KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Sewe redes om die Noordsee Jazzfees by te woon

Waldo MŁller

Daar is steeds mense wat glo dat Afrikaanssprekendes nie na jazz luister nie. En ook nie na hip-hop of kwaito nie. Sulke mense leef natuurlik in ’n klein, vaal ou wÍreldjie van uitgediende kulturele stereotipes. Hulle is te eenogig om te sien hoe dinamies, divers, buigsaam en akkommoderend musiek — en Afrikaanssprekendes — deesdae is.

Dink maar aan die Noordsee Jazzfees in Kaapstad. Onder die duisende mense wat opruk na hierdie musiekfees der musiekfeeste, is ’n beduidende persentasie Afrikaanssprekendes. Die afgelope jare het verskeie kunstenaars by die Noordsee Jazzfees opgetree wat Afrikaans (ook op die verhoog) praat: Abdullah Ebrahim, Robbie Jansen, Moodphase 5ive en Alex van Heerden, om net ’n paar te noem. En vanjaar kan Afrikaanstaliges uitkyk vir Godessa — eerder bekend vir hip-hop as jazz, maar nietemin ’n vuurwarm en vlymskerp trio van vroulike rymkletsers wat nie skaam is om hul uit te druk in die Afrikaans van die Kaapse Vlakte nie.

En dan is daar ook die Nederlandse konneksie. Die eerste Noordsee Jazzfees is gehou in Nederland in 1976 en was die geesteskind van die musiekpromotor Paul Acket. Die fees het in sy eerste jaar begin met net ses konsertsale en 300 musikante. Vandag is daar 15 konsertsale, 1 200 musikante en ’n jaarlikse bywoningsyfer van 70 000. Die fees het selfs later geboorte geskenk aan ’n Suid-Afrikaanse Noordsee Jazzfees, waarvan die vierde agtereenvolgende een vandeesweek in Kaapstad plaasvind by die Goeie Hoop Sentrum, op die hoek van Sir Lowryweg en Oswald Pirowstraat.

Vir twee dae (Vrydag en Saterdag, 28 en 29 Maart) gaan die Goeie Hoop Sentrum omskep word in ’n musiekhemel gevul met duisende musiekgeesdriftiges, jazz-uitstallings, CD- en ander stalletjies en optredes deur meer as 30 groepe of solokunstenaars — gelyktydig op vier verhoŽ en tot omstreeks drie-uur elke oggend Ö

Internasionaal bekende jazz-, funk-, soul- en worldmusikante, asook van Suid-Afrika se voorste kunstenaars, gaan optree. Ons praat hier van mense wat meesters en legendes is in hul onderskeie velde: oorsese en plaaslike musiekpersoonlikhede wat ons die kans gaan gun om hulle in lewende lywe te sien en hoor optree.

Daar is veel meer as net sewe redes om die Noordsee Jazzfees by te woon, maar vir die doeleindes van hierdie artikel het ek besluit om sewe optredes te kies wat nie misgeloop kan word nie, sewe optredes wat Suid-Afrikaners nie aldag beskore is nie:


1. India.Arie

’n Opwindende jong Motown-sangeres met ’n asemrowende stem en ’n unieke, natuurlike styl. Haar werk word bestempel as “neo classic soul” (net soos D’Angelo, Angie Stone, Maxwell en Jill Scott). Sy het wÍreldwye treffers behaal met “Video” en “Brown Skin”.


2. Yusef Lateef en die Adam Rudolph Duo met Zim Ngqawana

Die 82-jarige Lateef is ’n internasionale jazzlegende en was een van die top fluitspelers van die jare vyftig en sestig, toe hy onder meer gespeel het saam met Charles Mingus, Donald Byrd en Cannonball Adderley. Lateef en die Oos-Kapenaar Zim Ngqawana se gesamentlike optrede gaan iets besonders wees. Baie beskou Ngqawana as die mees begaafde en mees kreatiewe onder Suid-Afrika se nuwegenerasie-jazzmusikante. Hy en Lateef kom al ’n lang pad saam — Ngqawana het onder die jazzveteraan gestudeer by die Universiteit van Massachusetts toe hy ’n Max Roach-beurshouer was.


3. Isaac Hayes

Soul-legende en swart kulturele ikon van die sewentigs, toe hy pionierswerk verrig het met langspelers soos “Hot Buttered Soul” en “Black Moses” — werke wat later rigtingwysers en inspirasiebronne sou word vir die hip-hop-generasie. Hayes word veral ook onthou vir die musiek van die blaxploitation-rolprent Shaft, waarvan ’n nuwe weergawe ’n jaar of twee gelede verfilm is met Samual L Jackson in die hoofrol.


4. Dr Philip Tabane (ook bekend as Malombo)

Een van Suid-Afrika se grootste lewende musiekmeesters en multi-instrumentaliste, reeds dekades lank die voltrekker van suksesvolle huwelike tussen avant-garde jazz en tradisionele Afrika-musiek. Hy het onlangs op gevorderde leeftyd aanhangers gewen onder die Suid-Afrikaanse jeug toe sy sang en kitaarspel gebruik is in ’n house-treffer deur die groep Revolution.


5. Die Archie Shepp Kwartet met Amina Claudine Myers

Shepp is ’n wÍreldberoemde tenoorsaksofoon-speler, asook ’n dramaturg, politieke aktivis en akademikus. Hy is bekend vir sogenaamde free jazz, bebop en avant-garde jazz. Myers is ’n Amerikaanse jazz-sangeres wat vir lang tye gewerk het saam met toporkeste soos diť van Sonny Stitt en Gene Ammons.


6. Andreas Vollenweider en Pops Mohamed

Swede se internasionaal bekende, Grammy-bekroonde “new age”-harpspeler span saam met ’n Suid-Afrikaanse virtuoos-speler van Afrika-instrumente soos die kora en mbira. Mohamed het in die sewentigs en tagtigs verskeie opnames gedoen saam met wyle Bazil “Mannenberg” Coetzee. Hy en Vollenweider het pas saam in Europa getoer.


7. Deodato

Waarskynlik die mees suksesvolle klawerbordspeler en produksieleier wat BrasiliŽ nog opgelewer het. Deodato het aanvanklik roem verwerf deur die orkestrasies te behartig van opnames vir onder meer Astrud Gilberto en Frank Sinatra. In 1973 het hy ’n Grammy gewen vir een van sy solowerke, ’n fusion-verwerking van Strauss se “Also Sprach Zarathustra” (gebruik as die temalied van Stanley Kubrick se 2001, a space odyssey). Deodato het sy grootste kommersiŽle sukses behaal toe hy in die laat sewentigs van jazz en fusion oorgeskakel het na pop deur die produksieleier te word van Kool and the Gang.


Die soort musiekspyskaart wat hier bo beskryf word, stem ’n mens diep dankbaar teenoor esp Afrika en Mojo Concerts, organiseerders van die Noordsee Jazzfees. Dit is nou al die vierde agtereenvolgende jaar wat hulle ’n tamaai verskeidenheid briljante musiektalent van regoor die land en wÍreld ’n naweek lank in Kaapstad onder een dak ten toon stel — sigbaar en hoorbaar, beleefbaar en genietbaar, in ’n euforiese feesatmosfeer.

Vir hierdie skrywer is sulke musiekfeesgeleenthede die naaste wat jy vandag kry aan hemel op aarde. Dit is ’n geluksdoepa soos geen ander nie: om deel te wees van ’n waarderende menigte wat saamdrom voor ’n verhoog waarop groot musiektalent lewend in aksie is. Daar is min belewenisse wat kers vashou by die eksistensiŽle euforie wat ervaar kan word gedurende ’n konsert waar goeie musiek uitgevoer word — veral as dit ’n jazz- of jazzverwante musiekkonsert is waarby alle skakerings van ons kleurvolle nasie teenwoordig is en harmonieus saamvloei tot ’n entoesiastiese skare wat brul van genot by die aanhoor van elke uitstekende kitaarsolo, trompetsolo, perkussiesolo, klaviersolo Ö

Daar is sulke groot geeste op vanjaar se Noordsee Jazzfees-program dat verskeie boeke geskryf sou kon word (en in sommige gevalle reeds geskryf is) oor party van hierdie musiekmakers se lewens, oeuvres en kulturele impak, plaaslik en/of internasionaal. ’n Mens dink hier aan musikale ikone soos Isaac Hayes, Deodato, Jabu Khanyile (van Bayete), Jonas Gwangwa, Archie Shepp, Philip Thabane, Winston “Mankunku” Ngozi en Pops Mohamed. Die gedagte daaraan om so baie topkaliber-kunstenaars gedurende een naweek te sien optree, laat ’n mens se kop draai. As jy dan nog jou pad moet navigeer tussen vier verhoŽ waarop daar heeltyd en gelyklopend optredes plaasvind, raak dit genoeg om van lighoofdig te word.

Dit is egter ’n lekker duiseling — so lekker dat dit jou hoendervleis en ruggraatrillings gee. En na my mening is dit ook die ideale situasie om in te wees wanneer jy die tydelike vir die ewige verruil. Dit is my (moeilik verwesenlikbare) wens om eendag my laaste asem uit te blaas terwyl ek in musikale verrukking verkeer in ’n jubelende skare by ’n eersterangse musiekkonsert soos die Noordsee Jazzfees.

Die jazzfees se vier verhoŽ is elk vernoem na ’n beroemde Suid-Afrikaanse jazz-venue — Manenbergs, Kippies, Rosies en The Baseline. Kippies is die grootste konsertruimte waar die vernaamste kunstenaars optree. Vrydag is dit onder meer Jabu Khanyile & Bayete, Deodato, Isaac Hayes en Jimmy Dludlu (as deel van die North Sea Jazz Super Band). Saterdag bied die Kippies-verhoog Jonas Gwangwa, India.Arie, John Scofield en Osibisa. En terwyl hierdie vertonings aan die gang is, is daar drie ander verhoŽ waarop deurgaans ook vertonings plaasvind wat in ag geneem moet word. Dit is hier waar die situasie gekompliseerd raak en baie musiekliefhebbers sal wens dat hulle nog ’n paar weergawes van hulself kon kloon sodat hulle niks van die jazzfees se musikale betowering hoef mis te loop nie. Die Noordsee Jazzfees laat jou op die ou einde met die klassieke kunstefeesdilemma, soos dit ook jaar in en jaar uit ervaar kan word op Oudtshoorn en Grahamstad: daar is net te veel om op een slag en binne ’n kort tyd te absorbeer. Dit is genoeg om ’n mens tot drank te dryf.

Behalwe genoemde kunstenaars sal die volgende musiekmakers ook optree by vanjaar se Noordsee Jazzfees: Allou April, Andile Yenana, Benguela, Bugge Wesseltoft, Busi Mhlongo, Eric Vloeimans, Herbert, Loading Zone, Marcus Wyatt, Moses Khumalo, Mukta, Neo Muyanga, Pieces of a Dream, Steve Dyer en Tony Cox & Barry van Zyl.

Vir diegene wat platsak is, maar graag in die opwinding van die Noordsee Jazzfees wil deel, is daar eerskomende Donderdag ’n gratis konsert by die Groentemarkplein tussen 4.30 nm en 10.15 nm. Dit bied onder meer jazz (Ezra Ngcukana), worldmusiek (Mukta), Afrika-musiek (Mpho & Uvimba) en Nederlandse hip-hop (Relax).

Die Noordsee Jazzfees behels ook ’n reeks werksessies tussen Maandag, 24 Maart en Saterdag, 29 Maart. Dit vind daagliks plaas vanaf 10 vm in kamer 308 van die Kunstekaap (Artscape) Teatersentrum in DF Malanstraat. Die werksessies dek tromspel (aangebied deur Kevin Gibson, Denver Furness, Frank Paco en ander), klawerborde (Hotep Galeta, Camillo Lombard); kitaar (Wayne Bosch), bas (Spencer Mbadu, Sammy Webber), en ensemble-spel. Graeme Gilfillan sal daagliks praat oor “Copyright, Royalties and Making Money in the Music Business”. Daar is ook eenmalige lesings deur Andreas Vollenweider en Pops Mohamed (“New Age Jazz meets African Traditional Music”), Jonas Gwangwa (“Jazz Trombone in the South African Tradition”), Osibisa (“Music In the West African Pop Tradition”) en Archie Shepp (“Jazz straight ahead and the Avant Garde”).

  • Die Noordsee Jazzfees se volledige program is te sien by www.nsjfcapetown.com.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.