Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

‘n Vreemde spul ure in Centurion

Katvrou

Die Metallica-wortel wat ek in Desember 2005 voor my neus gehang het, sit vandag in ‘n vriendin se angstige voorpootjies. My Golden Circle-kaartjie is nou hare teen R550 - die katkos is op en die maand is nog lank.

Verdomp. Ek moet regtig beter begroot.

Dis agtuur, Saterdagoggend, en oor ‘n paar uur begin die Colab Massive Mix in Supersport Park, Centurion. Met Metallica wat heel moontlik 43 000 mense se oordromme en voorbreine vir hulle gaan verpulp. Ek sit in sak en as op die bank en wroeg oor hierdie verspeelde kans wanneer my selfoon begin piep. Ek’s te depressief om dit te antwoord, maar sien dan dis my pel Ettienne by Pretoria News, en doen die moeite om die foon se groen knoppie te druk.

Hy’t ‘n ekstra kaartjie vir die Colab Massive Mix. Weet ek van iemand wat dit kan gebruik?

Dit word vir ‘n oomblik donker om my. My ore begin zoem.

Ummmm-ja. Ek weet van iemand.

Hy sê hy los die kaartjie vir my by Hek 1 - ek moet vra vir ‘n sekuriteitswag genaamd Lourens, en vir hom die getekende katspore oor my linkerheup wys as bewys van identiteit. Hahahaha.

Na ‘n paar vervaarde oproepe kry ek ‘n geleentheid gereël na Centurion saam met twee van my aweregse Melvillevriende. Hulle is gek oor Fatboy Slim en het net vir hom hulle Golden Circle-kaartjies gekoop – reeds laasjaar, Desember. “Right about now, funk soul brutha, check it out now!!” en “Fatboy Slim is fucking in heaven …” slaan uit die verlepte ou Audi se luidsprekers in my agterkop vas tot ons by die eerste afrit vir Centurion kom. Vir etlike kilometer staan die motors reeds in dubbelrye en wag. Almal vir Supersport Park. Tilo gee vir my ‘n koue Black Label en besluit om eerder die volgende afrit te bekruip. By hierdie punt gaan die son en lang rye motors die bier heeltemal te gou laat gis.

Dit word gou duidelik. Supersport Park is ‘n malhuis van mense en motors en opportuniste wat R30 per parkeerplek teen die stadion met kartonplakkate adverteer. By al die hoofhekke tou die lywe in dubbelrye en skewe kronkels tot ver agter, by die parkeerplek se draadheining. Dis verskriklik. Maar jy byt op jou tande, en kry jou plek om te staan. Geduld is nou ‘n magtige ding. En jy staan en wieg mediterend binne jou tekkies tot die mense elke vyf of tien minute weer voor jou begin beweeg.

Bykans 80 minute later staan ek 20 meter ver van Hek 1. Karen Zoid het reeds klaar gespeel, en ek hoor hoe State Far Better kliphard hulle speelbeurt met “Million Miles” voltooi.

Daar is gruwelike drogbeelde in my kop van buitelandse besoekers wat fronsend en swetsend in 2010 in ellelange rye moet staan omdat hulle sokker wil kyk. As Big Concerts vandag sulke halfgebakte beplanning voorlê, gaan die res van die land ook so papsleg wees met die sokker?

Foto: Killem van  www.prophecy.co.za Ons wag. Skuifel vorentoe - en wag dan maar weer. Meeste van ons in hierdie ry is ouer as 30. Dis nogal lekker. Om my is die meeste meisies in swart geklee, sommige met minirompies tot by die lieste. “Ek gee nie om hoe lank ek hier staan nie,” sê een. “Solank ek net vir Seether en Metallica sien.” Haar vriendin knik ernstig, instemmend en steek nog ‘n sigaret aan. “En ek hoop hulle doen ‘Nothing Else Matters’, en shit, wat van ‘Unforgiven’, anders gaan dit maar lekker sleg wees!”

Kameras word nie vandag toegelaat nie – so heelwat van die musiekverslaafdes gaan net hierdie gebeurtenis met hulle selfone kan (probeer) afneem.

Daar is reeds geskryf dat James Hetfield weet hulle gaan van die ouer albums moet afstof en vir hulle aanhangers speel vanaand. Asseblief tog, dik stukke uit Ride The Lightning, Master Of Puppets en beslis And Justice For All.

Ek dink aan hoe Shaun Welgemoed/Morgan vanaand die wilde donker “Remedy” in sy mikrofoon gaan brul. En hoe skraal die kanse is dat Metallica elke liedjie van daardie pikswart album met sy gekrulde slang sal doen. Maar hulle is hier. En dit is die moerse ding vandag. Ek het nie eens ‘n enkele album van hulle in my rak nie. Maar ek weet voor my heilige siel hulle gaan vanaand my kiestande in hulle kaste laat ratel.

Die son begin met rooi tande aan my kopvel kou.

Iemand roep aan die voorkant: “I can see the gate! We’re gonna make it!!”

Nadat ek drie vreemdelinge onsuksesvol as Lourens aangespreek het, kry ek hom uiteindelik skraal en verweerd by die vierde hekkie. “Moet ek my tattoo wys?” probeer ek nog, maar hy lag net. “Dis orraait, jy’s die enigste een wat vandag my naam tussen al hierdie mense ken.” Hy oorhandig die waardevolle kaartjie, en gaan maar deur, dankie.

Reguit toilet toe, waar daar natuurlik reeds toue by die damestoilet staan. Twintig minute later is ek ‘n paar milliliter ligter. Die Finkelsteins is pas klaar, en agter die laaste ry stadionsitplekke by die draadafskorting staan nog toue. Liewe moer. Dis vir die kroeg. Die ry strek verder terug, ver verby die stadion se onderdaksitplekke. Dalk moet mens nie drink by sulke geleenthede nie – te veel van die musiek gaan in die kroeg verdrink.

Ja. Dalk leef Elvis en doen hy saans paaldansklasse in Moreletapark.

Dis ongelooflik hoe geduldig almal is. Die dors is groot, lelik groot, en die son is moerig, maar die sekuriteitsouens konfiskeer almal se bottels by die hek, al is dit ook leeg, en hulle wil niemand laat uitgaan om by die Dros te gaan keel natmaak nie. So. Jy gesels maar met wie ook al ‘n Metallica T-hemp aanhet, skuifel vorentoe, koes vir die son, en rek telkemale jou nek na die moerse verhoog se kant toe om te sien of Arno Carstens en die manne al gereed is.

Ek kry Blok C, Stoeltjie 24. Doer voor onder my is die verhoog, so groot soos ‘n vuurhoutjieboksie. Drie groot videoskerms maak dit vir my draaglik – een reg agter die verhoog, met nog twee grotes aan die linker- en regterkant. Die Golden Circle-area is reeds stampvol, maar die groter staanplek op die grasveld word heeltyd uit alle rigtings met menslywe ingekleur. Baie swart kolle, natuurlik, weens die oormaat Metallica T-hemde. Links voor teen die trappe kom ‘n man opgeklim, effe grys reeds. Sy swart T-hemp sê in dik wit letters: I FUCK NUNS. Ek hoor giggels en ‘n sissende “Sies!” agter my wanneer hy met ‘n breë gryns verbyskuur om in die biertou te staan. Die drang na iets om te kou is sterker as die dors, en ek kry twee pakkies Jelly Tots by die naaste verkoophokkie. Sommer gou is die arme ou se kleingeld, Lay’s skyfies en pakkies biltong klaar.

Dit lol lelik met die klank sodra Arno Carstens met kamoefleergroen pet en donkerbril die mikrofoon kry. Niemand hoor wat hy sing nie. ‘n Paar bliepe en tsjjoingggs later, en “The Hello Goodbye Boys” kry gedaante. Dis net die massa lywe in die Golden Circle wat aanvanklik met ‘n luide geskreeu vir “Feel It” reageer, ondanks Albert Frost se vaardige kitaarwerk.

Foto: Lisa Skinner van <i>Beeld</i> Die klank word nog so ‘n bietjie harder. En so by my kool, wanneer hulle met “Woman” begin, hoor ek vir Arno duidelik: “Can we return to heavy breathing …” en die videoskerms wys mooi hoe hy dit doen. Min mense gee egter hulle volle aandag aan Arno en die res van die bende voorheen bekend as New Porn.

Om my begin die plek nou vinnig vol raak, veral wat die onderdaksitplekke betref. En teen die tyd wat Prime Circle gereed is om te speel, is die groot grasveld al behoorlik met lywe beset. Ross Learmonth is die man wat elke lyf voor hom aan’t beweeg kry. Ek onthou Therese Owen van The Star wat sê hulle is “insanely boring”. Sy’s ongelukkig omdat hulle vir die Colab se speellys gekies is. Maar hier voor my oë kry die oppervervelige Prime Circle die hele plek aan’t dans. Ross roep uit sy derms uit: “I wanna see those arms!” en amper soos in Pink Floyd se “Brick In The Wall” video is daar derduisende maalvleispienk arms en waaiende handpalms in die lug. Dit beweeg op en af soos ‘n reuse vleisbrander. “Jump-jump-jump!!!” roep Ross na die raserny lywe, en nou word daar GESPRING, boetie. Dirk en Marco loop heeltyd heen en weer oor die verhoog, lekker macho met stewige bene en stywe kitaararms. En Gerhard geniet homself gate uit - lag oopbek vir die kamera daar agter die dromme. Ross vee die sweet uit sy gesig, knipoog en sê: “Hey man. You’ve gotta live your life.” Dis dan ook met die nuwe “Live This Life” wat hierdie ouens ‘n hoogs energieke en harde speelbeurt voltooi.

Foto: Frans van Wyk Dit neem elke keer bykans 30 minute voor die volgende groep aan die beurt kom. Meeste mense weet reeds teen hierdie tyd dat dit nie genoeg tyd is om bier te gaan kry of by die toilet uit te kom nie. Tensy jy bereid is om Simple Plan en The Rasmus mis te loop. Agter Blok C se muur hou die rye mense aan met groei na die kroeg se kant toe. Daar word hard gemor.

Die agterste deel van die staanveld het bietjie meer staanplek en juis daar loop twee slungels rond met ‘n enorme pienk plastiekfallus - die voorhuid ewe elegant verwyder. Dis oortrek met skriffels en handtekeninge. Soos hulle met die ding voor die stadion verbystap, trek ‘n dik strook geskater deur die skare, tot doer ver waar hulle aan die ander kant van die groot luidsprekers verdwyn.

Intussen kry Simple Plan se ouens die laaste deel van die laatmiddag. Ek hoor niks nuut nie – maar duidelik verskil die massa gillendes voor die verhoog van my. Jeff Stinco se kwaai kaalkop en swart vingernaels pas perfek by die moerige bui van sy kitaar en David Desrosiers lyk soos ‘n onbeheerbare rebelskoolseun met sy energieke skraal lyf, wit langmouhemp hemp en swart das – terwyl die diksnaar onder sy hande jeuk om uit die skouerband te glip en te begin mosh. Die selfvertroue en uitsinnige styl wat hulle met mening op die verhoog uitruk vind duidelik aanklank by meeste van die dansendes.

‘n Piepklein vrouefiguurtjie trippel nader, gryp die mikrofoon, en sy roep: “Guys, can you say AHAA-AHAA????” Duidelik probeer hierdie oorgretige aankondiger die mense in die bui kry vir The Rasmus. Sy faal jammerlik. Natuurlik besef sy dit nie, en hou aan kweel. Vanuit die boonste rye sitplekke agter my roep ‘n vrou kliphard en duidelik geïrriteerd: “Kan iemand asseblief daai vroumens van die stage af kry?????”

Luide applous oraloor vir haar voorstel.

Foto: Frans van Wyk Dis eers wanneer die ouens van The Rasmus verskyn wat die skemer donker genoeg is om die bykans sewentig verhoogligte te laat leef. Groen en geel en glimwit spitse begin om die verhoog na die kante toe flits, en die nag kry kleur. Lauri Ylonen verskyn op die verhoog, knus en skreefoog onder wolpetjie en streepsokkies oor sy voorarms. Pauli Rantasalami met sy geraaskitaar en woeste bos krulhare is erg ongewoon, dog aanskoulik. Hy doen stil-stil sy werk daar in die hoek. Maar daardie ruie bos hare praat twaalf tale. Die ouens kry wel genoeg aandag en gille, maar daar’s hierdie vreemde onrustigheid wat nou in die stadion begin lyf kry. Dis ‘n rustelose energie wat groei en groei vir die manne wat oor ‘n paar ure gaan speel – die metalrockers. Metallica. Dis wat ek hier bo tussen die stoele en mense begin voel. En eers met “In The Shadows” word daar regtig volle bewondering uit hierdie massa mense voor die verhoog en op die staanveld uitgegil. Doer in die verte, tussen die voorste rye bonsende lywe, word die plastiekfallus vorentoe aangegee soos ‘n obsene “crowd surfer” – nou reeds effe pap en afgeblaas weens al die hardhandige betastings.

Foto: Frans van Wyk In die verte hoor ek donderweer brom en sien in die halfdonker hoe die wolke dikpens maak bokant Pretoria, ooste se kant toe. Maar ja. Meeste van die mense voor die verhoog kyk nie nou eintlik op nie. Alle oë is vasgenael op die verhoog vir ‘n glimps van Seether. En die oomblik wat Shaun Welgemoed (ek wil hom nie Morgan noem nie, sies-ga-poe) op die verhoog verskyn, begin hierdie derduisende ontwaterde maar rasend opgewonde mense vir hom skree, ‘n verwelkomingskreet sonder woorde, ‘n brullende “PPHWWWWWOOAAAARRRRR!!!!!!!!!” wat Shaun reg tussen die oë behoort te tref.

Sy hare is neonrooi gekleur. Die videoskerms wys die ringetjie wat sy onderlip deurboor. Sy oë is donker, onrustig. Een na die ander liedjie word soomloos voor ons uitgegooi – die klank absoluut foutloos, hard en skerp en vretend luid in ons skedels in. Shaun verteer die energie wat uit die gehoor na hom toe kom en vertoon reusagtig op die skerms langs die verhoog. Seether is tuis. Dis duidelik wat hier gebeur, ‘n opruiende verbale verwelkoming met duisende arms in die lug.

Op al drie videoskerms hang Karma and Effect se leeggebloeide monstergesig in die lug met sy twee dooie swart verrottende oogkaste en ingeplante elektriese proppunte.

Bitter gou sluk die nag hulle speeltyd in. En die kitaar begin met sy dang-darrangggg-dang-dannggggg – die eerste paar kwaai note van “Remedy”. “JAAAAAA!!!!!! FUCKIN’ A!!!!!!!!!!” ontplof dit weer vanuit die donker massa lywe, waar honderde klein selfoonskermpies vierkantig in die swart nag soos vuurvliegies flits. Die woorde krap grimmig in Shaun se strot: “Throw your dollar bills and leave your thrills all here with me …”

Nou dans tot die moeës en verdordes, om my, daar’s ook ‘n paar oues, die kwaaies, selfs dié wat soos zombies agter my staan en wag vir bier. Die klank is nou bliksems hard. Die neongroen verhoogligte swaai in lui rookwalms oop oor die verhoog en trek dik groen strepe oor Shaun se skokrooi hare terwyl die weerlig in geel tonge op die horison speel. Ek is toe onder die hoendervleis - en gil soos ‘n waansinnige saam met die res van Supersport Park.

Foto: Frans van Wyk “Clip the wings that get you high, JUST LEAVE THEM WHERE THEY LIE - and tell yourself YOU’LL BE THE DEATH OF ME!!!

Ek wag vir Shaun om iets soos “Ja goeienaand al julle fokkers!” in die mikrofoon te brul, maar niks sulke gewone Afrikaanse dinge nie. Die kitare word stil gewurg en Seether verdwyn agtertoe in die rook en koel nag soos die grimmige grilgesigte op die CD-blaadjie.

Skaars dertig minute later en van die verhoog af kry ons: “People – yes people - put your hands in the air for COLLECTIVE SOUL!”

Jissie. Ek dink nie hierdie krieketplek het in sy lewe al so gesidder van die jille en krete nie. Al Roland, die charismatiese blonde voorsanger, het van meet af algar in die holte van beide sy sjarmante hande. Dit gaan jolig. Alles word saamgesing, en daardie vier manne met hulle perfekte profiele gooi hulle lywe soos gepekelde tafeldansers.

Dis asof jy van iewers af ‘n tweede asem kry. Jy vergeet van die dors, dat jou niere soos rosyntjies voel, en jou laerug skynbaar een of ander tyd vandag deur ‘n sewevoetreus met weermagstewels verpulp is.

En dan - BLIEP. Af is die krag.

Wat de moer??

Ed Roland maak ‘n grappie in die donker. Daar’s niks, nie eens ‘n blink ligflitsie op die verhoog nie. Die videoskerms is ook af. Ek bekak my in die stilte. Dis moeilik genoeg om die mikroskopiese figuurtjies op die verhoog raak te sien – as die grootskerms af is, is ek en 30 000 ander mense om my wat nie voor op die staanveld rondhop nie, in ons moere in!

Dan, na wat soos ‘n allerewigheid voel, flikker die verhoogligte weer aan. Sowat ‘n minuut binne “Shine” begin die muso’s se reusebeelde weer oor die skerms beweeg. Halleluja. Wat ‘n skande vir die ouens in beheer van alles daar onder, indien hierdie ding wel hulle fout is, maar HALLELUJA vir ons. As daar nog nie onluste en bloedgevegte oor die bier, water, koeldrank, snoepgoed en toilette uitgebreek het nie, gaan hierdie elektroniese ou voorvalletjie bliksems vinnig uit die pad gevee word.

Dit voel asof die minute in stroop verbyswem. Collective Soul word onder gillende toejuiging die donkerte ingegil.

Die hele stadion haal nou asem soos een groot wilde dier. Die oomblik is hier. Om te dink James Hetfield staan nou daar agter die verhoog. Op Suid-Afrikaanse grond. Fokkit. Almal om my staan nou op. Wie op aarde durf nou nog sit vir so iets??? Die Golden Circle het duisende arms en vuiste en oop hande in die lug – soos die skare in die sitplekke begin hande klap, klap-klap-klap, kom nou uit julle bliksems, weet julle hoe lank wag ons al hiervoor?

James Hetfield stap uit in die skerp wit lig in. Hy is in swart geklee. Stywe swart kortmouhemp, donker tattoeërtekeninge oor beide gespierde arms. Sy blonde hare is kort teen die slape, kwaaierig geskeer aan die bokant, met ‘n streng bleek bokbaard - sy lyf snaarstyf binne hierdie verskriklike gek oomblik.

Foto: Frans van Wyk Om my ontplof die euforie en frenetiese bewondering van 43 000 stemme in desibels tot teen die sterre. “ME-TAL-LI-CA, ME-TAL-LI-CA, MUUHHTAHHHLICAAAAAA!!!!” Ek hoor myself met duisende ander verdorde dol hees kele gil en gil en gil sonder dat my asem opraak.

Hoog bokant my in die helder spreiligte op die stadion se dak duik tientalle vlermuise vanuit die donker agter motte en straks ‘n paar rysmiere aan, hulle val en tol, skiet dan weer die donker in, duik en hap, gooi wilde draaie soos vlieënde rotte.

James Hetfield buk na mikrofoon en bulder met ‘n keelgat vol lemmetjies en Jeyes Fluid: “WELL IT’S ABOUT TIME!!!”

Nog ‘n reusegolf gille en onaardse krete rol opnuut vorentoe – “YEEAAAAAAIIEEEEE-YAAAAAA!!!” - grensend aan histerie en totale oorgawe aan die metal-veterane.

Oor James se gesig speel ‘n mengsel van verstomming en louter lekkerte. Sy stem rol van agter sy mangels uit: “IT’S ABOUT TIME … WE SHOWED UP!!!!!

Foto: Death God van www.prophecy.co.za So dis hoe ‘n magtige dreuning klink. Derduisende pare arms in die lug, vasgevang in die onbeskaamde wildheid van elektriese klank, tromme, kitare, diknekke, sweetgesigte, warm spiere – en musiek wat Morpheus in sy moer in vervloek.

James het ‘n kitaar beet wat in sewe tale begin swets, en Lars Ulrich maak werk van dromme en stokke en helderwit ligte uit die dak. Die videoskerms teken sy grynslag. Die sweet. Die hitte onder daai ligte. Rob Trujillo is ‘n bevryde hokdier. Binne minute is hy deurweek van die sweet – sy lang hare soos nat swart slange wat uit sy kopvel krul. Kirk Hammett is onmiddellik met sy hele lyf in die spervuur met daardie kitaar uit die hel. Ek ken bitter min van dit wat nou uitgehamer en met sluwe reëlmaat bepletter word. Dis net Black Album wat in my grysstof sit. Maar hier voor my is vier hoogs ervare kunstenaars besig om ‘n reusemassa mense met ‘n verbete doeltreffendheid te vermaak. Te toor. Kliphard te bevredig. Dit voel of ek nie genoeg oogballe het om alles te kan raaksien nie. En elke album word op die videoskerm vertoon soos die spesifieke snit (soms snitte) van die album weergalm.

Foto: Frans van Wyk Die vaardigheid, koors vir die musiek en jare se metal kom voor ons oë bymekaar in twee ure se spoed, sweet en gepekelde rockerstemme. Nou neem die videoskerms oor. Jy kan nie anders nie. Want jy is so verskriklik ver van die mense daar onder. En as jy lank genoeg daarna staar, groei die beeld tot dit voel of jy binne-in rondloop. Soos met St Anger se befokte rooi vuis en styfgetrekte tou om die pols wat groter en groter word tot dit voel of dit jou gaan insluk.

James Hetfield wissel kitare, kom met ‘n styfgespanne lyf en vertrekte gesig vorentoe en spu “Saint … Anger …” binne die mikrofoon in. Dit lyk of sy kop met aparte skarniere op daardie klipharde nek van hom draai. Sy hele liggaamshouding weerspieël ‘n tasbare dik energie wat jy in die lug kan proe. “Saint Anger 'round my neck, Saint Anger 'round my neck, he never gets respect … Saint Anger 'round my neck!”

Die reuse rooi vuis word groter en rooier op die skerm. Ek vergeet van my droë longe en slukderm, die seer niere en slapgerukte spiere in my nek - die hoofpyn soos warm spiese deur my brein. Die klank groei dik en swaar, afgemete, die ritme ‘n dik rooi klont wat bly klop in my kop.

Foto: Frans van Wyk “And I need to set my anger free – SET IT FREE!!”

Ek probeer myself in daardie malende massa natgeswete en gillende lywe in die Golden Circle plaas. Die maling, die stampery, die moshkoppe, die gehuil, die ongeloof van WERKLIK DAAR WEES, die totale oorgee van die gees en die lyf, die ontsaglike werklikheid van tussen soveel duisende mense soos een lewende ding bons en ruk en spring en lag en gil, jou kop vasgryp en soos ‘n mal heks lag en lag en lag …

Hier kom “Wherever I May Roam”. Uit 43 000 kele beier die herkenning en nuwe energie, die ou herinneringe, al die destydse woede en frustrasie, die absolute genot wat soos ‘n reuse nat lap oor die stadion kom plak. “And the road becomes my bride I have stripped of all but pride …” Eers half stadig, dan met die afgemete ritme uit Lars se hoek uit, sy tromstokkies tollend in die blou en rooi en groen ligstrepe, dan val jy vooroor binne die lied in – en gee oor.

James Hetfield en die gromstem kom klap jou teen die kop: “But I'll take my time anywhere, free to speak my mind anywhere, and I'll redefine anywhere - anywhere I may roam, WHERE I LAY MY HEAD IS HOME!!”

Iemand slaan met ‘n vuis teen die agterkant van my sitplek. Dis Tilo. Hy skreeu iets, maar ek kan fokkol hoor. Agter op die verhoog is Kirk Hammett met sewe arms tot by sy wenkbroue binne ‘n witwarm kitaarsolo. Tilo wys ek moet oorklim ondertoe, hulle gaan ry. “Come on! Ze clever people are leavink NOW!!!”

Binne drie minute is ek, elke tweede sekonde reikhalsend aan’t omkyk na die blitsende verhoog, terug by Hek 1.

Tien minute later vlieg die Audi se wiele oor die stil hoofweg terug na Johannesburg.

Op die agtersitplek lê ek en kerm met ‘n bomgeskokte jelliebrein en verdorde spiere - en ek sweer net daar, op alles wat heilig is, al verloor ek ‘n arm of been, al bloei ek uit my oogkaste uit, al skeur my oordromme en ek staan daar aan’t ruk en kwyl, my tong ‘n ou sigaar, sal ek nooit, maar nooit, ooit weer op enige ander plek voor die verhoog as die Golden Circle wees nie.

Want halwe werk deug nie voor ‘n verhongerde gehoor nie. Nie voor, op of agter die verhoog nie.



LitNet: 19 April 2006

Wil jy reageer op hierdie katswink? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

  • Klik hier vir meer oor Katvrou

    to the top / boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.