KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Klik hier vir meer!

10 vrae aan Dozi

Dozi tree op 24, 25 en 26 Junie op in sy grootste show tot dusver by Carnival City se Big Top Arena. By hierdie geleentheid gaan hy die verhoog deel met Amanda Strydom, Jan Blohm, Gian Groen, Mel Botes, Ollie Viljoen en die Afrika Mamas.

Plek: Carnival City – Big Top Arena
Datum: 24, 25, 26 Junie 2005
Tyd: 20:00
Besprekings: Computicket (011) 340 8000 of by www.computicket.com
Groepe meer as 10 kry afslagpryse! Skakel Charl by (011) 815 4395 of 083 471 0037

Kompetisie!!!
Drie gelukkige lesers kan elk 'n dubbelkaartjie wen na DOZI se groot show by Carnival City se Big Top Arena op 24, 25 en 26 Junie. Al wat jy hoef te doen, is om die volgende na 36009 te SMS: DOZI LITNET en dan JOU NAAM EN VAN. Wenners sal telefonies in kennis gestel word en die organiseerders se beslissing is finaal.

Met die Carinval City shows om die draai het Erns Grundling vir hom 'n paar vrae per e-pos aangestuur. Dozi kon dit gelukkig betyds beantwoord - sy een voet was reeds op die aanloopbaan vir sy uitgebreide toer na die VSA.

Erns: Jy sê in 'n persverklaring op jou webwerf: "Dit is beslis een van die grootste shows wat ek nog in my lewe gedoen het en ek sien werklik baie daarna uit." Vertel vir ons meer daarvan.

Dozi: Wanneer ek sê dit gaan een van die grootste shows wees, verwys ek na veel meer as net getalle. Die show is vir my groot ook op 'n persoonlike vlak. Ek tree saam met kunstenaars op vir wie ek geweldig baie respek het. Musikante "praat" met mekaar en met 'n gehoor deur hulle musiek en dit is vir my 'n eer om my musiek te deel met die mense wat saam met my gaan optree en om deel te kan wees van hulle musiek. Die idee is glad nie dat dit 'n formele produksie gaan wees nie, maar dat ons musiek gaan geniet en gaan "celebrate". Dit sal nie onbekend wees vir die mense wat dit gaan bywoon nie. Die liedjies sal selfs meer bekend wees na die show.

Erns: Waarom het jy juis op Carnival City besluit?

Dozi: Carnival City voel na die regte perseel om die show aan te bied op die wyse wat ek dit graag wil doen.

Erns: Was dit moeilik om die gaskunstenaars te kies?

Dozi: Dit kan so maklik gebeur dat mense dit sien as negatiewe kommentaar op ander kunstenaars, wat dit nie is nie. Die keuse was nie vir my moeilik nie, ek sien baie daarna uit om saam met hierdie kunstenaars te kan optree.

Erns: Vertel vir ons iets van elk van die volgende gaskunstenaars, iets wat hul ondersteuners dalk nie weet nie! Amanda Strydom, Jan Blohm, Ollie Viljoen Gian Groen , Mel Botes en die Mamas.

Dozi: Amanda is "verslaaf" aan wekkers - sy wil altyd weet hoe laat dit is, maar sy dra nie 'n horlosie nie - en sy is gek oor lipstiffies. Jan was allergies vir katte, maar toe hy sy meisie ontmoet het, het sy reeds 'n kat gehad en die liefde verdryf toe die allergie net daar. Hulle het nou twee gemmer katte met die name Dijon en Picasso en Jan is gek oor hulle. Sy sê wanneer hy op toer is en met haar op die foon praat, vra hy heel eerste hoe dit met die katte gaan. Oom Ollie is iemand wat jy kan bel en raad vra oor enige onderwerp onder die son. Hy is baie lief vir mense en verskillende kulture en hulle tradisies. Oom Ollie maak die wonderlikste pasta en kan vir 'n mens enige iets oor wors vertel, en dit is nie net boerewors nie, maar alle soorte van alle lande. Gian sê dat niemand meer kan hou van braai as wat hy doen nie en hy is ook baie lief vir visvang. Mel en ek ken mekaar al baie jare en het as studente saam opgetree. Mel is baie, baie lief vir kaas en alle kossoorte wat brand. Die Afrika Mamas het al saam met Stef Bos getoer en het by verskeie geleenthede in die buiteland opgetree, voorwaar profete wat nie in hulle eie land erken word nie.

Erns: Sien jy uit daarna om saam met Janine Neethling as musiekregisseur te werk?

Dozi: Altyd. Ek het nou al 'n paar keer saam met Janine gewerk, en dit is elke keer 'n wonderlike ervaring. Janine is musiekregisseur van Huisgenoot Skouspel en sy was ook musiekregisseur van die show wat ek saam met Jannie Moolman en die Afrika Mamas gedoen het. Ek het geweldig baie respek vir haar talent asook vir die mens wat sy is. Dit is wonderlik om saam met Janine te werk, sy raak saam opgewonde en verstaan wat ek wil doen sonder dat ek vreeslik hoef te verduidelik.

Erns: Jy sê op jou webwerf dat jy nie te veel wil weggee oor die show nie. Verklap asseblief iets oor die show aan LitNet-lesers.

Dozi: Daar is een liedjie oor 'n ma, maar daar is vyf Mamas. Ek sing 'n liedjie waarvan ek eenkeer die woorde vergeet het. Daar word 'n liedjie gesing van 'n brief, maar in plaas van 'n posduif, is daar 'n Piet-my-vrou en 'n Tiger. Ek sing saam met 'n baie sexy vrou en iemand gaan vra dat almal moet sing en as jy eers gaan begin sing, gaan jy nie wil stil wees nie. Wat ek wel wil sê, is dat indien jy nie die show wil bywoon nie, omdat jy dink dat dit nie vir jou gaan werk nie, mag jy dalk meer verloor as indien jy sou kom luister het.

Erns: Met watter song gaan julle die aand afskop?

Dozi: Ons begin met "Grassade in die wind". Die liedjie is op my cd Kruispad en is geskryf deur Stef Kruger.

Erns: Wat doen jy as jy soms moeg en gatvol raak vir die langpad en baie optredes?

Dozi: Ek bel my seuntjie en gesels met hom oor wat hy die dag gedoen het. Kinders laat 'n mens altyd anders na dinge kyk en laat jou besef dat die lewe eintlik maklik is. Grootmense maak dit moeilik vir hulleself.

Erns: Vertel ons kortliks van jou oorsese toer voor die vertonings by Carnival City.

Dozi: Ek is baie opgewonde daaroor. Ek tree op in North Carolina, Atlanta, Dallas, Houston, Key West en Fort Lauderdale in Florida, en ek maak ook 'n draai in New York. Ek dink dis 'n bietjie hoe die Voortrekkers moes gevoel het - 'n mens weet nie heeltemal wat om te verwag nie, maar ek gaan beslis die beste daarvan maak.

Erns: Noem 'n paar van die jong kunstenaars wat jou opgewonde maak oor Afrikaanse musiek se pad vorentoe.

Dozi: Die lede in my "band" maak my opgewonde - Ricus, Theo, Henning en natuurlik Stef, 'n kunstenaar uit eie reg. Jan Blohm; Gian Groen; ddisselblom en Jak de Priester.



LitNet: 09 Junie 2005

Wil jy reageer op hierdie onderhoud? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.