KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Afrikaanse Musiek: ’n Oorsig 2002

Anton Goosen

Moderne Afrikaanse musiek het geblom in 2002.

’n Hele paar uitstekende CD’s word uitgereik: Spinnekop se Groen Kitaar met Gian Groen, Valiant Swart se Maanhare, Laurika Rauch se Vier Seisoene Kind (waarvan Gian Groen die titelsnit geskryf het), Beeskraal se Sonskyn Elvis, Kobus! se Kobus!, Brixton Moord en Roof Orkes se Spergebied, Diff-Olie se Die Borrelbad Insident, Ekstra Dik se Uit Ons Koppe Uit, Koos Kombuis se Equilibrium, Theuns Jordaan se Tjailatyd (met verwerkinge deur Anton L’Amour) en Coenie de Villiers se Zen.

Tydens die KKNK loods Johannes Kerkorrel ’n heftige aanval in die media op Dagga-Dirk Uys met die uitreiking van Vloek van die Kitaar (’n oorsigtelike samestelling van Afrikaanse rock van 1979 tot 2002). ’n Weke lange hewige debat en moddergooiery volg op LitNet en in die media tussen die destydse Voëlvrymanne (Dagga-Dirk Uys, Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis) oor wie wat vir wie, wanneer en hoekom gedoen het. Voëlvry — Die Toer word heruitgereik op CD.

Die KKNK word gekenmerk deur Steve Hofmeyr se aanranding van Jan-Jan Joubert, die redakteur van Krit en Patricia Lewis en eksboyfriend Pierre Griffioen se koes vir ’n glas brandewyn, en Kurt Darren is uitgevang toe sy “agtergrondsangers” op backtracks vasgehaak het.

David Kramer se kitaar raak die hoeveelste keer “weg” net voor openingsaand, maar sy uitstekende Karoo Kitaar Blues maak steeds opslae en sorg vir vol sale met ’n groepie plattelandse musikante en sangers wat eie musiek oor hul eie lewensomstandighede ontroerend op die verhoog uitvoer.

Kaktus oppie Vlaktes se bywoningsyfer is ook laer nadat die organiseerders besluit om net nuwelinge te gebruik. Karen Zoid verbrand haar kitaar op Kaktus se verhoog à la The Who en Jimi Hendrix. Die Stalteater van Dirk Uys sorg weer eens vir uitstekende inheemse progressiewe musiek met oa Kobus!, Beeskraal, Valiant Swart, Brixton Moord en Roof Orkes, Karen Zoid, Akkedis, Riku Lätti, Battery 9, Diff-Olie en Wouter van de Venter. Karen Zoid is flavour of the day en stap met die Kanna-prys weg vanweë haar uitstekende vertonings in die Stalteater.

Die Afrikaanse Sondag-geelpers ontdek die brandewynstorie en die front-en-backtracks-skandaal word oopgevlek. Die grootste debat oor die onderwerp sedert die tyd van Houtstok toe die FAK-fees in 1990 met mimiektoertjies uitgevang is, volg in die media en die kuberruim. $teve Hofmeyr verdedig heftig die geblikte agtergrondmusiek-“genre” se saak. President Mbeki onderteken die needletime-wetgewing.

Die Volksblad-kunstefees in Bloemfontein toon al hoe meer groei. Die Laurika en die Manne-vertoning is ’n reuse-sukses. Amanda Strydom en Theuns Jordaan, asook die Volksjol, vaar baie goed met volgepakte sale. ’n Kenmerk van dié fees is ’n afwesigheid van gratis tente waar geen toegangsgeld betaal word nie en die toeskouers grootliks sit en gesels en bier drink.

Boereplaasrock 1 en 2, Oppiplotti en die Laeveld Lawaai by die Blue Moon in Nelspruit is nie finansieel suksesvol nie. Al is die Blue Moon seker een van die heel mooiste venues in die land. Kobus! maak opslae by Boereplaasrock 2 wanneer hulle ’n verkragtingstoneel met ’n opblaaspop op die verhoog simuleer. ’n Hewige debat volg in die media en in die kuberruim.

Oppikoppi bewys hom weer eens as die voorste rock event op die musiekkalender. Die premix-vertonings in Pretoria en omgewing is ’n groot sukses en die tweede Granaatfees in Bloemfontein toon geweldige groei.

UKkasie en Eurokasie kom en gaan. Verlede jaar was daar darem Ollie Viljoen, Valiant Swart, Laurika Rauch en Lukas Maree wat live voor die expats opgetree het. Die Vryheidsfront huur ’n stalletjie by die fees en dit veroorsaak opslae.

Die Woodstock-fees naby Heidelberg weier steeds koppig om Afrikaanse bands te bespreek. Brixton Moord en Roof Orkes en Karen Zoid is gelukkig vanjaar die twee uitsonderings, maar haal steeds nie die advertensieplakkate nie.

Dozi se backtracks haak vas gedurende ’n “vertoning” op Aardklop. Valiant lewer ’n goeie Mississippi Blues-program. Sonder om nou soos ’n Koos Kombuis te klink deur oor myself te gesels, wil ek tog die Anton en Vrinne-show noem — 31 BAIE diverse kunstenaars neem deel: Akkedis, Albert Frost, Alta Joubert, Amanda Strydom, Anika, Beeskraal, Carike Kreuzenkamp, Coenie de Villiers, Thys die Bosveldklong, die Grafsteensangers, Gian Groen, Gert Vlok Nel, Helena Hettema, Kobus!, Kurt Darren, Laurika Rauch, Laurinda Hofmeyr, Lochner en Richard, Mikanic, Mel Botes, Mauritz Lotz, Ollie Viljoen, Paul Riekert, Piet Botha, Roof Bezuidenhout van Brixton Moord en Roof Orkes, Stiaan van Diff-Olie, Syd Kitchen, Theuns Jordaan, Valiant Swart, Vuurkleur en Wouter van de Venter. (Karen Zoid besluit om weer eens, vir die hoeveelste show nie op te daag nie, omdat sy uitgebrand het.)

Spontane samewerking tussen kunstenaars begin reeds by die Bloemfontein Volksjol en Boereplaasrock 1, maar hierdie is die jam der jams. Om Francois van Kobus! en Carike oor een mikrofoon te sien sing met Ollie Viljoen en Mauritz Lotz reg langsaan, of Gian Groen, Alta Joubert, Valiant Swart, Piet Botha, Albert Frost, Stiaan van Diff-Olie en Kurt Darren almal gelyktydig saam met die Bushrockband, is beslis iets uiters ongewoon!

Nog ’n suksesvolle kunstefees is die WAM-fees in Sasolburg. Karen Zoid stal haar skaamhare uit vir ’n videokamera by ’n optrede op Potchefstroom in Oktober, maar kalmeer later in die jaar, doen damage control, verander van management en sit haar belowende loopbaan rustiger voort.

Stef Bos bied ’n reeks baie geslaagde vertonings op Stellenbosch aan.

Skokgolwe tref die Afrikaanse musiekbedryf met Johannes Kerkorrel se selfmoord. Hy word twee keer begrawe. Hy het bekendheid verwerf met Voëlvry-liedjies, waarvan “Hillbrow” bo die res uitstaan, asook “Halala Afrika”, en sy weergawe van die tradisionele “Al lê die berge nog so blou.”

’n Hele spul nuwelinge skop landwyd lekker Afrikaanse stof op: Skallabrak, die Skobbejakke, ddisselblom, Tynhys, Alta Joubert, Vuurkleur, Ondier, Ekstra Dik, Riku Lätti, Grondpad, Luna, Koevoet, Abel Kraamsaal, Isolasiehare, Arbor, 13, die ATKV Crescendo-wenner Jak de Priester, en Jakkie Louw. Een van die vondste van die jaar is RSG se Helene Bester se debuut-CD Wens. Duusman besluit om uit mekaar te spat.

Laurika se Kom laat ons sing op kykNET was die groot musiekhoogtepunt van die jaar op televisie. Valiant se Veertig Dae deur die Delta en Die Liedjies Wat Ons Ken, waarin volksliedjies 2002-styl deur nuwelinge ontgin en hul herkoms nagespeur is, is ook baie goed ontvang. Afrikaanse musiek is dik ondersteun deur programme soos kykNET se Draadloos en die SABC se geRAAS en Belboks.

En die Afrikaanse spookasemmusiek? The more things change, the more they stay the same. Albums oor engele, oor liewe oumas, meisies en uh-uh-bokkies ad infinitum. Die groot verkopers is die Campbells, Stamp, Gooi (die herlewing van langarmmusiek), 30 Goue Sokkie-Treffers vol 4, plaaslik gekomponeerde grappige songs deur Thys die Bosveldklong en Zoon Stander, en Carike se groot kindermarkverkopers.

Van die grootste inheemse treffers dié jaar in hierdie genre was “Da-IDI” van Guillaume en “Meisie Meisie” van Kurt Darren. Jacques de Coning (Afrikaans My Trots) en Pieter Smith laat ook die ou Afrikaanse liedjies herleef en “Die Stem” (!) word gereeld by Pieter se optredes gecover. Jurie Els verras vriend en vyand deur ’n CD op te neem wat uit slegs inheemse liedjies bestaan.

En 2003?

’n Nuwe Afrikaanse album van die ou grote, Piet Botha, nog een van die belowende sanger/liedjieskrywer Gian Groen en Spinnekop, Laurinda Hofmeyr, en die lang verwagte tweede Karen Zoid-album. Mel Botes en Valiant Swart hou vanjaar hul lywe akteur in die nuwe Jan Scholtz-produksie, ’n Song vir Jantjie. Of is dit nou Song vir Katryn?

Moderne Afrikaanse musiek toon tans die grootste groei sedert die Rubicon van ’79 en die nuwe jaar belowe ewe groot hoogtepunte.

Viva inheemse Afrikaanse musiek, viva!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.