KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Afrikaans rock in die vreemde!

Anton Goosen en die Bushrock Band speel ’n hond (en ’n vis) uit die bos uit in Londen.

Estee Booyens

Anton Goosen







Foto: David Wessels
Aai Gansbaailapa! Dis soos hemel toe vir ’n Christen of Mekka toe vir ’n Moslem. Al met die tweespoor-sementpaadjie af tot onder in die Hennopsriviervallei.

By die voordeur lek Skye, Anton se opgewonde Jack Russell, my eers skoon voordat sy my by die voordeur inlaat om Anton te groet waar hy opgekrul voor sy bigscreen tee-vee sit.

Dis sokker-Sondag. Brasilië vs Duitsland.

“Poetry vs The Machine,” haak Anton af nog voor hy groet, oë vasgenael op die televisie. Hy verstel sy Vis Innie Bos-keps en lê terug op die rusbank, wolkombers oor sy bene getrek en Skye liefderyk langs hom opgekrul.

Daar sit ons twee, snotneus voor die tee-vee. Anton het nog ’n klap brongitis uit Londen weg en ek voel olik ná my natgeswete histerie by die Beeskraal-gig op Rustenburg. Maar ons rook. Nee ek lieg, ons stóók. Hy sy pyp en ek een sigaret na die ander terwyl die Brasiliane die Duitsers kafdraf.

“Hoe het jy in Londen uitgekom?” prop ek ’n vinnige sinnetjie tussen die sokkerkykery in.

“Met die vliegtuig,” kom die antwoord en ek voel skielik soos ’n verwarde eerstejaartjie wat my eerste rockster ontmoet.

Ek was welkom om op Gansbaailapa te kuier mits ek my nuuskierige vrae én my kameraman in toom hou tot ná die eindfluitjie geblaas het.

“Ja, julle joernaliste vra mos ’n lang vraag en dan verwag julle ’n lang antwoord,” spot Anton laggend. “Abie Strydom van Gatskop Promosies het die show by Lorne Arms in Walthamstow gereël. Dis ’n Suid-Afrikaanse pub wat die prys vir die vyfde beste pub of iets in Londen gekry het,” antwoord hy vinnig voor die sokker weer sy volle aandag eis.

Daar was ongeveer 900 mense wat vir die twee vertonings op 14 en 15 Junie opgedaag het om na Anton en die Bushrock Band te luister. Die onweerstaanbare (vra maar die meisies), Schalk Joubert, was soos gewoonlik op bass; drommer Barry van Zyl het weer eens gewys hoekom hy een van Suid-Afrika se beste tromspelers is; die stil en rustige Mike Rennie (tot hy sy viool speel); Anton L’Amour het getoor met sy ghitaar en Lize Swart was op backing vocals.

“Ja, Lize Sibongile Khumaswarta. ’n Mens moet ’n swart girl in die Band hê, en jirre, die mense laaik haar! Die mans hou van haar nog voor sy begin sing!” brag Anton oor die skone Lize wat deesdae in Londen bly en weer haar regmatige plek saam met die manne op die verhoog ingeneem het.

“In die middel van een van die songs toe begin die ouens in die gehoor: ‘Lize is ’n lekker ding,’ sing. As jy op backtracks is, hoe maak jy dan? Daar was ’n moerse vibe en toe val ek en die band in. Die hele audience sing toe saam. As jy op backtracks is, kan jy dit mos nie toelaat nie. Jy sit seker maar die backtracks harder en ignore die crowd!”

Skielik is die sokker vergete en Anton vertel opgewonde van die uitgehongerde massa wat na hom kom luister het.

“Die eerste aand was daar ongeveer 100 Britte wat kom luister het hoe Afrikaans klink. Die meeste was Afrikaanse mense so 22, 23 jaar oud. Hulle verlang huis toe en hulle verlang ontsettend na Afrikaans. Hierdie ding dat hulle die Engelse haat, is net ’n grap, ’n manier van cope. Hulle wil almal die diamant terugbring. Hulle bly net vir so twee jaar en dan kom hulle terug met ponde en kennis. ’n Force to be reckoned with!”

Behalwe vir twee van my eie vriende wat amper hul polse afgekou het omdat hulle albei die gigs gemis het, het ’n ontstelde ou uit Switserland laat weet dat sy baas hom nie wil afgee nie. Ons ambassadeur in Spanje, Gert Grobler, wat net so graag saam met Anton wou rock, het laat weet: “Jol ’n hond (en ’n vis) uit ’n bos uit!”

“’n Paar van die ouens het my van die Internet geken en hulle het my die eerste dag al in Fulham kom soek. Kabous het uit Skotland opgedaag met twee bottels 15- en 16-jarige Skotse whisky. Hy het die bottels op die tafel neergesit en gesê: “Ahooi my bra!” en toe party ons. Dit het aangehou tot net voordat ek daar weg is. Dit was die eerste show wat hy kon bywoon sonder om by sy werk te bedank!”

Anton het by vriende wat al 15 jaar in Londen bly, tuisgegaan. “Tobie is 70 en hy het met altwee my shows reg voor die verhoog gejive!”

Uit Londen laat weet Walt the Wizard van die Lorne Arms-gig. Hy sê daar moet gewag word vir sy herstel voor hy sy Anton en Bushrock-ondervinding met ’n massa oorgretige afwagtendes in Suid-Afrika kan deel. ’n Dag of wat later kom die nuus in die vorm van foto’s op die Internet aan. Walt het probeer om die gebeurtenis in woorde neer te pen, maar met die foto’s het hy sy sê gesê.

Anton het nooit daarvan gehou as Suid-Afrikane oorsee Die Stem ná ’n vertoning sing nie.
“Ek het gedink dis verkeerd, want dit hoort nie in ’n klub met bier en brandewyn nie. Die tweede aand het ek ná die show buite gaan staan en toe hoor ek hulle sing die Volkslied en op daardie oomblik het dit reg geklink. Dis heimwee. Die jongmense verlang huis toe. Ek moes dit daar ervaar om dit te verstaan.”

Later, ná ons gille oor Brasilië se oorwinning, gaan stap ons langs die Hennopsrivier en Anton se blou oë skitter terwyl hy met genoegdoening aan sy pyp suig. “Dit was ’n ongelooflike ervaring om by die Lorne Arms op te tree. Die band het ontplof! Dit was wow! W.O.W!” spel hy die woord! “Daar is net nie ’n beter woord daarvoor nie!”

Anton gaan dalk weer eersdaags Londen toe, maar nie vir “koekasie nie, want ons gaan nie die koeksisters in tyd gebak kry nie!” lag hy lekker.

Anton is op pad Bloemfontein toe vir die Volksblad-fees, waar hy saam met Laurika die verhoog gaan deel in Laurika en die Manne. Dan belowe hy om die skares te rock by die Boereplaas, Anti-backtracks Rockfees op 20 Julie by Loftus. Anton sal met Anton en Vrinne by Aardklop te sien wees, waar hy hierdie jaar die titel van Beskermheer van Afrikaanse Rock dra.

“Dis ’n pragtige titel. Ek hoef niks te doen nie. Ek moet net rondloop en smile!”

Dit lyk my Anton en die Bushrock Band is nog veilig vir ’n hele paar generasies. Of Blommetjie nou die eerste rocksong in Afrikaans was of nie, of Anton nou die Vader van Afrikaanse Rock is of nie, sy astronomiese bydrae tot die Afrikaanse musiekskat, sy liefde vir sy taal en sy mense, kan nooit in twyfel getrek word nie.

En ek gaan dit sê ... Nee, ek gaan dit oor die Afrika-vlaktes uitgil:

LANK LEEF DIE VADER VAN AFRIKAANSE ROCK!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.