KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Sewe vrae vir Chris Chameleon

Dit was na 'n haelstorm een Sondagaand, sommer onlangs, wat Chris Chameleon vir 'n vol Back2Basix gesing het. Met kitaar en Ingrid Jonker se gedigte - langs 'n flikkerkers op 'n koerantblad met 'n Omo-waspoeier-advertensie. En sy koppie rooibostee met heuning. Katvrou het hom 'n paar dae later vir pitkos gepols.

Waarom Ingrid? (Jy sou straks wou sê "Waarom nie?", maar dit kon Breyten, TT Cloete, Antjie Krog of Sheila Cussons ook wees, waarom juis hierdie spookvrou met die vretende woorde?)

Ingrid is musikaal
haar getoor met woorde val reg in die kraal
van enige gesoute lirisis
en enige komponis wat sy sout werd is
sal haar klankgegogel met gemak tot musiek verhaal.

Jou idee agter die CD-omslag vir Ek herhaal jou?

Nes met die Insig-fotosessie het die natuur erg saamgespeel in daardie foto. Dis 'n langer storie as wat die vraag vra, maar die samespel van die natuur in hierdie projek was deurgaans genoeg om enigiemand met 'n bygelowige haar op sy kop op hol te jaag. Ek het my foto's in en om Gordonsbaai en die Strand, waar Ingrid se kop gevorm is, laat neem. Ek wou haar in soveel opsigte as wat ek kon verhelp, herhaal.

Hoe de donner skep jy sulke bedwelmende toonsettings? Die kleure in jou refreine, die buigings, die handevol brûe van waar jy na die volgende rits befokte akkoorde spring?

Dankie! Dit was so maklik soos kaaskoek. Self het ek bitter min hoef te doen. Elke gedig het 'n mantra, 'n ingelegde wysie. Die geheim is om jouself te ontsluit, heeltemal oop te hou vir die innerlike wysie, dan val alles in plek. Kom ek verduidelik dit so: wanneer kinders die spot dryf, doen hulle dit, ten minste sover die Germaanse kultuur (elke kultuur het ook sy eie wysie) strek, wêreldwyd dieselfde. In Engeland, Nederland, Duitsland, VSA … wanneer 'n kind 'n ander kind spot en sing: "Jy kan tog nie speel nie!", is daai wysie dieselfde. Daai tipiese spotrefrein. Hoekom? Want dit is die musiek van bespotting vir die kultuur. So is Ingrid se werk ook baie musikaal tipies, en ek bedoel dit met respek!

Waar het hierdie voorslagvennootskap tussen jou en Theo begin?

Met ons samewerking in verband met Levi's se Red for Life album, wat vandeesweek uitgereik is. Daarop voer 'n verskeidenheid Suid-Afrikaanse kunstenaars akoestiese weergawes van hul treffers uit. Ek het een van my treffers, "Come", wat ek vir BOO! geskryf het, daarvoor beskikbaar gestel. Theo was die vervaardiger van voorgenoemde album en die aard en magie van ons samewerking het my sonder 'n sweempie twyfel gelaat dat hy die aangewese man vir die joppie is. En ja, no regrets!

Het jy troeteldiere?

Ek kry my eerste een Saterdag, 'n kat. Ek vermoed dat dit die begin van die einde is ... maar ja. Troeteldiere is 'n onverantwoordelike voorreg vir iemand wat vele maande per jaar oorsee reis.

Die wingerd fluister dinge oor 'n boek. Brei uit, alstublieft?

Ek skryf 'n etimologiese samesweringsriller en hoop om dit betyds vir volgende jaar se KKNK bekend te stel. Ek griffel ook aan 'n bundel pseudo-outobiografiese kortverhale.

Hoeveel persoonlikhede woon daar in jou stem?

'n Kind, 'n vrou, 'n man en 'n dier. Ongeveer 'n oktaaf vir elk.

* * *

Behalwe dat Ingrid Jonker se gedigte nou heeldag in mens se kop bly leef, bied Chris Chameleon nou 'n ander kant van sy werk, ewe freneties bedrewe as sy monkipunk in BOO!, en met 'n klaarte wat jy van die eerste noot af hoor. In Ek herhaal jou is briljante eenvoud aan 't werk, 'n knap kruiskuns tussen Chris en Ingrid wat verseg om jou te verveel.

Nou is mens weer besig om Ingrid te herroep. En haar vertrek te betreur.



LitNet: 26 Mei 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

 

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.