KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Insomniak se droomalmanak is anders …

Johan Pienaar

Bestel nou by kalahari.net!

Resensie: Insomniak se droomalmanak, deur Andries Bezuidenhout
Rhythm Records, 2003
(Klik op omslag om te bestel by kalahari.net!)

Dis anders as die goedkoop lirieke en melodieë wat deur radiostasies aan ons as die maal van Afrikaanse musiek opgedis word.

Dis anders as die nabootsings van verouderde suksesresepte wat deur die “nuwe alternatiewe beweging” aan ons opgedis word as vernuwende oorspronklike musiek.

Dis anders, want Andries Bezuidenhout het sy eie stem gevind. Dis syne en niemand anders s’n nie en is sonder twyfel die beste Afrikaanse album wat in 2003 deur ’n jong kunstenaar uitgereik is. Hy steek met die album stewig sy kleim af as die een van die voorste eksponente van betekenisvolle Afrikaanse musiek. Hoewel sy styl en aanslag dramaties verskil van die van Gian Groen, is die twee die enigste ware liedjieskrywers van hulle generasie en is daar in terme van musiek en liriek nie veel anders in die geslag om oor opgewonde te raak nie.

Dis anders, want Andries breek weg van die temas van liefde, die natuur en selfverwondering wat soveel liedjieskrywers vasgevang hou. Hy takel die alledaagse en skiet uit ’n totaal nuwe hoek daarna. Op “Deur ’n Donkerbril” beskryf hy Pretoria se middestad so:

Die staatsdienskabinette staan soos leggerkabinette
En wag vir die volgende dag se nuwe wette.

’n Raak, op-die-man-af opsomming nie net van hoe die plek lyk nie, maar ook van wat daar gebeur. In “Whiteysomethings” vang hy die ware dag-tot-dag bekommernisse van die man op straat saam, en dis sorge wat kultuur- en rasgrense transendeer. Dis die ware sorge van ’n geslag wat homself besig hou met oorlewing en vir wie debatte oor taal en god teenoor die daaglikse realiteite tot spitsvondige haarklowery vervaag, sonder dat Andries self verval in ’n traak-my-nieagtige houding oor die onderliggende magte wat ons almal beïnvloed.

So sê my ou vriend, hoe gaan dit nou daar
In jou suburban tronk van kapitalisme?
Tref die rentekoers jou ook as die mark so tuimel,
Maak die waarde van die Rand
Dat jou maagsweer ook brand?
So, sê my tjom, hoe gaan dit nou
Op die folterbank van kapitalisme?
’n Tweede verband hou die lig aan die brand,
’n Overdraft trek aan jou broek se pant.

Tog is Andries nie ’n kruisvaarder nie; hy is veel eerder ’n waarnemer van die wêreld om hom, en met sy waarnemings konfronteer hy ons dan met dit wat ons so maklik aanvaar as normaal en alledaags.

Dis anders, want dis slim. Andries erken dat sy werk outobiografies is as hy oor “Bulletjie Suurpap” sê dat die liedjie nie oor Bulletjie se kop gaan nie, maar oor sy eie. Outobiografiese werk sonder substansie verval egter baie gou in geykte uitdrukkings en vervelige relaas. Insomniak systap die slaggat omdat die skrywer wydbelese is en hy ’n ryke teelaarde van invloede het. Van Leonard Cohen se Famous Blue Raincoat in “Bus na Toronto”, tot obiters van Etienne Leroux in “Deur ’n Donkerbril”, deur ’n vermenging van klassieke geskiedenis met Karel Schoeman in “Nero van der Merwe se Lied”, plant Andries sy bome diep; maar dit oordonder nie - dikwels is dit bloot ’n geval van ’n bekende ego wat deurslaan. Hy laat mens dikwels wonder of hy doelbewus ’n verwysing maak en of dit toeval is, soos dat iemand nou juis na Cohen sou luister op ’n bus na Toronto.

Dis anders, want die humor is vlymskerp. In “Die ballade van Dracula Havenga” maak hy ’n skalkse verwysing na Kobus!, wat hy opvolg met ’n heerlike stukkie Goth-rock met ’n tuba van alle dinge as hoofinstrument:

Net skuins hieronder bly ’n skivvy donder
Hy’t lang hare, ’n kitaar en ’n attitude
Hy sê hy’t ’n rock band en sy naam is Kobus!
Maar as hy speel sou jy sweer hy boer met hoenders.

Dis anders, want nie sedert Gert Vlok Nel het so ’n sterk digterstem sy werk in musiekvorm kom aanbied nie. Hy open sy CD met:

Al hierdie drome bêre ek in lêers
In ’n grys kabinet vergaar hulle stof
Tot hulle ontydig, een oggend
As die wekker lui in my kop ontplof.

Dis anders, want hoewel dit op die oog af maklik lyk om vergelykings te tref met Leonard Cohen se werk en parallelle te soek, besef mens gou dat die oooreenkomste raakpunte is en dat dit onregverdig sou wees om na Andries as Suid-Afrika se Leonard Cohen te verwys, want hy is dit glad nie. Inteendeel, hy is doodeenvoudig die wêreld se Andries Bezuidenhout.

So wees vir ’n slag anders en gaan koop Insomniak se Droomalmanak NOU en wees dan anders en besluit self wat jou gunstelinge is.

22 Januarie 2004

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.