KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Chris Chameleon se veelsydige album sonder begin of einde

Cornel Judels

is 'n 27-jarige meisie vasgevang in die lyf van 'n 27-jarige chemiese ingenieur. Sy het 'n groot passie vir die Afrikaanse taal in al sy genres en was bevoorreg om as een van Antjie Krog en Alfred Schaffer se nuwe stemme in Nuwe Stemme 3 (Tafelberg, 2005) te publiseer.

Kabouterliefde

Die kabouter met die rooi-rooi hart
het dit self vir my gesê
hy't die aardbol oor sy kop gegooi
o dis hier waar die liefde lê

- Ingrid Jonker (Uit: Rook en Oker, 1963)

Katvrou: Hoeveel persoonlikhede woon daar in jou stem? Chris Chameleon: 'n kind, 'n vrou, 'n man en 'n dier, ongeveer 'n oktaaf vir elk. (Uit: "Sewe Vrae aan Chris Chameleon" - LitNet)

Dit is hierdie veelsydigheid van Chris wat maak dat ek die cd in my hi-fi sit, op my rug gaan lê en verlang na iemand wat ek nie ken nie, wat dalk nie bestaan nie, in "Ek herhaal jou"; maar as "Die onverkrygbare" begin, spring ek op-op-op-op! en paradeer met my charity shop rok van crêpe-de-chine in my meenthuis rond.

Dit is hierdie verskillende persoonlikhede van Chris Chameleon wat met my speel deur al 14 songs op sy debuut-solo-album, en so laat hy Ingrid praat met die "hart van my hart".

Die voetpad loop soos volg:

Ek herhaal jou
Die onverkrygbare
Lied van die lappop
Ontvlugting
Jy't my gekierang
Bitterbessie dagbreek
Vyf lewens
Korreltjie sand
Die lied van die gebreekte riete
Op die voetpad
Fragment
As jy slaap
My pop val stukkend
Opdrag dwaling.

Die eerste song is die titelsnit, "Ek herhaal jou". Die oorspronklike woorde van Ingrid:

"terwyl ek jou herhaal
met my borste
wat die holtes van jou hande namaak"
het Chris herskryf asof hy die gedig vir Ingrid sing, asof hy dit vir haar wil teruggee in sy woorde: "met die holtes van my hande wat jou liggaam namaak".

"Die onverkrygbare" is ooglopend 'n vrolike song; ek klap my vingers en sing uit volle bors en gaan saam shop vir 'n "rok, goeie kos en ligte dop". Maar die donker ondertoon wat so eie is aan Ingrid, kan ek nie misloop nie: met woorde soos "verse oor die graf en stof" is daar sterk kontras tussen die lirieke en die opgewekte wysie.

Net hierna laat Chris my weer naarstiglik gryp na 'n bottel rooi wyn en marlboro's in "Lied van die lappop".

Met "Jy't my gekierang" is Chris terug met 'n happy song. Maar weer eens, met woorde soos tjank, verstoot, verdroë word die kontras van die lirieke met die vrolike deuntjie beklemtoon.

Chris gee die holruggeryde "Bitterbessie dagbreek" 'n nuwe dimensie - dankvader! Die temerige ou weergawe is oplaas ge-upgrade en hier kom die gedig weer tot sy volle reg. Chris, hiervoor sê ek opreg moerse dankie.

"Korreltjie sand", Ingrid se voorstelling van haar digkuns, klink ook eers na 'n speelse liedjie, amper kinderlik, met verkleinwoorde soos korreltjie, klippie, sonnetjie, ogie ens. Ingrid spreek tot die onskuldige kind in elk een van ons. Maar met

timmerman bou aan 'n kis
ek maak my gereed vir die niks
korreltjie klein is my woord
korreltjie niks is my dood
is die kontras weer duidelik sigbaar, en Chris speel volmaak regdeur die hele cd met die teenstrydigheid.

Nie dat ek al ooit in die Torwana-berge was nie, maar in "Die lied van die gebreekte riete" voel ek die wind uit die berge, en Chris verpersoonlik die wind as 'n vrou met 'n skoot vol mos - net soos Ingrid dit bedoel het, glo ek. Daar was selfs vir my 'n element van NP van Wyk Louw se Raka in die gedig wat meer na vore gekom het ná ek dit uit Chris se mond en kitaar gehoor het.

In "Fragment" is die bottom line dit: "diep in jou oë het jou hart gebreek". En met die song se herhaling van die woord fragment kan mens nie anders as om woorde soos gebreek en rafelende jou eie te maak nie.

"As jy slaap" is vir my een van die beste, amper die slimste song op die cd. Hierin het Chris "Moenie slaap nie" uit Ingrid se "Intieme gesprek" (Rook en Oker, 1963) gekombineer met "As jy slaap …" uit haar jeugwerk, Mei 1955 (Versamelde Werke, 1994). Hy speel "Moenie slaap nie" af teenoor "As jy slaap …", en saam kry ons die twaalfde song op die cd wat sorg vir "soete samesyn" met my glas Pinotage.

Die cd eindig met "Opdrag dwaling". Met die kombinasie van die twee jeugwerke van Ingrid, 1954 en 1951 onderskeidelik, vat hierdie laaste song die hele cd saam, die perfekte einde. Met dié song het Chris gesorg vir 'n cd wat regtig "sonder begin of einde" is, 'n "terloopse groet".

Terwyl Kurt Darren en Theuns Jordaan bench-press en push-ups doen saam met aktiewe maagde op Planeet Fiksheid, het Chris Chameleon die ikoniese digteres van die 60's laat herleef in songs wat in jou kop draai, wat jou in die oggend laat stortsing: "jy't my gekierang dollie, jy't my gefop", wat jou saans laat kerse opsteek en laat wonder: "as ek sou breek lyk ek ook so?"

Op hierdie cd het Chris die "hoop en liefde wat sy eens gegee het as ons erfenis" geneem en oopgebreek … en ek het gulsig geëet.



LitNet: 05 Julie 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

 

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.