Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

'n Huldeblyk aan Tony Links

Oorlede 26.6.2006

Wium van Zyl

Tony Links"Afrikaans is die taal waarin ek my eerste woorde gesê het. Ek leef in Afrikaans, ek droom in Afrikaans. My diepste gewaarwordinge is in Afrikaans. Ek is seker my sterwenswoorde sal ook eendag in Afrikaans wees."

Hierdie liefdesverklaring van Tony Links aan sy moedertaal het in die roerige jare tagtig en vroeë jare negentig téén die stroom ín nie slegs dwarsoor Suid-Afrika weerklink nie, maar ook oral in die wêreld waar die taal maar enigsins verstaan word. Dit is naamlik een van die insetsels in die TV-reeks Het verhaal van een taal wat indertyd gemaak is oor Nederlands en die Nederlandse taalfamilie.

Ek het Tony leer ken toe ek 25 jaar gelede by die Universiteit van Wes-Kaapland aangeland het as spesialis in Nederlands. Op daardie stadium was dit daar so hoogmode om letterkunde ideologie-krities te benader dat die taalmedium nagenoeg nie meer saak gemaak het nie. Tony was egter die één kollega wat ingesien het dat letterkunde altyd ook taalkunde is, of anders beswaarlik tuishoort in 'n taaldepartement. Nie dat hy of ek die belang van ideologie-kritiek ontken het nie. Op hierdie basis het 'n samewerking en kollegiale kameraadskap ontstaan wat ek lewenslank sal koester. Toe ek vandag die eksemplaar van sy pragtige So praat ons Namakwalanders (1989) weer oopmaak, staan daar: "Met groot waardering en alle hoop dat die opwinding van ons akademiese pad nog lank sal duur."

Baie lank sou ons samewerking daarna nie voortduur nie, want Tony se bekwaamheid as akademiese bestuurder het hom op administratiewe terrein 'n gesogte figuur gemaak. Van departementshoof het hy skielik gevorder na adjunkdekaan en waarnemende dekaan. Opeens is hy deur die destydse Technikon SA genader vir die registrateurspos. Ons het lank oor laasgenoemde gesels, want hy het geweet dat dit die einde van sy loopbaan as vakkundige sou wees. As mense wat albei arm grootgeword het, het ons ook saam begryp dat die belange en toekoms van 'n mens se familie nie iets is om ligtelik mee om te gaan wanneer keuses gemaak moet word nie. Die Technikon het hom 'n salaris hoër as ons rektor s'n aangebied.

Een van die onbesonge eienskappe van Tony was trouens sy oop sintuie vir die situasie en behoeftes van studente. UWK was nog altyd, en is nog steeds, die tuiste van die arm mense wat in die Wes-Kaap wil vooruit kom. Hoeveel studente het nie met hul nood sy departementshoofkantoor betree en dan met 'n leninkie daaruit te voorskyn gekom nie? Lenings waarvan albei partye geweet het dit sou nooit terugbetaal word nie.

In hom het ons 'n kollega en departementshoof gehad wat omgee. Prof Frank Hendricks, vandag ons senior taalkundige, het by geleentheid gesê wanneer Tony 'n vertrek binnekom, raak die atmosfeer sommer onmiddellik gemoedeliker en warmer. Nooit sal ek vergeet hoe hy pas na 'n eksamensessie die Groot Saal op die kampus ingekom het waar 'n aantal van ons en enkele kollegas van ander departemente nog rondgestaan het nie. Die mikrofoon was nog opgestel. Hy gryp dit en begin sing soos Elvis – en jy kon dink dis Elvis self. Die ouens van die ander departemente het hulle disnis geskrik en ons kon dit tot in die punte van ons tone geniet.

Hy was 'n toegewyde Sewendedag-Adventis. Hy het nie 'n druppel alkohol oor sy lippe toegelaat nie. Nooit was hy bang om 'n geleentheid met gebed te open in sy salwende, meesleurende stem nie. 'n Hoogtepunt was vir my toe hy gevra is om die huisgodsdiens op RSG waar te neem en hy die geleentheid gebruik het om sy departement oor die lug aan die Here op te dra.

As dosent was hy 'n meester wat met woorde kon speel en die liefde vir die taal kon aanwakker. Uiteindelik sou die buitewêreld sy talente en sy persoonlikheid agterkom, is hy na heinde en verre genooi, en het hy 'n bekende stem oor die radio geword. “Nee” is die woord wat hy die moeilikste kon uitspreek. So erg het dit gegaan dat hy 'n ineenstorting beleef en in die hospitaal beland het. Hy het in dié tyd digby die punt gekom om sy lewe op te offer vir sy taalgenote.

As daar een aspek van die taal is wat vir hom die naaste aan die hart was, was dit die studie van dialekverskynsels. 'n Uitspraak wat hy gereeld herhaal het, is dié van DF Malherbe in die voorwoord van sy Afrikaanse spreekwoorde en verwante vorme (1924): "Wie op die terrein van 'n volk se spreekwoordeskat werksaam is, moet by alle waters drink". Malherbe verwys dan verder na die hoofstroom, die riviere, fonteine en ook die syfer- en sypelplekke, want elkeen van daardie bronne waar Afrikaans geskep word, lewer 'n bydrae tot die taal in sy geheel.

Dit was die grondslag vir sy benadering van die debat wat destyds bestaan het oor die posisie van Standaardafrikaans teenoor onder meer Kaaps. Baie mense het dit in die struggle-jare begin bevraagteken dat die standaardvariant, behoed deur die lelieblanke Akademie, die norm moet vorm. Sy antwoord was dat elke variant belangrik is, maar dan wanneer dit toepaslik is. As opgeleide mens moet jy dus die standaardtaal wat nou eenmaal bestaan, gebruik waar dit die plek daarvoor is, maar ook die ander variante soveel moontlik koester en inspan. Vondel se beroemde uitspraak het hy ook hierop van toepassing gemaak: "Zoveel talen als je kan, zoveel malen ben jij man." In So praat ons Namakwalanders beklemtoon hy: "Taal is iets wat saamhang met die gees en geesteservaringe van die sprekers" en "die menslike gees het verskillende stemminge."

Dit het gelei tot ons een gesamentlike projek – sy idee – ons bloemlesing Syferfonteine (1993), 'n boek wat al ses drukke beleef het. Ons het gaan soek na verhale wat dialekverskynsels van dwarsoor Suid-Afrika en Namibië bevat. Ons kon sy geliefkoosde verhaal, AAJ van Niekerk se "Die-aader-naait-deer", insluit. Die bloemlesing het F Muherab Marethab aan 'n groter publiek bekend gestel en hom uiteindelik 'n plek besorg in Die Groot Afrikaanse Kortverhaalboek. Elias Nel het by geleentheid vertel dat dit Syferfonteine was wat hom die moed gegee het om te begin skryf. Dat ons hierdie werk nie kon voortsit nie, is bitter jammer.

Hy het nie slegs Afrikaans en sy variante waardeer nie, maar ook die Nederlandse taalgebied daarnaas en die ryk gesamentlike taalgeskiedenis wat die twee tale deel. Ons het dikwels gesels oor die idee dat 'n mens moet pasop vir kunsmatige skeidings in jou denke oor byvoorbeeld hierdie twee tale. Veel eerder, het ons besluit, moet 'n mens dink aan 'n ekologie waarin byvoorbeeld Afrikaans bestaan; aan voedselkettings. Saam het ons met baie plesier gewerk aan 'n Suid-Afrikaanse uitgawe van die groot Nederlandse skryfster Hella S Haasse se Oeroeg, 'n roman oor die grenssituasie tussen koloniale Nederlanders en die inlanders in die destydse Nederlands-Indië. 'n Eksemplaar van hierdie uitgawe sou ek later op 'n uitstalling in die Letterkundige Museum in Den Haag kry met 'n byskrif dat wat in die roman nie moontlik was nie, in die persone van my en Tony in Suid-Afrika wel kon gebeur. Hy was ook mederedakteur van die bloemlesing Nederlandse verhale, Boeket

Ek onthou sy vertelling van sy pa en oom wat noodgedwonge uit Loeriesfontein Kaap toe moes kom om werk te kry terwyl hy, sy ma en die res van die gesin eers daar agtergebly het. Op Bellville-stasie was hulle verlore, maar iemand het hom oor die twee ontferm. Omdat hulle sulke aangename mans was, is hulle sommer toegelaat om lank daar te bly loseer. Dit was harde jare. Pas later kon vrou en kinders Bellville toe kom. Vir hierdie groot en moeilike sprong het Tony die grootste deernis gehad: as sy pa dit nie gedoen het nie, het hy gesê, sou hyself waarskynlik nooit verder as byvoorbeeld konstabel gevorder het nie. Sy broer Eltie, by geleentheid ekonomie-professor, later ons ambassadeur in Brussel en nóg later lid van Santam se topbestuur, sal waarskynlik hiermee saamstem. Vandag is die Links-familie steeds besonderse en geliefde inwoners van Bellville en omstreke.

Die fontein van Afrikaans waarheen Tony se hart bly terughunker het, was steeds Namakwaland. Sy proefskrif het hy toegespits op die taal van Kharkams in die Leliefontein-gebied.

Toe Tony Links Afrikaans as vakgebied verlaat het, het hy 'n leemte gelaat wat nooit weer gevul is nie. Vir ons wat met hom saamgewerk en hom geken het, kollegas en studente, laat hy 'n warmte en inspirasie om lewenslank saam te dra. Sy alles-oorbruggende liefde as vakkundige en as mens in tye van die sterkste verdeeldheid tussen Afrikaanse taalgenote en tussen Nederlanders en Afrikaanssprekendes behoort nou met sy ontydige dood erken te word vir wat dit was: 'n monument van versoening.

Wium van Zyl




LitNet: 28 Julie 2006

As jy enige huldeblyk aan Tony Links wil lewer, stuur 'n e-pos na webvoet@litnet.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.