KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Drie dae buite Swellendam

Katvrou

Klik op foto vir vergroting

Rudimentals

Arno Carstens en New Porn

Hog Hoggidy Hog

Freshlyground

Fokofpolisiekar

Fokofpolisiekar

Bewonderaars

Bed on Bricks

Wonderboom

Dan Patlansky

Hog Hoggidy Hog

Richard Pryor

I
Ek word goedsmoeds per SMS vanuit Durbanville beveel om my gat in rat te kry en Kaap toe te kom. Die Up The Creek-musiekfees buite Swellendam is glo net die ding om die jaar mee te begin.

Kulula het plek en voor ek my kom kry, sit ek langs 'n slapende jongeling, my rugsakkie bokant my kop in 'n kassie weggepak, met my naels wat halfmaantjies in my palms kou. Die opstyg is gruwelik, die draai oor Johannesburg ysingwekkend, dan kantel die horison, ek klap die vensterskermpie toe en begin so groen voel soos die sitplek voor my. Dit voel soos drie jaar voor die oranje liggies aanpienggggg om die sitgordel weer styf oor die maag vas te trek. Die vliegtuig ruk en skud, maak 'n helse stadige draai oor die see, ek hiperventileer en my medepassasier slaap voort.

Eers by die draaiende swart bagasieband begin my naels uit my handpalms trek.

II
Nietemin kom die kalm vinnig terug met die son se skyn van bo af deur die wingerde langs die pad. Net die Kaap het so 'n groen. Elke boord klap hande soos ons verbyry. En dis warm, ja. Die droogte steek dikker vingers die lug in hoe nader ons aan Swellendam kom. En jy sien die blink Breederivierkrul lank voordat die hek na Up The Creek voor jou oopmaak.

Die wind is lelik buls en klap die meeste tente dat hulle sidder. Deur die grashalms op pad na die eetkuierplek gee klein vaal sprinkaantjies in sulke vlae voor my bene pad. Aaaaa. Savanna met 'n slurpie suurlemoen, of 'n koue bottel Hunters Energiser, en my voete kry self die pad om die hoek na die verhoog toe. 'n Groot groen seildak maak die verhoog en die kuierplek vóór die verhoog toe, net ingeval 'n vlaag reën tog maar een of ander tyd koers kry grond toe.

Die eerste tasbare roering in die honderde lywe voor die verhoog word deur Plush veroorsaak. 'n Paar erg aanskoulike manne agter trompet, kitare en tromme, met 'n argelose windgat houding, en hulle is vinnig en skerp. Dit is 'n goedgemikte katalisator vir die res van die aand se geraas. Die mees blywende indruk is Ross da Bone, trompetbestuurder met blonde rastahare en onmoontlike viooltjieblou oë. Hy's bliksems bedrewe met die trompet, maar op een of ander manier sien mens tegelyk die trompet se ronde bek en Ross se oë. En die rastahare. Dis asof dit nie pas nie, maar ek kry die gevoel dis hoe dit moet wees.

Nog 'n paar honderd lywe doem op uit die donker vir The Rudimentals. Voor op die verhoog is agt musikante besig (warimpel weer trompetman Ross) om beweegplek oop te skrop. Ek weet niks van hulle nie en kry pitkos by die afwagtendes om my. Dié ouens is al sedert 2000 aan die gang, doen ska en vroeë reggae in sy Afrika-jas, en die tromboon, trompet en saksofoon is NIE daar as UB40 na-aapsels nie. Ska het hierdie dubbelritme reggaeritme, en my donner, dis opruiend. Uit spring Mista Boss Teboho, binne sekondes het hy die mense in sy handpalm, en bedans die verhoog soos 'n kaalvoetsoldaat wat krokodille tart. Hy sing en grinnik, sweet, steek die lug met stokstywe vingers, en lyk verbysterend gelukkig. Agter 'n baskitaar loop ene Bong met ronde maag en rastalokke tot op die grond rond en doemm-doemmm die pas met stywe vingers uit. Hy lyk soos 'n bohemiese Bud Spencer. En hy gooi daardie rastalokke, hoor. Sommerso vooroor dat jy nie sy gesig kan sien nie, net die rook van agter af, en hierdie onheilspellende dik donker plukke uit sy maag uit. Ek ruk my nek af vir Ettiene (alias Mista E) wat 'n demoniese solo uitpluk, sy rug na ons toe - en dan agteruit loop - tot hy op die verhoog se rand omdraai en met elke stuk sening in sy lyf die kitaar van voor tot agter uitmekaarhaal. Links van hom kom 'n stoïsynse Doc Mike op voorkitaar nader en val die sloot binne met 'n gemene hoop vingers. Agter my begin daar sommerso drie verhoogduike op een slag, en hulle word vinnig vingergewys deur die manne agter die luidsprekers - daardie ouens met die swart Crew-hemde.

Die Crew-ouens hou alles dop. Koppelings, sokke, al die elektriese dingese, en elke stukkie isolasieband wat slaplip aan 'n mikrofoon se middellyf hang. Soms swaai hulle ook maar lekker gat daar waar hulle stywerug in die hoek staan en probeer kwaai lyk. Dis die musiek. Dis befok.

O koek, volgende is Hog Hoggidy Hog en ek wil hulle nie sien nie. 'n Jaar of drie terug het hulle by die Fonteine Oppikoppi op 'n koue nag kaalgat op die verhoog rondgespring. Net die baskitaarman en die skraal tromtrawant kon hulle lieste toehou. Voorvark George het heeltyd kliphard geskree "OPPI-FOKKEN-KOPPI!!!!!" - met ingetoë (dit was báie koud) genitalieë aan 't bons bokant verstomde gesigte en kameraflitse.

Onmiddellik bespeur ek 'n ander klank in Hog Hoggidy Hog. Hulle is op die man af, haastig, en stoot nie hulle snoete in 'n smerige varktrog rond nie. Die ritme is witwarm, die mal spronge tussen kitare en kabels opsetlik doelloos. George Bacon wip die trappe op met eksentriek-geskeerde wit hare, hospitaalbandjies aan die linkerpols en 'n reusebadpropketting aan 't klingel langs die regterbeen verby. Sy baadjie se ronde wapentjies sê PESTROY, The Rudimentals, LED en Fokofpolisiekar. Sy sokkies pas nie naastenby by mekaar nie. Om sy nek blink dieselfde dik knoppiesketting. Hy roggel wilde woorde die lug in en gaffel met woedende voorvingers my rustige aura in haar moer in: "I did just because it was there, I do what I do and then I don't really care, my organs are bleeding but at least they're not feeling, don't worry Mom I'll make you proud some day!!!"

Van agter af stamp 'n muur vol jillende swetende lywe my teen die verhoog vas. My longe sê OEFFFFF!!! en my nippulêre areas word in rosyntjies teen my ribbes platgestamp. Weer 'n wilde stamp, nog harder hierdie keer. Ek voel die blou kolle teen my bene groei. Ek ruik gekneusde gras, sweet, dalk ou urine - en iewers die stikwalms van toiletverfrisser. 'n Paar aangeklamdes agter my druk met nuwe ywer teen my rug en ek klou verbete aan die bleek stuk mat op die verhoog om nie as 'n klonterige puree tussen die malende voete te beland nie. George bulder uit sy stuitjie uit: "I'm not a part of you and you're not of me, my own system's all I ever claimed to believe PUT UP ON A PEDESTAL!!!" Ek begin hyg soos 'n vetsugtige varksog. "Hiiiee-hieeeeeeee-wat-de-moer …" Dinge raak nou erg lekker. Amos Keeto kom op die punt van die verhoog balanseer met pikswart kuif en briljante voorkitaarwerk wat 'n mummie sal laat dans. Langs hom probeer Ross da Bone (hemel, in hoeveel groepe speel hierdie ou??) die mat frommel met sy trompet, vreemde beenbewegings en potblou oë wat die kwesbare flossies agter my in hoorbare lang sugte laat swymel. Die hele ding, al die gekleurde geluide om my kop, voel moedswillig kranksinnig. Soos een van miljoene verwarde miere met 'n ompad soekend na 'n mitiese hoop suiker buite die tent. Ná 'n opruiende weergawe van Johnny Clegg se "Great Heart" glip Hog Hoggidy Hog papgesweet van die verhoog af.

Dis heeltemal simpel om nou 'n drinkding te gaan soek.

Fokofpolisiekar is binne minute ná die Hogs op die toneel en 'n luide geskreeu wys duidelik dis waarvoor die rasende koprukkers en swetende getoordes nog heelaand wag. François van Coke verskyn laaste op die verhoog met ewe koorsagtige hare en bakkebaard, groet almal, en begin summier die plek afbreek. Met sy stem, natuurlik. Hy spring hoër as 'n honger vlooi. Boingg-boinggg - dan hier, dan daar, en met die afkomslag land hy presies op die volgende dik tromslag. Johnny en Hunter maak dit onmoontlik om te onderskei tussen die gevlegde raserny in hulle kitare en agter my brul dit uit volle nersderm: "KOM-ONS-SING OOR-PRE-STEER IN 'N SIS-TEEM VAN GE-HOOR-SAAM-HEID, kom ons sing oor jou verleppende persoonlikheid, VER-NIE-TIG-JOU-SELF!!!!" François nooi die voorste besetenes met 'n halwe armswaai vorentoe en een of twee maak dit tot agter die mikrofoon. "Hemel op die platteland" word blitsig uitgeskreeu, waarop die impromptu arties dan sommer reguit die hoop mense voor hom binneduik. Ander hoopvolles word sommerso in die lug oor rye hande vorentoe aangegee. As jy nie koes nie, kry jy 'n tekkie in die oog of vol op die neus.

"Kom dans saam, ons is almal ewe skáááááám …" en Hunter Kennedy kom aangebons om vir die voorste gillendes te kitaarswaai. Woord vir woord word dit met rukkende voorarms en hande saam met 'n koponderstebo Francois uitgeskreeu: "My vingers is al geel gekontempleer, geïrriteerd met die gemak wat ek in twyfel kry, TE DRONK OM TE BAKLEI!!!" Ek klou aan my stuk mat terwyl ek my vergaap aan Johnny en Hunter se siedende vennootskap voor 'n sidderende dromstel. Links van my elmboog lê 'n verlepte stuk pannekoek, ewe sorgvuldig in waspapier toegedraai. Elke keer op pad terug na Hunter toe, spring François se bemoerde tekkies die flenterpannekoek net-net mis. Nou spat die sweet van die verhoog af met elke bokspring en kopruk, die spoed van voor af is 'n Boeing, en in my ore is sewe duisend poue en hadidas besig met 'n bekgeveg tot die dood toe. François hang hygend oor die mikrofoon: "Verwerp die lewenslange stryd vir 'n plekkie in jou koninkryk … MOENIE SO FOKKEN VERVEELD LYK NIE!!!"

III
Nou kyk. Slaap is nie net vir die Nosferatu en sy dissipels nie. Minstens vier ure in 'n tent of 'n vroetelbus met behoorlike beddegoed en jy's weer reg soos 'n roer. Daar's nog 'n hele dag se musiek wat verslurp moet word.

By die groot kostent is goedige rooiwangtannies besig om pannekoek en allerhande lekkertes die lug in te slinger, terwyl die kosstalletjies langs die groot kroeg goed aan die gang is met Peter die Sigeunerboer aan die stuur van sake. Hy loop meestal kaalbolyf rond, is straks ouer as Metusalem, maar lyk skaars 40. Sy lang silwer hare hang op sy skouers en sy vel lyk soos 'n ou leerbeursie. Sy oë is nogal erg blou en hy't die tong van 'n feeks, maar in perfekte elegante Engels. Peter maak gebraaide Mediterreense groente binne 'n falafel; daar's roerbraaihoender, helpeper, growwesout, vars rys, bakke vol verskillende vars kruie, en verskeie kwylende feesgangers wat nie kan besluit wat om te kou nie. Daar is sappige vars vrugteslaai met waatlemoen, spanspek, kiwistukkies en ronde pers druiwe. 'n Lepelhoop gewone jogurt voltooi my bord en ek kry 'n skaduplek om aan my spyse weg te lê.

Die koffietent is net so toegepak - waar jy skuimerige cappucino's, lattés, gewone koffie of espresso's kan kry. In kartonbekertjies, ja - maar dis so lekker, die kitsding is nie eintlik ter sprake nie.

Donkerhouttafeltjies en -bankies koes onder geel Savannasambrele - dit lyk of die meeste van die natlywe reeds 'n duik in die rivier gaan vat het. Sonbrille, etniese bont kopdoeke, stokou Up The Creek T-hemde, kreukelkniebroeke, helderblou heupdoeke en skelgeel sarongs met bikinibostukkies is die norm. Dis bliksems warm. Hier onder die flappende groen tentseil voor die verhoog sien ek al hoe begin Satan net-net verby die bolip sweet.

Hier's omtrent 750 mense - wat die sporadiese verdrukking voor die verhoog minder irriterend maak. Buitendien is die stemming hier by die rivier alsbehalwe fronsend en niemand het veel erg aan 'n muggiesiftery nie.

Die droë jazz-klanke van Skanky Corp trek my nader en ek loop agter om die tent om beter te kan hoor. En hier teen die muur sit-lê Deborah op 'n lang gestreepte knuskussing in die boom se skaduwee - met Erns, Riana en 'n elegante bottel rooiwyn in verskeie los liggings om haar gerangskik. Ek syg langs Deborah Moedervoet neer en sien dadelik sy lyk varser as Peter se vrugteslaai. "Allergiese reaksie op vreemde kruie, maar ek's nou weer reg," glimlag sy geheimsinnig. Op die verhoog is 'n ontspanne langbeenblondine besig om in 'n jong blink stem die genre van jazz met 'n goeie skeut ougatgeit te verbeeld. Sy vra laastens dat mense hulle CD's moet koop, asseblief. Skanky Corp is selferkende kerkmuise.

Erns lyk ernstig. Hy teug ingedagte aan 'n halfleë Savanna. 'n Bleek stukkie suurlemoen dobber uitgerafel in die bottel rond. Riana neem foto's van die kleuter wat kwylbek en fronsend langs ons met sy ma se hare sit en speel. Riana het die oog van 'n kraai in 'n kralemark.

Agter ons begin bultende kampstoele in rye skuif vir Flat Stanley. Ek't nie 'n benul wie hulle is nie en gryp gou die kans om een van die ses luukse houthutspoeltoilette te benut. Ja, dit spoel soos die een jou huis, en daar's tot 'n wasbakkie in elkeen. Dis egter beter om die toilette bedags te gebruik. Snags kan jy heel onverwags deur die houtbalke se skrefies sien wat binne aangaan. Want sien, dan's die lig aan en so.

Die hele tent is volgepak vir Flat Stanley - altesaam tien musiekmakers voor op die verhoog. Ek staan voor agter die hoë luidsprekers teen die verhoog om beter te kan sien. Daar is 'n drietal vioolstrykers, 'n perkussieman, 'n tjellospeler, Rob, die baskitaarman van Kobus!; daar is 'n voorkitaar, tromme … en dan is daar Andrew McPherson agter die mikrofoon - beter bekend as Andy Mac. Hy is reusagtig. En my donner, die stem wat uit hom kom, oortref sy lyf by verre. Sy hare is baie lank, laag af op sy rug - hy lyk soos 'n laat-hippie met 'n agenda. Die mense hang aan sy lippe - die liedjies is diep, met sterk melodieë en erg opreg, en elkeen se boodskap sit op sy lippe en in sy hande. Dan ghwwrrrrroooooaarrr daar 'n paar onaardse elektroniese skreeue deur die luidsprekers - talle van ons wip van die skrik. Andy sing ongesteurd voort, selfs met die tweede sarsie krapgeluide. Iewers word kabels naarstiglik ontprop en verskuif. Andy doen "Rain" met 'n regop rug, laat die groot ouens sluk hier langs my met "Anthem for the Living", en maak die gehoor se dag met hulle bekende "I'm Not Supposed to be in Love with You". Mooi musiek. Maar nie toormusiek vir my aweregse brein nie.

Ek gaan parkeer weer my matgerasperde elmboë voor die verhoog. Hier is hulle nou. Die Boulevard Blues Band. En iewers in hulle binnekant kan jy nog die hongerte en growwe hakskene van die Blues Broers hoor. John Mostert is gebril, gehoed en gefrokkie - en hy laat waai met "You cain't judge ah book bah jus' looking at its covah Baby …" Greg het perkussie op die brein, onder sy vel, agter sy donnerse ooglede. Dis 'n malse sjieka-sjoooka, dissh-duhmmm-dossssshh en sy glimlag groei per sekonde. Dan besuig hy weer die bekfluitjie, en laat hom hik, tjank en hoes van puur ekstase. Dale Collins (alias Bloukie B) gooi 'n streepsak gruis by, grom 'n refrein by die agterdeur in en die ritme klim nou dikker en harder - met 'n slinkse Graeme Abbott agter op die potte. O bliksem, hier kom 'n koele Richard Pryor met voorkitaar, en so in die verbygaan steek hy die bos aan die brand met 'n vingersolo wat John Mostert langs hom in sy stewels laat vashaak, en die man begin rittel. En hy rittel. Die sweet tap oor sy kreukelwange, en hy rittel. Hy rittel van die lekkerte. Ek rittel saam. Moerkierie. Maseharre. Ek sweet, die gras sweet, almal sweet. Bloukie se nekare bult, die sweet blink op sy arms, lyk nie vir my John kom agter die sweet loop in sy oë in nie. Richard loop tot voor op die verhoog, sy oë die ene skrefiekonsentrasie. Sy gladgeskeerde kop eggo elke pluk van die Les Paul se derms. Whuhhn-whoooo-whunnnn … John blaf vir die mikrofoon: "Play dat funky music, white boy …" en die dromme bliksem met 'n hoop moerse rotse van die berg af. Ek begin kortasemgilletjies gooi en gatswaai soos 'n hawehoer - en van die verhoog af gee die Boulevard Blues Band nou fokkol genade. "Play dat funky music right, lay down dat boogie an' play dat funky music till yah die!!!"

Hyg-hyg. Gryp ysblokkies by die kroeg, smyt alles voor en agter in my hemp af.

Tyd om 'n lang stuk asem te skep. Ek steier deur die draadhek, teen die bult uit en gaan sit teen die sinkplaatskuur langs die dik strook aalwyne. Die bries is nou nog frisser en waai my vel koel. Op die grond sukkel die vaal sprinkaantjies om aan die grasspriete vas te klou. Elke keer waai hulle af, dop hulle om en soek dan weer 'n spriet om te beklim. Dis harde werk - klim, val af, dop om, soek 'n spriet, klim, waai af.

Dis stil hier bo. Ek hoor net die sjjjjjjssss van die wind en die bedeesde klakk-klakkk van die sinkplaatdeur agter my.

Deur die hoofingang kom 'n stowwerige ligblou minibussie ingery. Op met die stofpaadjie, draai links na die groot parkeerarea vir die motors en kampeertjorre, wroem lui verby Bloukie se Vroetelbus en maak 'n draai vir die enigste oop plek onder teen die draad.

Dis Valiant. Nou is almal hier.

IV
Tussen die lang bossiekopbome deur, net agter die verhoog, kom daar 'n verruklike stem uitgeswalk. "Uhmm-hi-hiiieee, uhmm-hi-hiiiiiieee …" en ek vlieg op. Wie de …?

Zolani Mahola - die stuk son in Freshlyground se musiek. Sy dans met toe oë op die verhoog, haar linkerarm in die lug. Strepies sweet blink fyntjies oor haar wang. Haar stem is ryp lemoene en geroosterde neute. Nat kluite. Ou rooiwyn. Ek wil huil. "Ndithe nditheza ngeny' imini, ndadibana nomfan' obomvu - and his name was rain …"

Die mense dans. En lag oopbek. Hier wil jy wees. Net hierso onder die kotsgroen seildak wat in die wind wapper.

"Oh-wey-oh weyoh-wey-oh wey-oh …" Zolani glimlag skalks oor die bonsende koppe heen. Sy swaai haar lyf. "I'm over the moon as the night wind descends, floating on a heaven of dandelion petals …"

Agter Zolani speel die petite Kyla Rose haar viool met 'n elegante wildheid. Peter maak seker die pas bly asemhaal uit die bos uit en trek ons vas met tromme. Fluit in die hand dans Simon Attwell, en Josh Hawkes sing reg uit sy voetsole uit saam met Aron Turest op perkussie - klanke die ene droë peule en maroelas en druiwe - en die see se soutasem in die oggend.

Freshlyground hoort in die parlement. Geen lui slaapgat gaan in hierdie mense se geselskap eens halfpad lus voel om te gaap nie. Die gras word slapgeskoffel, daar's arms en hande in die lug, en 'n kleuter in 'n man se arms, en issjjj-issjjjjj, die Kaap's nou die ene kaas. Ek hoor 'n bekfluitjie, kitaar, die lui soet sssjjjjjwieeee van 'n viool.

"Where are you going, where are you coming from? Are you coming from Senegal, Libya, Congo, Zimbabwe?"

Nou trap die hele spul musiekmakers 'n riel voor op die verhoog. Zolani kaalvoet en Kyla met wilde hare langs haar, wat net-net 'n Guinness-bierblik voor haar voete mistrap. Die stemme klim en juig, ek kyk oor die bont rye klappende hande en laggende monde, en my fok, maar dis lekker hier.

"Egypt, Nigeria, Mali, Rwanda? Uganda, Botswana, Malawi, Zanzibar?"

Zolani trek haar longe vol lug. Weer daardie spierwit glimlag.

"Kapa, Thekwini, Jo'burg, Soweto, Ebhayi, MOWBRAY KAAAAP!"

Nou keer net 'n koue drinkding dat mens soos 'n vinielplaat in die son skeeftrek en smelt. Ek loop verby Deborah, maak my mond oop, maar niks kom uit nie. Die blink in haar oë sê alles wat ek voel. Zani kan nie eens stilstaan nie - ewe veel getoor deur dit wat pas voor ons op die verhoog gebeur het. Al wat jy kan doen is om net 'n bietjie stadiger te loop en dieper te asem. Dan verdwyn die geraas in jou kop.

Tot New Porn die verhoog vat. Albert Frost glip uit die rook soos 'n spook en slaan my plat met die rooi Jazzmaster en 'n onstigtelike string vingerplukke wat net hy kan hanteer. Arno tree vorentoe met plat nat hare, kamoefleerkniebroek en kwaai stewels, trek die mikrofoon nader en sing: "I'm gonna get my act together …" PWWHOOAAARRRRR!!!! bars dit los voor hom, agter my, bokant my kop - almal stem saam. Rook borrel nou in blou, geel en rooi ligkleure oor die verhoog. Aan die anderkant van die verhoog sien ek Deborah se oranje hemp deur die rokerigheid. Net bo die kraag materialiseer haar gesig en sy grinnik. Ja. Dis nie net Frost en kitaar en Brendon met viool en klawers en Brendon met bronstige tromme uit die hel uit nie. Dis die KLANK. Die hele spul bymekaar. Dis wat ons van ons trollies af dryf. Daardie verdomde Spaanse jimpeling met "Hiroshimama", ons wat uit een keel skreeu "I come home and I see only, you come home and you see only!" My kop draai, my knieë voel soos nat vetkoeke. Watwo sonder asem op die gras gaan lê. Hier is "Boy". Albert buig halflyf oor die Fender. En die tromme skop die deur oop. Tssjwwieeeeengggg, daar gaat die skarniere. "It was day, it was night, it was winter and rain ..." en die storie val uit Arno se kop. "She said here we farm with feelings, with hands we turn the soil, it's a gamble, gamble, gammmb-e-llling ..."

Dan - 'n vreemde kort pouse. Wat nou? Arno en Albert begin tegelyk met streng gesigte die mikrofone annekseer: "Pay attention, pay attention …" Dis die ding wat op die nuwe album gaan wees - "The Hello Goodbye Boys" - en nie een van ons kan saamsing nie. Ons staar net en luister en luister. En luister. Dis hard en oop en befok mooi. "Another Universe" maak die dronklywe stil. Ek wonder of Arno en Albert nie al gatvol is vir hierdie liedjie nie. Lyk nie of die honderde pare ore voor hulle juis 'n moer omgee nie.

Nes jy jou gat draai, is die Mystic Boer op die verhoog. En dit met die ou strydrosse. Simon Orange met klawers en geheimsinnige gryns. Schalk Joubert met Romeinse profiel, lang lyf en gewillige baskitaar. Oooooo en kyk vir die fikse verbete Vernon Swart op die tromme. Hier kom poefa. En so by my kool, wie stel sy kabels en pedale links van Valiant Swart? Die enigmatiese Anton L'Amour. Hy koester 'n glimmende nuwe swart Gibson teen sy lyf. Sy lyk giftig, boos en baie vinnig. Dokter Jinx is vanaand onder die kluite. Valiant is terug en hy's kwaad. Maar dis mos hoe dit is - die vloek van die kitaar.

L'Amour is verbysterend. Hier waar hy hoort, met nuwe snare en ou gloeiende note uit sy vingers. Hy wys niks. Net 'n skewe trek van die mond. En vanaand is dit Valiant en daardie wippende wenkbroue, oë wat vernou vir die geit, been in die lug, met Ice Cream wat sweet onder sy hande vir "Cybersakkie", "Rrrrrrroekelooss", en my moer, hier's "Droomrivier", "Moeilikheid met die man", "Eyeshadow" - en ek kyk terug waar die geharde Valiant-mense juig en spring, aan die houtpale probeer hang, soek vastrapplek, en dankie dankie Moeder Maria, want dis ons en "Mystic Boer", dis 'n woestyn vol vaal vlaktes, spelonke en soutgrond, en grys voëls hou ons dop terwyl ons die vreemdeling jaag onder 'n treurige maan met nette en tralies en tyd. Ek mis die stil treurkitaar van "Mama Blues". Sommer skielik. "My mamma is 'n stad in 'n gryse see …" En tyd is 'n sekonde binne 45 minute. "Dis van haar dakke af dat ek vir die sterre staan en skree …"

My longe lê uitgegil voor Valiant se kitaar.

Maar die pyn verdwyn. Dis tyd vir Bed On Bricks. Sedert verlede jaar ná die groot Augustus-Oppikoppi loop daar al roeringe oor hierdie groep skerp, vreeslose en talentbesmette musiekmakers. Die naam beteken straks Bed On Bricks is paraat. Gereed met 'n lekker hoë bed om met die Tokkelos se kop te mors. Wie weet.

Wat ek wel weet is dat Mike Hardy vroeg reeds met 'n saksofoon in die vrugwater borrels geblaas het, dat Schalk van der Merwe sy baskitaar beter ken as homself en steeds nie bang is nie; dit is waar dat Tim Rankin se arms en voete deur befokte groepe soos Dorp, Sons Of Trout en Delta Blue in sewe tale praat, maar dat die klong homself gedoriewaar herskep in Bed On Bricks, en dat Dave van der Linden soos 'n slang met sy bebliksemde Fender op die verhoog kan rondseil en krul met sy vingers oor die snare sonder om een aks van 'n tromslag te verloor.

Dit beleef ek natuurlik alles binne die eerste drie minute vandat Mike die mikrofoon gryp en met stywe windgat lyf en hamerkopkuif op die gesigte voor hom afpeil. Bont lywe bons in groepe en ritmiese rye met woedende vuiste in die lug op die maat van Tim se stokke en Mike bulder: "Hey Mr DJ, shut-the-fuck-UP!!!" Die dans word 'n wildehond. Geel ligte streep oor Mike en Schalk met lang vingers en maak 'n draai oor Dave wat lag net soveel soos hy sweet. "War" is warm en bemoerd met sulke lui reggae-swaaie en almal voor Mike wat vuis in die lug saamgil: "HOY-JOU-OU-OU, HOY-JOU-OU-OU-OU, HOY-JOU-OU-OU, HOY-JOU-OU-OU-OU !!!!"

Die ritme sak nou uit die loomte en vat grond in 'n hibriede trant van hitsige hip-hip en funk-hop wat onmiddellik die kwik onder die tentseil laat kóók.

"It's funny how you should say thááát - when you're under the biggest umbrella, in the stormiest of weather …" Daar wip 'n robot in Mike se arms, die rukkerige handbewegings van sy gesig na sy regterskouer, stokstyf, heen-en-weer, weer-en-weer, hoeeeejaaaa mamma ek's bang, en die geskree klim en klim, en die dromme maak dit vinniger, harder, rukkeriger, en nou skree elke keelgat saam.

"And it's funny how you should say tháááát, when you snap your fingers, click your toes …"

En hulle vries.

Dave staan reg voor ons, vas in die kitaar, met papnat hare en oë soos glasstukke onder die wit ligte. Mike is effens gebuk, mikrofoon in die regterhand, linkerbeen halfpad in die loopstyl gevries. Sy hamerkopkuif wil-wil begin tril. Regs agter hom staan stokmannetjie Schalk. Net sy bors dein vinnig op en af onder die diksnaar, die arms stokstyf vas teen haar bruinbont lyf. Tim het sy stokke halfpad op in die lug, en jy sien net tande. Sy hare is deurmekaar. Maar die vries sit tot in sy oë wat iets agter teen die tentflap raakstaar.

En ons skree die klippe los tussen die aalwyne. Skree vir dit hier voor ons, die windgat talent, die selfvertroue, die regop ek-doen-dit-want-ek-kan-houding, die speelse lekkerte van gemaklik wees met dit wat hulle doen. Uit my keelgat kom daar net sulke krakerige "ggaaakkk-ugggg-ggakkkk" geluide.

En hulle ontvries.

Mike glip in die volgende beenruk in met "Anything goes …" maar die res van sy woorde verdrink in jubelhande en beflarde keelgatte.

Om nou enige vinnige bewegings te maak sal onnosel wees. Uitsigplek voor die verhoog is nou skaars. Die groep agter my dein by die sekonde verder uit na agter - tot teen die plaveiselpaadjie, met 'n paar verslaafdes wat net-net met hulle boude aan die koffiestalletjie stamp.

Wonderboom is tweede laaste op die lys vanaand. Dit neem 'n rukkie voor Cito die verhoog betree. Intussen skuifel Martin op sy hurke rond tussen kabels en sy staalblou Les Paul, terwyl Danny de Wet met kiertsregop hare in 'n snerpende sletoranje tint vir ons nare tekens wys met sy tromstokke. Ek verwag enige oomblik hy gaan oor die verhoog wawiele maak. Hy bestyg egter die dromstoel met 'n demoniese gryns en sê iets onhoorbaar vir Wade wat besig is om die binnegoed van sy baskitaar met 'n intense frons te bestudeer. Hy kyk op in die wit verhoogligte in - sy oë swaar gekohl, sy rustelose hare plat teen die skedel gejel.

Cito stap op. Langlyf en lenig. 'n Onaardse dawering van brulle en skreeue begelei hom tot by die mikrofoon. Hy begin met daardie swaar Engelse aksent van hom die eerbetoon aan Karen Zoid: "Ik het vrreinde wôt 'k sien, ik ûs vurshlaaf aan nicoutine …" en hy begin so van binne af saam met die reggae-ritme swaai. Gou vang die hitte hom en die hemp waai, met Martin 'n kortkop agter hom. Die tatoeëermerke op hulle bo-arms begin bult en lewe. Die inkkleure is helder, surrealisties in rooi, skelgeel en blou, elke stuk ingekleurde vlees beklemtoon met donker buitelyne.

Die lug om my kop word 'n klein hemel met hulle weergawe van Falling Mirror se "Johnny Calls The Chemist". Danny begin skelm-skelm die pas met die tromme opwen, 'n onsigbare energiestroom wat dadelik in die gehoor begin leef en groei. Vinniger, harder. "Africa" word hemelhoog saamgesing, en Martin gooi sy sonbril eenkant. O moer. Mens kan sy oë sien. Hy kom hurk-skuif nader, nog vorentoe, die Les Paul in sy hande 'n ereksie in rock. "Dead right" val 'n donga oop uit Danny se hoek uit. "So I guess it's now or nevah …" en Martin staar ons vas met daardie skurwe tuur van hom. Ek voel soos 'n haas wat vir die eerste keer 'n luislang sien. Op ooghoogte. Maar dis 'n lekker bang.

Martin brul saam met Cito: "You're dead right, you've got it down to a tee …", sluip gebukkend terug verby die dik kabelpunt met 'n sopnat rug en stywe kitaar. "Down baby down, it's really fun for one!!!" Dit lyk net nie moontlik nie. Die geluide wat uit die Les Paul deur kabels tot in die dik swart luidsprekers spring. Dis duiwels en hiënas wat lag vir die maan, warm en rooi en hard en diep in my ore; ek voel my oordromme skrik, dan 'n skerp suising reg deur kopvel en skedel en harsings, maar Martin draai om en sy regterarm se befokte ritme eggo Cito se lyfkrulle deur spokerige geel rookstringe en uitgestrekte arms uit die voorste dansende ry. Hulle trek die streep met "Charlie". Ek dink plotseling aan Mandoza. Maar net vir 'n sekonde. Dan herstel die waansin homself - tot Danny opwip van sy stoel, tussen kabels en goed deur hardloop en met 'n stywe vuis pomp-pomp-pomp onder sy T-hemp wys hoe hard sy hart klop. "Charlie - I ain't slaving to the habit - CHARLIE - AH AIN'T SLAVIN' TO DA HABIT!"

Krag vir Prime Circle? Aikôna, nee, se moer, nei man, nout gesien. Daar's net genoeg glukose in my bloedstroom oor om saam kop te swaai met "Same goes for you", en warimpel, Marco se wange is al klaar geblos van die hitte en baskitaar rondslinger. Dirk het sy hare afgeskeer en lyk nou nog kwaaier met sy voorkitaar. Al wat hy doen is die kak uit die mense voor hom speel terwyl hy frons soos 'n wetenskaplike wat 'n nuwe gogga bestudeer. En Gerhard? Ja, die stokswaaier wat tegelykertyd sing, met die regtervoet doef-doefe-doefffff-perdoef teen die stywe skil van 'n groot ronde drom, aan Ferrari dink en almal met sy glimlag insluk.

Ek steier swetend en met 'n miltsteek die donkerte in. Voor ek by die rooi draadhek kom, hoor ek weer Ross se jong swaar stem: "Right everyone, are you guys ready to JUMP???" Die kakofonie wat sekondes daarna sy stem uitdoof, laat dit klink of die nag nou eers begin.

V
Dis nie 'n swaar oggend wat voor my oopmaak nie. Die Sondaglug is vars en knyp met skoon vingers aan my agterent. Skielik is daar heelwat minder motors - dit lyk of twee derdes van die feesgangers stil-stil in die nag opgepak en die pad huiswaarts gevat het. Die rustige klanke van jazz kom in droë flertse tussen die tente en bossiebome uitgewaai.

Peter die Sigeunerboer is reeds kaalbolyf en gemaanhaar besig om groente en repies hoendervleis in 'n maseharre groot pan te braai. Hy kyk op en sien my in die skaduwee op die boontjiesak sit. "So? Had enough, then?" Ek lag en teug verder aan my skuimkoffie. Hy steek 'n kwaai swart roerlepel in die lug. "You're too bloody pale. Get more colour, for Pete's sake." Roer weer aan die sissende mengsel in die pan. "You bloody Jo'burgers, all afraid of the sun."

Dis na bewering elke oggend se monoloog. My koffiebekertjie is leeg. Ek staan op met krakende knieë, 'n ongemaklikheid in my laerug, en kies dan koers terug verhoog toe. Met die verbyloop kry ek 'n oogknip en nog 'n kwaai lepelsteek in die lug.

VI
Wanneer mens bietjie stilsit en die oomblikke wat jou regtig hard gevat het, terugroep, kom daar so 'n koudheid onder jou vel sit. Respek en 'n vae jaloesie - met 'n vreemde vretende liefde wat net nie wil vrek nie. Op die vliegtuig, 30 000 voet bokant Kimberley, maak ek my oë toe en klim weer in elkeen van daardie oomblikke in.

  • Albert Frost en Dan Patlansky in 'n warm groen tent met 'n stadige koel snaarduet wat die tyd vir 'n oomblik in ys vergeet.
  • Die kleuter wat fronsend die grashalms onder sy pokkelhandjies bekyk terwyl sy ouers sit en lyfskud vir Skanky Corp.
  • Richard Pryor met sy Les Paul en daardie befokte solo reg uit sy derms uit.
  • Albert Frost wat aan 'n skaaptjop knaag. Selfs sy sonbril grinnik.
  • Gerald Clark se droë, stadige Nina Simone-lirieke met toe oë en "Mainstay Mile Swim 1983" agterop sy T-hemp. Die gat in die linkermou.
  • Die ysige kiwi-en-suurlemoen smoothies.
  • Dan Patlansky se stowwerige bruin stewels en sy verbysterende "Mississippi Muthers Blues" tot my vel pyn.
  • Die skoonheid in 'n leë Savanna-bottel, 'n blink Fender, Albert Frost se gebuigde lyf en stadige bottelgly oor nuwe snare.
  • Die gevoel wat my tref die oomblik wanneer ek besef hoekom Henry Steel so stil staan terwyl hy in Delta Blue die kitaar vashou. Sodat jy beter kan hoor, my kind. Hoor hoe die riwwe uit hom val.
  • Vars koljanderblare en gemaalde swartpeper op geroosterde eiervrug, uie, tamaties en bros murgpampoentjiestukkies.

En met die groen vliegtuig se laaste draai oor Johannesburg: die wete dat ek volgende jaar dieselfde tyd weer op daardie koppie langs die rivier gaan slaap.



LitNet: 23 Februarie 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

 

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.