KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Die musiek wat deesdae binne Kaapstad hang

Naomi Maartens

Ek gesels met hom in ’n klein kamertjie in die Nico Malan. “Dis my tydelike kantoor,” maak hy verskoning.

“Kyk,” sê Louis Heyneman, hoof uitvoerende beampte van die Kaapse Filharmonie, “ons is deel van ’n globale kultuur. Ons is deel van ’n global village. Dis baie moeilik om vir iemand te sê ons is nou in ’n oorgangsfase — ons is in Afrika — en die mense moet nou verplig word om net na etniese volksmusiek te luister. Hulle mag nou slegs belangstel in die musiek wat hier was voordat die sogenaamde setlaars gekom het. Dis tog totaal belaglik.”

Alle vorme van kuns beïnvloed mekaar

Hy verduidelik verder:

    As jy kyk na die vroegste tye, sê maar die tyd van die Egiptenare, was kuns tog nog altyd in ’n proses van evolusie — en alle vorme van kuns beïnvloed mekaar oor en weer. Nou is ons in die tyd van die Internet, waar ons slegs ’n knoppie kan druk en die musiek hoor wat jy wil hoor, dadelik wanneer jy wil, in jou eie huis of motor, of waar ook al. Met ander woorde, ons word gedurig beïnvloed. My gevoel is ons kan nie in die tyd van ’n globale, moderne musiekkultuur leef — wat elektroniese en digitale musiek en die simfoniese tradisie insluit — en almal voor die voet verweef tot een nuwe kunsvorm nie. Die posisie van die orkes in Suid-Afrika is byvoorbeeld op die oomblik totaal benard, maar dis wêreldwyd so. Almal sukkel om orkeste aan die gang te hou, weens min geld. Maar dit beteken nie dat daar nie ’n plek vir ’n simfonie-orkes is nie. Enige moderne stad soos Kaapstad, Johannesburg, Durban of Pretoria behoort ten minste ’n simfonie-orkes bymekaar te kan kry. Ons missie is ook om nie meer net formele simfonie-orkesuitvoerings te gee nie, maar om ’n multifunksionele orkes te word. Ons wil nie meer net streng formele klassieke uitvoerings gee nie, maar ons span ons net ’n bietjie wyer en ek dink dis gewoon so dat ons moet kan survive … ons moet kan oorleef in hierdie eeu. Daar is heeltemal plek daarvoor.

Die simfonieorkes in ’n ivoortoring?

Die frase “die orkes is ’n ivoortoring” vind hy elitisties.

    Natuurlik is ’n simfonie-orkes ’n sekere intellektuele oefening en dis daar waar ’n mens dit begin beskou as elitisties. Jy kan by ’n koor instap as jy ’n goeie oor het, maar as jy in ’n orkes wil gaan speel, moet jy tien of vyftien jaar opleiding hê. Dit vat ’n lang tyd om goed genoeg te wees om in ’n goeie orkes te speel. Iemand gaan nie ’n breinchirurg word sonder dat hy fyn en lang opleiding op die gebied het nie. So vandaar seker die konsep van elitisme. Maar ek dink nie dis ’n ivoortoring nie; ek dink nie ons probeer mense uitsluit nie. Mense moet net ’n sekere standaard bereik voordat hulle in ’n orkes kan speel. So funksioneer die orkes. Ek dink die omwenteling het gemaak dat mens meer verbruikersvriendelik moet wees in terme van orkesspeel; ek dink hulle kan nie sommer op hulle louere rus nie, hulle moet baie harder werk om deel van die orkes te wees. Maar ek dink nie ons moet enigiemand uitsluit nie. Ons moet juis as ’n sake-eenheid werk. En daarom is dit belangrik dat ons nou al begin voorsiening maak vir jong Suid-Afrikaners — dis orkeste vir Suid-Afrikaners, deur Suid-Afrikaners in Suid-Afrika — ons moet vir al die mense in die land plek maak en ons doen dit al klaar. Maar daar lê nog ’n groot taak voor. Ons moet seker maak dat die orkes ook die hele samelewing weerspieël. Daar is talent, wat ons nou moet begin ontwikkel. Dit word al gedoen in ’n klein mate, maar ons moet daardie aktiwiteit opstoot. Elke dag moet ons meer mense na die orkes trek — professionele mense. Dit sal ook die gehoor se inhoud verander.

Die wesenlike belang van musiekonderwysers

Wat van al die mense in die Kaap wat graag in ’n goeie orkes wil speel, maar nou musiekonderwysers is?

    Jy kan nie in ’n orkes ’n hoëkwaliteit-musiek speel as jy nie absoluut jou eie peil hoog hou nie. Daar is baie orkesspelers wat ’n paar jaar terug in ’n orkes gespeel het, of lank terug, en wat net nie meer goed genoeg is nie. Hulle sal nie meer die oudisie slaag nie. Jy moet absoluut jou peil ophou. Ek was self ’n pianis gewees, maar ek kan nie nou daar gaan speel saam met ’n orkes nie, want ek moes vier tot ses ure per dag geoefen het en ek het nie. Ek het ’n ander loopbaan in die musiekrigting gevolg. So ja, daar is baie onderwysers en dis ’n baie belangrike taak ook. Om die waarheid te sê, ons sê dat al die mense wat saam in die orkes speel, onderwys behoort te gee ook, want dis die enigste manier hoe jy jou talent aan ’n nuwe geslag kan oordra. So ons moedig ons mense aan om by Beau Soleil of by Hugo Lamprecht of waar ook al betrokke te wees. Want dis die enigste manier hoe dat jy onder die mentorskap van iemand iets leer. Ons wag ook op ’n borgskap van ’n groot maatskappy om te kyk of ons ’n nuwe kadetstelsel kan kry en dan beoog ons om ’n groot klomp jong spelers in die orkes in te kry om hulle tegniek te kan vernuwe as almal saam in die orkes speel. Onderwys is baie belangrik; ons sal nooit ons mense afraai om onderwys te gee nie; ons sal hulle aanmoedig. Daar is baie mense wat op die oomblik in die onderwys staan wat lank terug in orkeste gespeel het. Dis ook goed, dis ’n natuurlike proses. Mense studeer soms spesifiek af om onderwysers te wees. Dis baie goed dat hulle onderwys gee en dalk is hulle nie meer sulke goeie spelers meer nie. Of anders was hulle moontlik nooit baie goeie uitvoerende kunstenaars self nie, maar is baie goeie onderwysers. Ek voel ’n mens kan nooit die twee vakrigtings — orkesspel en onderwys gee — volkome skei nie. En ons het weer die onderwysers nodig om ’n nuwe geslag jong spelers op te lei.

Die orkes kan nie bestaan as sy lede nie betaal word nie

En natuurlik behoort kunstenaars vir hul werk vergoed te word, voel hy.

    Jy weet, ek was onlangs by drukkers wat ons plakkate en brosjures en so aan druk, en ons praat toe so oor die finansies en ’n sekere man daar vra my toe hierdie ongelooflike vraag — en hy sit met grade en goed, hy is die MD, die besturende direkteur van ’n maatskappy: “Word die mense betaal?” En ek kon hom net in ongeloof aanstaar en sê, “Maar dis ’n professie, mense het nagraadse opleiding. Jy kan nie speel en nie betaal word nie.” Dink hy regtig mense gaan vryskut- of ander werk doen en dan na ure in ’n professionele orkes speel? Natuurlik moet mense vergoed word en natuurlik sal dit doodloop as mense nie vergoed word nie. Waar gaan jy mense kry wat ’n sekere peil en vlak in ’n vak bereik en nie daarvoor vergoed word nie? Hierdie mense maak ’n loopbaan daarvan, so hulle word betaal as professionele spelers. Hulle word nie baie goed betaal nie, maar hulle moet betaal word. So die orkes kan nie bestaan sonder dat die mense betaal word nie.

Ons praat oor orkeste in Engeland waar die lede sal betaal om daarin te speel en hy meen dat dit eerder amateurs is — mense wat ander beroepe het en nie goed genoeg speel dat hulle vergoed kan word vir die orkes waarin hulle speel nie.

    So iets is moontlik in ’n wêreldstad soos Londen, of in sekere streke van Engeland wat dig bevolk is waar mense hoogs gekwalifiseerd is in verskillende velde, maar in Suid-Afrika is dit nie werklik moontlik nie. Jy kan miskien ’n akademiese orkes by ’n universiteit kry, waar jy dertig strykers het en ’n tekort aan ander instrumente. Jy moet die regte hoeveelheid hout- en koperblasers ook hê en jy kan nie een betaal en ’n ander laat betaal nie.

’n Stad kry net wat hy verdien

En as daar ’n gebrek aan ondersteuning is?

    As mense nie die orkes ondersteun nie … ’n stad kry net wat hy verdien. As ’n stad nie bereid is om deur donateurs, borgskappe en mense wat bereid is om konserte by te woon te hê nie … as die stad nie fyn opgevoed genoeg is om ’n orkes te ondersteun nie, dan gaan hulle nie ’n orkes hê nie. Dan moet hulle bereid wees om dit nie te hê nie. Dan verdien hulle niks nie. Dan moet hulle maar net na ’n rave toe gaan. Dit werk met alle dinge in die lewe so. As ’n gemeenskap nie bereid is om hard te werk nie, dan gaan hulle dit nie regkry om geboue te bou en te ontwikkel nie, dan is hulle maar ’n agterlike gemeenskap. So enige fyn beskaafde gemeenskap gaan hard werk, gaan biblioteke hê, gaan ’n politieke stelsel hê en openbare fasiliteite hê, hulle gaan kunste ondersteun en by intellektuele oefeninge betrokke raak.

Die mens kan nie van brood alleen lewe nie

    Almal wat iets van kuns weet, begryp dat ’n mens ’n professionele orkes moet ondersteun as hy wil voortbestaan. Ek dink korporatiewe borgskappe op die oomblik is bietjie moeiliker in Suid-Afrika, omdat maatskappye onkundig is en hulle weet nie waaroor dit gaan nie. Hulle dink hierdie mense speel maar net sommer saam vir die lekkerte en hulle besef nie ’n mens kan nie van brood alleen lewe nie. Nou goed, die ander kant van die saak is dat daar miljoene mense in Suid-Afrika is wat in plakkershutte woon — dis ook waar — en die staat moet eers vir die mense kos en skoon water en sulke fasiliteite gee, en beskerming, voordat ’n mens byvoorbeeld vir hulle musiek kan gee. Maar ’n mens kan nie van brood alleen lewe nie; ’n mens het iets vir die siel nodig. En sodra jy die dak oor jou kop het en sodra jy iets het, dan besef jy jy sug na iets meer. Al is my maag elke dag vol kos, sug ek steeds na iets beter. Jy het sosiale ontspanning nodig en intellektuele stimulasie … Nou vir my is die orkes deel van intellektuele stimulasie. Anders kan jy mos maar sê ek gaan bly op ’n eiland met alles wat my hart begeer: Ek het ’n sportmotor, ek het soveel kos, ek het al die CD’s en boeke in die wêreld; ek kan net knoppies druk en alles gebeur vir my, maar ek het geen mens met wie ek kan praat nie en geen intellektuele stimulasie en sosiale lewe nie. Sou jy gaan? Niemand van ons sal alleen op ’n eiland wil gaan bly nie. Hierdie behoefte na kontak en intellektuele stimulasie is juis wat van ons as mense mense maak.

Hy voel dis baie produktief om die orkes meer bekende musiek — en classical pops — te laat speel.

    Ons orkeste moet meer gebruikersvriendelik gemaak word. As jy na ons program kyk, sal jy sien ons het ’n simfoniereeks, twee simfoniereekse vroeg in die jaar en dan het ons ’n Tsjaikowski-reeks — ’n fees — wat baie ligter en meer bekende goed is. Ons het ook ’n ligte filharmoniese popsprogram, ons het ’n Mozartreeks in die Baxter, ons het kamermusiek in die St George’s katedraal … so ons probeer vir almal iets bied. Die orkes gaan ook te huur wees. Ons word juis nou gehuur vir ’n konsert in Vergelegen, ons word deur die Rotary Proms gehuur, ons gaan by die Waterfront speel vir ’n gratis gehoor in die opelug Agfa-teater. So mense moenie dink ons sit net daar in ’n konsertsaal en speel nie. Mense moet kan verstaan dat ons ligte, ernstige en uiteenlopende tipes musiek kan speel. Mense moet kan sê: dis ons orkes, ons is deel van die orkes.

Enige positiewe aanwysers hier rond?

“Watter resultate word in die Unistad Kaapstad gesien wat enigiets positiefs vir die teater en musiek voorspel?” wil ek by hom weet.

    In die Unistad is dit moeilik om te sê, want die nuwe Unistad het nog baie dinge om uit te stryk op hierdie stadium. Hulle moet nog in ’n korporatiewe bestel inbeweeg wat nog polities uitgehamer moet word, sou ek sê. Maar ek dink stadigaan begin almal in ’n groter stad besef: wel, as ons ’n internasionale stad wil wees moet ons al die aspekte en kleure en geure van ’n internasionale stad hê. Dit sluit in nie net groot geboue en goeie paaie en ’n moderne infrastruktuur en goeie sake-ondernemings en telekommunikasie nie, maar dit sluit ook in iets soos ’n simfonie-orkes. Een van die redes, terloops, waarom ons ons nie “Kaapstad Simfonie-orkes” noem nie, maar “die Kaapse Filharmonie”, is omdat ons vir die hele streek speel — van Kaappunt tot verder noord. Uiteraard kan ons nie die hele simfonie-orkes optrek in ’n klein kerksaaltjie aan die Weskus nie; daar gaan ook nie genoeg mense wees wat dit bywoon om dit die moeite werd te maak nie. Maar as dit beteken dat ons op hierdie stadium onder ’n boom in Khayelitsha moet speel ter wille van belangstelling, dan sal ons dit doen.

Geld — en die omgekeerde piramide

Hy sê hy kan die probleme wat hulle op die oomblik ondervind in een woord saamvat: geld.

    Daar is nog altyd die gevoel — voordat ek nog by die Rembrandt-stigting betrokke was — dat dieselfde mense altyd vir geld genader word. Die ryk mense, soos die Ruperts. En eintlik behoort die hele gemeenskap soos ’n omgekeerde piramide te wees; elke mens wat ’n rand kan bekostig, moet ’n rand kan gee. Sê nou maar ek hou van blomme, dan moet ek ’n rand daarvoor kan gee. Of diere — ek moet vir dierebeskerming ’n rand kan gee. Dieselfde geld dan vir musiek. En as ’n mens met so ’n beginsel kan werk, sal jy ongelooflik baie meer geld kan kry as elkeen ’n klein bietjie bydra. En jou ryk mense kan baie meer bydra. Maar die hele gemeenskap moet betrokke wees. Dis hoekom ek sê ’n stad kry net wat hy verdien. En as elkeen ’n bietjie bydra, sal die orkes heeltemal genoeg geld hê. Maar mense dra heeltemal te min geld by. As ’n mens byvoorbeeld voor ’n vol saal speel in die Nico, is die inkomste miskien R70 000, maar die koste van die orkes is miskien R100 000. Met ander woorde, ’n mens het borgskappe, subsidies en donateurs nodig. Geen orkes in die wêreld kan dit op ’n ander manier doen nie. ’n Stad soos Berlyn het vyf orkeste en al daardie orkeste word ook op die een of ander manier gesubsidieer en finansieel gedra.

Om die musiek binne-in ’n mens te hang

Die insigte bly vloei …

    Daar is geweldig baie mense wat werk na die uitlewing van die skone kunste, daar is geweldig baie talent. En elke jaar is daar nuwe mense wat sê, kyk ek weet ek gaan nie baie geld maak nie, maar ek wil ’n kunstenaar wees. Of iemand wat die kunste bevorder en net daardie geroepenheid voel. Die gewone mens moet besef watter voorreg dit is om die kunste rondom hom te kan hê. Mense moet bereid wees om uit te haal en te betaal. Hulle betaal so graag vir ander vorms van vermaak, soos alkohol of mooi goed vir hulleself … mense wat ’n baie mooi kar koop, of mooi skoene of klere waar hulle vir die ontwerp of die naam betaal. En as jy kyk hoekom betaal iemand so baie vir iets soos ’n Hugo Boss-hemp wat maklik waansinnig duur kan wees, is dit omdat die persoon goed voel as hy iets moois om homself kan hang. Dan wil ’n mens vra hoekom betaal hulle so duur vir mooi klere en juwele wat hulle aan hulself kan hang en nie ook vir musiek wat hulle ook aan hulleself kan hang, deur dit te hoor nie?

Verhoed ’n leë, dooie, stille woestyn

Waarom is hy nog betrokke by die kunste in die land? Hy wonder nie eers oor die antwoord nie, maar sê dadelik:

    Omdat ek glo dat ’n mens met genoeg inisiatief en ywer ’n verskil kan maak. As niemand betrokke by die kunste wil wees nie, dan gaan ons ’n leë, dooie, stille woestyn in. ’n Mens kan tog nie sê ek gaan myself uitsluitlik intellektueel stimuleer en heeldag met ’n boek sit nie; ons moet tog kan leef, dis hoekom ons mense is. Dis vir my ’n baie skoner vorm van genieting as baie van die genietinge wat ek rondom my sien. By die moderne stadsmens in Suid-Afrika op die oomblik sien ek ongelooflik baie oppervlakkige vermaak, oppervlakkige gebruik van dwelms en ander vorms van ontvlugting. Goed, ek kritiseer nie mense wat bietjie hedonisties leef nie want ’n mens kan die lewe maar geniet, maar daar is so ongelooflik baie maniere om die lewe te waardeer en die aarde wonderlik te maak. Hoekom sal jongmense groot pryse betaal vir dwelmmiddels — en ek kan jou waarborg in ’n stad soos Kaapstad is dit fyn opgevoede mense wat dwelms gereeld gebruik, dis nie ’n ondergrondse en agterstraatkultuur nie — daar is ’n kultuur daaromtrent. Daar is ’n kultuur rondom sport ook en dis wonderlik. Sport het dit reggekry om mense op te sweep en saam te snoer en sodoende baie goeie borgskappe te kry. Maar hoekom kan kultuur dit nie ook doen nie? En ons moet die boodskap begin deurgee: almal kan nie sportmal wees nie, party mense kan kultuurmal wees. Al is daar nie altyd soveel geld daarin nie.

Hy vertel dat hy groot CD-aanhanger is en baie bly oor digitale hulpmiddels.

    Maar ek dink tog as almal net so sou reken, dan gaan daar nie meer goeie orkeste wees nie, of goeie musici in opleiding nie. Ons moet sê ons glo nog in lewende musiek. Anders is dit net ’n herhaling, as almal sê ons kan net ’n knoppie druk en na ’n goeie CD luister, dan gaan daar oor tien of vyftien jaar niemand meer wees wat nuwe CD’s kan maak nie. So êrens moet iemand besluit hulle kies ook lewende musiek, al is dit baie maklik om by die huis na musiek te luister waar en wanneer jy wil. ’n Mens moet êrens sê jy hou daardie tradisie van konsert en kultuur aan die gang.

Herontdekking van die etniese wortels

Hy sal die gebruik van Afrika-elemente in musiek nooit as gedwonge beskou nie.

    Weer kom dit terug na die antieke Grieke of die Egiptenare. Wat ons nou as musiek beskou, baseer ons maar op die Westerse musiekgeskiedenis, wat maar ’n klein deeltjie van die mensdom se geskiedenis is. Dis ’n relatief kort tydperk se musiek waarvan ons weet. Iemand het nou die dag die interessante opmerking gemaak dat die swartmense van ons land baie lief daarvoor is om terug te gaan na hulle ethnic roots — hulle etniese wortels — wat ontken is die afgelope paar jaar en mense voel hulle wil terugkeer en dit herontdek. Maar ek is oortuig daarvan dat hulle die oomblik as hulle erkenning daarvoor gekry het en dit herontdek het, besef dat hulle smag na nog iets meer. Alle mense smag altyd na iets meer, hulle kan nie net vashaak by die ou bekende nie. ’n Mens moet aanbeweeg. En omdat musiek iets is wat voortdurend aanbeweeg, gaan van hierdie Afrika-elemente beslis ook in Westerse musiek gebruik word. Daar is kunstenaars soos Paul Simon wat alreeds Afrika-ritmes in sy musiek gebruik. In die mainstream-tipe musiek word daar gedurig Afrika-melodieë en -harmonieë aangetref. En voor jy jou oë uitvee, het dit heeltemal aanvaarbaar geword en hierdie ding om almal deel te kry van die nuwe proses het ingeburger geraak. Net soos die digitale revolusie en elektroniese revolusie ’n groot invloed op musiek gehad het, net so sal etniese musiek ’n groot invloed hê en eventueel aanbeweeg. Dis ’n natuurlike proses wat moet gebeur en dis iets wat móét gebeur — dis net reg so.

Buite in die straat waai die Suidoos, die Kaapse wind van verandering.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.