KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Adriaan Basson
Adriaan is ’n joernalis by Beeld in Johannesburg. Die eerste local song wat hy uit sy kop geken het was “Osbraai op Kromdraai” van Francois Hayes. Hy drink graag Jack Daniels, speel soms tennis en het nog nie Titanic gesien nie.

Loudly South African (Maar pasop vir Oppikoppi se balbyters)

Adriaan Basson

Net duskant Koedoeskop, minder as 20 km ná jy die Limpopo-grens oorgesteek het, lê daar ’n klein dorpie genaamd Northam.
En hoewel die Chicken Licken daar bekend is vir sy vinnige diens, wildsplase sy aan sy hul dienste vir ryk jagters adverteer, en ’n platinum-myn waak staan oor hierdie ruige gebied, is dit die Oppikoppi-musiekfees wat hierdie dorpie vierkant op die map geplaas het.

Sedert 1995 gee die koppies daar antwoord op die klanke van Suid-Afrika se voorste en mees gerespekteerde bands. Noem ’n naam en hulle was daar. Koos Kombuis en die Warm blankes. Battery 9. Springbok Nude Girls. Selfs Die Naaimasjiene se naam is verewig in die bar oppikoppie.

Weens my agtergeblewe geskiedenis (ek was tussen 1996 en 2002 ’n Kapenaar) was Hond uit ’n Box my eerste Oppikoppi.

Wat ’n heuglike verloor van die onskuld! Doen dit weer!

Vir ’n laaitie wat nooit in die army was nie en laas in 1995 bake-beans uit ’n blik geëet het wat op die kole warm gemaak is, was ek ietwat skrikkerig vir die hele camping experience in die boendoes der boendoes.

Voor die tyd het ek Woodstock in my kop gepicture, met ’n paar duisend minder mense en meer stof.

Ek was verkeerd.

Die bosveldvloer is gemaak van GROND wat ORALS inwaai. In jou tent, in jou hare, in jou oë, tussen jou tone en in nog ’n paar plekke wat nie die naweek ’n waslap sou sien nie … (lees verder).

Van hier af sal ek probeer om dinge chronologies te hou. Ek sal so na as moontlik aan die waarheid probeer bly, maar vra vergifnis vir die plek-plek vae beskrywings van insidente/bands/plekke. Blameer dit op apartheid en op Tassenberg.

Vrydag
Ek en my reisgenoot vertrek vanaf Jo’burg met ’n boot vol kos en drank. Ons wonder of die mense Beeskraal gaan mis en bespiegel oor wie die band van die naweek kan wees. Net duskant Brits gooi ons petrol in en koop mix vir die dop. Ons koop ook hout en blitz en die vrou agter die till lyk of sy weet waarheen ons op pad is.
“Lekker braai,” sê sy en groet ons met ’n “hehe-raai-wie-hoef-nie-vanaand-op-die-grond-te-slaap-nie”-kyk.

Twee ooms langs die pad verseker ons die koppi lê daai kant toe en probeer twee boereworsrolle verkwansel.

’n Katspoeg van ons bestemming keer die lang arm van die gereg ons voor in een van hulle vriendelike uitkampsessies dwarsoor die teerpad. Ek hoef goddank net my liksens te wys en ons is vort. Van die ander ouens pak hulle HELE karre uit.

Die tentopslanery is vinnig en die wilde klanke van Rhütz verskaf die background musiek. Glad nie ’n slegte band nie en dit is jammer dat hulle so vroeg moes speel.

The Finkelsteins is volgende op die groot stage, maar ons is nog besig om tentpenne in te moker. Die ou raak bietjie irriterend met sy gedurige af-rippery van ander bands.

’n Groepie mans wat ’n hele paar myle voor ons is, kom verby met ’n megafoon en vra ons moet ’n woord spreek. Die verwysing na ’n Nederlandse kat stel hulle tevrede en ons maak klaar in vrede.

Cutting Jade is die eerste band wat ek deursien. Hierdie ouens (en basvrou) verdién die moerse hie-ha wat oor hulle gemaak word. Hulle geniet die show en kry die crowd om boude te stamp. En wanneer laas het ’n vrou die baskitaar so gelooi? “Hamba sisi,” wil ’n mens vir haar skreeu.

Ons hardloop na die boonste stage en ek besef gou dat hierdie op-en-affery gou sal moet stop. ’n Vriend het voor die tyd gewaarsku dit is ’n goeie manier om die lippe van die grond af te hou, maar ek heroorweeg.

N8ive is Dave Owens van Lithium se nuwe band en hulle kook behoorlik. Die ou het sweerlik een van die beste rock-stemme in die land en verdien om goed te doen. “You don’t have to explain yourself to anyone this weekend, just be yourself,” snou hy ons profeties toe.

Na hulle speel Greg Georgiades saam met Dave Goldblum. Dié kitaarvirtuose is balsem vir die oor en inspirasie vir die siel. “Alles onder beheer” staan in my notas langs hulle naam.

Ons storm weer die bult af om betyds te wees vir Piet Botha en sy medemambas van Jack Hammer. Op pad keer twee latte ons voor en vra of ons nie vir Hannes* gesien het nie. “Nee,” sê ek. “Maar soek hier bo in die bar.”

Die plaas is groot en niemand kan bekostig om te verdwaal nie.
Terug by Jack Hammer speel hulle die goue oues soos “Goeienag generaal” en “Suitcase vol winter”. So ook die nuwe hits waar hy onder meer sing van jong bokkies om te byt. Daar’s baie van hulle by die gig. Ons merk op dat Salvador Dali vanaand die dromme vir Piet klits. Genugtig. Al die pad van oorsee.

En toe vir die band van die naweek. Ek het hierdie ouens onlangs in Roxy’s gesien en het my lyf vir die eerste keer die jaar op die dansbaan gewerp. Maar toe Hanu de Jong en die ouens van The Narrow die krane oopdraai, was daar weer weinig keer. Dis ’n onreg om te vergelyk, ek weet, maar as iemand my sou dwing, sou ek sê hulle is Suid-Afrika se eie Linkin Park.

Hulle stage-act is besonders rustig, maar hulle wurg klanke uit daai kitare asof dit die laaste keer is. Dis harde rock met ’n bietjie praatrap tussenin en erge catchy tunes. Bewandel gerus die smal weg as hierdie ouens in jou valley speel. Hulle gaan dit groot maak.

Later die aand het Plum ook op die boonste verhoog gespeel. Maar dit was reeds laat in die aand en my pen se ink was droog. Ek onthou hulle van my hoërskooldae toe Barney Simon hulle plate vreeslik baie op 5FM gespeel het. Lekker band. Die angst is nog daar.

En die mense kry rigting na die tente, want ’n vieslike dag lê voor.

Saterdag
Ek lê nog rustig in die tent en slaap, toe hoor ek hoe die eerste bierbotteldoppies knak. Ek loer na buite en waaragtig, die broers en suster maak reeds lippe nat.

Ek besluit dit is dalk ’n goeie idee om eers water te kook in die potjie waarin my ma, toe ons kinders was, eiers gekook het. Ons maak ’n vuur en sien hoe mense met deurmekaar hare, vuil t-shirts en opgeswelde oë orals by hulle tente uitkruip.

Ek verbrand my vingers drie keer in die vuur, maar die koffie, ons het hom gedrink. Daarna is dit bake-beans en viennas op buns vir ontbyt.

Ek voel heeltemal te georganise toe ’n ou vir my sê hy drink eerder bier vir ontbyt — dis te veel moeite om kos te maak. Toegegee.
Ons durf die storte aan, maar ’n balbyter op die vloer laat hierdie gedagte dadelik kwyn. Ons settle vir ’n goeie ou tandeborsel in die oopte en gooi mineraalwater oor ons bakkies.

Andries Bezuidenhout van die Brixton Moord en Roof Orkes (BMRO) is ’n nugtere begin by die boonste verhoog. Hy sing van bure met giere, die rockster wat met hoenders boer en waarsku ons almal om ons kaste goed te vacuum voor die geraamtes begin kriewel …

Volgende aan die beurt is een van die ander BMRO-lede, Drikus (Brixton) Barnard, saam met Esmé Eva Kwaad van Plank met hulle nuwe band, Trike.

Wat ’n verrassing! Performance poetry van ou Afrikaanse gedigte, vervleg met hulle eie, angry, sosiale kommentaar. Mev Kwaad het nou eenmaal die mees diverse stem waarmee sy binne ’n split-sekonde van ’n stroopsoet sopraan na ’n bitter bas kan oorslaan. En sy doen dit perfek met lines soos: “Die wêreld is koud, en mense is FUCKED UP!”

Ná Trike moes ek eers vir ’n reality check in die bosse gaan stap. Op pad na vriende se tent loop ons verby ’n boom waar ’n klomp onderbroeke, g-strings en bra’s sonder base opgehang is. Verder in James Phillipsstraat gaan dinge bietjie haywire. Mense soek na tente, rookgoed en party na hulself

Ek maak dit eers terug vir Soil 7t7 en mis Hog Hoggidy Hog in die proses. Via die grapevine hoor ek hulle was “befok”. Eersgenoemde is ’n lekker gatskop rap act en ons dans op die bankies met bottels Tas in die hand. Die paartie raak vreeslik vrolik soos die Bosveldson sy laaste steke maak.

Die grasperk bo sit lekker en ons besluit om te sit vir Gert Vlok Nel. Altyd heerlik om “Timotei Sjampoo”, “Beautiful in Beaufort-Wes” (uit sy mond!) en “Tuesday” te hoor. Gert sê dit is dalk sy laaste Oppikoppi. Nee Gert! Die land het nog nie genoeg van jou gehoor nie! Kan iemand nie ’n slag vir hierdie briljante digter/musikant ordentlik sponsor sodat hy self sy songs aan gehore landwyd kan sing nie?

Ons hardloop af om betyds te wees vir Kobus! — die beste Afrikaanse band in die heelal! (Dit is glo die titel van hulle nuwe album, wat gereed gaan wees vir krismis.) Ons hoor “Sondagmiddag”, “Die Hoenderman”, “Wie is Kobus?”, maar ook drie nuwe songs waaronder een getiteld “Ons ry in die kar” en ’n ander oor profeet Karel Void wat die boodskap versprei dat almal alles moet los en begin bid.

Hulle nuwe songs grens aan death-metal en die fans like dit. In fact, hulle kry die crowd aan die gang soos geen band voor hulle kon nie.

Not My Dog sonder Hanu is soos The Osbournes sonder Ozzy. Dit werk nie. En dit is sad.

Arno Carstens en Albert Frost se New Porn val goed op die ore en lewer die mees professionele show van die naweek. Al die muso’s sit hulle hart en siel in en meneer Nude Girls se stem bly nou eenmaal bekoor.

Die Karen Zoid Band sorg soos altyd vir goeie rock ’n roll, maar die fans weet nie lekker wat om van haar trou-aankondiging te maak nie. Trou? ’n Rock-chick? Die girls langs my sing “Engel” kliphard saam en dit lyk of hulle wil huil.

Ek besluit om eers ’n uiltjie te knip tydens Max Normal voor Pestroy begin. Die idee misluk klaaglik. Ek ontwaak toe al die bands klaar is en spandeer die res van die aand maar tussen die 206-dansstage en die bar oppikoppie.

Sondag
Die middagson maak ons wakker en daar is orals grond. Ek is moeg, gatvol, vuil, honger en lus vir ’n ordentlike bed. Ons maak tunabroodjies uit die boot en val in die pad.

Ek laat Oppikoppi agter met ’n lied in die hart, moed vir die toekoms en skoene vol stof. Dit was lekker op die plaas.

My oscars gaan aan die volgende mense:

Beste band: The Narrow
Beste song: Kobus! se “Hoenderman”
Beste oomblik: Toe Carel (die organiser) se hond uit sy box ontsnap
Beste quote: “Albert Frost, my ma wil jou kinders baar!” tydens New Porn se show
Beste T-shirt: “Loudly South African”. Hola!
Beste quote van die stage: “Justin Timberlake het ’n song by my gesteel” deur Karen Zoid
Kakste quote: “Is dit Koos Kombuis?” aan Gert Vlok Nel

*Hierdie stuk word opgedra aan Hannes, waar hy ook al is.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.