters oor die houtbord by die deur geskryf. Hmmm. Hoekom nie BESKUIT/UIE nie? Beslis ook nie iets wat ek op een bord sou eet nie.

Die Hugenote-tonnel sluk ons in. Dis stil en koel, en donker. Francois van Coke doen "Hemel op die platteland" en twee sekondes later maak die tonnel oop. Die son wys sy spiere. Ek vergaap my aan die berge om ons - pers en bruin en groen, en grimmiger, selfs knoetseriger as in Februarie. Op plekke lyk dit of wit-en-bruin rotsfragmente met 'n onsigbare graaf van bo af tot in die helfte van die berg afgekrap is. "Kyk hoe breek die berg," lees Bloukie my gedagtes. Maar dis mos hoe die Kaap stil-stil met Gautengers begin praat. Met haar berge.

Dis hoekom die pad nooit uitmergelend lank voel nie. Nou net nog was ons deur Rawsonville, maar hiert-jou, dis skaars middagete, en die Vroetelbus se wit neus draai links by Silwerstrand se hek in.

II

'n Ry wit grasdakrondawels staan onder bome langs die Breederivier wat tot doer onder teen die horison lê en blink. Wit houtbankies is oral aan die bome se voete gewortel vir 'n bedonnerd mooi uitsig oor die rivier. Ons gooi ons rugsakke oor die bodeur van Rondawel nr 21 en soek die pad verhoog se kant toe. Op pad soontoe staan die Silwerstrand Kafee, met als binne wat jy dalk vergeet het om saam te bring. Ja, veral roomys, die rolle en rolle Butsoft-toiletpapier, tandepasta en bakke vol stokkielekkers vir die soettande.

Die wind is fris en vat aan jou met groot hande. Ver oorkant ons op die rivier se wal skuur 'n groot geel stootskraper die geelwit oewersand op 'n hoop. Dit lyk obseen, soos 'n kaal skootdanser aan 't wriemel binne 'n kerk. Iemand sê later vir my daar kom 'n gholfbaan. Groot nuwe ontwikkeling, baie planne vir Silwerstrand.

Tussen die kosstalletjies met rooiwyn, biltong, vars groenteslaai, waterblommetjies en hoenderschwarmas is daar twee groot koelkaste met Energade en vars vrugtesap. Jy kan ook muffins, fudge en sosaties koop. Hier ly jy net honger as jy sonder geld sit. Dan, skuins om die hoek op die baksteenpaadjie, rys die groot bleek Klipdrift-kroegtent met sy lang houtbanke en kuiertafels. Drie treë verder en jy bliksem kop eerste binne die grootste en vierkantigste swembad suid van Upington. Oral dobber nat koppe en bont opblaasgoeters in die water rond. Sommige jongknape bring hulle bier saam en teug behaaglik daaraan terwyl die res van die bende bomme en mislukte bolmakiesies in die diepkant uitplas.

Ek loop verby die klein inligtingtentjie langs die kleedkamers voor ek die verhoog 'n paar meter verder aan die linkerkant sien. Twee tannies met Klipdrift-petjies deel programme en brosjures uit. Daar's iets oor Van Loveren-wyne, en oor Bird's Paradise waar jy van krokodille tot flaminke kan beloer. Die een tannie sien die Insig in my hand raak en vra om gou na die voorblad te kyk. Die aanvallige Minki pryk daarop, binne 'n konserwatiewe swembroek. Die tannie frons liggies. "Ek het 'n koei gehad met die naam Minki." Sy kyk ernstig op, gee die tydskrif terug. "Maar sy't nie só gelyk nie."

'n Geskater agter die boom by die verhoog trek my aandag. Ek loop om en loer. O. Dis die manne van Rooibaardt wat balspeel - die ding word vir mekaar gegooi en eerder met die kaalvoete hanteer as met die voorpote. Beter so. Dan kan mens nog behoorlik viool en drom bepletter later die aand, sien. Die Fuji Coolpix begin jeuk - en die son begin aanstaltes maak horison toe.

In die skemer van hierdie Vrydag se laatmiddag sien ek homo sapiens agter die kameralens rondmaal - mense van die Kaap met hulle kinders, kêrels, meisies, sosaties, kitare en koue biere in georganiseerde en gemoedelike chaos - tussen die swembad en kinderswembad met sy plat groen breëbek-sementpadda, deur die talle hoofde eerbiedig gebuig oor hulle borde waterblommetjiebredie, al lyk dit soos spinasie met houtskool en sigaretas, die plassende knape en knapinne in die swembad - tot verby die kampeerarea daar agter die swembad met sy tente en opvoustoele en kampvure.

Robertson ruk mal.

Dit begin met 'n diep gedreun en 'n donker stem agter beduiwelde dromme. "In the world where I live, truthfulness is dead - I wanna do something about it, but I talk to my booze instead!"

Ek en my LitNet-brasin Riana vlieg op van ons kroegbankie en kies blitsig koers terug verhoog toe. Aha. Hier is Jack & Jill. Vier skoongesigmanne uit Worcester, maar die musiek is hardebaard. Een klong begin voor my mosh saam met sy tjomma terwyl hy vir die grasperk brul: "JAAHAAA!!! Ons soek die heavy shit!"

En so is dit dan ook. Swaargewig, moerig, vol klitsgras, maar bliksems lekker. Net soos Acid Blues voor hulle. Die voorsanger met die baskitaar is Jaco Viljoen - en hy word aangevul deur John Pool op geraaskitaar en Michael Moore doer agter op tromme. "In my heart in my soul - Planet Confusion takes its toll!!" Ek bespeur 'n primêre kwaai streep wat hier met dik stewels trap. Ons is nie hier om julle kwassies te laat swaai nie, skatties. Ons is hier om julle derms te laat wapper. Hou vas aan julle broekrekke, want hier's dit NOU.

Die Fuji het net een geheuekaart, so ek beteuel my fotovinger met bomenslike krag.

Maar liewe genugtig, die opperfunkers genaamd Bed On Bricks kry die verhoog - en met sulke sagte slu voetjies klim die saksofoon in Mike Hardy se lyf. Schalk van der Merwe en Dave van der Linde beginne ruk agter kitare, en daar's die hoenderkrap-dans wat Dave so gemaklik sonder heupgewrigte doen, met Tim Rankin ewe koeltjies op die tromme - en my brein begin hik. Funk en jazz paar, vorm 'n nuwe volk, word witwarm, maak jazz-funk en Mike skree: "They don't say fuck on the radio, hey Mr DJ, shut-the-fuck up!!!"

Hulle vloek net in daardie liedjie.

Die res van "What's in it for me", "Funny" en "Humanarium" is bloot verslawend. En een ding wat jy net nie van hierdie ouens kan kleinkry nie, is hoe hulle vinnig én gladweg van die een beweging in die ander kan glip. Dan nog vries ook in die middel van "Funny". Dis om van mal te word.

Iewers kondig iemand die vuurwerke aan. O ja. Voor Fokofpolisiekar aan die beurt kom, gaan daar bont strepe teen die naglug geteken word. En dit gebeur in rooi blitse, geel kwassterte, persblou spitse en wit pyle wat eers geruisloos oor ons koppe 'n blink streep trek voor dit bo in duisende stukkende bont sterre ontplof.

Ons "Ooeeeeeee", "Jissie, kyk daai een!!!" en "Aaaaaaaaaaaaaiiiii!!!!" vir 'n volle vyftien minute.

Dan terug verhoog toe. Fokofpolisiekar is gereed. Francois van Coke gryp die mikrofoon. Die massa feeslywe is soos sardiens teen die verhoog gepak, tot reg teen die swembad, maklik vyftien meter terug. Wynand stap op, buk en kom regop met die gekrapte bontbruin baskitaar. Hy neem 'n groot sluk water, ruk agteroor en spoeg dit uit in 'n boog wat bo teen die seildak oopspat nes Johnny de Ridder die voorkitaar met 'n allemintige rif teen sy lyf vasruk. Francois klim in my kop. "Mikrogolfoondmense marseer - wanbegrip, wanbalans, wanbeheer - weggedraai …" Die voorste lywe gil en jil: "JAAAAAAA!!!!! FRANCOIS!!!" Dan van agter af: "FOKOFFFFFF!!!! FRAAANCOOIIISS!!"

Die nag is 'n windtonnel. En jy ry hom skreeuend en kwylend sonder brieke. "Sing, kriewelend, spasties, kruipend - ek is honger en my klere stink!"

Van agter af kom 'n roering, langs die trossie bome by die kinderswembad. Ek rek my nek - dit lyk of 'n paar ouens mekaar begin klap. Dit lyk lelik. Francois druk 'n stywe arm in die lug en bebrul die mikrofoon: "Moenie kak wees nie, mense, moenie kak wees nie!"

Nog 'n boog water maak skietstrepe onder die wit ligte en Wynand laat sak sy kop, onmiddellik diep binne "Die illusie van veiligheid". Francois gaan voort: "Goedkoop kitssatisfaksie, volgraan fase 4 - mezzanine messias van die woonbuurt - ek is BAIE BLY OM JOU TE SIEN!"

Vanuit my staanplek op die sementtrappe langs die verhoog sien ek elke beweging, die sweet, die snare, die kwaai tekkies, die kabels, die bottels mineraalwater, die koorsige hande en lywe en honderde koppe aan 't maal voor die verhoog. Die energie is brutaal en dik en wild, en Fokofpolisiekar eien én besit die massa springende lywe voor hulle. Vir hulle is dit soos asemhaal. Die stemme en lirieke, die drie kitare onbeskaamd driftig, met 'n vinnige woede wat net deur hulle presisie oortref word. Die energie laat jou hoog vlieg - en jy kom eers af na minstens een yskoue bier. Ek sluk groot happe. Die aand is skaars 'n fetus.

Kom daar nou 'n hoop "ouer" menere oor die verhoog aangestap. The Lancaster Band. Almal gebaadjie - twee is stylvol gehoed. Daar's 'n roering voor die verhoog. Tyd vir bietjie ska-kultuur. Robin Lancaster is die voorsanger met 'n hoed, en 'n kitaar aan die arm, dan's daar Howard Butcher op diksnaar, Garth Hichens op kitaar (binne 'n spierwit baadjiepak), Harry Lancaster doen dromme, 'n donkerbril Gary Munro op saksofoon, en die jonge Brett Lancaster speel klawers. En hulle val weg met 'n verbete mengsel van ska-rock, energie, 'n konka vol kookwater, 'n saksofoon met twaalf tonge, en donkiejare se ervaring. Na 'n skrale sewe minute is die hele skare, van 12 tot 82 jaar, bodemloos bekeer. Robin grinnik breed en sê: "We're the Lancaster Band. We haven't gigged since 1982, and this feels GREAT!"

Hulle maak die verhoog vuurwarm vir die ander ska-brigade - die Rudimentals. Nee, o aarde. Hier's Boss Teboho weer met sy sing in daai funk-geselstrant, sy gesig die ene pret, weer met ougat hoed en breë bont das, dan ook die grote Bong met sy dik rasta-hare tot op die grond, baskitaar teen die maag, en Mista E wat sy vingers aan flarde pluk met 'n kitaar reg uit die maag van 'n heks. Die stilgesig Doc Mike lyk of niks hom pla nie. Net sy vingers werk die kitaar hier teen die midderif asof dit sy laaste uur op aarde is. Hierdie is Radio Skaweto op sy hardste, met "Noh TV!" wat kliphard uit die longe geskreeu word, en almal dans. Jy kan dit nie verhelp nie. Die ska laat jou lyf leef.

Skuins na middernag. Die swembad rimpel met 'n paar lywe deur sy donker nat pens.

Rooibaardt is die laaste item op die lys - en hulle's al heeldag gereed om te speel. Die oomblik wat Denzl Keenan sy nuwe viool (die hele ding self gebou, liewe moer) optel en met "Thaba Bosiu" begin, kom daar mense uit die donker, vanuit die kampeerarea, tot van die kroegtent af, met daardie "wat-de-moer-is-DIÉ???"-uitdrukking op hulle gesigte. Die groepie van 30 bittereinders groei vinnig en word binne minute 'n groot massa dansende lywe en wuiwende arms. Hensie kyk skreefoog die donkerte in, glimlag dan vir Louis met die bassnaar, en laat waai met sy stokou kitaar. "Pula" maak oop bokant ons koppe in kitaar, djembe, viool en gepekelde stemme uit die Vrystaat. "Wakker in 'n droom rook ek saam met die tokkelossie boom, en soos 'n galbitter koeksister spel sy dolosse voorbodes van sinister …" Die Fuji se battery is pap. Ek sit haar saggies in my rugsak weg, trek die naglug in my longe en dans vir Rooibaardt. Dit voel of al die hare op my nek regop staan van lekker. "Dis asof tyd my nou regeer, want Afrika's net nie dieselfde sonder jou nie!!!"

Hensie kry iets wat soos 'n pan lyk en bliksem dit met 'n staalspaan. Louis se hare is 'n gordyn; net hy en die thummm-thummm van die bas hou vir 'n paar sekondes die storie bymekaar. Denzl pluk 'n vuilwit swembadpyp uit, woer-woer die ding eers bokant sy kop tot dit begin fluit, en bring dit dan terug mond toe om sewe didgeridoo's uit die pyp se keel te suig. Ek hoor 'n trompie tjierrrienggg-tjienggggg. Nee, nou's dit 'n skwiek-skwiek-skwiekkata-skwêêêk … o, dis twee bont geelbek-eendjies wat nou sommer in stereo bo-oor Hensie se hande sit en twiet.

Ons dans.

Nee. Dis nie dans hierdie nie. Dis die klanke wat jou toor. En dan ruk jou lyf hierdie kant toe, jou voete woel soos twee elektriese klitsers hier ver onder jou kniekoppe, en op jou gesig kom plak daar hierdie grinnik so breed soos 'n brood.

Hier's "Siyaya". Dié wat miskien klein bietjie koud gekry het in die Kaapse naglug, is nou warm tot agter hulle oogballe met die reggae. André se hemp waai en die dromstokkies beaam die ritme in sy kop. Denzl dans kaalvoet: "Have you ever had de buzz feelina, my sister have you ever had de buzz feelina, my mamma have you ever had the buzz feelina …"

Die hele lot van ons buzz soos gerookte bye.

"Mango" laat die sweet spat en Hensie onthou toe-oë agter die mikrofoon vir Wilma: "Wilma, wat gaan ons maak, in wakker slaap … he morena o mamela, he mogentla, yo, eat your mango!!!"

Niemand kry meer koud nie. Bo teen die seildak dans fyn grasstoffies in die wit ligte soos die voete voor die verhoog die gras losskuifel. "Increase da Peace" ruk my nek uit lit, maar dis in orde. Want sien, "Die kalkoen is dood, die kalkoen is dood van growwebrood …" Ons dans. En sing in vreemde tale. "En die kat lê op die stoof en skree ons ore doof, maar daar's nie kak nie, want daar's nie kos nie … INCREASE DA PEACE, INCREASE DA PEACE!!"

Vyftig minute vlieg verby. Nou begin die onrustige vioolnote van "Taliban", een van die nuwe stukke wat Denzl en Hensie geskryf het. Dit begin bedrieglik stadig, slaan dan oor in reggae, en in die middel van die liedjie staan Denzl alleen en doen 'n suiwer kreet die naglug in wat jou reg binne die Midde-Ooste gooi. "Aiiee-aiieehaaa-hieeehhaaa-aiieeee ..." Die hoendervleis is skielik oral. "The American blames it on de Taliban mon, the Taliban blames it on de FBI con mon, any man can be a con mon, mon - but I blame it, blame it on de Taliban …" Hier sien ek vanaand hoe dans mense terwyl hulle frons - hulle probeer uitpluis oor dit wat hulle ore hoor.

Dis die Rooibaardt-koors.

Die ligte by die verhoog is af. Ek krul op in my bed in rondawel nr 21. Buite hoor ek die wind met die bome praat - maar binne my kop bons dit steeds soos rubberkoeëls: "Increase da peace, increase da peace!"

En die slaap kom hurk oor Silwerstrand.

III

Ontbyt is 'n teer saak as jy nie die vorige nag jou lewer in watte toegemoffel het nie. Die gewildste keuse vir innerlike versterking is die wynwaentjie oorkant die swembad se pikante wynkelkie. 'n Groterige glas witwyn, 'n lang skeut limonade en 'n aarbei of drie, gesny in skywe. HEERLIK.

Oral om die breë houttafels sit lywe (sommige agter sonbrille) en betuur die oggend. Sonvrou Sonja, 'n toegewyde SêNet-bespieder. Riana, en haar bure uit die tent langsaan. Ook ene Frislies met 'n boerehoed. Die swembadwater neig nou meer na 'n groenerige nuanse as gister se blou. Dis nou skaars twaalfuur, maar reeds halfvol wriemelende nat lywe gepak, in biologiese ontwikkelingstadia wat wissel van piepjonk tot grys van wysheid. Die manne staar. Sommige kwyl. Daar is besonder baie lywe vir hulle om oor te yl.

Die aankondiger vra in haar sonnige tortelstem vir dames om asseblief hulle broekies na die uitsaaiwaentjie te bring. Dis vir FHM, en hulle versamel soveel van die ou fyngoedjies as moontlik vir hulle padtoer deur die Kaap se kuierplekke.

'n Opgewonde roering trek deur die feesgangers - veral die manlikes. Maar geen dame kom nader om haar broekie vir FHM op te offer nie. Dis dan nog oggend, verdomp. Hoe kap hulle koppe dan aan so vroeg in die dag?

Die brasse en brasinne van Kophou Produksies kom verby. Madelein is neutbruin en 'n bol gesonde energie. Seekat se pet sit skeef, maar paraat. Hy sê ek moet reg wees vir Skallabrak vanaand. Hulle gaan die verhoog laat bewe. Ek glo hom.

Bra Bloukie kom plak by ons neer - aan 't energie opbou vir die Boulevard Blues Band se speelbeurt oor 'n paar ure. Hy teug stadig aan 'n Dry Lemon en sê: "Een aand toe gebeur daar mos hierdie vreemde ding met my in Springbok." Hy glimlag geheimsinnig.

Ons sit nader.

"Ek moes mense gaan oplei in Springbok en na my aandete by die local steakhouse het ek die verkeerde afdraai gevat en in die verkeerde straat beland. Toe sien ek mos hierdie pub … Club Inferno."

Ons sit regop.

"Ek stap in, bestel my bier, en hoor toe hierdie song oor die speakers - 'Green Stuff'. Nou die opening riff klink baie soos ZZ Top se La Grange. Ja, gaan luister maar. En dis 'n song wat ons mos ook doen. Ek sit en luister so, oortuig dis ZZ Top, tot ek Greg se bekfluitjie hoor. En ek skiem - maar ZZ Top het mos nie 'n blues-harpspeler nie?"

Inderdaad.

Wat's die moontlikheid dat mens by 'n weggesteekte plekkie soos Springbok aankom en jou groep se musiek in Club Inferno se kroeg hoor … En blykbaar, nadat Bloukie die kroegman bevraag het, word dit toe duidelik dat dié iewers op 'n kol die Boulevard Blues Band se weergawe van "Green Stuff" by 'n mater gekry het, wat dit straks op die nuttige SAMP3-webwerf raakgesoek het.

Ek parkeer my boude op die sementblad langs die verhoog vir die volgende rondte. Die eerste paar musiekpogings is effe kragteloos en sink nie diep genoeg in my breinsap in nie. Dit word egter tyd om Die Melktertkommissie se nuwe liedjies te beluister - ek hoor so verlangs in die wingerd daar's nou minder tienerangst en postverhoudingswroeging. Ek dink nie die gehoor gaan juis omgee nie - bykans almal is tieners, of kniediep binne 'n verhouding. Hulle wil vir Lucinda en Betsi hoor - en self sien hoe Jean-Marie haar blou Fender in 'n ding inbuig wat net sy besit.

Nicol du Toit (boerseun uit die Boland en voorkitaarslaner van Dikazzins) kom skud blad, sien dan sy bier is feitlik klaar en vra wat hy vir my kan terugbring van die kroegtent af. Ek dink aan die muskiete wat blykbaar hier rondhang (nege bytmerke op my regterbobeen vertel 'n vreemde verhaal) en vra vir 'n jenewertjie, nie te veel tonikum nie, dankie. Hy kyk my skeef aan. Ek vertaal: "Gin en tonic, ek sê." Aha. Die stout in sy oë word op die plek onhebbelik. Agter hom hang die groot Klipdrift-verhoogplakkaat tjoepstil in die middaglug: "Voëls van alle vere gaan hier tekere."

Die Melkterte kry nie juis kans om hulle liedjies van die nuwe album WonderWoorde gesing te kry nie. "Zorro!" kom dit van voor af. Dan weer, 'n meisiestem iewers regs: "Suikerbos!" Maar kaalvoet, in geblomde rompe en met blosende wange en poniesterte slaag hulle daarin om die middagloom te verdun. "J'Bay Blues" en Lucinda se helder stem kry die lywe wat kans sien om te staan in die hitte, aan die swaai. Betsi tokkel rustig op die kitaar en bekyk die middag met 'n ougat sonbril. En ja, weer word daar gesing dat Superfly eintlik nogal 'n erg dapper vlieg is. Net daardie .exe-lêer wat destyds so geredelik rondgevlieg het, was genoeg om dit te bewys. Kyk dan nou net so hoe vlieg 'n kragvlieg déúr 'n knaap se skedel.

WWOOEEEESSSJJJJJ - en net so is die hele staanplek voor die verhoog volgepak. Huh??? Wat gaan nou … o, ek sien. Dis DNA Strings se beurt. Iwan Kemp betree die dromme met 'n frons en blitsige voorarms. Die Valpré-bottels staan varsgepak tussen Danie se kaalvoete en Jacques se denimbene.

Een jong knaap kry 'n lang sluk bier en vra sy mater: "Nou waar's die lyrics? Sing hulle dan nie?" 'n Paar van die swaaiende dames in die voorste rye voel 'n flenter - lirieke of nie. Hulle dans en lag oopbek, blink sonbrille winkend in die son. Ek's heeltemal te verslaaf aan die malse versadiging van Rooibaardt se djembes en Denzl se skisofreniese viool om hier en nou te wil begin heupswaai. Maar my vooroordeel ten spyt, is die vyf fikse manne van DNA Strings erg professioneel, en doen 'n armvol snitte uit El Niño en Nomad met 'n geoefende gladheid uit die vuis uit.

Die sweet kom sit so wydsbeen tussen ons.

En op die verhoog maak Willim Welsyn kaalvoet gereed om homself en die Sunrise Toffies aan Robertson bekend te stel. Om sy nek pryk 'n breë bont veter, kordaat gestrik in rooi, geel en groen. Die groot sonbril bly nie lank op sy gesig nie - dis nou eenmaal te verdomp warm daarvoor. Sy nuwe Epiphone Les Paul (hy noem haar Botterbruid, waarskynlik weens daardie ryk plaasroomkleur) - is gereed, saam met Etienne agter op tromme en die lenige Panna op baskitaar. Willim het pas as mediakantoorwerker bedank om, soos hy sê, "al my kleurvolle energie aan die Sunrise Toffies te bestee". Vandag hoor ons nie net snitte uit Feromoonrose nie - o nee. Hy't nuwe goed, alles beplan vir die tweede album, wat hy Buikspraak gaan doop.

En dit val sommer weg met "Jy weet niks" - en hoe hooglekker om sy ma en suster voor die verhoog te sien saamsing. Sy suster se T-hemp het 'n rits witgedrukte woorde oor haar linkerskouer: "Jollifikasie - Dierasie - Variasie - Sensasie - Ovasie - Fiksasie - Okkasie - Emansipasie, Fieterjasie …" tot waar ek nie meer kan lees nie. Willim pluk die Botterbruid die lug in. Die jonge meisjes begin kweel. Hier's 'n storm aan 't broei. En jy sien dit tot in die punte van Willim se energieke krulhare wat hemel toe staan. "Meng jou murg met myne, plant my in jou tuine …" Uit hom brand hierdie tasbare passie, 'n onrustigheid wat op een of ander mal manier in die kleur van sy stem realiseer. "Langs die pad hang die drade, skoene oor die pale - onthou om vanaand kalm te bedaar …"

Tussen hom, Etienne en Panna klink hulle alles behalwe na stoompotslange sonder 'n idee hoe om musiek te pleeg. Die ritme kry krag met "Soos 'n skoolhoof":

Jy's so hartseer soos 'n skoolhoof op Republiekdag
trane in jou oë soos dit reën oor jou landsvlag
sakke oor jou snare, geen klavier uit jou koor
jy's so hartseer soos 'n skoolhoof wat sy pianis verloor.
En Willim praat met die gesigte voor hom. Hier's geen meesmuilende egoïs vas aan sy eie lyf of gesig nie. Hy's opgewonde oor die nuwe liedjies: "Dis kraakvars soos jou ouma se brood, my bra."

Die laaste liedjie doen hy vir sy suster. "Alles sal orraait wees". Sy sing kliphard saam - nes die meeste van ons:

Al bly die bergies vra vir geld
al moer jou pa jou met sy belt
al vloek jou vyand jou ma se kar
al word jy met die dominee verwar
al is jou ambisiebeursie leeg
al breek die skaal as jy jou weeg
al voel jy somtyds deurmekaar
met wonde in jou hart se vlees

Alles gaan orraait wees.

Kans om ná hierdie sessie te herstel?

Se moer.

Daar's skaars tyd vir 'n sluk bier. Bloukie is op baskitaar en diepstrot, Graeme doen die tromme, die lááááng Greg Smith doen perkussie en bekfluitjie, Richard Pryor het die Gibson en 'n lekker windgat Elvis-lipkrul-houding, terwyl John Mostert (eks-Blues Broers) grimmige voorsang en algemene draakstekery vir die Boulevard Blues Band doen. Die blues word nou sommer lekker donker hier. Maar ons praat nou die waarheid, mense, so drink julle medisyne. "You cain't judge ah book bah jus' looking at its covah, Baby …" en hulle werk vir ons daardie About Time-album deur van sy kroontjie tot by al tien sy tone. En maak nie saak wat mens doen nie, jy kan die vet weet nie gewoond raak aan Bloukie se "Something in my eye" nie. "Well I woke up this mornin' …" en so begin loop die blues dan met 'n plat beursie, bitter min liefde en wispelturige feeks deur dié lied.

Richard se kaal kop glim onder die verhoogligte. Hy's lankal met die vingers aan't pluk hemel toe met die Les Paul. Tjanng-tjanngg-tjarraanngggggg … "Play that funky music, white boy …" grom John. Geen genade nie. Graeme laat los die tromme dat hulle die plek plattrap, heeltyd aan 't roffel sonder om 'n aks mis te slaan, en Bloukie trek die streep hier uit die hoek uit. "Play dat funky music right, lay down dat boogie an' play dat funky music till yah dah-dah-die!!!"

Ppwwhhooooaarrrrrrrrrrrrr, laat jy ly, sussie, laat jy ly, jou sweet sal jou verdor tot in die sewende geslag. Want Akkedis is hier. Smeek om genade is nodeloos. Tweeling Arthur en Rudi Denis lyk superfiks. Barry staan breëbors en paraat met die baskitaar, en nou … en nou … o heilige hoender, nou begin note en riwwe en keelgatte 'n string liedjies uit 'n ander wêreld bou. Vergeet van hulle liggewig "Kom ons hou paartie tot ons uitpass …" - die nuwe album het die lig gesien: Vir volk en vaderland. Binne die albumboekie pryk die drietal musieklikes in stywe Britse kispakke. Heish. Die Voortrekkermonument is voorop geteken - met 'n paar kwaai versterkers op die voorgrond tussen die proteas weggesteek.

Die nag breek met 'n rooi kitaar en "Meneer Soul". Wat de bliksem???? "Onthou jy nog die oop Karoo se bulte, onthou jy nog Pretoria se strate, onthou jy nog Worcester se stilte, o ja en Bloemfontein se gate - skink nog een, Mnr Soul …" Die manne is gek vanaand. Gemeen, verbete en hondvinnig. Regs voor die verhoog dans Seekat met sy kamera in die een hand, 'n bier in die ander. Net sy petjie swaai-swaai in die ritme van "May Day". Ek begin onbehoorlik buite beheer voel. Die ritme is slangerig - dik en verslawend. En die lirieke. Dit hou aan krap in my brein, toor my gees terug na die lelike gevreet van realiteit. "Daar was skimme in die wingerd - ons kon dans in hul kring, tussen herfs en winter, toe die waansin vir ons wink -"

Jirrrrssssssssss en hier onder die Kaapse sterre, natgeswete Broeders en Susters, kom pleit die ganse rockgemeente vir nog. Ja, die son is lankal onder, en die windjie wil-wil begin gesels. Arthur dans 'n riel met sy tromme, en kry af en toe 'n glimps van die Fuji in sy gesigsveld. Regop in sy gatsak sit 'n paar ekstra tromstokke, gereed vir aksie. Die wind kom lig Rudi se hare net effentjies - sodat ons sy grynslag kan sien. En sy kitaar word 'n glimmende rooiwit byl.

Deur twee mikrofone glip die Denis-broers se droë stemme: "Oh no - jy is toe-oë deur gevaarsone, jou kompasnaald geknak, deur 'n onbekende lugruim, jy't die wêreld losgehaal, jou afterburners bloei - nooit jou vlugplan ingedien nie - MAY DAY MAY DAY - gaan nooit weer so naby aan die son vlieg nie!"

Die program sê daar's nou een of ander vorm van "Entertainment" op pad. Ek voel vere, kies koorsig koers terug rondawel toe, lieven loven, net 'n bietjie rus, Meester, asseblief, daar's kolle voor my oë, my oordromme voel soos motvlerke, my agtertande is gekraak, asseblief … 'n blaaskans, net 'n kortetjie …

George Bacon se stem ruk my en die Fuji in 'n omkeer, reg voor die Energade-yskas. "Weeeellllll … a bit too much of this and far too much of that!!!!"

Ek sny 'n lyn terug verhoog toe - ja'k, daar's nie "Entertainment" nie, maar wel Hog Hoggidy Hog in volle grabbelende varkglorie op die verhoog. Hierdie uitsinnige sesmangroep se georganiseerde chaos in ska-punk word sonder skroom hier oopgegooi. Amos Keeto op voorkitaar en bakkebaard wat Elvis sou laat steier van afguns, George Bacon met nuwe geskeerde kop, rooi rastahare agterlangs, dik badpropketting in die broeksak en rolberoerte-dansbewegings agter die mikrofoon, die besige Lee Lips met sy trompet, en Ross McDonald wat tromboon pleeg met 'n dodelike sjarme - die meisies roep hom by die naam Rrrrrrosstafarahi. Mike Horne doen die tromme met meedoënlose oorgawe, al verpes hy die Hogs se tweede albumnaam Oink.

George se Splashy Fen 2005 T-hemp het twee vingers voorop in die lug: "LET THERE BE ROCK." Nou dis net wat hulle hier doen vanaand. Ja, dis moontlik om ska en punk met 'n goeie dosis klipharde rock te laat meng. Wat hierdie ouens egter so verslawend en plesierig maak, is die dissipline in hulle talent, en die skerp ritmeskuiwe van moer vinnig na 'n rustige marsjeerslag in veral "The Naked Song" se daarraaaang-daraaang-darrraang-daarrraaanggggg, terwyl Ross en Lee met die koperblaaspype in gelid die voete eers dié kant toe, dan dáái kant toe skop.

'n Hoogtepunt, nogmaals, is Hog Hoggidy Hog se weergawe van Johnny Clegg se "Spirit of the Great Heart". Die hele spul sweetlywe hop op en af voor die verhoog, stywe wysvingers in die lug. "I'm searching for the spirit of the great heart!" Dis vinniger as Lolly Jackson se beste Ferrari, maar met tonne meer styl, en daardie laaste stuk waar almal tuitmond "Guk a 'mzimba sala 'nhliziyo!!!" binne die mikrofoon in sing, maak die liedjie bruikbaar en luisterbaar vir jare.

Op hulle webwerf se tuisblad skryf die Hogs:

Sick of the old regime of smoke and mirror hype, bigheaded rock stars and larger than life pop icons, fed up with the plastic music industry created by money grabbing businessmen who are willing to relentlessly corrupt and exploit it just to make a quick buck. While watching the corporate parasites whose greed will ultimately destroy the very essence of what they feed upon and sell, we decided to extend our middle fingers to them all, form Hog Hoggidy Hog and drink as much beer as possible."
Ahooi, Hog Hoggidy Hog.

Aan die agterkant van die verhoog pak Karen Zoid en Don Reyneke hulle kitaarkaste in die halfdonker uit. Skallabrak is besig met klanktoetse op die verhoog. Hulle slagspreuk is "Rock in Afrikaans". Bykans vier jaar nadat ek die eerste keer van hierdie vier ouens op Valiant Swart se Bloublad gelees het, kry ek eindelik die kans om hulle in aksie te beleef. Twee van die albums is reeds in my kop - die vroeëre Musiek vir my Spaceship en 2004 se Kophou Internasionaal.

Teleurstelling? Verveling? Gaapsiekte? Nee. Nie hier nie. Hendrik Gersbach begin die kitaar se maagsnare tokkel en trek sy mikrofoon nader vir "Gatvol". Die Fuji stuur my na die voorkant van die verhoog - en woord vir woord wip die klomp mense teen my rug op en af. "My moer is nou suur van fokkol doen, dis drie-uur gewees en my gedagtes groen, die kinders speel buite and I'm sitting here - suur versnit soos 'n gebakte peer!"

Waar Hendrik die een is met die glimlag tot verby die agterkop, is Schalk alias Skallamari se kwaai kaal skedel en stil gesig met kortgeskeerde donker baard die ernstige balans - en 'n breë ammunisieleerband oor die skouer hou sy Gibson stewig teen sy ribbes. Hy begin vingerpluk oor die snare vir die spokerige "X-Files" met al die kordate vrae. "Het iemand al gewonder wat met die aliens gebeur - of hulle êrens dop vat en ook hulle holle skeur?" Hahahahaaaa. "Wie het al by hulle spaceships se windscreens ingestaar?"

Die erg jeugdige Logan Scott is die basman, en hy doen rustig dog doelgerig in die hoek sy ding, sonder om te veel sweet te verloor. Ek kry skaars kans vir 'n behoorlike foto - daar word te hard gedans agter my. En Hendrik werk hard met daardie jong stem van hom om die dinge nou nog dikker te laat loop - sak af op sy knieë en laat die Ibanez práát. "Beproewing in armoede, het geslaan soos 'n sweep, die krygsmusikant laat knak van die sweet, die blare is min, maar die blare is daar - en hoekom kry die aasvoëls van Afrikaans so swaar?"

Ek stoei deur die lywe tot regs agter, waar ek vir Rooivalk William op die tromme kan bespied. MASEHARRE. Blitsig is nie nou 'n woord nie. Rooivalk lyk so half kwaad, maar dan sien ek weer 'n grinnik, wat bykans onmiddellik daarna weer verdwyn, en so pletter hy die tromvelle om hom met 'n half argelose gemak, maar hy hou al drie die ander manne dop, skuif vinnig sy pet terug, kyk reg binne die Fuji se ongeskikte flits in, doen dinge vloer se kant toe met sy regtervoet, en bliksem die ritme van die refrein kliphard uit sy derms uit. "DIS DEUR TE LEWE, DIS DEUR TE LEWE, DIS DEUR TE LEWE!!!"

Hier is nie net lirieke en note met 'n paar Marshall-versterkers en fynbeplande akoestiek binne snare nie. Hier is eenheid, dikker as die bande van vriendskap wat dié ouens bind. "Gee die Boer sy geluk, gee die Rasta sy pyp, gee die Griekwa sy grond, maak die sieke gesond - ons staan vir solidariteit."

Dit is duidelik. Skallabrak gooi dik hout. Jy kan maar kom brandsteek.

In 'n oogwink verdubbel die grootte van die skare agter my - Karen Zoid se beurt is op hande. Daar's nie plek vir 'n haarnaald voor, agter, links, bo of onder die verhoog nie. Nou staan die sekuriteitsouens met hulle skeloranje hemde sommer bankvas en breëbors om orde te handhaaf. Selfone word soos sigaretaanstekers in die lug gehou - wat onmiddellik begin swaai en wapper in opgewonde hande wanneer Karen en Don opstap. Iemand stoot my van agter en ek moer byna van die trappe af. Woes. Karen begin stadig, groet eers almal hier voor haar. Daar is jare se vrede in haar oë. Hulle doen "Beautiful" en my derms kry so 'n lekker safte.

Dan gooi sy 'n paar albums tussen die mense in, en begin die plek ruk met "Dinosaur". Hier sien ek voor my oë hoe befok vinnig haar ritmeseksie is. Rixi met die getoorde baskitaar, en Marlon se oë wat blink soos rooi laserpunte in die kameraflits vlak voor my gesig. Hy's diep binne die tromme. Don konsentreer op sy kitaar se twaalf tonge en bewonder sy vrou se profiel tegelyk. "Ons soek rock & roll!!!" - en Karen swaai daardie maanhare van haar grond toe, ruk-ruk in die ritme. Ruk, swaai, ruk, swaai, bene ver uitmekaar vir goeie balans, ruk, swaai - vir drie, vier minute. En van voor af gil elke keel vir Karen. Ja, vir Don ook, en vir Marlon - en vir Rixi met "Amazing Grace" in sy kort kwaai vingers. Maar hulle gil veral vir Karen.

En hier kom nog 'n elmboog in my ribbes gestoot. Goed, kom ons probeer balanseer met die Fuji teen die tralies by die trappe. WOEEEEMPPP - nee jou gat my skat, kry vir jou nog 'n stamp. Waar's die ouens met die oranje hemde en stywe kakebene? O. Doer anderkant die verhoog, onder die groot boom. Hulle staan bankvas.

WOEMMP-DOEF.

Ek gooi handdoek in - bêre die Fuji en kry die trappe af, kleedkamers toe.

Hahahaohohe. Kan nie Karen Zoid se speelbeurt klaarkyk nie, want die skare is te oproerig. Hoe's daai vir slapgat wees.

Maar eintlik … eintlik is ek net uitgespeel, klaarpraat, hondmoeg, vodde tot in my kopvel. Dis nou eers halftwaalf en ek kan nie meer my tone voel nie. Hoe't dit dan so gou koud geword?

Ek's al tussen die verlate kosstalletjies wanneer ek hoor hoe Karen 'n meisie uit die skare gewilliges nooi om saam met haar op die verhoog te sing. "Wat is jou naam?" vra sy. "Elzahn," kom die heserige antwoord. En sy begin sing. "Lean on me …"

Ek stop net daar in my spore. "Lean on me when you're not strong - and ah'll be your friend, ah'll help you carry on …" My hele lyf wil omdraai en terughardloop verhoog toe. Haar stem is gespierd. Soos bruinsuiker. Dit eis jou aandag.

Maar daar's hierdie blou en groen neonkolle voor my oë. Die gezzooieeeeennggg in my ore laat akute tinnitus na die gekabbel van 'n rivierstroompie oor spoelklippertjies klink. So ek ek slinger skeefkop voort die donkerte in, rondawel toe. Hierdie dag se plesier is nou amptelik in sy malle maai in verslaan.

IV

My rugsak is lankal gepak en toegerits wanneer Bloukie voorstel dat ons solank by die kroegtent gaan sit terwyl ons wag vir die laaste paar manne wat moet speel. Ek kry nie die kamerasak nie, fok. Tandeborsel is ook soek. O wag, hier lê die ding op die badkamervensterbank, tussen die sewe dooie riviergoggas en verroeste skeermeslemmetjie. 'n Splinternuwe rol Butsoft pryk op die wasbak. Sewe paar hande in die kombuis/kuierkamer met sy drie slaapbanke maak koffie, rook dik oggendsigarette, pluk beddegoed reguit en kam hare wat soos ystervarkpenne lyk. Daar is HARD gekuier die afgelope twaalf ure.

Heel gepas is dit dan ook Delta Blue se blues wat die naweek afsluit. Gerald Clark dra vandag weer sy verweerde Mainstay T-hempie en daardie briljante glimlag wat die dooies kan wek. Sy woeste rooi krulkop reik net-net by Henry Steel se neus. Henry en die dubbelbruin Telecaster fluister vir mekaar. Gerald maak keel skoon en nooi die Boulevard Blues-manne se Greg Smith om verhoog toe te kom en sy bekfluitjie te bring. Schalk gooi 'n knipoog van die verhoog af vir sy beeldskone vrou en Jann toets die klawers terwyl Tim agter hom ongeduldig die basdrom bedoeff-doeff, doef-DOEF!

Ag ja. Binne so sewe sekondes weet ek nie meer wat my naam is nie. Die blues kom kneus my gees. Verdomp, dan gaan staan en doen Gerald nog vir Nina Simone ook - perfek in hierdie loom Sondagmiddag. "Birds flying high - you know how I feel …" Ons lig ons drankies vir hom. "It's a new dawn, it's a new day, it's a new life for me …" Hy glimlag vir hierdie lied - kyk oor ons koppe, swembad se kant toe. En krul sy rug lui binne die refrein: "Ahhnd ah'm feeling … GOOD!"

Die einde van hierdie dag kom 'n ewigheid later eers in my ore lê. Daardie nuwe "Heaven" van hulle met sy vreemde bordkrytwit poppekasmanne-video. "When I'm alone, no one around to sit and sing the blues with me while I get stoned …" Dis 'n wildewortel wat kom groei hier deur Robertson se witsand. Dringend, Broer, dringend. Al agter die donkerwater van die blues aan. "I draw my gun, he's ready to shoot, but I can't let him go - he is the fire in her thighs, I can't let him go."

Robertson verdwyn in die truspieël. In Villiersdorp kry ons yslollies - die hitte is 'n teef. En die laaste naweekwoorde kom maak lawaai in my kop.

In (en om) die Klipdrift-kroegtent:

  • "Anybody can make a mistake. Some call it an album."
  • Knaap aan 't wroeg met sy meisie: "Jy maak my swak!"
  • "He was as miserable as an old broom."
  • Die Rooibaardte aan 't filosofeer oor nuwe, meer gepaste vloekwoorde: "Ag jou ma se buidel, man."
  • "*HIK* - uhmmm … errmm … uh. *Nog 'n hik* - ek't gistraand vir … uhmm … vir Fokofpolisiekar gebliksem." (Tipiese geval van grootheidswaan.) Tsk-tsk-tsk.
  • Bloukie se siening oor strawwe drinkers: "Hy was een van daai Marie Biscuit drinkers - een vir jou, twee vir my, een vir jou, drie vir my …"
Tyd vir Kulula? 'n Aandvlug terug na Johannesburg?

Aikôna, Sisi. Vanaand speel Boulevard Blues Band by Bertie's in Gordonsbaai.

Johannesburg moet wag. Maar net tot môre.




LitNet: 14 Februarie 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
Gimme, gimme, gimme!

 

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.